Stap die Camino-pelgrimstog saam met Netwerk24

MEER OOR DIE CAMINO-PELGRIMSTOG
Kom tot verhaal op die Camino de Santiago
Sowat 300 000 mense van oral in die wêreld stap jaarliks die Camino de Santiago in Spanje.
Sommige stap dit omdat hulle opnuut sin wil vind in hul lewe, ander wil weer hulself, hul geloof of die natuur ontdek, terwyl party bloot ’n behoefte het om weg te breek van die dolle gejaag en iets van die avontuur van hierdie reis wil beleef.

Wat is die Camino?
Die Camino de Santiago is ’n pelgrimsreis vanuit verskillende rigtings van Spanje, Frankryk en Portugal wat almal op die dorpie Santiago de Compostela in Galisië eindig, waar ’n deel van die oorskot van die dissipel Jakobus volgens oorlewering begrawe is.
Die legende lui dat Jakobus ná sy teregstelling in Jerusalem in Spanje begrawe is, en dat die plek van sy graf in die 9de eeu aan ’n skaapwagter in die nag geopenbaar is.
Koning Alfonso II was die eerste pelgrim wat na die graf gereis het om hulde aan die dissipel te bewys. Meer as ’n 1 000 jaar later stroom pelgrims steeds jaarliks na Santiago.
Die meeste stap die Franse Camino, wat in St. Jean Pied de Port in Frankryk wegspring, na aanleiding van die roete wat in detail deur die Fransman Aymeric Picaud uiteengesit word in die Codex Calixtinus, ’n geskrif uit 1140. Baie van die dorpe, paaie en brûe wat hy beskryf, bestaan reeds.
Pelgrims bepaal self die afstand wat hulle stap, maar moet ’n minimum van 100 km te voet aflê as hulle ’n Compostela (sertifikaat van voltooiing) in Santiago wil hê.

Roep die Camino jou? Kom stap vanjaar saam met Netwerk24!
“Hoe beskryf jy ’n reis wat jou gaan laat lag en huil en bid en vloek. Wat jou gaan herinner hoe dit voel om régtig honger en dors en moeg te wees.
Waar jy kan eet net soveel jy wil en steeds voel hoe jou broek losser sit. Wat jou gaan oorweldig met dankbaarheid oor al die goedheid in jou lewe en jou die beste weergawe van jouself gaan maak.
Waar jy binne minute ’n diep konneksie met mense gaan vorm wat ’n leeftyd sal hou. Oor hoeveel dinge kan ’n mens in 2023 nog sê dit het die potensiaal om jou lewe te verander?”
– Gerda Engelbrecht, Netwerk24 se Camino-vlogger
* KYK | Gerda se Camino-kykies vlogreeks
Foto's: Gerda Engelbrecht


"Dis jóú pad, en slegs joune. Ander mag dalk die pad saam met jou stap, maar niemand kan dit namens jou stap nie."
"Jou soeke na 'n teken ís die teken."
"Die werklike ontdekkingsreis gaan nie daaroor om nuwe landskappe te sien nie, maar om deur nuwe oë te kyk."
"Die lewe is 'n lang pelgrimsreis van vrees na liefde."