Estina-melkplaas
Die Guptas se bankrekeninge
Besliste staatskaping
Ramaphosa se getuienis
Geldwassery
Opsomming van Zondo-verslag

Estina-melkplaas

DIE ROLSPELERS

image

Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat
Mosebenzi Zwane, voormalige LUR van landbou in die Vrystaat asook voormalige minister van minerale bronne
Peter Thabethe, voormalige hoof van die departement van landbou in die Vrystaat
Rajesh (Tony) Gupta
Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van die departement van landbou in die Vrystaat

ZONDO SE BEVINDINGS

Mosebenzi Zwane en Peter Thabethe het elk ‘n sleutelrol gespeel met die implementering van die Estina-projek.

Mosebenzi Zwane Foto: Argief

Peter Thabethe (Foto: Getty Images)

Deur die Estina-maatskappy aan te stel as die agent wat die projek sou implementeer en bestuur, het Thabethe daarin gefaal om te voldoen aan die tenderbeleid van die Vrystaatse landboudepartement wat regulasies van die Grondwet, die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) asook tesourieregulasies insluit. 

Die tenderbeleid bepaal dat ’n behoorlike tenderprosedure gevolg moet word wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en koste-effektief moet wees.

Die ooreenkomste van 5 Junie en 5 Julie 2012 is aangegaan sonder om te verseker dat die nodige geld daarvoor beskikbaar was, of dat daar ’n volhoubaarheidstudie gedoen is, ’n sakeplan saamgestel en ’n omgewingsimpakstudie gedoen is, waterregte verkry is, of dat daar voldoen is aan die regulasies ingevolge die PFMA.

Thabethe het nie die regulasies ingevolge die PFMA gevolg nie.

Die projek het in die eerste twee jaar misluk, nie soos wat Thabethe aangevoer het weens medianavrae of ’n ondersoek deur die nasionale tesourie nie, maar weens Thabethe se onbevoegdheid of omdat hy die Guptas se agenda uitgevoer het. Hy het niks omgegee vir belastingbetalers se geld of die begunstigde swart boere van die Estina-projek nie, het Zondo bevind.

Thabethe het saam met Zwane gewerk om doelbewus die regulasies in die Grondwet en die PFMA te oortree. 

Thabethe en Zwane het die rampspoedige projek toegelaat en deurgevoer waarby die Gupta-familie gebaat het ten koste van die beoogde begunstigdes van die projek.

Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van die landboudepartement van die Vrystaat, het haar in getuienis voor die kommissie gedistansieer van die verantwoordelikhede wat sy geglo het by ander amptenare gelê het.

Seipati Sylvia Dlamini (links) en Malikomo Lenah Mohapi in die beskuldigdebank in die Bloemfonteinse streekhof. Foto: Mlungisi Louw

Sy het in opdrag van Zwane opgetree en op 15 Junie 2012 R30 miljoen versoek in omstandighede waarin sy nie self seker gemaak het die ooreenkoms wat sy onderteken, is geldig nie.

Dlamini het nie voldoende stappe gedoen om onbehoorlike besteding te verhoed nie en het ook nie behoorlike raad aan haar hoofde gegee nie.

Elzabé Rockman, voormalige LUR vir finansies in die Vrystaat, het getuig dit is onwaarskynlik dat Thabethe die ooreenkoms met Estina sou onderteken het sonder dat Zwane daarvan geweet het.

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir finansies.Foto: Mlungisi Louw

Rockman het bevestig sy het ’n aantal kere met Rajesh (Tony) Gupta by die Guptas se huis in Saxonwold vergader. Hulle het onder meer die geld bespreek wat aan Estina geskuld is vir die Vrede-projek.

Zondo sê wat betekenisvol is, is dat die betalings aan Estina gemaak is nadat Rockman met Rajesh vergader het. Sy het die betalings gefasiliteer in omstandighede waar dit nie na behore deur die Vrystaatse provinsiale tesourie gemonitor is nie.

Rockman kon ’n meer doeltreffende rol gespeel het. Rockman het getuig die uitgawes vir die Vrede-projek is van sowat R13 miljoen tot R570 miljoen aangepas sonder dat dit met die provinsiale tesourie bespreek is.

Die hele Vrede-projek het gebeur omdat Thabethe klaaglik daarin gefaal het om belastingbetalers se geld te beskerm.

Dit het gebeur omdat Zwane die Guptas se agenda gedryf het. Dit het ook gebeur omdat Ace Magashule as premier ook die agenda van die Guptas sou volg.

Ace Magashule Foto: Argief

Oor Magashule het Zondo bevind daar was in getuienis voor die kommissie deur Mxolisi Dukwana, huidige Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, genoem dat hy en Magashule die Guptas se huis een keer besoek het en dat Magashule gesê het hy gaan deur sy seun sake met die Guptas doen. Magashule het nie Dukwana se getuienis voor die kommissie in twyfel getrek nie

Magashule het Ashok Narayan, ’n Gupta-werknemer, as sy raadgewer aangestel.

Zondo bevind Magashule het klaaglik daarin misluk om toesig te hou oor die lede van sy provinsiale uitvoerende raad (LUR’e).

Daar moet gevolge wees vir mense wat nie hul werk doen nie, anders gaan korrupsie en die dade van staatskaping vir altyd voortduur tot nadeel van die land en sy mense, volgens Zondo.

Nie die Vrystaatse wetgewer of die ANC het Magashule verantwoordbaar gehou vir die asbesdakke-projek en die behuisingsprojek van R1 miljard nie.

Premiers moet weet dat hulle toesig moet hou oor hul LUR’e en departemente, sê Zondo. 

Mosebenzi Zwane Foto: Argief

Mosebenzi Zwane Foto: Argief

Peter Thabethe (Foto: Getty Images)

Peter Thabethe (Foto: Getty Images)

Seipati Sylvia Dlamini (links) en Malikomo Lenah Mohapi in die beskuldigdebank in die Bloemfonteinse streekhof. Foto: Mlungisi Louw

Seipati Sylvia Dlamini (links) en Malikomo Lenah Mohapi in die beskuldigdebank in die Bloemfonteinse streekhof. Foto: Mlungisi Louw

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir finansies.Foto: Mlungisi Louw

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir finansies.Foto: Mlungisi Louw

Ace Magashule Foto: Argief

Ace Magashule Foto: Argief

ZONDO SE AANBEVELINGS

Thabethe moet strafregtelik en siviel verantwoordbaar gehou word vir sy rol daarin dat die Vrystaatse landboudepartement miljoene rand se belastinggeld verloor het. 

Wetstoepassers moet ’n verdere ondersoek doen, indien dit nog nie voldoende is nie, sodat die nasionale vervolgingsgesag Thabethe kan vervolg.

Daar moet ook verdere ondersoek gedoen word om te bepaal of Zwane en Magashule onwettig opgetree het in hul onderskeie rolle rakende die Vrede-melkplaasprojek. 

Daar moet ’n regsmening verkry word om regstappe te doen teen Zwane en Magashule om geld van hulle te verhaal vir die projek weens hul versuim om hul wetlike verpligtinge na te kom. 

Wetstoepassers moet ’n ondersoek doen, indien hulle dit nie reeds gedoen het nie, of lede van die Gupta-familie, insluitende Rajesh en hul meelopers (insluitende Narayan) aan enige misdade skuldig is, en die NVG moet dit oorweeg om hulle aan te kla indien dit nog nie gedoen is nie.

FOTO: Die Estina-suiwelprojek in Vrede se ingang. (Deon Raath)

LEES OOK:
Só het VS landbouhoof oor Zwane voor Zondo getuig
Zondo: Magashule en Zwane moet ondersoek word

Die ingang van die Estina-suiwelprojek by Vrede.

Die Johannesburgse sakeman Iqbal Sharma se naam het telkemale voor die Zondo-kommissie in getuienis opgeduik. 

Hy is as ’n sleutelfiguur uitgewys in die Gupta-web om staatstenders te bekom. 

Iqbal Sharma en sy vrou, Tarina Patel, op 'n glansgeleentheid in Johannesburg in 2019. Foto: Gallo Images

Iqbal Sharma en sy vrou, Tarina Patel, op 'n glansgeleentheid in Johannesburg in 2019. Foto: Gallo Images

Iqbal Sharma met ’n vorige hofverskyning. Foto: Mlungisi Louw

Iqbal Sharma met ’n vorige hofverskyning. Foto: Mlungisi Louw

Hy het reeds in die landdroshof in Bloemfontein verskyn op ’n aanklag van geldwassery in verband met die Estina-melkplaasprojek by Vrede in die Vrystaat.

Sharma was in die tyd toe die Guptas Transnet met staatskaping geteiken het, voorsitter van die Transnet-direksie se verkrygingskomitee. Die komitee het ’n sleutelrol gespeel om besluite te neem oor tenders, onder meer vir die verkryging van 1 064 lokomotiewe. Vir dié kontrak was die aanvanklike prys R38,6 miljard, maar dit het tot R54,5 miljard gestyg.

Sharma se naam is ook genoem as sakevriend van Salim Essa en dat hy Essa glo gehelp het om Denel-kontrakte in te palm.

Verder is hy die eienaar van die maatskappy Nulane Investments 204. Dit is aan Nulane Investments aan wie die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling glo R24,9 miljoen betaal het. Nulane was deel van ’n konsortium wat ’n plan voorgestel het om ’n “Stad vir die toekoms”-projek te vestig, en dat die Vrystaatse departement van ekonomiese ontwikkeling R140 miljoen sou betaal om die plan te ontwikkel.

Sharma is ook ’n man wat lief is vir weelde. In Junie 2021 het dit aan die lig gekom dat hy ’n luukse huis in Sandton het, wat selfs op die TV-program Top Billing vertoon is. Sy vrou, die aktrise Tarina Patel, het die huis met sy Indiese paleisstyl se deure oopgegooi sodat al die prag en praal op die TV-program vir die wêreld gewys kon word. 

Die luukse huis in Sandton wat aan Iqbal Sharma behoort. Foto: Skermgreep/Top Billing

Die luukse huis in Sandton wat aan Iqbal Sharma behoort. Foto: Skermgreep/Top Billing

Een van die vertrekke van Iqbal Sharma se huis. Foto: Skermgreep/Top Billing

Een van die vertrekke van Iqbal Sharma se huis. Foto: Skermgreep/Top Billing

As deel van ’n voorlopige bevriesingsbevel wat bekom is nadat die NVG ’n aansoek hiervoor gebring het, is ’n lys van besittings opgestel, soos onder meer antieke meubels uit Indië waarvan sommige stukke ouer as 400 jaar is.

Dit is juis in verband met die bedrywighede van Sharma en sy maatskappy asook die Gupta-broers Atul en Rajesh en hul vroue, Chetali en Arti, se maatskappy Islandsite Investments 180, dat die Suid-Afrikaanse regering Interpol genader het om te help met die twee Gupta-broers se inhegtenisneming sodat hulle aan Suid-Afrika uitgelewer kan word.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het in Mei ’n aansoek van die hand gewys dat die finalisering van die bevriesingsbevel van die bates van Islandsite asook van Sharma en Nulane Investments 180 uitgestel moet word. Die aansoek dat die bevriesing van die bates ’n finale hofbevel gemaak moet word, sal op 20 en 21 Oktober aangehoor word.

Islandsite besit ’n huis in Constantia in Kaapstad met ’n geraamde waarde van R21 miljoen en ’n huis in Saxonwold, Johannesburg, van meer as R12,1 miljoen.

LEES OOK:
Sharma, Guptas se lewe van weelde sonder grense
Zondo hoor naam ‘Iqbal Sharma’ telkemale
Gupta-firma se aansoek teen bevriesingsbevel misluk
Guptas kan weer luuks in SA lewe

Kyk hier na die weelde van Iqbal Sharma en sy vrou, Tarina Patel, se paleis in Sandton.

Sluiting van Guptas se bankrekeninge 

DIE ROLSPELERS

• Oudpres. Jacob Zuma 
• Oudmin. Mosebenzi Zwane 
• Die ANC

Die aantyging dat die besluit geneem is om die Guptas se bankrekeninge te sluit om die agenda van witmonopoliekapitaal te bevorder, is in die geheel ongeregverdig en daar is geen bewyse wat die aantyging steun nie.

Banke het die besluit geneem as deel van hul wetlike plig wanneer dit blyk dat 'n kliënt betrokke is by verdagte transaksies wat die banke se reputasie skade kan aandoen.

Die spesiale taakspan wat deur Zuma en Zwane gestig is, onder leiding van Zwane, het probeer om die banke so ver te kry om hul besluite te hersien. Die taakspan het onbehoorlik ingemeng om die Guptas te bevoordeel.

Dit is waarom Zwane in een of meer van die vergaderings met die banke gevra het wat die Guptas kan doen sodat die banke hul besluite kan heroorweeg.

In ag genome al die getuienis wat die kommissie aangehoor het, kan daar geen twyfel wees dat Zuma wou gehad het dat 'n interministeriële komitee wat gestig is, sy vriende die Guptas moes help nie. Dit sou 'n onbehoorlike inmenging wees in die verhouding wat banke met hul kliënte het.

Die optrede deur Zuma was ongrondwetlik, sê Zondo. 

Zuma het sy presidensiële mag onbehoorlik gebruik n die saak om die Guptas te help.

Zwane se optrede was ook onbehoorlik. 

Die optrede van Zuma en Zwane is betreurenswaardig en moet veroordeel word as die misbruik van hul mag.

Die ANC het aangevoer dat die organisasie vergaderings met die banke gehou het, nie omdat hulle die Guptas wou help nie, maar omdat hulle die proses en omstandighede beter wou verstaan oor hoe 'n bank se verhouding met sy kliënte werk en hulle was bekommerd oor die verlies van werksgeleenthede.

Hoewel daar nie van die kommissie vereis word om besluite te neem oor die ANC nie, is daar vrae oor hoekom hulle die saak as so dringend beskou het. Hoekom het hulle aan die Oakbay-maatskappy verslag gaan doen ná hul vergaderings met die banke indien hulle bloot die redes en prosesse van die banke wou verstaan? 

Dit was ook onbehoorlik vir die kabinet om by die saak betrokke te raak. 

Pravin Gordhan was in daardie stadium die minister van finansies en banke was deel van sy portefeulje. Hy was heeltemal gekant daarteen dat die kabinet of enige iemand betrokke raak. Gordhan het die komitee teengestaan wat deur Zwane gelei is.

Banke behoort wel ook eers hul kliënte se saak aan te hoor. Volgens huidige wetgewing is dit nie nodig nie. Dit kan verreikende nagevolge hê wanneer ’n bank ’n kliënt se rekening sluit en dit is net regverdig dat banke hul kliënte se kant ook moet aanhoor. 

Daar word aanbeveel dat die toepaslike bestaande wetgewing oor banke aangepas word om vereistes van regverdigheid in te stel. Indien nodig, moet nuwe wetgewing hieroor ingestel word. 

Die Guptas

Daar wás staatskaping 

DIE ROLSPELERS

• Die Zondo-kommissie
• Transnet
• Bosasa
• Die Suid-Afrikaans Inkomstediens

Transnet

Die staatskaping van Transnet het ’n sistematiese plan behels om beheer oor die besluitnemingsproses van die entiteite oor te neem. 

’n Klein groepie senior uitvoerende bestuurslede en lede van die Transnet-direksies is in posisies geplaas om sleutelkontrakte te kan toeken. 

Kuben Moodley, Eric Wood, Siyabonga Gama, Garry Pita, Daniel Roy en Phetolo Ramosebudi staan in die beskuldigdebank in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge. Foto: NVG

Kuben Moodley, Eric Wood, Siyabonga Gama, Garry Pita, Daniel Roy en Phetolo Ramosebudi staan in die beskuldigdebank in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge. Foto: NVG

Ander sleutelpersone is ontmagtig en opsygeskuif sodat hulle nie kon deelneem aan besluitnemings oor tenders nie. 

Die staatskaping van Transnet het van 2009 tot 2018 geduur en is gedoen in samewerking met die Guptas en hul maatskappye. 

Die getuienis wat die kommissie aangehoor het, het oortuigend bepaal dat daar in hierdie tydperk staatskaping plaasgevind het. 

Benewens dat Gupta-medewerkers in sleutelposte in Transnet aangestel is, is daar betalingsooreenkomste aangegaan tussen China North Rail (CNR) en China South Rail (CSR), asook  CRRC Corporation Limited (die samesmelting van CNR en CSR) met die Gupta-meeloper Salim Essa se maatskappye. 

Maatskappye met Gupta-bande is by Transnet-kontrakte ingesluit. Daar is reëlings getref sodat geldwassery kon plaasvind tussen die maatskappy Regiments en maatskappye wat bande gehad het met Essa en Kuben Moodley, nog ’n Gupta-meeloper. 

Kontantomkoopgeld is aan amptenare en werknemers verbonde aan Transnet betaal sodat hulle die Guptas kon bevoordeel in transaksies. 

Staatskaping by Transnet het begin nadat Maria Ramos as groep- uitvoerende hoof van Transnet bedank het.  

Barbara Hogan is in November 2010 as minister van openbare ondernemings vervang deur Malusi Gigaba. Gigaba het erken hy het ’n band met die Guptas gehad en het gereeld kontak met lede van die Gupta-familie gehad, sê Zondo. 

Gigaba, ’n vriend van die Guptas, het ’n kernrol gespeel daarin om Brian Molefe, nog ’n vriend van die Guptas, as groep- uitvoerende hoof van Transnet aan te stel. 

Molefe het vanaf Julie 2011 sy bande met die Guptas verstewig en gereeld hul Saxonwold-woning besoek. 

Daar is getuienis dat hy met sy besoeke groot bedrae geld ontvang het. 

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet, was deel van die skema om tenders aan Gupta-verwante maatskappye toe te ken, sê Zondo. 

’n Agteraf betaling (kickback) van meer as R2 miljard is deur CRRC aan Essa se maatskappy Tequesta betaal as deel van die tender om 232 diesellokomotiewe te verskaf. Dit was deel van die groter tender om 1 064 lokomotiewe te verskaf. 

CSR, CNR en CRRC het sowat R5,9 miljard in agteraf betalings terugbetaal ten opsigte van die 1 064 lokomotieftenders

Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, het ’n betaling van R93,48 miljoen aan Trillian goedgekeur en kort daarna, op 23 Januarie 2016, vir Essa by die Oberoi-hotel in Dubai ontmoet. 

Siyabonga Gama Foto: Lindile Mbontsi

Siyabonga Gama Foto: Lindile Mbontsi

Gama is op 12 Maart 2016 deur Lynne Brown, oudminister van openbare ondernemings, as uitvoerende hoof van Transnet aangestel, ten spyte daarvan dat die Transnet-direksie hom by twee vorige geleenthede ongeskik vir die pos bevind het.  

Transnet was finansieel die grootste staatsentiteit waar staatskaping plaasgevind het, sê Zondo. 

Transnet-kontrakte van meer as R41 miljard is onreëlmatig toegeken aan entiteite met Gupta-bande, asook met Essa. 

Heelwat van die stroping van Transnet deur die Guptas was in die tyd toe Gigaba die minister van openbare ondernemings was: van November 2010 tot Mei 2014. 

Die feit dat beide Zuma en Gigaba sterk bande met die Guptas gehad het, onderstreep die gevolgtrekking dat Transnet die teiken was van staatskaping.

LEES VERDER:
Só is daar oor Gama se Gupta-kuiers voor Zondo getuig
6 in hof oor Transnet: Dís wat Zondo gesê het
Zondo gee lang lys van politici, amptenare wat ondersoek moet word
Zuma, ander se ‘karakter’ het hulle ryp gemaak vir Guptas se kaping

Bosasa

Getuienis oor Bosasa bewys oorweldigend dat Bosasa, sy leiers, werknemers en vennote onwettig beheer kon kry oor tenderprosesse van staatsdepartemente deurdat amptenare sistemies en aggressief geteiken is met omkopery. 

Dit het mense ingesluit so hoog soos Zuma aan die een kant van die spektrum tot munisipale amptenare en werknemers van staatsentiteite aan die ander kant. 

Oud-pres. Jacob Zuma

Oud-pres. Jacob Zuma

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het getuig dat Bosasa sowat R75 miljoen per jaar aan omkoopgeld betaal het. 

Angelo Agrizzi

Angelo Agrizzi

Bosasa en die Watson-familie het ’n goed georganiseerde en goed geplaaste netwerk van invloedryke mense se lojaliteit verseker met omkoopgeld en geskenke. Hierdeur is onreëlmatige tenderprosedures gevolg waarby Bosasa baat gevind het. 

Daar was ’n noue band tussen Zuma en Gavin Watson en hulle het gereeld vergader, bevind Zondo. 

Die duidelikste voorbeeld is die kontrakte wat Bosasa van die departement van korrektiewe dienste (DKD) gekry het. 

Dit is verkry deurdat Linda Mti, voormalige kommissaris van die DKD, en Patrick Gillingham, voormalige finansiële hoof van die DKD,  omgekoop is en onder Watson, grootbaas van Bosasa, se invloed was. 

Daar was ’n omvangryke poging deur Bosasa om vervolging deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te verhoed. Dit het ingesluit dat Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-direksie en vertroueling van Zuma, vertroulike dokumente vanaf die NVG verkry het oor die vordering van die ondersoek. Dit het die dossier ingesluit wat aan Bosasa verskaf is sodat hulle daarna kon kyk. 

Dudu Myeni

Dudu Myeni

Bosasa het nie net vir Zuma beïnvloed nie, dit het ook groot skenkings aan die ANC gemaak. 

Nomvula Mokonyane, ’n senior ANC-politikus wat in 2014 die minister van water en sanitasie geword het, het groot geskenke en betalings van Bosasa ontvang, bevind Zondo.  

Nomvula Mokonyane

Nomvula Mokonyane

Hoewel daar nie direkte bewyse is dat Zuma vir Bosasa gehelp het om tenders te bekom nie, is daar bewyse dat Zuma direk ingemeng het met die ondersoek deur die Valke teen Bosasa. 

Daar is ’n redelike vermoede dat Gwede Mantashe, nasionale voorsitter van die ANC, gratis sekuriteitstoerusting gekry het van Bosasa. 

Bosasa, sy leierskap, werknemers en vennote was betrokke by ’n sistemiese, onwettige en korrupte invloed om daarby baat te vind. Bosasa was betrokke by staatskaping, bevind Zondo. 

LEES MEER:
Cyril ‘reinig’ kabinet dalk in Oktober van staatskapers
Saak teen DKD-amptenare, Bosasa-werknemers weer uitgestel
Etiekkomitee gaan uiteindelik staatskapers in parlement bekyk

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) 

Toe Tom Moyane in 2014 oorgeneem het as kommissaris van die SAID, was dit op internasionale vlak gereken as een van die beste belastingadministrasiedienste wêreldwyd. Ten spyte hiervan is die konsultasiemaatskappy Bain aangestel om as raadgewer vir die SAID op te tree. 

Tom Moyane

Tom Moyane

Daar was oënskynlik ’n plan tussen Bain, Moyane en oudpres. Jacob Zuma om die SAID oor te neem vir hul eie doeleindes

Die groot klomp vergaderings tussen Bain en Zuma van Augustus 2012 tot Julie 2014 is ’n bewys van die samewerking tussen hulle, bevind Zondo. 

Oud-pres. Jacob Zuma (Foto: Daily Sun)

Oud-pres. Jacob Zuma (Foto: Daily Sun)

Bain het tussen 2012 en 2015 ’n reeks dokumente saamgestel met verreikende planne om die SAID te herstruktureer en ook om sekere sektore van die Suid-Afrikaanse ekonomie te herstruktureer. 

Die SAID was ’n sentrale deel van die skema en Zuma het Moyane aangestel as kommissaris van die SAID om sy werk te doen. 

Moyane het op stelselmatige wyse sleutel-werknemers van die SAID verwyder sodat hy sy planne kon uitvoer. Dit het ingesluit die verwydering van Barry Hore, die voormalige hoof van die SAID wat gesorg het dat dit behoorlik funksioneer. 

Volgens getuienis voor die kommissie is dit duidelik dat daar staatskaping van die SAID was, bevind Zondo. 

LEES OOK:
Zuma, Moyane speel groot rol in SAID se kaping – Zondo
Zondo-verslag | Húlle kan vervolg word, sê Zondo
Moyane kryt Gordhan as ‘rassis’ uit voor Zondo
Zondo-kommissie lê goeie grondslag vir verdere ondersoek

Ramaphosa se getuienis en die rol van die ANC en parlementêre toesig 

DIE ROLSPELERS

• Pres. Cyril Ramaphosa 
• Die ANC 
• Die parlement 

PRES. CYRIL RAMAPHOSA

Pres. Cyril Ramaphosa het in twee hoedanighede getuig, eerstens as adjunkleier en leier van die ANC en dan oor sy tyd as president en voorheen adjunkpresident van die land. 

Ramaphosa het getuig baie van die elemente van staatskaping het aan hom bekend geword toe dit aan die algemene publiek bekend geword het. 

Hy het bevestig Fikile Mbalula, tans minister van vervoer, het by ’n vergadering van die nasionale uitvoerende komitee gesê hy het by die Guptas gehoor dat hy destyds as ’n minister aangestel gaan word. 

Ramaphosa het getuig die voorval het nie in daardie stadium kommer gewek nie en dat die ANC meer op hul hoede moes gewees het oor gevaartekens soos hierdie. 

Die landing van die Gupta-vliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis was ook een van die waarskuwingstekens, maar die volle prentjie van staatskaping was nog nie duidelik nie, het Ramaphosa in sy getuienis aangevoer. 

Zondo het in sy verslag uitgewys hoewel Ramaphosa in sy getuienis saamgestem het dat sekere lede van die ANC deelgeneem het aan staatskaping, het hy nie enige individue se name genoem of bewyse ingedien van hul deelname nie. 

Oor sy interaksies met die Guptas het hy getuig hy het hulle by drie of vier geleenthede ontmoet, eerstens by ’n vergadering wat ANC-amptenare in Desember 2012 gehou het. Ramaphosa se getuienis was hulle het nie enige noemenswaardige gesprek gehad nie. 

Ook by ’n soortgelyke ontmoeting in 2014 het hulle niks noemenswaardigs bespreek nie. 

By ’n vergadering van ANC-amptenare in April 2016 was Rajesh (Tony) Gupta teenwoordig. Die Guptas het die vergadering gevra om die sluiting van hul bankrekeninge te bespreek.

Ramaphosa het getuig hy het by die vergadering die Waterkloof-landing opgehaal en aan Rajesh Gupta gesê hulle het oudpres. Zuma in ’n onheilspellende posisie geplaas.

Ramaphosa se getuienis was dié Gupta-broer het toe geantwoord daar is toestemming van die Indiese hoë kommissaris verkry dat die vliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis kan land. 

Oor die verwydering van Nhlanhla Nene as minister van finansies deur Zuma (in 2015) het Ramaphosa getuig Zuma het nie hieroor met hom gekonsulteer nie. Dit was vir hom ’n teken dat die proses van staatskaping in so ’n mate geslaag het dat die land se tesourie ook gekaap is, het Ramaphosa getuig. 

Oor Arthur Fraser, oudhoof van die Staatsveiligheidsagentskap en voormalige direkteur-generaal van die departement van korrektiewe dienste (DKD), en aantygings teenoor Fraser ten opsigte van die Principal Agent Network-projek, is Ramaphosa gevra hoe hy Fraser dan in April 2018 as direkteur-generaal van die departement van die DKD aangestel het. 

Ramaphosa het geantwoord hy het geweet van sommige van die aantygings teen Fraser. Hy het getuig dat hy sal wag vir die verslag van die kommissie hieroor. 

Oor die tydperk toe Ramaphosa adjunkpresident was en wat hy geweet het van staatskaping in daardie tydperk, was die vrae: Wat het hy toe reeds geweet? Wanneer het hy dit geweet? Wat het hy daaromtrent gedoen? 

Zondo bevind Ramaphosa se getuienis op die vraag  oor wat hy geweet het, as ietwat ondeursigtig.

Ramaphosa het getuig dat die bestaan van staatskaping aan hom bekend geraak het soos wat dit aan die publiek bekend geword het. Hy het in sy getuienis min inligting gegee oor wat hy geweet het – hy het getuig dat diegene wat betrokke was by staatskaping hul sake in die geheim gedoen het. 

Ramaphosa het getuig dit was eers toe die #GuptaLeaks-inligting openbaar gemaak is dat hy en andere besef het daar was staatskaping. Hy het getuig voor dit was daar “aanduidings” hiervan. 

Oor wat hy geweet het, is die bykomende vraag ook wat hy moes geweet het, volgens Zondo. 

Zondo het bevind daar was lank voor Desember 2015 genoeg inligting in die openbare domein wat ten minste daartoe moes gelei het dat Ramaphosa hieroor navraag moes gedoen en opgetree het oor sekere ernstige aantygings.  

As adjunkpresident het hy sekerlik die verantwoordelikheid gehad om dit te doen, volgens Zondo. 

Oor wat Ramaphosa gedoen het, was sy getuienis dat hy besluit het om aan te bly in die regering en van binne die regering staatskaping te beveg. Hy het egter nie voorbeelde gegee van wat hy gedoen het nie, sê Zondo. 

Pres. Cyril Ramaphosa

DIE ANC

Oor Ramaphosa se getuienis in sy hoedanigheid as president van die ANC sê Zondo dis noodsaaklik om die rol van die ANC te verstaan om staatskaping in Suid-Afrika te verstaan. 

Die ANC is die enigste regerende party sedert demokrasie in die land verkry is. Die ANC is verantwoordelik daarvoor om mense in die hoogste posisies aan te stel en met ’n betekenisvolle meerderheid in die parlement het dit doeltreffende beheer oor die toesigrol. 

Staatskaping het onder die ANC se bewind gebeur. 

Bykomend hierby is verskeie ANC-leiers deur getuienis geïmpliseer by staatskaping en daar is omvangryke getuienis dat die party self baat gevind het by staatskaping omdat die party betalings ontvang het van derde partye wat op hul beurt op korrupte wyse regeringskontrakte gekry het. 

In Ramaphosa se eie verklarings het hy erken daar was korrupsie en staatskaping en dat die ANC ’n rol daarin gespeel het. Ook dat korrupsie steeds voortduur, sê Zondo. 

Ramaphosa het getuig daar is nou ’n streep getrek en dat die ANC hom tot hernuwing en verandering verbind het. 

Zondo sê dit is aan Ramaphosa gestel dat die ANC al langer as 20 jaar beloof om korrupsie te beveg en dat die streep al verskeie kere getrek is; wat sal nou anders wees? 

Hierop het Ramaphosa geantwoord “dit is nou die tyd”. 

Ramaphosa het erken die ANC het foute gemaak in sy hantering van staatskaping, sê Zondo. 

Kaderontplooiing

Oor kaderontplooiing het Ramaphosa, net soos Gwede Mantashe in sy getuienis voor die kommissie uitgewys het, getuig dit is ’n belangrike praktyk van die ANC en dat die doel daarvan is om mense aan te stel wat die geskikste is vir ’n bepaalde doelwit. 

Die ANC se beleid hieroor is om ná die einde van die apartheid instellings te transformeer. 

Van die oorwegings vir kaderontplooiing is gegrond op politiek en die uitvoering van die mandaat van die regerende party. 

Ramaphosa het uitgewys die praktyk is nie eie aan die ANC nie en word wêreldwyd beoefen, ook deur ander partye in Suid-Afrika. 

ANC-geldsake

Wat die befondsing van die ANC betref, het Ramaphosa getuig die feit dat daar nie deursigtigheid is hieroor nie, het die potensiaal vir korrupsie verhoog. 

In die geval waar individue skenkings maak aan die ANC terwyl hulle bymotiewe daarmee het, het Ramaphosa getuig die onwettige en onetiese optrede van skenkers het eers aan die lig gekom nadat die skenkings gemaak is. Politieke partye kon nie skenkers se geld teruggee nie omdat die partye altyd ’n tekort aan geld het. 

ANC

CR17-veldtog

Oor Bosasa se skenking vir sy CR17-veldtog om oudpres. Zuma uit die kussings te lig en self die nuwe president van die ANC te word, het Ramaphosa getuig daar was niks sinisters of onderduims aan sy veldtog nie. Diegene wat sy veldtog bestuur het, het besluit dat hy nie deel sal wees van die veldtog om geld in te samel nie om te verseker dat hy nie weet wie die skenkings maak nie. Dit is gedoen sodat skenkers nie enige gunste kon verwag nie. 

Een van die bestuurders van sy veldtog het Gavin Watson as ’n individu genader en nie Bosasa, sy maatskappy, nie. 

Ramaphosa het getuig hy was nie daarvan bewus toe dit gedoen is nie. 

Daar is R300 miljoen ingesamel vir die CR17-veldtog en die geld is gebruik vir vervoer, om plekke te huur en om goed te koop vir sy veldtog, maar nie om stemme te koop nie, het Ramaphosa getuig. 

Zondo het gesê daar moet kennis geneem word daarvan dat die ANC moes geweet het van Bosasa se onwettige aktiwiteite en nie skenkings moes aanvaar het nie en dat dieselfde vir die CR17-veldtog moes gegeld het. 

Zondo het bevind dit is duidelik uit Ramaphosa se getuienis dat hy nie geweet het van sekere skenkers nie, maar hy moes seker gemaak het dat hy geweet het waar die geld vandaan gekom het. 

Zondo het bevind die ANC het daarin misluk om oor ’n tydperk van vyf jaar op te tree nadat daar aanduidings was van staatskaping.

Optrede van die parlement

Die kiesstelsel in Suid-Afrika moet verander, volgens Zondo. Suid-Afrikaners moet hul president direk verkies, eerder as dat die staatshoof aangewys word deur die party wat die verkiesing wen. Om dit moontlik te maak, moet die parlement dit oorweeg om die nodige grondwetlike wysigings aan te bring. 

Die parlement moet oorweeg om ’n nuwe komitee te stig wat toesig hou oor die werking van die president. 

Daar moet ook nuwe wetgewing ingestel word wat parlementslede sal beskerm sodat hulle nie hul lidmaatskap van politieke partye verloor bloot omdat hulle hul toesigrol in die parlement vervul nie. 

Daar moet voldoende geld beskikbaar gestel word sodat portefeuljekomitees behoorlik kan werk. Dit sluit geld in vir kundiges wat navorsingswerk kan doen vir die portefeuljes. 

Die parlement moet ’n duidelike boodskap uitstuur dat departemente nie hul verslae laat mag indien by die portefeuljekomitees nie en dat dit ook nie geduld sal word indien ministers afwesig is by die komiteevergaderings nie. 

’n Stelsel moet ook ingestel word vir die nasporing van die opdragte van ’n portefeuljekomitee sodat die vordering van die implementering van opdragte gevolg kan word. 

Indien die meerderheid van lede van ’n portefeuljekomitee besluit daar moet stappe teen ’n minister gedoen word, behoort dit te geld. 

Die parlement moet ook oorweeg dat meer politici van opposisiepartye as voorsitters van die portefeuljekomitees moet dien. 

LEES OOK:
Zondo-verslag kneus Cyril, ‘maar hy sal oorleef’
‘SA beslis nou beter plek as vóór Zondo-kommissie’
Kommentaar: Zondo-kommissie wys hoe kaal die ANC-keiser is

Stembusse

Só is openbare fondse aan die Guptas betaal en hoe hulle die geld gewas het 

DIE ROLSPELERS

• Die Guptas 
• Die Vrystaatse provinsiale regering 
• Transnet 
• Eskom 
• The New Age-koerant 
• HSBC-bank 
• Netwerk van geldwassers in Suid-Afrika 
• Geldwassers in Hongkong, China 

 Vanaf 2011 is staatsdepartemente en -entiteite deur die Guptas geteiken as deel van staatskaping. 

Verdere fokus op die Vrystaatse provinsiale regering 

Op 31 Oktober 2011 het die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling ’n kontrak met Nulane Management Services aangegaan. Die kontrak is onreëlmatig toegeken en klaarblyklik opgestel met die hoofdoel om geld van die Vrystaatse regering na die Gupta-entiteite te verskuif, sê Zondo. 

Die Vrystaatse landboudepartement het R24,9 miljoen aan Nulane betaal

Die enigste werk wat klaarblyklik gelewer is, is deur Deloitte uitgevoer en Nulane het hiervoor ’n betaling van R1,5 miljoen aan Deloitte gemaak. 

Nulane het ’n wins van R23,4 miljoen gemaak met die kontrak. Hiervan is R21,3 miljoen met geldwassery na bewering na entiteite van die Guptas betaal. 

Vir die Estina-projek is R287 miljoen deur die Vrystaatse regering aan die Guptas betaal en R229 miljoen hiervan is aan twee entiteite van die Guptas, Gateway en Vargafield, oorbetaal. ’n Verdere R34,5 miljoen is aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens oorbetaal om Estina se BTW te betaal. 

Die Vrystaatse regering het vir ’n projek wat in Maart 2012 deur Ace Magashule as premier van die provinsie aangekondig is, skootrekenaars van Sunbay Trading gekoop. Vanuit die Vrystaatse onderwysdepartement is R28,5 miljoen aan Sunbay Trading betaal, hoewel Sahara Computers die ware verskaffers van die skootrekenaars was. 

’n Verdere betaling van R4,5 miljoen is deur die kantoor van die premier gemaak. 

Van die R33 miljoen wat deur die Vrystaatse regering aan Sunbay Trading betaal is, is R32,1 miljoen oorbetaal aan Sahara Computers. 

Die Vrystaatse regering het R25,1 miljoen aan nog ’n Gupta-entiteit, Dinovert (waarvan die Guptas die naam eers na Cureva en toe Mediosa verander het), oorbetaal om mobiele mediese dienste te lewer. Die Noordwes-gesondheidsdepartement het ook R30 miljoen aan dié Gupta-entiteite oorbetaal. 

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling het op 8 Junie 2012 nog ’n kontrak aan ’n Gupta-entiteit (Tsebo Business Intelligence Services) toegeken – hierdie keer om ingenieursdienste te lewer. Die Vrystaatse regering het R12,4 miljoen aan die Guptas betaal hiervoor. 

In 2014 het die Vrystaatse departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake ’n kontrak van R6,9 miljoen toegeken aan Innova Management Services, ook ’n entiteit wat met die Guptas verbind word. 

Die geldelike koste van staatskaping 

Altesaam R57,2 miljard is deur kontrakteurs met Gupta-bande ontvang uit verskeie kontrakte en tenders met die staat, volgens getuienis voor die kommissie. 

Die geld wat deur staatsdepartemente en -entiteite aan The New Age betaal is, is een voorbeeld hiervan. Daar is R248,8 miljoen betaal vir advertensies en bemarking en om koerante aan te koop. Hierdie uitgawe sou waarskynlik nie gebeur het indien die Guptas nie druk hieroor op die regering uitgeoefen het nie, sê Zondo. 

Transnet is nog ’n voorbeeld, met ’n suksesfooi van R189 miljoen wat aan Regiments betaal is vir die China-ontwikkelingsbanklening; R93 miljoen wat aan Regiments betaal is vir dienste wat gelewer is om lenings te bekom, en R21,1 miljoen wat aan die Nkonki-ouditeursfirma betaal is. Al drie betalings was oorbodig vir werk waarvoor Regiments en McKinsey reeds betaal is, het Zondo bevind. 

Ook Eskom het, nes Transnet, kontrakte aan Nkonki toegeken. Nkonki is saam met Deloitte, KPMG en PWC ’n totale bedrag van R413 miljoen betaal vir verskeie kontrakte. Hiervan het Deloitte, KPMG, PWC en Eskom R85,4 miljoen oorbetaal aan Nkonki as ’n subkontrakteur. 

Staatsdepartemente en -entiteite het miljarde rande betaal aan maatskappye wat onder direkte beheer van die Guptas was, is in getuienis voor die kommissie gehoor. Eskom het R2,4 miljard betaal aan Tegeta Exploration and Resources

In die tydperk vanaf 14 April 2016, nadat die Guptas Optimum Coal Holdings bekom het, het Eskom R1,6 miljard aan Optimum betaal. 

Op 11 April 2010 het die Nywerheidsontwikkelingskorporasie R250 miljoen aan Oakbay Resources and Energy beskikbaar gestel om Shiva Uranium te bekom. 

The New Age Media is R254 miljoen betaal deur Eskom, Transnet, die departement van water en sanitasie, die kantoor van die Vrystaatse premier, die kantoor van die premier van Noordwes en die Vrystaatse provinsiale tesourie. 

Denel het R242 miljoen aan VR Laser betaal nadat onreëlmatige tenderprosedures gevolg is. 

Nadat Sahara Holdings die maatskappy Cutting Edge Commerce oorgeneem het, het Transnet R41 miljoen aan Cutting Edge betaal. 

Op 9 Mei 2016 het Eskom ’n kontrak met Cutting Edge gesluit vir ’n bedrag van R71 miljoen en die geld is binne 17 dae deur Eskom aan Cutting Edge oorbetaal. 

Volgens die inligting wat die getuie Paul Holden, ’n onafhanklike ondersoeker van Shadow World Investigations, in getuienis verskaf het, is daar met staatskaping kontrakte ter waarde van R57,3 miljard gesluit met Gupta-entiteite. 

Geldwassery 

Volgens Paul Holden se getuienis is R388 miljoen van die geld wat met staatskaping verkry is deur middel van ’n internasionale geldwassery-netwerk in buitelandse rekeninge oorbetaal waarvan die meerderheid na rekeninge in Hongkong en elders in China oorgeplaas is. 

Paul Holden tydens 'n vorige verskyning voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Gallo Images/Fani Mahuntsi

Paul Holden tydens 'n vorige verskyning voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Gallo Images/Fani Mahuntsi

Dit is baie moeilik om die geld te vind omdat die spoor van binnelandse geldwassery na dié van buitelandse rekeninge doodloop nadat die geld landuit is, sê Zondo. 

Die Guptas se maatskappy Griffin Line General Trading, wat in Dubai geregistreer is, het befondsing van R842 miljoen gegee sodat die Tegeta-maatskappy die Optimum-steenkoolmyn kon bekom.

Suid-Afrikaanse geldwassery-netwerke het internasionale vennote gehad om die geld te was, onder meer ook in die Verenigde Arabiese Emirate. 

Die kommissie beveel aan dat die Suid-Afrikaanse regering die HSBC-bank nader om te help om die geld te probeer navolg wat vanuit die rekeninge van Tequesta, Regiments Asia en Morningstar na rekeninge in Hongkong en elders in China oorbetaal is.

Die Finansiële Inligtingsentrum en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet kontak maak met hul ampsgenote in China om die geld te probeer naspoor wat met HSBC-rekeninge oorgeplaas is. 

Die NVG se batebeslagleggingseenheid moet hul ampsgenote in die betrokke lande kontak in ’n poging om bates op te spoor en dit te bevries sodat dit terugbetaal kan word aan die Suid-Afrikaanse regering. 

LEES OOK:
Guptas ‘gebruik Transnet-pensioene om Optimum te kry’
‘Vra Britse bank se hulp om staatskapinggeld op te spoor’
Só kan die Guptas agter tralies beland
Ondersoeker: Banke het staatskaping moontlik gemaak

OPSOMMING VAN AANBEVELINGS 

Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL)  

Die SAL het in die tydperk dat Dudu Myeni die voorsitter van die direksie was, van Desember 2012 tot Oktober 2017, verval weens algehele korrupsie en bedrog. Ten spyte hiervan het sy aangebly as voorsitter van die SAL-direksie lank nadat sy verwyder moes gewees het. Dit was volgens getuienis voor die kommissie weens die invloed van oudpres. Jacob Zuma.  

Zuma het van die kommissie weggevlug, want hy het geweet daar is vrae oor Myeni wat hy nie sou kon beantwoord nie.  

Mense wat aangestel is by die SAL, SAL Tegnies en SA Express het geen ag geslaan op standaarde nie, maar eerder in hul eie belang opgetree. Dit mag nooit weer toegelaat word nie, sê Zondo.  

Die sekretariaat van die kommissie het reeds 'n strafregtelike klag teen Myeni ingedien omdat sy die naam bekend gemaak het van 'n getuie wie se identiteit beskerm is deur die kommissie en wat as mnr. X voor die kommissie getuig het. Wetstoepassers en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet nog die saak afhandel.

Die NVG moet ná ’n verdere ondersoek oorweeg of dit nodig is om Myeni aan te kla van bedrog oor besluite wat sy aangevoer het deur die SAL-direksie geneem is en wat geldelike verliese vir die SAL ingehou het.  

'n Maand nadat die maatskappy Swissport 'n kontrak van die SAL gekry het, is R28,5 miljoen aan vier mense betaal, naamlik Daluxolo Peter, Vuyisile Ndzeku, Lester Peter en adv. Nontsasa Memela. Dit was waarskynlik agteraf betalings. Wetstoepassers moet die rol van Swissport verder ondersoek met die oog op moontlike strafregtelike vervolging.

Wat betref die rentekoers-ooreenkomste met Nedbank en Standard Bank waarby Regiments Capital betrokke was, moet die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika stappe doen om verlore geld terug te kry, hetsy van Regiments Capital en individue betrokke by Regiments of van Nedbank en Standard Bank. 

Wetstoepassers moet die kontrakte nagaan met die oog op moontlike verdere vervolgings.  

Die ouditeur-generaal se kapasiteit moet versterk word om openbare entiteite te kan oudit.  

SA Express se kontrakte met die Noordwes-departement van vervoer was ’n uitgebreide korrupsie-skema om geld uit die staatskoffers te steel.  

Al die regeringsamptenare en private individue wat hierby betrokke was, moet voor die gereg gebring word.  

’n Strafsaak hieroor is reeds in 2016 begin en moet spoedig afgehandel word.  

Die NVG moet dit ernstig oorweeg om Vivien Natasen, direkteur van Neo Solutions, weens beweerde geldwassery aan te kla. Hy moet ook deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ondersoek word omdat dit blyk dat Neo Solutions nie sy inkomste behoorlik aangemeld het nie.

Kalandra Viljoen en haar onderneming, Asset Movement Financial Services (AMFS), moet ook deur die Reserwebank ondersoek word en die polisieondersoek na AMFS moet uitgebrei word. Die vraag wat beantwoord moet word, is of AMFS dienste van geldwassery verskaf het aan diegene wat hul opbrengste in kontant wou oorsit sonder om 'n formele bankdiens te gebruik.

The New Age  

Wetstoepassers moet Rajesh (Tony) Gupta ondersoek weens beweerde korrupsie.  

Rajesh (Tony) Gupta

Rajesh (Tony) Gupta

Die posisie van elk van die lede van Eskom se direksie in 2015 moet ondersoek word met die oog op moontlike vervolging.  

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, verder ondersoek in verband met die kontrakte wat tussen Transnet en TNA Media gesluit is. Die NVG moet bepaal of hy van bedrog aangekla kan word.  

Collin Matjila, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, moet ook ondersoek word in verband met die kontrakte wat Eskom met TNA gesluit het. Hy kan van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur of bedrog aangekla word indien die NVG tot so ’n gevolgtrekking kom. 

Collin Matjila

Collin Matjila

Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID)  

Al die kontrakte wat die konsultasiemaatskappy Bain & Company met staatsdepartemente het, moet nagegaan word om te bepaal of dit voldoen aan die tersaaklike statutere en grondwetlike vereistes.

Wetstoepassers moet ’n ondersoek doen na Bain & Company met die oog daarop dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) kan besluit of daar wel strafregtelike vervolgings kan wees weens kontrakte wat aan Bain toegeken is.  

SAID-wetgewing moet aangepas word sodat die aanstelling van die kommissaris ’n deursigtige proses is.  

Tom Moyane, afgedankte kommissaris van die SAID, moet aangekla word van meineed weens sy valse getuienis aan die parlement.  

SAID

Verkrygingsproses  

’n Nasionale Handves moet saamgestel word wat onderteken moet word deur elke beampte wat betrokke is by die verkrygingsproses in die openbare sektor.  

Elke private persoon of entiteit wat dienste aan die staatsdiens wil verskaf, moet ’n ooreenkoms onderteken dat hy, sy of dit aan die nuwe Handves sal voldoen.  

'n Onafhanklike teenkorrupsie-liggaam moet geskep word om korrupsie in die staatsdiens te bekamp. Daar moet ook 'n inspektoraat wees wat staatstenders deurentyd monitor om sodoende korrupsie oop te vlek. 

 Beskerming van fluitjieblasers 

Die regering moet wetgewing instel om fluitjieblasers te beskerm, sê Zondo in sy finale verslag. Dit moet die beskerming verseker van fluitjieblasers oor korrupsie, bedrog en druk wat uitgeoefen word om tenders te bekom.

Befondsing van politieke partye 

Wetgewing moet aangepas word dat dit ’n strafregtelike oortreding word indien skenkings aan politieke partye gemaak word met die doel om daardeur tenders of kontrakte te verkry.  

Transnet 

Wetstoepassers moet verdere ondersoeke doen met die oog daarop dat die Gupta-meeloper Salim Essa en sy talle maatskappye vervolg kan word.

Wetstoepassers moet Essa, Eric Wood, vennoot van die finansiële raadgewers Trillian, Kuben Moodley, eienaar van die maatskappy Albatime, en Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet, ondersoek met die oog op vervolging in verband met ooreenkomste wat met die maatskappy Regiments Capital aangegaan is. 

Singh, Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Malusi Gigaba, voormalige minister van openbare ondernemings, Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Garry Pita, wat in Singh se plek as finansiële hoof van Transnet aangestel is, en Thamsanqa Jiyane, voormalige hoof van Transnet Engineering, moet verder ondersoek word met die oog op moontlike klagte van korrupsie wat teen hulle ingedien kan word.

Molefe en Singh moet verder ondersoek word oor die moontlikheid dat hulle in Julie 2014 kontant ontvang het tydens ’n vergadering by die Three Rivers Lodge in Vereeniging toe hulle twee ongeïdentifiseerde Chinese mans daar ontmoet het.  

Singh se besoeke aan Dubai van April 2014 tot Junie 2015, wat na bewering deur Sahara Computers betaal is, moet verder ondersoek word.

Transnet moet stappe doen met die oog daarop om die R17 miljoen terug te kry van die lede van die Transnet-direksie wat op 23 Februarie 2011 ingestem het dat dié bedrag geld aan Gama betaal word.  

Oor die heraanstelling van Gama by Transnet moet onder andere oudpres. Zuma en Gigaba ondersoek word weens moontlike korrupsie.

Molefe moet voorts ondersoek word vir die betaling van R20 miljoen aan GNS/Abalozi.

Molefe en Gama moet verder ondersoek word met die oog op vervolging vir hul aandeel in die kontrak vir die verskaffing van 95 lokomotiewe deur China South Rail (CSR).  

Wat die verkryging van nog 100 lokomotiewe betref, moet Molefe, Singh, Jiyane en Gama verder ondersoek word weens die moontlike oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.  

Daar word aanbeveel dat Molefe, Singh en Gama verder ondersoek word met die oog op moontlike vervolging weens bedrog rakende die tender om nog 1 064 lokomotiewe teen ’n koste van R5,8 miljard te verkry.  

Gama en Ravi Nair, voormalige hoof van Transnet Freight Rail, moet verder ondersoek word.  

Wetstoepassers moet Gama en Nair ondersoek met die oog op vervolging weens die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur in verband met die plan om Transnet-aanlegte in 2014 en 2015 na Durban te verskuif en die ooreenkoms om sowat R1,2 miljard hiervoor te betaal terwyl daar geen grondige redes was vir so ’n besluit nie.  

In verband met die aanstelling van raadgewers moet Molefe, Singh, Wood en Regiments ondersoek word weens moontlike korrupsie en rampokkery vir die bedrag van R79,2 miljoen wat op 20 April 2014 aan Regiments betaal is.  

Singh moet ondersoek word vir sy voorstel aan die Transnet-direksie dat ’n lening van $1,5 miljard aangegaan word teen ’n tarief wat grootliks bo die markprys was.  

Gama, Singh, Regiments, Wood, Moodley, Albatime en Sahara Computers moet ondersoek word weens klagte van moontlike korrupsie vir die betaling van R189 miljoen op 11 Junie 2015 aan Regiments, asook die betaling van R147 miljoen aan Albatime en Sahara Computers& deur Regiments.

Gama, Phetolo Ramosebudi, eertydse tesourier van Transnet, Pita, Wood, Essa, Trillian en Albatime moet weens moontlike korrupsie en bedrog ondersoek word vir die betaling van R93 miljoen aan Trillian op 4 Desember 2015 en vir die betalings van R74,78 miljoen aan Albatime.

Ramosebudi, Pita, die fondsbestuurders Regiments Capital, Wood en Stan Shane, 'n voormalige Transnet-direkteur met Gupta-bande, en enige ander betrokke persone moet ondersoek word weens rampokkery wat verband hou met die verlies van R1,5 miljard wat Transnet gely het, asook R229 miljoen wat aan Regiments Capital betaal is.

Ten opsigte van die Neotel-kontrak moet Mohamed Akram Khan, Homix, Neotel en Francois van der Merwe, voormalige bestuurder van Neotel, ondersoek word weens moontlike korrupsie.

 Denel  

Die staatsentiteit Denel was eens internasionaal hooggeag; nou is dit byna heeltemal op sy knieë.  

Die 2015-direksie van Denel, onder leiding van Daniel Mantsha, het nie hul pligte uitgevoer nie toe hulle drie uitvoerende hoofde van Denel geskors en versuim het om enige ondersoek teen hulle behoorlik uit te voer. Dit het daartoe gelei dat al drie Denel verlaat het.  

Bosasa 

Oudpres. Jacob Zuma was die persoon met die hoogste gesag wat Bosasa probeer beïnvloed het. 

Daar is genoegsame bewyse dat Zuma betalings aanvaar het van Bosasa en dat hy daardeur die regulasies van die Grondwet oortree het, asook teen wetgewing en etiese kodes opgetree het.

Nomvula Mokonyane, senior politikus wat onder meer die premier van Gauteng was, minister van water en sanitasie, minister van kommunikasie, asook adjunkminister van omgewingsake, het betalings ontvang. Sy het die Grondwet oortree en haar wetgewende en etiese plig versuim.

Dudu Myeni, voorsitter van die Jacob G. Zuma-stigting, het volgens getuienis 'n invloed op Zuma gehad weens haar nabyheid en verbintenis met hom. Daar is genoegsame bewyse van korrupsie teen Myeni. Owerhede moet haar verder ondersoek met die oog op vervolging.

Daar was grootskaalse korrupsie met die toekenning van tenders aan Bosasa.

Volgens die getuienis van Angelo Agrizzi is daar van 2000 tot 2016 R2,3 miljard se staatskontrakte aan Bosasa toegeken en Bosasa het R75,5 miljoen se omkoopgeld betaal. Dit sluit geskenke uit soos huise wat vir mense gebou is, verbeterings aan individue se huise, asook voertuie wat gekoop is.

Angelo Agrizzi

Angelo Agrizzi

Daar is bewyse dat 'n aantal persone elektroniese data en lêers vernietig het en dat potensiële getuies teen Bosasa geïntimideer is.

Die verslag van die Zondo-kommissie moet aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens beskikbaar gestel word sodat daar 'n ondersoek kan wees of enige belastingoortredings gepleeg is.

Daar is bewyse van geldwassery teen Agrizzi, talle werknemers van Bosasa en individue, asook besighede wat met Bosasa verbind word.

Daar is bewyse dat korrupsie gepleeg is deur Agrizzi, talle werknemers en kontrakteurs van Bosasa, asook Linda Mti, oudkommissaris van korrektiewe dienste.

Nasionale tesourie  

Die nasionale vervolgingsgesag moet dit oorweeg om Rajesh (Tony) Gupta strafregtelik te vervolg weens omkopery en korrupsie deurdat hy Mcebisi Jonas miljoene rande aangebied het indien hy sou instem om met die Guptas saam te werk indien hy as minister van finansies aangestel sou word.  

Malusi Gigaba (Foto: Getty Images)

Malusi Gigaba (Foto: Getty Images)

Die asbesdak-projek in die Vrystaat 

Wetstoepassers moet 'n verdere ondersoek doen met die oog daarop om Timothy Mokhesi te vervolg.

Die regering moet 'n regsmening verkry om geld te probeer terugkry vanaf Blackhead Consulting en Diamond Hill Joint Venture.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet dit oorweeg om Edwin Sodi, sakeman van Gauteng, op onder meer klagte van korrupsie te vervolg vir die rol wat hy gespeel het om R600 000 aan ’n motorhandelaar in Ballito te betaal ten gunste van Thabani Zulu. 

Die NVG moet oorweeg om Zulu op klagte van korrupsie te vervolg. 

Daar moet ook oorweeg word om Sodi te vervolg op klagte van bedrog en ander moontlike strafregtelike oortredings vir die verkryging van die asbesdak-kontrak vanaf die departement van menslike nedersettings in die Vrystaat. 

Die R1 miljard-behuisingsprojek in die Vrystaat 

Verdere ondersoek moet gedoen word om te bepaal of Moses Mokoena, destydse hoof van die departement van menslike nedersettings, vervolg kan word.

Stappe moet gedoen word om geld te probeer terugkry vanaf Mokoena, asook Mosebenzi Zwane, vir die rol wat hulle daarin gespeel het om die skema goed te keur en deur te voer waarin voorafbetalings vir die projek gemaak is.    

Eskom 

Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, en Matshela Koko, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het almal baat gevind by kontrakte wat Eskom toegeken het en daar moet oorweeg word om hulle van korrupsie aan te kla.

Ten opsigte van die kontrak wat aan die maatskappy McKinsey toegeken is, moet Molefe, Singh en Koko verder ondersoek word en die nasionale vervolgingsgesag moet oorweeg om hulle te vervolg.

Stappe moet gedoen word om geld te probeer terugkry vanaf lede van die Eskom-direksie van 2014, asook van Molefe, Singh en Koko. Die bepaalde direksie kan ook vervolg word.

FOTO: Reuters

Kragnetwerk24

Staatsveiligheid-agentskap (SVA)  

Een van die belangrikste rolle wat oudpres. Zuma gespeel het, was om die land se intelligensiedienste te herstruktureer. Dit het rampspoedige nagevolge gehad.

Dit het die mag gesentreer in die hande van die direkteur-generaal van die SVA, eers Mzuvukile Maqetuka en daarna Arthur Fraser.

Zuma het die departement van staatsveiligheid geskep en afgedwaal van die beginsels van die Grondwet.  

Dit was onder Zuma se bewind dat die minister van staatsveiligheid direk betrokke geraak het by operasionele optredes van die SVA.  

Zuma het ’n voorstel oor ’n ondersoek teen die Guptas afgemaak en gekeer dat die Valke Fraser ondersoek.  

Drie jaar later het hy Fraser as direkteur-generaal van die SVA aangestel, al was daar klagtes oor Fraser.  

Zuma het nie verder opgedaag om voor die kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig nie.  

Die kommissie het reeds ’n bevinding gemaak dat die besluit om die Guptas nie te ondersoek nie een van die faktore was wat gelei het tot staatskaping.  

Deur die ondersoek oor die Guptas te kortwiek het Zuma, hetsy wetend of onwetend, bygedra tot staatskaping.  

Die voormalige spioenbaas Mo Shaik het getuig dat hy Zuma gewaarsku het teen die Guptas, maar dat Zuma gesê het hy het ’n lang verhouding met die Guptas en dat hulle sy seun Duduzane bygestaan het toe niemand anders wou nie. Zuma het gesê daar is nie ’n rede om die Guptas te ondersoek nie.  

Dit was vir Shaik duidelik dat Zuma nie wou gehad het die Guptas moet ondersoek word nie.  

Zuma het homself as ’n slagoffer uitgemaak en gesê die idee dat die Guptas ondersoek moet word, is teen hom gemik en mense wil van hom as president ontslae raak.  

Die getuienis oor die SVA moenie in isolasie gesien word nie, sê Zondo.  

Voorts sê Zondo daar was teen 2011 goeie vordering met die ondersoek teen Fraser en dat die nasionale vervolgingsgesag op die punt was om hom te vervolg in verband met die bewerings oor die Principal Agent Network (PAN)-projek. Daar was klagte van bedrog en korrupsie en eiendom is gekoop wat uiteindelik na privaat individue gegaan het.  

Mense is sonder enige sekerheidsklarings in die SVA aangestel. Daar is 300 voertuie gekoop wat veronderstel was om die intelligensiediens uit te brei. Die voertuie is in pakhuise oor Gauteng heen geparkeer en geld vir ander projekte is hiervoor gebruik.  

Huise is vir R600 miljoen gekoop en in sommige individue en hul kinders se name oorgedra.  

Indien die ondersoek en moontlike vervolging van Fraser weens die PAN-projek voortgegaan het, sou hy waarskynlik nie as direkteur-generaal van die SVA aangestel gewees het nie.  

Siyabonga Cwele, voormalige minister van staatsveiligheid, het daarmee ingemeng dat die SVA die Guptas ondersoek.  

Zondo bevind ook dat daar bewyse is dat Zuma ingemeng het met die SVA se ondersoek na die Guptas.  

David Mahlobo, voormalige minister van staatsveiligheid, het ingemeng by die werking van die SVA en was direk betrokke by spesiale optredes wat R130 miljoen gekos het.  

Daar moet ’n verdere ondersoek wees na hoe agente van die SVA ingemeng het om die regerende party te bevoordeel.  

Fraser, as direkteur-generaal van die SVA, het groot bedrae kontant hanteer. Daar is genoegsame bewyse dat groot bedrae kontant deur die SVA gebruik is en dat Fraser opdrag gegee het om kontant te oorhandig aan Mahlobo, wat dit dan volgens getuienis weer aan Zuma sou oorhandig.  

Die SVA het die mag om sekere inligting geheim te hou misbruik. Daar moet maatreëls wees om die SVA verantwoordbaar te hou.  

’n Klomp vuurwapens het weggeraak. Toe Fraser opdrag gee dat die vuurwapens ingehandig moet word, is slegs ’n paar teruggegee.  

Die betrokkenheid van die voormalige spioenbaas Thulani Dlomo kom neer op misdadige optrede weens die hantering van vuurwapens van die SVA.  

Zuma het ’n ondersoek gekeer wat dalk tot die inhegtenisneming van Fraser sou gelei het, asook sy vervolging en moontlike tronkstraf. Hierna het Fraser as kommissaris van die departement van korrektiewe dienste gehelp dat Zuma uit die tronk vrygelaat word. Dít terwyl sy tronkstraf weens minagting van die hof ’n bevel van die konstitusionele hof was.  

Daar word aanbeveel dat wetstoepassers voortgaan met die ondersoek wat deur Zuma gekeer is, hoewel Zuma aangevoer het dit is gedoen op grond daarvan dat dit nasionale sekuriteit sou benadeel. Daar is geen bewyse dat so ’n ondersoek nasionale sekuriteit sou benadeel nie.  

Daar is genoeg bewyse dat daar strafsake teen geïmpliseerdes aanhangig gemaak kan word, insluitend Fraser.  

Die aantygings is ernstig en wys op grootskaalse misbruik van die bates van die SVA, bevind Zondo.  

Die kantoor van inspekteur-generaal van staatsveiligheid moet versterk word.  

Die inspekteur-generaal moet onafhanklik kan optree en gerespekteer word.  

In getuienis van die inspekteur-generaal is genoem niks het gekom van die klagtes wat hy teenoor die parlement geopper het nie.  

Die kommissie kan nie ’n lang lys van maatreëls gee wat ingestel moet word om die kantoor te versterk in sy toesig oor die SVA nie, maar die basiese punt is dat die nodige maatreëls getref sal moet word.  

Die ouditeur-generaal moet die mag hê om die uitgawes van die SVA te oudit. 

Arthur Fraser

Arthur Fraser

Mo Shaik

Mo Shaik

Siyabonga Cwele, voormalige minister van staatsveiligheid. Foto: Jan Gerber

Siyabonga Cwele, voormalige minister van staatsveiligheid. Foto: Jan Gerber

SAUK 

Daar is geen twyfel nie dat oudpres. Jacob Zuma ten opsigte van die koerant The New Age en die ANN7-kanaal etiese kodes oortree het. Hy het die mag van die presidensie misbruik tot sy eie voordeel, asook dié van sy seun Duduzane en sy vriende die Guptas.

Dit het die openbare uitsaaier R4,2 miljoen gekos om The New Age se ontbytsessies uit te saai. Die kostes moet verhaal word van The New Age en lede van die Gupta-familie. Ten opsigte van die ontbytsessies het Zuma sy plig as president van die land versaak.

Ook moet probeer word om die sowat R11 miljoen te verhaal wat die SAUK as'n bonus betaal het aan sy voormalige operasionele hoof Hlaudi Motsoeneng.

Motsoeneng het homself gesien as die tussenganger tussen Zuma en die nuusafdeling van die SAUK. Dit is onmoontlik om te bevind of Zuma hierby baat gevind het, maar daar is duidelike bewyse dat die ANC en Duduzane wel hierdeur bevoordeel is.

Die SAUK moet oorweeg om siviele eise in te stel teen TNA Media en die maatskappy se direkteure om die kostes te verhaal van die uitgawes vir die uitsaai van die ontbytsessies, asook die wins wat daaruit gemaak is.

FOTO'S: Getty Images

Oud-pres. Jacob Zuma

Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa)  

Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van Prasa, en verskeie van sy senior kollegas behoort vervolg te word in verband met die Swifambo-lokomotiefkontrak.  

’n Spesiale kommissie van ondersoek moet aangestel word om net op Prasa te fokus.  

Direksielede wat betrokke was by die toekenning van die Swifambo-kontrak behoort ook vervolg te word.  

Die Valke en nasionale vervolgingsgesag moet die ondersoeke oor moontlike misdaad by Prasa afhandel.

Die eiendomstransaksies waarby Montana betrokke was, moet ondersoek word.  

Zondo het gesê hy het ’n ongemaklike gevoel dat daar grootskaalse ongerymdhede by Prasa is wat nog nie oopgevlek is nie.   

Die toesigrol van die parlement  

Oor parlementêre toesig bevind Zondo daar moet oorweeg word om ’n komitee te stig wat toesig hou oor die optrede of versuime van die president en die presidensie.  

Verder moet die moontlikheid ondersoek word dat wetgewing ingestel kan word om parlementslede te beskerm dat hulle nie hul pos verloor as hulle bloot hul toesigrol vervul nie.  

Daar moet ook genoegsaam begroot word sodat parlementêre portefeuljekomitees hul plig van parlementêre toesig behoorlik kan nakom.  

Die parlement moet dit ook duidelik stel dat dit nie geduld sal word dat departemente hul verslae laat by portefeuljekomitees indien nie.  

Verder moet die parlement dit duidelik maak dat dit nie geduld sal word dat ministers net wegbly van portefeuljekomiteevergaderings af nie.  

Ook word aanbeveel dat die parlement dit moet oorweeg om meer lede van opposisiepartye as voorsitters van portefeuljekomitees aan te stel.  

Hoe staatsgeld met geldwassery versprei is  

Die Guptas se geldwassery in Suid-Afrika en die buiteland  

Miljarde rande is aan die Guptas betaal as fooie vir tenders wat verkry is. Indien die staat enige van die geld wil terugkry, sal daar eers bepaal moet word waar die geld nou is.  

Suid-Afrikaanse owerhede moet dringend met die HSBC-bank in verbinding tree en die bank versoek om te help bepaal hoe HSBC-bankrekeninge gebruik is om geld na Hongkong en elders in China oor te plaas deur ’n geldwassery-netwerk.  

Die nasionale vervolgingsgesag moet met hul ampsgenote in China in verbinding tree en hul hulp vra om uit te vind hoe die geld van Tequesta, Regiments Asia en Morningstar deur geldwassery in China asook deur die gebruik van rekeninge by die HSBC-bank rondgeskuif is. 

Suid-Afrikaanse owerhede moet ook met die Verenigde Arabiese Emirate in verbinding tree om te help om die geld van Tequesta en Regiments Asia in bankrekeninge in Dubai na te spoor. 

Daar is bewyse van groot geldwassery-skemas in Suid-Afrika. Die netwerk wat die Guptas gebruik het om geld te was, was kompleks en goed gevestig in ’n voorafbestaande omgewing van misdadige optrede. 

Uniegebou

Duduzane Zuma  

Duduzane Zuma moet ondersoek word, bevind Zondo.  

Daar is duidelike bewyse dat Duduzane Zuma ’n aandeelhouer was in verskeie maatskappye wat aan die Guptas verwant was en dat hy geldelik baat gevind het by kontrakte wat aan hulle toegeken sou word.  

Dit blyk dat Duduzane deelgeneem het aan die besluitnemingsproses wat daartoe gelei het dat staatsentiteite kontrakte aan Gupta-verwante maatskappye toegeken het.  

Dit blyk ook dat Duduzane betrokke was by die aanstelling van sleutelfigure by staatsentiteite, wat op hul beurt weer gehelp het dat die entiteite gekaap word.  

Verder blyk dit dat hy as tussenganger opgetree het tussen die Guptas en die regering, veral sy pa, oudpres. Jacob Zuma.  

Duduzane was verskeie kere teenwoordig toe omkoopgeld aan individue aangebied is by die Guptas se Saxonwold-woning.  

Daar word aanbeveel dat ondersoek word of Duduzane betrokke was by optrede wat bygedra het tot korrupsie, of dat hy versuim het om inligting bekend te maak oor omkopery toe hy in die teenwoordigheid van Rajesh (Tony) Gupta was toe omkoopgeld aangebied is aan Mcebisi Jonas, Mxolisi Dukwana en Vuyisile Kona.

Dit word aanbeveel dat'n permanente kommissie op die been gebring word om staatskaping te bekamp, soortgelyk aan wat die Zondo-kommissie die laaste jare gedoen het.

Duduzane Zuma en sy pa, oudpres. Jacob Zuma.

Duduzane Zuma en sy pa, oudpres. Jacob Zuma. Foto: Argief

Duduzane Zuma en sy pa, oudpres. Jacob Zuma. Foto: Argief

Nuwe kiesstelsel 

Die president moet direk deur kiesers verkies word.

Met die huidige stelsel stem kiesers vir 'n politieke party, wat dan die president aanstel.

Die land het Jacob Zuma as president gekry omdat hy daarin kon slaag om die president van die ANC te word.

Daar kan kiesers wees wat vir die ANC gestem het, maar wat nooit sou stem daarvoor dat Zuma die president sou word nie. 

Baie kiesers kon dalk vir die ANC gestem het, maar met die hoop dat die ANC nie vir Zuma die president van die land sou maak nie. 

Natuurlik het die ANC toe wel vir Zuma die president gemaak. 

Die nodige regulasies van die Grondwet moet verander sodat kiesers die president van die land direk verkies. Dit sal egter nie waarborg dat iemand soortgelyk aan Zuma of selfs erger as hy nie die president word nie.

In Amerika het oudpres. Donald Trump teen alle verwagting in die president geword. Dit is 'n goeie herinnering daaraan dat 'n stelsel waarmee mense die president direk verkies nie 'n waarborg is dat die president wat die verkiesing wen die beste karakter het nie, sê Zondo.

Maar indien Suid-Afrikaners die geleentheid kry om self die president te verkies en die persoon soos Zuma toelaat dat die staat deur privaat individue gekaap word, sal die mense slegs hulself daarvoor kan blameer.

FOTO: Getty Images

Suid-Afrikaanse vlag