Van klaskamer tot kampus: Só berei jy jou voor vir ’n suksesvolle eerste jaar op universiteit
Die groot getal uitsakkers onder Suid-Afrikaanse eerstejaarstudente vertel ’n ontnugterende verhaal van hoe uitdagend die oorgang na universiteit kan wees.
Dr. Linda Meyer verduidelik waarom soveel studente daarmee sukkel – en deel noodsaaklike wenke om tydsbestuur, die kampuslewe en akademie met selfvertroue te bemeester.
Die eerste jaar op universiteit is ’n mylpaal wat groot opwinding, maar ook heelwat onsekerheid vir Suid-Afrikaanse skoolverlaters meebring. Vir baie voel dit soos ’n nuwe wêreld – ’n vars begin wat dikwels uitdagings inhou wat oorweldigend kan voel.
Ongelukkig bevestig die hoë eerstejaar-uitsaksyfers by universiteite landwyd dat baie studente nie ten volle voorberei is vir die ingrypende persoonlike en akademiese veranderinge wat dié nuwe lewensfase meebring nie.
Dr. Linda Meyer, besturende direkteur van die Onafhanklike Instituut vir Onderwys se Rosebank College en Oxbridge Academy, albei sleutelafdelings van ADVTECH, deel noodsaaklike insigte om die sprong van skoolbank na kampuslewe makliker te maak. Sy het meer as 20 jaar se ervaring in hoëronderwysleierskap, en beklemtoon dat voorbereiding, aanpasbaarheid en betrokkenheid die boustene van ’n suksesvolle universiteitsreis is.
’n Tyd van onafhanklikheid en groei
"Die oorgang van hoërskool na universiteit is ’n lewensveranderende ervaring," verduidelik dr. Meyer. "Dit is opwindend én intimiderend – jy betree ’n nuwe wêreld waar jy meer onafhanklik is, waar akademiese eise toeneem en jou persoonlike ontwikkeling versnel. Dit gaan nie net oor waar jy nou leer nie; dit is die begin van ’n nuwe, vormende hoofstuk in jou lewe."
Volgens haar is dit belangrik om erkenning te gee aan hoe groot hierdie verandering is. Die eerste paar weke is bedoel om aan te pas, maar studente moet terselfdertyd doelbewus begin bou aan een van die belangrikste vaardighede vir hoër onderwys, naamlik tydsbestuur.
Bemeester tydsbestuur en verantwoordelikheid
"Universiteit vereis ’n vlak van selfdissipline en verantwoordbaarheid wat baie verder as dié van hoërskool strek. In die meeste gevalle word klasbywoning nie streng afgedwing soos op skool nie. Die versoeking om klasse mis te loop is groot, maar gereelde bywoning is absoluut noodsaaklik vir akademiese sukses."
Sy moedig eerstejaars aan om reeds aan die begin van die jaar ’n gestruktureerde program op te stel wat klasroosters, studiesessies, sperdatums vir take en tyd vir sosiale aktiwiteite insluit. Hierdie gebalanseerde benadering, verduidelik sy, help studente om op koers te bly én die kampuslewe te geniet sonder om oorweldig te voel.
Geniet die kampuslewe ten volle
Universiteit gaan nie net oor akademie nie. Dit is ’n unieke kans om holisties te groei. Die beste instellings bied ’n wye verskeidenheid dinamiese geleenthede wat jou studentelewe verryk. Dr. Meyer raai eerstejaars aan om hierdie hulpbronne ten volle te benut.
"Sluit aan by sportspanne, studenteverenigings, kulturele groepe of akademiese klubs. Hierdie ervarings vul jou studies aan en help jou om belangrike verhoudings te bou. Van die mense wat jy hier ontmoet, kan later lewenslange vriende, kollegas of selfs mentors word wat jou pad vorentoe bepaal."
Sy beklemtoon dat ’n ondersteuningsnetwerk vroegtydig opgebou moet word.
"Om nuwe mense te leer ken, verg tyd – wees dus proaktief. Woon oriënteringsgeleenthede by, sluit by studiegroepe aan en neem deel aan kampusaktiwiteite. Wanneer jy jouself met mense omring wat jou doelwitte en belangstellings deel, is dit makliker om die hoogte- en laagtepunte van die universiteitslewe te navigeer."
Maak gebruik van beskikbare hulpbronne
Nuwe studente moet van dag een af vertroud raak met die instelling se akademiese en persoonlike ondersteuningstelsels. Biblioteke, tutoriaalsentrums, beradingsdienste en loopbaanontwikkeling is waardevolle hulpmiddels wat spesifiek ontwerp is om studente die mas te help opkom.
"Die werkslas kan aanvanklik oorweldigend voel," sê dr. Meyer. "Maar moenie wag tot dit te laat is om hulp te soek nie. Om vir ondersteuning te vra bewys dat jy sterk is, nie swak nie. Vind vroeg al uit op watter hulpbronne jy kan staatmaak, sodat jy weet waar om aan te klop wanneer jy dit nodig het."
Kry tegnologie en kampuslogistiek onder die knie
Aanpassing by die universiteitslewe beteken dat jy ook nuwe tegnologie moet bemeester. Studente moet vaardig wees met leerbestuurstelsels, aanlyn biblioteke en digitale kommunikasieplatforms.
"Verken jou studenteportaal en sorg dat jou elektroniese toerusting in orde is," beveel dr. Meyer aan. "Jy gaan staatmaak op jou toestelle, sagteware en aanlyn platforms vir studiemateriaal, navorsing en kommunikasie. As jy hierdie gereedskap kan bemeester, sal dit jou help om by te hou met akademiese vereistes."
Bou ’n gebalanseerde, gesonde leefstyl
Dr. Meyer herinner studente daaraan dat vryheid ook verantwoordelikheid beteken. Handhaaf dus ’n gebalanseerde leefstyl, want sonder doelbewuste roetines kan ongesonde gewoontes maklik insluip.
"Vestig vroeg reeds gesonde leefstylgewoontes. Skep ’n realistiese balans tussen jou akademiese werk, persoonlike tyd en sosiale lewe. Daar sal baie uitdagings en geleenthede oor jou pad kom, maar ’n stewige grondslag sal jou help om dit suksesvol te hanteer."
Sy moedig eerstejaars aan om oopkop te wees en die unieke ontwikkelingsgeleenthede van hoër onderwys ten volle aan te gryp.
"Universiteit is ’n tyd om te ontdek, te groei en jouself voor te berei om ’n betekenisvolle rol in jou gemeenskap en die wêreld te speel. As jy dit met nuuskierigheid en vasberadenheid aanpak, stap jy nie net met ’n kwalifikasie weg nie, maar as ’n volwasse, afgeronde individu wat gereed is vir die lewe se uitdagings.
"Wanneer studente die verantwoordelikhede én geleenthede van universiteitslewe met oorgawe omhels, lê hulle die grondslag vir akademiese prestasie, persoonlike ontwikkeling en ’n suksesvolle toekoms."
Besoek Standard Bank se "Youth Hub" HIER vir hulpbronne wat jou kan bystaan om jou loopbaanreis reg aan te pak.


