Dís wat in die water is

Drinkwater in Suid-Afrika se grootste stede – en hoe dit verander

Netwerk24 en News24 het sedert Junie watermonsters in die land se grootste stede geneem om die gehalte van die drinkwater onafhanklik te laat toets. Met finansiering van Waarheid Eerste, ’n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder, en die hulp van ’n sentrale laboratorium en ’n netwerk van satelliet-laboratoriums oor die land heen het ons weekliks monsters van een kraan in elke stad laat toets.

'n Netwerk24/News24-projek, gefinansier deur Waarheid Eerste

Waarom toets ons die water?

Beurtkrag is nie goed vir ons drinkwater nie. En afhangend van waar jy woon, hou buitengewoon swaar reën, planttyd of ’n munisipaliteit waarvan die geld voor die einde van die maand opraak, ook niks goeds in vir die drinkwater nie.

Tog bestaan die opvatting in Suid-Afrika dat die gehalte van drinkwater hier nie werklik vinnig kan verander, na gelang van faktore nie. Ons probeer uitvind of dit die geval is, of nie. Die regering maak jaarliks statistieke oor die gehalte van drinkwater bekend. Akademici en die burgerlike samelewing, asook ander belanghebbende partye, raak van tyd tot tyd betrokke, maar weens die enorme koste en logistieke probleme met gereelde toetsing gebeur dit nie naastenby gereeld genoeg nie.

 So word gereelde toetsing van die water wat uit ons krane kom, dus die verantwoordelikheid van die munisipaliteite wat die drinkwater verskaf. En selfs al het ons alle rede gehad om hulle te vertrou, wat nie werklik die geval is nie, is dit tog ’n goeie idee om te verifieer wat hulle vir ons sê.

Dit is waarom Netwerk24 en News24 in die eerste kwartaal van 2023 besluit het om juis dit te gaan doen – met die finansiële steun van Waarheid Eerste, ’n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

WIL JY NOG ARTIKELS LEES?
Klik op 'Nog berigte' bo in die navigasie vir skakels na alles oor dié projek wat op Netwerk24 en News24 gepubliseer is.

Só toets ons

Ons span joernaliste neem weekliks monsters in ses stede:

  • Johannesburg;
  • Pretoria;
  • Kaapstad;
  • Durban;
  • Bloemfontein*;
  • Gqeberha
    * Bloemfontein het twee verskillende verskaffers vir verskillende dele van die stad, Bloemwater en die Mangaung-metro. Ons toets beide.

Tyd-sensitiewe toetse word plaaslik in elke stad gedoen. Dit beteken dat al die watermonsters in die verskillende stede binne drie dae uit mekaar gekry moet word, terwyl chemiese ontledings gedoen word in ’n sentrale private laboratorium, wat ook die data vergelyk en sertifiseer.

Ons gebruik ’n standaard-“mini-SANS”-toets om ’n oorkoepelende telling vir die gehalte van die water in die stede te kry.

Die gehalte van drinkwater word gereguleer ingevolge die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS) 241, wat elke moontlike parameter spesifiseer – en wat groot hoeveelhede water en duur toetse gebruik om ’n standaard te stel waarteen dit gemeet kan word. 

Ons gebruik Tabel 1 daarvan om sewe sleutelfaktore te meet:

  • Geleidingsvermoë van die opgeloste soliede deeltjies
  • pH-waarde
  • Troebelheid
  • Residu van ontsmettingsmiddels
  • E. coli of ander fekale kolivorm-bakterieë
  • Heterotrofiese plaattelling
  • Chemikalieë vir behandeling

Dit stel ons in staat om algemene gevaartekens – byvoorbeeld die bakterie-telling – raak te sien. Dit gee ons ook insae in die smaak van water en die uitwerking daarvan op ons gesondheid op lang termyn.

Sodra ons die data versamel en vergelyk het, doen ons verslag, maar die private laboratoriums wat betrokke is, is verplig om die owerhede dadelik en onafhanklik in te lig as hulle enigiets gevaarliks opmerk.

Ons bevindings

Die water in die stede is veilig wat E. coli betref

E. coli is ’n gevreesde verskynsel in water. Dit kan vinnig simptome soos maagkrampe en diarree veroorsaak en die teenwoordigheid van dié bakterieë dui daarop dat die behandeling van die water nie na wens is nie. In ons toetse is geen teken van E. coli gevind nie.

Die watertoetse het ook nie juis tekens van ander bakterieë gevind nie

In toetse vir kolivorme word ’n volle klas bakterieë gedek waarvan baie nie gevaarlik is vir mense nie. Water met ’n hoë kolivorm-telling dui wel op probleme met die behandeling van die water, en dit kan gesondheidsrisiko’s inhou. In ons toetse is kolivorme gevind in een monster wat teen einde Junie in Kaapstad geneem is. Die telling was egter onder die vlak wat beskou word as ’n gesondheidsgevaar.

Maar by ons toetspunt in Kaapstad het ’n rooi lig geflikker wat heterotrofe betref.

’n Heterotrofiese plaattelling is nie ’n goeie aanwyser van die veiligheid van water nie, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie, maar dit kan help met die diagnosering van estetiese probleme en kan dui op water wat slym, skimmel en allerlei soorte bakterieë huisves. Die telling kan help om terug te spoor na hoekom daar ’n estetiese probleem is en afsonderlik kan dit dui op probleme met bakterieë, ensovoorts. Die telling word weergegee in “kolonievormende eenhede (KVE) per volume”. In Suid-Afrika word ’n KVE-telling van 1 000 of minder vereis. In Bloemfontein het ons sulke eenhede gevind, maar die telling was heelwat laer as selfs die aanvaarbare perk. Een van ons monsters in Kaapstad het gevaarlik naby aan daardie perk gekom, en die tellings van water wat daar getoets is, was deur die bank hoër as dié van enige ander stad. Let wel: Die telling by ons toetspunt in Bloemfontein was baie laag, maar nie die basis-nul van die meeste ander stede nie.

Heterotrofiese plaattelling (CFU/mL)

pH-waardes in al die stede is goed

In Suid-Afrika word ’n pH-telling van tussen 5 en 9,7 vereis, waar 7 neutraal is, die presiese punt tussen suur en alkalies. Ons het pH-waardes van tussen 7 en 8 gemeet, met sommige water in Bloemfontein wat meer alkalies was – en selfs dít was altyd laer as 8,5, die punt waar dit noemenswaardig sou gewees het.

pH

Geleiding in al die stede lyk goed

As ’n mens ’n elektriese stroom deur water stuur, kan jy vasstel hoeveel opgeloste sout en anorganiese chemikalieë daarin is. In Suid-Afrika word ’n vlak van laer as 170 millisiemens per meter gestel voordat daar sprake is van werklik harde water. (Harde water verwys na water met 'n hoë minerale-inhoud, veral kalsium en magnesium. Dit kan lei tot die vorming van minerale afsettings, gewoonlik gesien as kalk-aanpaksels of skaalvorming). Ons het nie in een stad tellings naby daardie vlak gevind nie. Ons waterpunte in Gqeberha en Bloemfontein het relatief harde water, het ons toetse getoon, maar dis nie van so ’n aard dat ’n mens dit sou agterkom nie.

Geleidingsvermoë (mS/m)

Chloorvlakke is effens laag en noemenswaardig wisselvallig in dele van Bloemfontein.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie is tevrede met chloorvlakke van tot 5 mg per liter. Ons het nie in enige van ons monsters naastenby daardie vlak gemeet nie. Trouens, in baie stede is die chloorvlak so laag dat dit gevaarlik sou wees om water vir ’n dag of langer te stoor. Water van verskaffers in Bloemfontein het baie gewissel wat die vrye chloor daarin betref. Dit kan daarop dui dat water nie oral dieselfde behandel word nie, maar die vlakke wat gemeet is, is steeds baie veilig.

Vrye chloorvlakke (mg/L)

Ons waterpunte in Kaapstad en dele van Bloemfontein het ’n ernstige probleem met troebel water.

Troebelheid dui op swewende deeltjies, sowel chemies as biologies, in die water. Hoë vlakke van troebelheid is nie opsigself gevaarlik nie, maar kan dui op allerlei uitdagings, soos vuil pype of probleme met filtrasie by die punte van behandeling. Dit het ook ’n groot estetiese impak; erg troebel water lyk goor en mense is geneig om dit te vermy. In Suid-Afrika moet die troebelheid van drinkwater gemeet in nefelometriese troebelheidseenhede (NTE) 1 of minder wees. In ons toetse was net die water by ons waterpunte in Johannesburg en Durban konsekwent onder daardie vlak. By ons waterpunte in Kaapstad en dele van Bloemfontein was die vlak van troebelheid konsekwent onaanvaarbaar en in Gqeberha was daar hier en daar probleme.

Troebelheid (NTU)

NOG OM TE LEES

Dit is artikels wat op grond van inligting van die projek op News24 en Netwerk24 verskyn het.

water drop

Foto deur Unsplash

Foto deur Unsplash

Wat Netwerk24 en News24 se onafhanklike watertoetse onthul

Netwerk24 en News24 het die afgelope maand ons eie onafhanklike watertoetse gedoen op plekke in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Pretoria, Gqeberha en Bloemfontein.

Die amptelike syfers

Die jaarlikse Bloudruppel-verslag is die regering se manier om mense in te lig oor die stand van die waterstelsel gegrond op ’n nasionale oudit.

Eintlik is dit deel van ’n “beheerstelsel gegrond op aansporing” om munisipaliteite sover te kry om water van beter gehalte te verskaf. Dit dien egter ook as die amptelike mening oor die stand van drinkwater.

Die jongste uitgawe is ’n verslag gegrond op veldwerk wat van November 2022 tot Februarie 2023 gedoen is.

In daardie tydperk het 51% van alle waterstelsels nie die mikrobiologiese toetse geslaag nie en 71% het nie die chemiese toetse geslaag nie.

Die Blou Druppel wys wat die institusionele gehalte van die water is en nie die gehalte van die water wat uit jou krane kom nie. Dit wys dus nie wat die impak is van al die pompe en pype tussen die suiweringsaanleg en waar jy woon nie.

Die verslag gee ook nie ’n gedetailleerde uiteensetting van die toetse nie, net twee persentasies vir hoe die mikrobiologiese en die chemiese faktore voldoen aan die standaarde wat gestel is.

Enigiets onder 95%-voldoening is swak (rooi), enigiets bo 99%-voldoening is uitstekend (blou) en die skeidslyn tussen swak en goed is  97%.
Water kan dus steeds as “groen – goed” beoordeel word, selfs al is dit 3 persentasiepunte onder die vereistes, en as dit tussen 95% en 97% is, sal dit “geel” vir “swak” kry.

Só het die stede waar ons toets, in die Bloudruppel-verslag gevaar:

Johannesburg
Mikrobiologies: 99,43%
Chemies: 99,54%

Pretoria
Mikrobiologies: 85,15%
Chemies: 80,20%

Kaapstad
Mikrobiologies: 99,69%
Chemies: 99,33%

Durban
Mikrobiologies: 99,90%
Chemies: 99,77%

Bloemfontein
Mikrobiologies: 99,90%
Chemies: 97,39%

Gqeberha
Mikrobiologies: 99,90%
Chemies: 87,20%

Ontmoet ons mense wat die monsters neem

A portrait of Mia Spies

Mia Spies
Kaapstad

Mia is ’n spesialis in multimedia-inhoud en ondersoekende joernalistiek by Netwerk24. Sy is ook die aanbieder van Wie’s Nuus met Netwerk24, ’n TV-program oor aktuele sake op kykNET.

Sy het ’n meestersgraad in politieke joernalistiek, maar het ’n belangstelling in omgewingsverslaggewing ontwikkel terwyl sy gewerk het aan ’n bekroonde insetsel oor die rioolkrisis in die Vaalrivier.

A portrait of Sheldon Morais

Sheldon Morais
Johannesburg

Sheldon is die assistent-redakteur (brekende nuus) by News24 en kyk na die totale Suid-Afrikaanse streek. Hy kon nog nooit heeltemal ontslae raak van die “aspirant-rekenmeester”  in hom nie en het onlangs sy MBA voltooi.

Sheldon was langer as 14 jaar ‘n verslaggewer en later redakteur in die uitsaaiwese voordat hy in 2018 by News24 aangesluit het.

A portrait of Cherene Pienaar

Cheréne Pienaar
Bloemfontein

Cheréne is ’n senior joernalis en redakteur van Die Student vir Netwerk24.

Sy het ’n spesiale belangstelling in kwessies wat die daaglikse lewe van ons lesers raak en glo dat geen storie wat met integriteit en so objektief as moontlik geskryf is, ooit ’n mors van tyd is nie.

A portrait of Alex Mitchley

Alex Mitchley
Pretoria

Alex is ‘n joernalis van News24 en het meer as ‘n dekade se ervaring in die joernalistiek. Hy is bekend om sy berigte oor die politiek en staatdienskwessies, maar hy stel ook baie belang in verslaggewing oor regsake en misdaad – en fokus veral op  gewelddadige misdaad.

Hy werk op sy eie as eenman-buro en skryf nie net berigte en nuusontledings nie, maar neem foto’s en video’s in situasies waar dinge soms baie rof kan gaan.

A portrait of Kaveel Singh

Kaveel Singh
Durban

Kaveel is News24 se hoofverslaggewer in KwaZulu-Natal, waar hy al die nuus hanteer – van politieke moorde tot omgewingsake.

Hy was in 2021 die medeskrywer van die boek Eight Days in July: Inside the Zuma Unrest that Set South Africa Alight. Hy was vir ‘n kort tydjie ‘n dosent in mediastudies, maar buiten daarvoor is hy al sedert 2008 ‘n joernalis.

A portrait of Cara-Lee Scheun

Cara-Lee Dorfling
Gqeberha

Cara-Lee is ’n joernalis in Netwerk24 se kantoor in Gqeberha. Die skryf van stories oor die beeldskone Oos-Kaap, wat vir seker ook maar sy donker kante het, is een van haar groot liefdes.

Stories oor plattelandse gemeenskappe, hul veerkragtigheid in die stryd om oorlewing sonder behoorlike dienslewering en om die kollig op hul omstandighede te laat val, is iets waaroor sy passievol is.  

water ripple

Foto deur Unsplash

Foto deur Unsplash

Dís hoe ons die monsters neem

Ons span in die veld neem elke week monsters in dieselfde omgewing. Die krane wat hulle gebruik, is regstreeks verbind aan die munisipale watertoevoer; iets wat nie altyd die geval is in groter geboue en sommige komplekse nie. As deel van die maatreëls vir die neem van monsters vee hulle eers die krane af om die kans op lokale besmetting te verminder. Dit is iets wat nie baie mense doen voordat hulle ’n glas water tap nie.

Verder toets hulle gewoon wat ’n mens sal drink, waarmee jy kook of jou tande borsel. Dit veronderstel natuurlik dat daar nie ’n filtreerstelsel in jou huis is nie.

Die gehalte van water kan geraak word deur hiperlokale faktore, soos die laaste deel van die pyp. Daarom sal ons resultate waarskynlik verskil van ander wat in dieselfde voorstad geneem is. Veranderinge oor tyd is egter ’n goeie aanduiding van die situasie by die watersuiweringsaanleg, en groot veranderlikheid in die gehalte van die water sal waarskynlik toegeskryf kan word aan hiperlokale faktore.

Ons finansiering

The Truth First logo

Die koste verbonde aan die neem van monsters en verslaggewing word gedra deur Media24, ’n maatskappy wat deur Naspers besit word en waarvan Netwerk24 en News24 deel is.

Die koste van die toets van monsters word gedra deur Waarheid Eerste, ‘n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder.

Waarheid Eerste het ook bygedra tot projekte soos die Buitewerking-indeks oor munisipale dienslewering en berigte oor die verhoor van Markus Jooste, voormalige hoof van Steinhof.

Kontak ons

‘Dís wat in die water is’ is ’n Media24-projek. Jy kan Media24 hier kontak.

Die verantwoordelike eenhede is Netwerk24, wat jy kan kontak by nuus@netwerk24.com of
021 406 2121.

Die projekkoördineerders is Mia Spies (mia.spies@media24.com) en Phillip de Wet (phillip.dewet@media24.com).

blue shallow water