Hatha, Iyengar, ashtanga, vinyasa, kundalini: Die kans is goed dat jy al van hierdie vorms van joga gehoor het – dit is die Groot Vyf en die gewildste soorte wat by ateljees, in die gim en aanlyn aangebied word. Maar daar is ’n ander, minder bekende vorm van joga wat ook jou lewe kan verander. Welkom by joga nidra, die oefening waar jy nie op jou kop sal staan nie, die boomposisie doen of selfs “down dog” nie, maar tog sal jy fantasties en ten volle uitgerus voel wanneer jy dit onder die knie het. Trouens, hulle sê net een uur van joga nidra kan vergelyk word met vier uur slaap.

Dit word beskou as ’n vorm van slaapterapie en is ’n meditatiewe metode wat jou “in ’n perfekte toestand van ontspanning hou”, sê Jeannie Holmes, 'n remediërende joga- en meditasie-onderwyser en eienaar van The Healing Resolve Retreat in Wildernis in die Wes-Kaap. Jy lê eenvoudig en luister, volg bedaarde instruksies om bewustelik spanning, pyn en vrees los te laat, liggaamstelsels te herstel, die verstand te harmoniseer, emosies te balanseer en diep te rus. Die doel van joga nidra is om ’n diep toestand van bewuste slaap te bereik, “wat ’n dieper toestand van bewuste ontspanning is”, sê Judi Bar, ’n Amerikaanse jogaterapeut.

“Dit word gelei soos sommige meditasiepraktyke, maar dit is baie gestruktureerd.”
Jeannie Holmes
Item 1 of 2

Met meditasie is jy in ’n sittende posisie en in ’n wakker bewussynstoestand terwyl jy die verstand fokus en gedagtes toelaat om te kom en gaan,” verduidelik Judi. “Meditasie maak dit vir ons moontlik om by die theta-staat uit te kom – die staat
waardeur ons gaan om by die delta-staat uit te kom, wat die plek van die diepste slaapsiklus is. “Die delta-staat is ’n diep genesende toestand en dit is waar ons wil uitkom met joga nidra. In hierdie toestand rus die liggaam en gees en is die bewussyn wakker.” Jeannie sê joga nidra is “kragtig, maar subtiel en ’n diep ervaring”. “Jy voel geïntegreerd en heel,” voeg sy by. “Ná die oefening is jy verfris, en gereed om uitdagings aan te pak.

Baie joga-ateljees bied joga nidra-sessies in die ateljee en aanlyn aan. As jy dit tuis wil probeer via ’n aanlyn sessie, behels dit dat jy op ’n goed ondersteunde mat of matras gaan lê, met ’n gemaklike kussing onder jou kop en ’n ferm kussing onder jou knieë vir ekstra ondersteuning, met jou hakke op die vloer.

’n Kombers is nodig aangesien die liggaamstemperatuur daal wanneer jy ontspanne is en jy meer tyd het om die parasimpatiese senuweestelsel te genees,” sê Jeannie. Die parasimpatiese senuweestelsel bestaan in stil toestande, terwyl die simpatiese senuweestelsel die veg-of-vlug-reaksie in stresvolle situasies dryf. Die hoofdoel van die parasimpatiese senuweestelsel is om energie te bespaar wat later gebruik kan word om liggaamsfunksies soos vertering te reguleer. As jy by ’n aanlyn klas aansluit, is dit belangrik om die kamera op jou gesig en bors te draai, aangesien die instrukteur klasgee volgens jou hartklop, asemhaling en gesigsuitdrukkings. Die instrukteur sal na spanningsareas soek en dienooreenkomstig uitwys om jou te help om gegrond en ten volle ondersteun te voel tydens die sessie.

Joga nidra herlaai jou energie en word dikwels geïntegreer in behandelingsplanne in hospitale en rehabilitasiesentrums, sê Jeannie. Dit verbeter die gehalte van slaap en verlig spanning en angs. “Joga nidra verbeter die geheue, verhoog kennis en kreatiwiteit en transformeer nie net perspektief nie, maar bring aspekte van jouself en jou lewensdoel in lyn met mekaar,” sê Jeannie. Dit help ook om die senuweestelsel te balanseer, die immuunfunksie te bestuur, bloeddruk en kortisolvlakke te reguleer en inflammasie te verminder. Jeannie spesialiseer in die verpersoonliking van die praktyk en kyk na die spesifieke behoeftes van elke individu, hetsy om trauma te verwerk of kwale, fisieke pyn, spanning, terminale siekte, angs, stres, slapeloosheid, moegheid en die algemene uitdagings van die lewe te genees, ten einde balans te vind. Hrdayam School of Yoga (hrdayamschoolofyoga.com) bied aanlyn joga nidra-klasse aan. Jy kan Jeannie kontak deur thehealingresolve.com


Bykomende bron: clevelandclinic.org