Staatsveiligheidsagentskap
Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK)
Waterkloof-landing
Die Passasierspooragentskap (Prasa)

Staatsveiligheid-agentskap (SVA)

DIE ROLSPELERS

image

• Oudpres. Jacob Zuma
• Arthur Fraser, oud-direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) en oud-kommissaris van korrektiewe dienste
• Thulani Dlomo, hoof van die geheime intelligensie-netwerk binne die SVA
• David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid
• Dr. Siyabonga Cwele, oudminister van staatsveiligheid

ZONDO SE BEVINDINGS

Een van die grootste rolle wat Zuma gespeel het om by staatsveiligheid in te meng, was om die intelligensiediens op 11 September 2009 te herstruktureer deurdat hy die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) en die Staatsveiligheidsdiens (SASS) saamgevoeg en die nuwe Staatsveiligheidsagentskap (SVA) gestig het.

Dit het beteken dat die magte van die voormalige NIA en SASS nou gekonsentreerd was in die hande van die direkteur-generaal van die SVA.

Tydens Zuma se bewind was eers Mzuvukile (Jeff) Maqetuka en later Arthur Fraser die direkteur-generaal van  die SVA.

Arthur Fraser (Foto: Getty Images)

Zuma het ook die ministerie van staatsveiligheid geskep.

Onder sy leiding het die ministers van staatsveiligheid betrokke geraak by die operasionele werkinge van die SVA.

Zuma het die ondersoek na die Guptas ontmoedig en het die Valke gekeer om Fraser se betrokkenheid by die Principal Agent Network (PAN-projek) te ondersoek in die tyd toe hy die adjunkdirekteur-generaal vir operasies van die voormalige NIA was.

Hoewel die Valke en die nasionale vervolgingsgesag se ondersoek teen Fraser ver gevorderd was, is hy in September 2016 as DG van die SVA aangestel.

Zondo sê in sy bevinding Zuma het nie teruggekeer na die kommissie om sy saak te stel nie. Die kommissie het bevind dat Zuma die ondersoek na die Guptas gekeer het en doelbewus of nie só bygedra het tot staatskaping.

Mo Shaik, eertydse intelligensiehoof, het voor die kommissie getuig toe hy, Gibson Njenje, ’n eertydse hoof van staatsveiligheid en Maqetuka met Zuma gaan praat het om hom te waarsku teen die Guptas, het Zuma rustig en kalm geluister.

Mo Shaik, eertydse intelligensiehoof (Foto: Argief)

Zuma se reaksie was dat die Guptas sakemanne is en dat hulle sy seun, Duduzane, gehelp het toe niemand anders hom in diens wou neem nie.

Zuma het ook aan die drie spioenbase gesê dat dit oudpres. Thabo Mbeki was wat die Guptas aan die ANC voorgestel het en dat die Guptas ’n lang verbintenis met die ANC het.

Zuma het homself as ’n slagoffer voorgedoen en aangevoer dat die beoogde ondersoek teen die Guptas eerder daarop uit is om hom as president te verwyder. 

Dit was vir Shaik asof Zuma die drie van hulle (Shaik, Njenje en Maqetuka) as die vyand beskou het en deel van ’n groep mense wat hom wou ontsetel.

Die drie het besluit om nie die Guptas verder te ondersoek nie, want dit kon hulle hul werk kos

Zondo sê die feit dat die ondersoek na die Guptas deur Zuma gestuit is, is dié fundamentele oorsaak van staatskaping, of beslis een van die fundamentele oorsake.

Oor Thulani Dlomo, oudhoof van die geheime intelligensie-netwerk binne die SVA, sê Zondo hy het op groot skaal ’n rol gehad in die operasionele werk van die SVA.

Dlomo is op 18 Januarie 2012 as hoofbestuurder van spesiale operasies in die SVA aangestel, maar hy het nie binne die mandaat van die SVA opgetree nie.

Dlomo het mense van buite die SVA aangestel sonder dat hulle sekerheidsklarings ondergaan het. Hy het ook groot bedrae geld van die SVA getrek sonder dat daar hiervan boekgehou is.

Zondo het ook bevind dr. Siyabonga Cwele, oudminister van staatsveiligheid, het sy magte oorskry en hy was onreëlmatig betrokke by operasionele optredes van die SVA.

Dr. Siyabonga Cwele (Foto: Marietjie Gericke, Netwerk24)

Cwele het, op sy eie of in opdrag van Zuma, die ondersoek teen die Guptas stopgesit asook die ondersoek van die Valke teen Fraser. Moontlik ook ondersoeke teen ander mense.

Indien die ondersoek deur die Valke oor die PAN-projek teen Fraser voortgegaan het, sou hy waarskynlik nie as DG van die SVA aangestel gewees het nie.

Cwele het aangevoer hy het nie die ondersoek teen die Guptas stopgesit nie, sê Zondo. Hy het homself egter voor die kommissie weerspreek, volgens Zondo, en daar is genoeg getuienis dat hy aan die trio van spioenhoofde, Shaik, Njenje en Maqetuka, gesê het hulle moet die ondersoek na die Guptas laat vaar.

Wat Fraser en die PAN-projek betref was daar goeie vordering met die ondersoek deur Njenje se span. Die beweerde misdaad was bedrog en korrupsie, eiendomme wat gekoop is met SVA-geld en wat aan private mense oorgedra is, 300 voertuie asook rekenaars wat gekoop is en nie gebruik is nie, en mense wat aangestel is sonder dat daar sekerheidsklaring vir hulle gedoen is.

Daar is omtrent R800 miljoen uitgegee aan huise wat oral in Gauteng gekoop is, asook voertuie.

Fraser het met die PAN-projek die SVA se rekenaars by sy huis gehad en sy huis is as basis waarvandaan die projek bestuur is. Dit was tot nadeel van staatsveiligheid, is bevind.

Fraser het met die PAN-projek opgetree asof hy die DG van die SVA was. Dit was ’n kwessie van almal kon doen wat hulle wil en Fraser was sy eie baas. Verder kon groot bedrae geld onttrek word sonder dat daar verantwoording daarvan gegee moes word.

Fraser het nie sy kant van die saak aan die kommissie gestel nie, hoewel hy die geleentheid gegun is, het Zondo bevind.

Zondo het uitgewys Cwele het gevra om Njenje by die O.R. Tambo-lughawe te ontmoet waar hy aan hom opdrag gegee het dat die ondersoek teen Fraser gestaak moet word. Cwele het aangevoer dit is ’n opdrag van Zuma en dat die ondersoek teen Fraser die nasionale veiligheid sou benadeel.

David Mahlobo, wat Cwele opgevolg het as minister van staatsveiligheid, het ook op groot skaal betrokke geraak by operasionele optredes van die agentskap – dit is bo alle twyfel in getuienis voor die kommissie bewys, aldus Zondo.

David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid (Foto: Argief)

Mahlobo het groot somme kontant hanteer. ’n Geheime getuie, net bekend as Dorothy, het voor die kommissie getuig sy het by drie geleenthede R4,5 miljoen onttrek vanuit die SVA se fondse en dit aan Mahlobo oorhandig.

In een geval het Mahlobo geld van die SVA geëis om aan die ANC-vroueliga oor te betaal, is daar voor die kommissie getuig.

Arthur Fraser (Foto: Getty Images)

Arthur Fraser (Foto: Getty Images)

Mo Shaik, eertydse intelligensiehoof (Foto: Argief)

Mo Shaik, eertydse intelligensiehoof (Foto: Argief)

Thulani Dlomo, oudhoof van die geheime intelligensie-netwerk binne die SVA

Thulani Dlomo, oudhoof van die geheime intelligensie-netwerk binne die SVA

Dr. Siyabonga Cwele (Foto: Marietjie Gericke, Netwerk24)

Dr. Siyabonga Cwele (Foto: Marietjie Gericke, Netwerk24)

David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid (Foto: Argief)

David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid (Foto: Argief)

ZONDO SE AANBEVELINGS

Wetstoepassers moet ’n verdere ondersoek doen om te bepaal of mense wat in die verslag geïmpliseer word, enige misdaad gepleeg het.

Daar word veral aanbeveel dat Fraser verder ondersoek word met die oog daarop dat hy krimineel aangekla word oor die PAN-projek asook enige ander kwessies wat in getuienis voor die kommissie genoem is. Die Principal Agent Netwerk (PAN) was ’n netwerk van agente wat vir die SVA gewerk het en glo verkrygingsprosesse vir die uitbetaling van geld omseil het.

Bestaande prosedures is ook nie gevolg om agente aan te stel nie. Dit het glo aanleiding gegee tot misdaad onder die dekmantel van intelligensie-operasies. 

Mahlobo en Dlomo moet ook verder ondersoek word ten opsigte van geld van die SVA wat deur hulle ontvang en moontlik onwettig deur hulle hanteer is.

Geheime van die geheime spioen-eenheid

Getuienis is voor die kommissie gelewer dat ’n spesiale geheime eenheid deur Dlomo begin is toe hy nog verbonde was aan die provinsiale regering in KwaZulu-Natal en toe in die SVA ingebring is. 

Daar is beweer Dlomo het die magte van die SVA misbruik toe hy as hoof van die spesiale eenheid aangestel is.

Dlomo is daarna deur Zuma as ambassadeur in Japan aangestel en is in 2019 deur pres. Cyril Ramaphosa teruggeroep en van die amp onthef.

Die parallelle eenheid wat gestig is om die SVA binne te dring, het na bewering miljoene rande kontant na Zuma gekanaliseer. 

Getuienis is aangehoor dat daar R109 miljoen uit die SVA verdwyn het en dat daar van R9 miljard se SVA-bates nie rekenskap gegee kan word nie.

’n Geheime getuie, slegs bekend as Dorothy, het voor die kommissie getuig miljoene rande is uit die geheime rekening van die SVA na bewering aan Umkhonto we Sizwe (MK)-veterane betaal vir vervoergeld, verblyf, kos en toelae om twee ANC-geleenthede by te woon.

In die een geval is R1 miljoen glo in Januarie 2016 uit die SVA-fondse onttrek en deur ’n geheime agent in Rustenburg gebruik vir die koste van MK-veterane om ’n byeenkoms daar by te woon.

In die tweede geval is R1,85 miljoen in September 2016 uit die SVA-rekening onttrek om MK-veterane se busgeld, verblyf en toelaes te betaal wat by Luthuli-huis in Johannesburg saamgetrek het om betogers teen te staan wat onder die vaandel van #OccupyLuthuliHouse daarop aangedring het dat Zuma moet bedank.

Dorothy het getuig in albei gevalle het die opdrag van Dlomo af gekom.

Die kommissie het ook in 2021 getuienis aangehoor dat die geheime eenheid tussen 2012 en 2018 sowat R1 miljard se SVA-fondse gebruik het om tot persoonlike en politieke voordeel van Zuma in sy ampstermyn as staatshoof te bestee.

Die eenheid het bestaan uit 48 spioene wat in 2008 en 2009 uit hoofsaaklik KwaZulu-Natal gewerf is om Zuma se belange te dien.

Dlomo het glo in 2015 tydens Zuma se staatsrede opdrag gegee dat selfoonseine in die Nasionale Vergadering geblokkeer word. Die chaotiese tonele toe EFF-lede uitgegooi is – wat deur lede van die publiek en media wat in die openbare galery gesit het, aanskou is – kon nie uitgestuur word terwyl die selfoonseine geblokkeer is nie.

LEES OOK:
Spioene-minister ontken Zuma meng in by ondersoek
SA het prys betaal vir Zuma se Gupta-bande – Mo Shaik
Arthur Fraser kla Zondo-getuienis maak van hom ’n teiken
Zuma, Fraser hou mekaar uit tronk, sê Zondo
Arthur Fraser uit sy pos verwyder
Zuma, Fraser hou mekaar uit tronk, sê Zondo
Zuma ‘staak self ondersoek na intelligensie-netwerk’

Foto: Getty Images

Spesiale projekte van die geheime parallelle spioen-eenheid

Geld aan Zuma

Dr. Sydney Mufamadi, oudminister van veiligheid en sekuriteit asook van provinsiale en plaaslike regering, wat die taakspan gelei het wat in 2018 deur Ramaphosa aangestel is om bewerings van grootskaalse ongerymdhede by die SVA te ondersoek, het in Januarie 2021 voor die kommissie getuig:

- Daar is bewerings dat daar in die 2015-’16-boekjaar maandeliks R2,5 miljoen aan Mahlobo in kontant gegee is wat hy glo op sy beurt aan Zuma moes gee.

- In die 2016-’17-boekjaar is die maandelikse kontantbetalings wat aan Zuma gegee moes word glo verhoog na R4,5 miljoen per maand. 

Dit is sowat R54 miljoen se belastinggeld wat bedoel was vir staatsveiligheid.

Vreemde projekte van die geheime spioene

MaNtuli glo aangehou

Die SVA het glo vir Nompumelelo Ntuli (MaNtuli) Zuma, een van Zuma se vroue wat daarvan verdink is dat sy hom probeer vergiftig het, onwettig aangehou sonder dat daar wetlike prosesse gevolg is. Dit is in Januarie 2021 deur Loyiso Jafta in sy hoedanigheid as waarnemende DG van die SVA getuig. 

Jafta het getuig hy glo dat sy teen haar sin aangehou is.

Ook in die getuienis van Mufamadi het hy gesê daar is bewerings van so ’n projek wat bekend gestaan het as Project Tin Roof. Geld wat na bewering hieraan bestee is, het ’n veilige huis ingesluit waarvoor daar R5,2 miljoen betaal is.

Gifkenners moes Zuma se kos toets

Daar was ook ’n projek bekend as Project Accurate waarmee die dienste van gifkenners ingeroep is om Zuma se kos en beddegoed te toets vir moontlike gif. Die projek het met die ontstaan daarvan na bewering R500 000 per maand gekos en dit het in die 2015-’16-boekjaar tot R1,5 miljoen per maand gestyg.

Adv. Paul Pretorius SC, hoofgetuienisleier van die kommissie, het dit op ’n sitting van die kommissie gestel dat al wat met dié spesiale optrede bereik is, was om koeldrank waarvan die vervaldatum bereik is, in die spens van Zuma se huis te vind. 

Geld vir Eugene de Kock

Dan was daar Project Lock wat glo uitgevoer is om Eugene de Kock, oud-Vlakplaas-bevelvoerder, ná sy vrylating in 2015 in ’n veilige huis aan te hou. In getuienis voor die kommissie is genoem dat daar van R100 000 tot R200 000 per maand betaal is vir die uitgawes van dié spesiale optrede, en is daar glo bewyse van kwitansies wat deur De Kock self onderteken is dat hy in daardie tyd ’n salaris van R40 000 per maand van die SVA ontvang het.

Met nog ’n spesiale optrede, Project Justice, is daar glo maandeliks van R1,2 miljoen tot R5,4 miljoen betaal aan Mahlobo wat dit glo moes gebruik om by die regstelsel in te meng in gevalle waar regters as “vyandig” teenoor Zuma beskou is.

Volgens Mufamadi is daar nie in die ondersoek wat hy gelei het meer inligting hieroor bekom nie en dit is ook nie duidelik of die projek wel uitgevoer is nie.

Daar was ook ’n projek om die media in Suid-Afrika en in die buiteland te probeer binnedring, wat bekend gestaan het as Project Wave. Die projek is volgens getuienis voor die kommissie in die 2015-’16-boekjaar geloods met ’n begroting van R24 miljoen. Hiervan is daar na bewering R20 miljoen betaal aan die nuusagentskap Africa News Agency (ANA) vir dienste wat klaarblyklik vir agt maande gelewer is.

SAUK

DIE ROLSPELERS

image

• Oudpres. Jacob Zuma
• Duduzane Zuma
• Faith Muthambi, oudminister van kommunikasie
• Atul Gupta
• Rajesh (Tony) Gupta
• Hlaudi Motsoeneng, oud-bedryfshoof van die SAUK

ZONDO SE BEVINDINGS

Die kommissie het verskeie aspekte van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) ondersoek, naamlik:

die kontrak tussen die SAUK en TNA Media oor die ontbytsessies van The New Age (TNA);
die verkope van materiaal uit die SAUK-argief aan die Guptas se ANN7-televisiekanaal; 
die ooreenkoms tussen die SAUK en TNA Media in verband met die koerant The New Age;
• digitale migrasie;
die kontrak tussen die SAUK en MultiChoice;
die onreëlmatige prosesse om visumaansoeke vir die Gupta-werkers van Indië te doen;
die aard en diepte van die Gupta-Zuma-vriendskap; en
• Rajesh Sundaram, een van die eerste werknemers van die Guptas se ANN7-nuuskanaal, se getuienis voor die kommissie.

Rajesh Sundaram (Foto: Argief)

Die SAUK het ’n ooreenkoms met die Guptas se TNA Media aangegaan om The New Age-koerant se ontbytsessies op SABC2 se Morning Live-program uit te saai. Die SAUK moes die ontbytsessies uitsaai, dit bemark en adverteer, die koste van die produksie betaal, asook die uitgawes van SAUK-werknemers en het R20,3 miljoen hieraan bestee.

In getuienis oor korrupsie by Transnet het die kommissie gehoor dat TNA Media rekeninge aan staatsentiteite en regeringsdepartemente gestuur het as sogenaamde medeborge van die program.

Die uitsaai van die ontbytsessies was ’n gratis advertensie vir TNA en die SAUK het niks hierby gebaat nie. Sundaram het ook getuig dat Atul Gupta die SAUK se arm gedraai het sodat die ontbytsessies in die gewilde oggendgleuf uitgesaai kan word.

Hy het getuig dat daar geen betroubare oudit gedoen is op wat die sirkulasie van TNA was nie en die inkomste van die koerant was ook ’n geheim.

TNA het R1,8 miljoen per ontbyt verdien omdat ministers en departemente betaal het sodat hulle daar gaste kon wees, maar die SAUK het nie geweet TNA verdien op die manier ’n inkomste uit die ontbytsessies nie.

Sundaram het getuig TNA was ’n geldkoei vir die Guptas. Hy het getuig Atul Gupta was so gewoond daaraan om sy sin te kry dat hy by Zuma gaan kla het toe die Verkiesingskommissie (OVK) nie in The New Age-koerant wou adverteer nie en dat Zuma gesê het hy sal werk maak daarvan.

Oor die verkope van argiefmateriaal deur die SAUK is daar voor die kommissie getuig dat Motsoeneng ’n SAUK-werknemer gevra het hoe dit werk indien buite-entiteite van die SAUK se argiefmateriaal wil gebruik. Motsoeneng het gesê iemand het hom genader om te help om argiefmateriaal van die SAUK te bekom.

Hlaudi Motsoeneng, oud-bedryfshoof van die SAUK (Foto: Gallo Images)

Die ANN7-televisiekanaal, wat aan die maatskappy Infinity Media behoort het, wou 2 000 minute se argiefmateriaal bekom en sou dit teen R70 per minuut koop, nie die gewone R100 per minuut wat die SAUK se prys in daardie stadium was nie. Uiteindelik het ANN7 100 ure (6 000 minute) se argiefmateriaal bekom waarvoor die televisiekanaal in der waarheid R420 000 moes betaal, maar volgens getuienis nie gedoen het nie.

In Sundaram se getuienis het hy genoem Duduzane Zuma het ’n 30%-aandeel in Infinity Media gehad. Volgens Sundaram het Nazeem Howa, uitvoerende hoof van Infinity Media, daaroor gespog dat die argiefmateriaal, onder meer van oupres. Nelson Mandela, wat van die SAUK bekom is eintlik miljoene dollar werd is. Howa het gesê weens Infinity Media se noue verbintenis met oudpres. Jacob Zuma het dit beteken dat niemand by die SAUK die transaksie sou bevraagteken nie.

Duduzane Zuma (Foto: Argief)

Boonop het die SAUK meer as R900 000 betaal vir die aflewering van The New Age-koerante.

Die SAUK het ook nooit ’n rekening aan The New Age vir die uitgawes van die uitsendings van die ontbytsessies gestuur nie, wat ’n onkoste van R4,2 miljoen vir die uitsaaier was.

Oor die kontrak wat die SAUK met MultiChoice aangegaan het, het Zondo bevind MultiChoice het die ooreenkoms in goeder trou onderteken in die vertroue dat die SAUK-direksie en uitvoerende bestuur die nodige toestemming daarvoor gehad het. Zondo het eerstens bevind  daar is geen bewyse dat MultiChoise by enige onbehoorlike of onwettige optrede betrokke was nie.

Oor die kontrak wat die SAUK met MultiChoice aangegaan het, het Zondo bevind MultiChoice het die ooreenkoms in goeder trou onderteken in die vertroue dat die SAUK-direksie en uitvoerende bestuur die nodige toestemming daarvoor gehad het.

Daar is geen bewyse dat MultiChoice by enige onbehoorlike of onwettige optrede betrokke was nie.

Hy het gesê daar word bevind die maatskappy was geensins by enige bedrog of korrupsie betrokke nie.

Faith Muthambi, oudminister van kommunikasie, wat steeds ’n ANC-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor omgewing, bosbou en visserye in die parlement is, se getuienis was, “om die minste te sê, onoortuigend,” het Zondo bevind. Muthambi weet goed dat sy ongeoorloofde kommunikasie met die Guptas gehad het. Sy het aangevoer dit was as deel van haar konsultasieproses met belanghebbendes in die kommunikasiebedryf, maar sy kon geen ander belanghebbendes noem wat sy gekonsulteer het of hul identiteite aan die kommissie openbaar nie.

Faith Muthambi, oudminister van kommunikasie

Muthambi het volgens Zondo op onwettige wyse inligting aan die Guptas (en spesifiek Rajesh Gupta) en meelopers gedeel kort ná haar aanstelling as minister van kommunikasie. Zondo sê dit is duidelik dat sy wou gehad het die Guptas moes “met hul vriend” Zuma gesels om te verseker dat sy sekere magte as minister van kommunikasie kon kry.

“Net soos Mosebenzi Zwane, Lynne Brown en Malusi Gigaba wat Gupta-ministers was, was Muthambi ook ’n Gupta-minister,” sê Zondo.

Die kommissie het bevind dat die kontrak tussen TNA Media en die SAUK onreëlmatig was en geskep is om TNA Media of die Guptas te bevoordeel tot nadeel van die SAUK, asook tot nadeel van die mandaat wat die SAUK as openbare uitsaaier het.

Daar is geen twyfel dat Zuma oneties opgetree het en hy as president die presidensie vir eie gewin en vir die gewin van sy seun, Duduzane, misbruik het nie.

Die Guptas het hul verhouding met Zuma gebruik om hul sakebelange uit te brei. Die uitbreiding van Infinity Media en die ontstaan van ANN7 demonstreer hoe hulle hul belange bevorder het. Zuma het die uitbreiding van dié sakebelange toegelaat sodat Duduzane daarby kon baat vind.

Die Gupta-familie en Duduzane het voordeel getrek uit die verhouding wat die Guptas met Zuma gehad het en Zuma het die Grondwet hiermee oortree, het Zondo bevind.

Rajesh Sundaram (Foto: Argief)

Rajesh Sundaram (Foto: Argief)

Hlaudi Motsoeneng, oud-bedryfshoof van die SAUK (Foto: Gallo Images)

Hlaudi Motsoeneng, oud-bedryfshoof van die SAUK (Foto: Gallo Images)

Duduzane Zuma (Foto: Argief)

Duduzane Zuma (Foto: Argief)

Faith Muthambi, oudminister van kommunikasie

Faith Muthambi, oudminister van kommunikasie

ZONDO SE AANBEVELINGS

Op die minste moet die owerhede probeer om al die geld te verhaal wat onwettig deur die SAUK bestee is, onder meer die R11 miljoen-bonus wat Hlaudi Motsoeneng as uitvoerende hoof van die SAUK ontvang het.

Die SAUK moet ’n siviele geding teen TNA Media en/of die maatskappydirekteure aanhangig maak vir die koste wat deur die SAUK vir die ontbytsessies aangegaan is. Hiermee moet in ag geneem word dat Duduzane Zuma ’n 30%-aandeel in Infinity Media gehad het.

Muthambi het die leisels van die SAUK aan Motsoeneng oorhandig en hom toegelaat om bo die wet op te tree. 

Wetstoepassers moet ’n ondersoek doen met inagneming van ’n moontlike strafregtelike klag teen onder meer Motsoeneng vir sy rol in die ooreenkomste wat die SAUK met The New Age oor die uitsending van die ontbytsessies gesluit het.

LEES OOK:
‘Werknemers moes afbuig, aan Guptas se skoene raak’
Zondo hoor van ‘gekonkel’ agter toe deure by SAUK
Hlaudi moet R11,5 miljoen aan SAUK terugbetaal – en nóg miljoene rente
SAUK: Spesiale tribunaal behou uitspraak teen Hlaudi en kie.
Ons geniet kerrie by Guptas, ‘big time’ – Hlaudi voor Zondo

Foto: Getty Images

Waterkloof-landing

DIE ROLSPELERS

white airplane on mid air

• Oudpres. Jacob Zuma
• Rajesh (Tony) Gupta
• Atul Gupta
• Bruce Koloane, oudhoof van staatsprotokol en oud-ambassadeur in Nederland

Op 30 April 2013 het ’n kommersiële vliegtuig met 200 gaste vanaf Indië vir die Gupta-troue by Sun City op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland.

Die getuienis van 12 mense is in Julie 2019 oor dié gebeure voor die kommissie aangehoor.

Die vlug is voorafgegaan deur die Guptas wat ’n plek gesoek het waar hul bruilofsgaste vanuit Indië kan land.

Vega Gupta, die bruid, met haar gevolg by The Palace of the Lost City. (Foto: Natal Witness)

Vega Gupta, die bruid, met haar gevolg by The Palace of the Lost City. (Foto: Natal Witness)

In Februarie 2013 het Rajesh (Tony) Gupta die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) genader en gevra of die vlug vanaf Indië, wat volgens hom staatshoofde, ministers en senior amptenare van Indië as passasiers sou hê, op die O.R. Tambo-lughawe kon land.

Hierna het Rajesh met Koloane en amptenare van Acsa vergader en probeer uitvind of die vlug op O.R. Tambo kon land en die gaste daar verwelkom sou kon word. Dit is egter geweier

Atul Gupta het ingespring en in Maart 2013 vir Nosiviwe Mapisa-Nqakula, destyds minister van verdediging en militêre veterane, genader. Ashu Chawla, ’n Gupta-meeloper, het op sy beurt die minister se raadgewer (wie se naam nie in die verslag genoem is nie) genader met ’n versoek of die vlug elders kan land.

Atul Gupta (Foto: Gallo Images)

Atul Gupta (Foto: Gallo Images)

Mapisa-Nqakula het die destydse hoof van die Suid-Afrikaanse Lugmag, Fabian Zimpande “Zakes” Msimang, genader wat gesê het dit sal onwettig wees indien die vlug op die Waterkloof-lugmagbasis land.

Koloane het weer Mapisa-Nqakula se raadgewer gekontak en gesê hy is “onder druk van No. 1”, wat almal geweet het oudpres. Jacob Zuma is.

Die raadgewer het Koloane laat weet dat die minister die versoek geweier het.

Koloane het egter voortgegaan en maj. Thabo Ntshisi by die Waterkloof-lugmagbasis gekontak en gevra hoe vorder sy versoek dat die vliegtuig daar mag land. Ook Ntshisi het gesê slegs staatshoofde en hul adjunkte mag op die lugmagbasis land.

Koloane het gesê dat daar verskeie ministers op die vlug sal wees en dat die Guptas en die minister van vervoer hom gevra het om te help, maar die versoek kan nie op skrif geplaas word nie.

Lt.kol. Christine Anderson, wat vir dekades werksaam was by die lugmag totdat sy geteiken is as dié persoon by Waterkloof wat goedkeuring vir die Gupta-vliegtuig se landing gegee het, het voor die kommissie getuig dat Koloane aan haar gesê die president vra of alles in orde is vir die landing.

Zondo het in sy verslag bevind Koloane was die sleutelfiguur om die landing toe te laat. 

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het tugstappe teen Koloane gedoen en hy het skuld beken op verskeie aanklagte, onder meer dat hy diplomatieke kanale misbruik het, gelieg het oor feite en regulasies van Dirco oortree het.

Zondo het bevind Koloane was nie ’n geloofwaardige getuie voor die kommissie nie – hy het gesê dat hy nie kan onthou dat hy en Rajesh Gupta ’n vergadering by die O.R. Tambo-lughawe gehad het oor die vlug en dat daar bruilofsgaste op sou wees nie.

Koloane het op dag twee van sy getuienis voor die kommissie erken hy het name gebruik, maar bloot sodat amptenare hul werk moes doen en die vlug moes goedkeur. Hy het gesê dat geen president of minister hom gevra het om só op te tree nie en dat hy hul name in ’n oordeelsfout gebruik het.

Koloane is deur Zuma in 2014 as ambassadeur in Nederland aangestel. Dit het gevolg nadat hy sonder betalings geskors is by Dirco, maar vir die pos in Nederland aansoek gedoen het toe dit vakant geraak het.

Koloane is teruggeroep as ambassadeur nadat hy in Julie 2019 voor die kommissie getuig het. Hy het daarna bedank.

ZONDO SE BEVINDINGS

In Zuma se getuienis hieroor het hy aangevoer dat hy nie van die vlug geweet het nie en ook nie so iets met iemand bespreek het nie.

Die vraag is hoe eerlik is sy weergawe dat hy nie vooraf iets geweet het van die Gupta-vlug se landing op Waterkloof nie, en of hy dan nooit die kwessie met die Guptas bespreek het nie, sê Zondo.

Sy verhouding met die Guptas in geheel moet vir die antwoord in ag geneem word.

Dit is algemene kennis dat sy seun Duduzane ’n sakevennoot van die Guptas was en ook dat Zuma die Guptas beskerm het toe hy deur die nasionale uitvoerende komitee van die ANC oor hulle uitgevra is.

Koloane is skuldig daaraan dat hy diplomatieke kanale misbruik het.

Bruce Koloane, oudhoof van staatsprotokol en oud-ambassadeur in Nederland (Foto: City Press)

Sy bevordering na ’n meer senior pos was slegs sowat ’n jaar ná die Waterkloof-landing.

Dit is moeilik om Zuma se getuienis te glo dat hy nie vooraf van die Waterkloof-landing geweet het nie. Die moontlikheid is oorweldigend dat Zuma wel van die planne geweet het en hy het nie besware daarteen gehad het nie.

In ag genome hoe die Guptas gespog het oor hul vriendskap met Zuma, is dit hoogs onwaarskynlik dat hulle hom nie oor dié planne sou inlig nie.

As mens die swak getuienis van Koloane voor die kommissie in ag neem, is dit moontlik dat hy in opdrag of versoek van Zuma opgetree het, ongeag sy ontkenning daarvan dat Zuma hom gevra het om dit te doen.

Bruce Koloane, oudhoof van staatsprotokol en oud-ambassadeur in Nederland (Foto: City Press)

Bruce Koloane, oudhoof van staatsprotokol en oud-ambassadeur in Nederland (Foto: City Press)

ZONDO SE AANBEVELINGS

Ongeag die getuienis regverdig die bewyse nie dat Koloane of enige ander amptenaar weens staatskaping opgetree het nie. Op die ergste was dit ’n verleentheid vir die regering en die land.

Wat dit wel duidelik aan Suid-Afrika gewys het, is die skandalige invloed wat die Guptas op die hoogste gesag van die republiek gehad het en hoe hulle dit skaamteloos misbruik het.

Daar word gehoop dat ’n voorval soos die Waterkloof-landing nooit weer in die land sal gebeur nie, bevind Zondo.

LEES OOK:
Zondo-verslag: ‘Zuma se politieke tjank afgetrap’ – ontleders
SA het prys betaal vir Zuma se Gupta-bande – Mo Shaik
Nog ’n geheue ‘verfris’ voor Zondo-kommissie
Waterkloof: Opname verfris Koloane se geheue

Die Passasierspooragentskap (Prasa)

DIE ROLSPELERS

photo of train station

• Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van Prasa
• Sfiso Buthelezi, voormalige voorsitter van die Prasa-direksie 
• Mario Ferreira, eienaar van die maatskappy Siyangena
• Riaan van der Walt, voorheen ’n prokureur van Pretoria

ZONDO SE BEVINDINGS

Prasa is inderdaad gekaap of is ’n slagoffer van staatskaping.

Prasa se tenderprosedures het letterlik “ontspoor”.

Montana het klaarblyklik ’n deurslaggewende rol gespeel in die kaping van Prasa. Hy was vir nege jaar die uitvoerende hoof, maar die vraag is nou wie anders by die staatskaping betrokke was, hetsy wetend of net eenvoudig weens die posisies wat hulle gehad het of dat hulle lede van komitees was of deel was van die verkrygingsprosesse wat deur Prasa gevolg is.

Die openbare beskermer het vantevore bevind daar is dokumente van haar weerhou deur Prasa.

Dit is moeilik om die individue te identifiseer wat doelbewus deelgeneem het aan die kaping van Prasa.

Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van Prasa

Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van Prasa

ZONDO SE AANBEVELINGS

’n Spesiale kommissie van ondersoek moet aangestel word wat slegs fokus op Prasa.

Zondo sê hy het die ongemaklike gevoel dat daar grootskaalse ongerymdhede by Prasa was wat nog nie oopgevlek is nie.

Montana en ander senior werknemers van Prasa behoort vervolg te word vir die lokomotief-kontrak wat met die Swifambo-maatskappy aangegaan is.

Daar moet ook werk gemaak word daarvan om vorige direksielede te vervolg vir hul aandeel in die toekenning van die Swifambo-tender.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en Valke moet bestaande ondersoeke opskerp en afhandel.

Montana se persoonlike eiendomstransaksies moet so gou moontlik ondersoek word.

Lucky Montana se Waterkloof-huis

Montana het in sy getuienis voor Zondo aangevoer die kommissie is eensydig en dryf ’n agenda.

Sy verweer was dat onreëlmatige besteding nie korrupsie beteken nie.

Hy het getuig daar word aangevoer dat miljarde rande weens staatskaping verlore is, terwyl dit in der waarheid onreëlmatige besteding was.

Montana is deur verskeie getuies by beweerde korrupsie en staatskaping betrek en dat daar ’n eiendom vir hom gekoop is in ruil vir ’n tender van R800 miljoen.

Die kommissie het die aankoop van vier eiendomme met ’n gesamentlike waarde van R36 miljoen ondersoek om te probeer vasstel of dit met die toekenning van Prasa-tenders verbind kon word.

Een van die huise is ’n luukse herehuis van R10,5 miljoen in Waterkloof, Pretoria, wat volgens getuienis voor die kommissie met ’n web van transaksies gekoop is nadat Montana die eiendom wou hê.

Een van die ondersoekers van die kommissie, Clint Oellermann, het in 2020 getuig oor die vier eiendomme en gesê in die eerste geval het Montana in 2008 ’n eiendom vir R1,85 miljoen gekoop.

Precise Trade, ’n maatskappy van die Pretoriase prokureur Riaan van der Walt, het die eiendom in 2014 vir R6,8 miljoen van Montana gekoop, heelwat meer as die R3,5 miljoen waarvoor die eiendom toe gewaardeer was.

Van der Walt was ’n prokureur wat verbind is met Mario Ferreira, eienaar van die Siyangena-maatskappy, wat kontrakte van miljarde rande van Prasa gekry het.

Toe die Zondo-ondersoekspan met Van der Walt probeer kontak maak het, het hulle uitgevind hy het na Texas in Amerika geëmigreer.

Adv. Vas Soni, wat die getuienis oor Prasa voor die kommissie gelei het, het uitgewys die eerste eiendomstransaksie met Montana was in dieselfde tyd as wat Prasa en Siyangena op 30 Junie 2014 ’n kontrak vir R2,4 miljard aangegaan het, asook in dieselfde tyd toe dié kontrak op 30 Junie teen R800 miljoen deur Montana verleng is.

Die kommissie het ook getuienis aangehoor dat toe daar berigte oor Montana se huis in Waterkloof in die media verskyn het, is die bouwerk daaraan net so gestaak.

LEES OOK:
Zondo-kommissie is gekaap, sê voormalige Prasa-hoof

Bouwerk aan Lucky Montana se huis in Waterkloof is net so gelos. Foto: Felix Dlangamandla

Bouwerk aan Lucky Montana se huis in Waterkloof is net so gelos. Foto: Felix Dlangamandla

Die Afro 4000-lokomotiewe

Die omstrede tender vir die Afro 4000-lokomotiewe is een van die kwessies waaroor Zondo meer duidelikheid wou hê in een van die sittings van die kommissie.

In Julie 2021 wou Zondo van Popo Molefe, oudvoorsitter van die Prasa-direksie, weet of die lokomotiewe toe wel nie op die spoorlyne gepas het nie.

Molefe het geantwoord die werklikheid is dat die treine nie pas nie en dat Transnet aan Prasa ’n kennisgewing gestuur het dat die lokomotiewe ’n veiligheidsrisiko is.

Een van die Afro 4000-lokomotiewe wat aan die brand geslaan het. Foto: Leanne George

Een van die Afro 4000-lokomotiewe wat aan die brand geslaan het. Foto: Leanne George

Zondo het uitgewys daar is mense soos Montana wat gesê het dat die lokomotiewe wel reg is.

Molefe het geantwoord hy kan bevestig dat die lokomotiewe te hoog vir die spoorlyne is. Ja, die lokomotiewe kon wel op die spore van Kaapstad na Johannesburg loop nadat dit by die Kaapstadse hawe afgelewer is, maar daar is bewyse dat ten minste een van die lokomotiewe aan die brand geslaan het toe dit oor ’n sekere brug gery het.

Die treine kon nie gebruik word vir die doel waarvoor dit verkry is nie. Dat die treine van Kaapstad na Johannesburg kon ry, beteken nie dat dit bruikbaar was nie. Die gevaar was dat dit aan oorhoofse elektriese infrastruktuur kon raak, wat ’n brandgevaar ingehou het, het Molefe geantwoord.

Een van die rolspelers in die verkryging van die Afro 4000-lokomotiewe was Sfiso Buthelezi, wat vir ses jaar die voorsitter van die Prasa-direksie was, juis ook in die tydperk toe die tender vir die lokomotiewe toegestaan is.

Foto: Deon Raath

Foto: Deon Raath

In dieselfde maand dat die lokomotiewe in Desember 2014 by die hawe aangekom het, het Buthelezi as voorsitter van die Prasa-direksie bedank. Hy is in 2017 deur Zuma as adjunkminister van finansies aangestel.

Hy was van 30 Maart 2017 tot 26 Februarie 2018 adjunkminister van finansies, en van 26 Februarie 2018 tot 7 Mei 2019 adjunkminister van landbou, bosbou en visserye.