Zondo-verslae
in ’n neutedop:

Die wie en wat van staatskaping

Saamgestel deur Marelize Barnard

Grafika deur Jaco Grobbelaar

Oudpres. Jacob Zuma, die man wat weggehardloop het.

Een man. Net een man. Zuma.

As president van die land was sy plig volgens die Grondwet duidelik:

DIE PRESIDENT

(a) is die staatshoof en hoof van die nasionale uitvoerende gesag; 
(b) moet die Grondwet as die hoogste reg van die Republiek handhaaf, verdedig en eerbiedig; 
en 
(c) bevorder die eenheid van die nasie en alles wat die Republiek sal laat vooruitgaan.

Wat in Zuma se ampstermyn gebeur het, was die teenoorgestelde. Die land het ten gronde gegaan, só omvangryk dat ’n kommissie van ondersoek aangestel moes word om te bepaal of die staat gekaap is.

Regter Raymond Zondo het die taak gekry om aan die hoof te staan van dié kommissie.

Reeds in die inleiding van die eerste deel van die kommissie se verslag, wat op 4 Januarie 2022 amptelik aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig is, sê Zondo: Die kommissie het tot die gevolgtrekking gekom dat daar staatskaping was.

Maar Zuma was nie bereid om die volgende aan die Zondo-kommissie te verduidelik nie:

• Hoe hy die Gupta-familie – die drie broers wat in die 1990’s uit Indië na Suid-Afrika gekom het om sakebelange te vestig – toegelaat het om op so 'n groot skaal in te meng in die taak van die regering;

• Hoe ministers wat meelopers was van die Guptas, aangestel is en kon help om die staat te kaap; en

• Hoe staatsdepartemente en staatsentiteite doelbewus en stelselmatig tot die been toe gestroop is.

Zuma het weggehardloop en te midde van oor-en-weer-hofsake nie sy getuienis voor die kommissie voltooi nie. Hy was selfs bereid om tronk toe te gaan eerder as om te getuig.

Zondo het daarop gereageer en gesê hy weet nie of dit van veel hulp sou gewees het as Zuma verder gedwing is om voor die kommissie vrae te beantwoord nie. 

Zuma se regsverteenwoordiger het aangedui as hy gedwing sou word om verder te getuig, sou hy weier om enige vrae te beantwoord. Zondo het gesê daar is in elk geval genoeg getuienis voor die kommissie om duidelike bevindings te kan maak.

In die verslae van die kommissie word Zuma se naam deurgaans genoem. Ja, hy was die hoofrolspeler in staatskaping.

Jacob Zuma (Foto: Getty Images)
Hoofregter Raymond Zondo (Foto: Getty Images)

Spotprent: Fred Mouton

Spotprent: Fred Mouton

Zuma, die Guptas se “uBaba”

As jy ’n vyand van die Guptas was, was jy ’n vyand van “uBaba”, alombekend as die manier waarop die Guptas na Zuma verwys het.

Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van die Eskom-direksie, het voor die kommissie getuig dit was algemene kennis dat die Guptas naby genoeg aan Zuma was om mense te kon dreig met “bye-bye”, soos hulle dit genoem het.

Die Guptas het gedink hulle het so ’n groot invloed op Zuma dat enigiets gedoen sou word as hulle daarvoor vra, het Tsotsi op 8 September 2020 getuig.

Volgens Tsotsi was die Guptas se verhouding met Zuma ’n welbekende situasie. Daar was gevalle waar hulle mense gedreig het dat hulle by “uBaba” aangekla sou word as hulle nie met die Guptas wou saamwerk nie.

Zuma het glo “Umshini Wami” op versoek van die Guptas gesing, is ook getuig.

Mafika Mkwanazi, wat in die direksies van Transnet en Eskom gedien het, het getuig Tony Gupta het aan hom gesê hulle het so ’n hegte verhouding met Zuma dat hy “Umshini Wami” by hul gesellighede gesing het wanneer hulle gevra het hy moet dit doen.

...die Guptas naby genoeg aan Zuma was om mense te kon dreig met "bye-bye”

LEES OOK:
* Was jy Guptas se vyand, was jy ‘uBaba’ se vyand, hoor Zondo
* Zuma het vir Guptas gesing as hulle hom vra

Ajay Gupta het gedink ‘die land behoort aan hom’

Die Guptas het volgens getuienis voor die kommissie blykbaar daarop gereken dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma by haar eksman as staatshoof sou oorneem.

Volgens die getuienis van Suzanne Daniels, Eskom se regshoof voordat sy geskors en daarna afgedank is, is sy in Julie 2017 deur Salim Essa, ’n Gupta-vennoot, gevra om ’n vergadering by te woon in ’n woonstel naby Melrose Arch. Daar het sy onder andere vir Ajay Gupta en Duduzane Zuma, Zuma se seun, aangetref.

Daniels het ’n fluitjieblaser geword oor die gebeure by Eskom.

Sy het getuig die vergadering het gegaan oor die skorsing van Brian Molefe as uitvoerende hoof van Eskom. Ajay Gupta het volgens Daniels gesê die kwessie sal makliker hanteer kan word as Nkosazana Dlamini-Zuma “die mag het”.

Dit was sowat ses maande voordat die ANC se nasionale uitvoerende komitee Zuma gevra het om te bedank.

Daniels het getuig Ajay Gupta was kaalvoet en geklee in ’n ou T-hemp en ’n sweetpakbroek. “Ek het gedink die man sit hier en dink die land behoort aan hom,” het Daniels getuig.

STAATSKAPING - VERSLAE VAN DIE ZONDO-KOMMISSIE

'n Netwerk24-spesiale projek

Joernalis: Marelize Barnard
Grafika: Jaco Grobbelaar
Taalversorging: Magda Swart, Mariana Loots
Projekbestuurder: Maryke Cumpsty
• Nasionale nuushoof: Nadia Honiball
Netwerk24 Hoofredakteur: Henriëtte Loubser