As jy iemand is wat nie graag onnodig medisyne drink nie, kies die natuurlike manier om te slaap. Hier is ons tien gunstelinge:

1. Laat prut gekneusde naeltjies 8 minute lank in 500 ml melk. Versoet met heuning en drink dit voor jy inkruip.

2. Stop ’n kussinkie met vars of gedroogde laventelblare en -blomme. Sit dit saans naby jou kop neer. Jy kan ook ’n paar druppels laventelolie op jou kussing drup.

3. Kou anyssaad voor slaaptyd.

4. Vul ’n kussinkie met vars malvablare en slaap daarop.

5. Eet ’n appel voor jy gaan lê.

6. As jy dors is, drink rooibos- of kamilletee. Dit bevat nie kafeïen, wat ’n stimulant is, nie.

7. Melatonien is ’n hormoon wat onder meer jou slaappatroon reguleer. Neem aanvullings 2 uur voor slaaptyd. Vra jou apteker hoeveel jy nodig het.

8. Die wortel van die valeriaanplant (Valeriana officinalis) is ’n ligte kalmeermiddel wat jou beter kan laat slaap. Jy kry dit in kapsulevorm. (Vra jou apteker.)

9. Bring elke dag 10 minute buite deur net nadat jy wakker geword het, want dit kan help dat jy vanaand lekker vaak word, sê prof. Andrew Huberman van Stanford-universiteit in Amerika. Oggendsonlig reguleer jou sirkadiese wekker – dis die liggaam se meganisme wat bepaal wanneer jy wakker word en wanneer jy gaan slaap.

10. Leer ’n tegniek om te ontspan, soos meditasie. As jy nie weet hoe nie, soek video’s op YouTube (ook by Hubermanlab.com).

Bronne: Hubermanlab.com; Gesonde raad deur Dione Sale, JL van Schaik-uitgewers