Item 1 of 4

Dit is soos ’n dief in die nag wat mense beroof van die een ding wat hulle net so nodig het as kos om op hulle beste te funksioneer. Soveel as een uit elke drie volwassenes wêreldwyd sukkel om te slaap en 10% tot 15% ly aan chroniese of ernstige slapeloosheid. Slapeloosheid word as ernstig beskou as jy drie maande lank meer as drie nagte per week sukkel om aan die slaap te raak of aan die slaap te bly. Want dit het ’n groot impak op jou lewe. Konsentrasieprobleme, prikkelbaarheid, gemoedsveranderinge, depressie, geheueprobleme, ’n toename in foute en ongelukke – dit alles en meer is die gevolg van ’n gebrek aan slaap.

Dr. Irshaad Ebrahim, ’n Kaapstadse neuropsigiater wat spesialiseer in slaapstoornisse, sê tussen sewe en agt uur word oor die algemeen beskou as “genoeg slaap”, hoewel die hoeveelheid wat benodig word van persoon tot persoon verskil. Sommige kan met vyf uur per nag goed funksioneer, ander het hul agt uur nodig.

Maar dit is die gehalte van jou slaap wat belangriker is as die
hoeveelheid,” sê Ebrahim.

Slaap word in vyf siklusse verdeel: stadiums 1 tot 4, of nie-REM-slaap (“rapid eye movement”), gevolg deur REM-slaap. Fase 1 en 2 is lig genoeg sodat jy wakker gemaak kan word deur ’n klop aan die deur. Stadiums 3 en 4 word beskou as diep of stadige-golf-slaap, en is noodsaaklik sodat jy kan voel jy het goed gerus wanneer jy wakker word.

Om by REM, die laaste fase, uit te kom, moet jy deur die volle siklus van nie-REM gaan. As jy in enige stadium onderbreek word – byvoorbeeld deur ’n stampie in die ribbes – loop die siklus terug na fase 1. As jy soggens uitgewas voel, is die kans goed dat jy nie by fases 3 en 4 uitgekom het nie. Te min REM kan jou kop deurmekaar laat voel.

In That Memory Book beskryf die skrywer Cathryn Jakobson Ramin stadige-golf-slaap as ’n tyd wanneer die brein sin maak van die inligting wat hy tydens die dag ingeneem het.

Omdat die brein in staat is om deur die dag se gebeure te werk en
interessante jukstaposisies soek, verhoog stadige-golf-slaap
kreatiwiteit,” sê sy.

“REM-slaap is die skoonmaakspan wat ingebring word om die afval op te ruim nadat die stadige golf sy werk voltooi het. In REM-slaap ondersoek die brein die pas verwerkte materiaal en besluit wat om te hou en wat nie. As daar min of geen stadige slaap was nie, kan die skoonmakers ’n vreeslike fout maak soos om môre se sorgvuldig voorbereide toespraak in die asblik te gooi.”
Cathryn Jakobson Ramin

Elise Beeby, ’n Kaapstadse kliniese sielkundige en hipnoterapeut, sê swak slaap kan ’n simptoom van ’n sielkundige probleem wees wat dikwels verband hou met trauma, ernstige stres, uitbranding of depressie.


Die belangrikste simptoom wat behandel moet word, is die angs.
Onderliggend aan die angs is woede of vrees wat ’n gevoel van
magteloosheid of hulpeloosheid veroorsaak.As dit die geval is, moet jy aanvaar dat hierdie gevoelens onhanteerbaar geword het. Soek hulp – gaan vir berading en spreek jou probleme aan. Moet hulle nie vermy nie,” beveel sy aan.

Sodra jy die dieper kwessies ontbloot en daaraan begin werk het,
behoort beter slaap te volg.

Baie van die slaappille wat in Suid-Afrika voorgeskryf word, bevat Zolpidem. Hierdie sogenaamde “Z-middels” skakel met die neuro-oordraer GABA ("gamma aminobutyric acid") om die tydperk te “verkort” net voor jy aan die slaap raak. GABA is ’n aminosuur wat funksioneer as die primêre inhiberende neuro-oordraer vir die sentrale senuweestelsel.

Met ander woorde, dit help om jou te kalmeer. Zolpidem werk vinnig: Gewoonlik is jy binne 15 tot 20 minute in droomland. Maar hoewel Zolpidem slapeloosheid kan help hokslaan, kan sy vermoë om geheueverlies te veroorsaak ’n probleem wees. Die voubiljet waarsku geheueverlies kan verskeie ure na die neem van die pil voorkom. Hierdie middels is net veronderstel om vir ongeveer vier uur te werk, so hulle moet jou deur die middernagure kry en jy moenie wakker word nie.

Maar daar is ’n gevaar dat jy kan “wakker word” voordat die effek afgeneem het – en niks onthou nie. Soos die aanval op die yskas.

Nagbestuur is ook al aangemeld: Een man het in sy motor “wakker geword” met die buffer op die sitplek langs hom. Nog ’n vrou het wakker geword tussen die leë houers van haar allergiemedikasie – sy het per ongeluk alles gedrink. Hoewel slaappille jou deur ’n slegte tyd kan help, is dit op lang termyn nie ’n goeie idee nie. Hulle is bedoel om vir ’n paar weke geneem te word net om oor ’n aanval van slapeloosheid te kom en nie as ’n nagtelike slaaphulp nie – want jou liggaam kan afhanklik word van die medikasie.

As jy nie sonder ’n pil kan slaap nie, soek professionele hulp. Daar is ook baie homeopatiese en nie-voorskrifpille wat jou kan help slaap, so praat met jou plaaslike gesondheidswinkel of apteker.

Hanan Bushkin, ’n sielkundige by die Angs- en Traumakliniek in
Johannesburg, meen hoewel kognitiewe gedragsterapie nie ’n
kitsoplossing is nie, is dit só doeltreffend dat dit vir die meeste mense beter werk as slaappille – met geen newe-effekte nie.

“Die sukses van hierdie terapie is gebaseer op die sentrale tema dat slaapprobleme slegs behandel kan word deur die onderliggende oorsake aan te spreek wat in die meeste gevalle negatiewe gedagtes en/of gewoontes is. Albei word aangeleer en kan dus met behulp van gespesialiseerde tegnieke afgeleer word.”
Hanan Bushkin