Matriekuitslae die emosionele einde ná ’n reis van 12 jaar
Die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat is verby – ’n groot verligting vir duisende matrikulante in Suid-Afrika. Matrikulante landwyd deel hul emosionele reis na die eindstreep, met alles van trane oor moeilike wiskunde tot trots op hul uithouvermoë.
Vir baie was die voltooiing van die laaste vraestel ’n oorweldigende mengsel van verligting, uitputting en trots ná ses intense weke van eindeksamen skryf en ’n veeleisende skooljaar.
Ná gesprekke met matrieks in al die provinsies, is dit duidelik dat dit vir die meerderheid onwerklik voel dat die matriekeksamen uiteindelik verby is. Ná jare se skoolroetines, hersieningskedules, laataand-studies en konstante druk kom baie nog tot verhaal.
"Baie uitdagende eksamentyd"
Vir Faith Fortuin van die Humansdorp Sekondêre Skool in die Oos-Kaap was die einde van die eksamen ’n diep emosionele mylpaal.
“Ek is baie verlig en trots op myself dat ek deurgedruk het tot die einde, want dit was ’n baie uitdagende eksamentyd,” sê sy.
“Ek was onder geweldige druk omdat ek getwyfel het, maar die ondersteuning van my gesin het my deur daardie tye gehelp.”
Faith sê rekeningkunde en ekonomie was vir haar die uitdagendste vakke, maar sy loof haar onderwysers vir hul steun en leiding. Sy het selfversekerd gevoel ná die skryf van die besigheidstudies-, Engels- en Afrikaans-vraestelle.
Nou beplan sy om net te rus terwyl sy op haar uitslae wag.
"Dit voel onwerklik"
Die Wes-Kaapse matrikulant Tanisha Agulhas, van Bridgton Sekondêre Skool, beskryf die einde van die eksamens as ’n baie emosionele tyd.
“Eerlikwaar, ek was verlig, emosioneel en uitgeput terselfdertyd,” sê sy.
“Dis asof ’n reuse-las uiteindelik van my skouers gelig is, maar terselfdertyd het alles my skielik ingehaal – die spanning, die laat nagte, die druk.”
Tanisha sê die eerste wiskunde-vraestel het haar “gebreek”.
“Ek was verslae toe ek daar uitstap. Toe ek by die huis kom, het ek gehuil omdat ek gevoel het al die werk wat ek gedoen het, het nie in daai vraestel gewys nie,” sê sy.
Ondanks dié terugslag sê Tanisha sy het goed gevoel oor vakke soos biologie en fisiese wetenskappe.
Haar onmiddellike plan is om te rus en te herstel. “Hierdie jaar het my regtig hard geslaan. Ek gee myself nou kans om asem te haal voor ek begin dink aan volgende jaar.”
"Die spanning het my ondergekry"
Ryan Featherstone, ’n matrikulant van Parktown Boys’ High in Johannesburg, sê die pylvak het hom platgeslaan.
“Ek het net verligting gevoel. Die spanning het my ondergekry,” sê hy botweg.
Vir hom was besigheidstudies die grootste uitdaging, en hy voel hy’t die beste gevaar in sy Engels-vraestelle.
Tans beplan hy net om te fokus op ontspanning en herstel ná ’n uitmergelende akademiese jaar.
"Ek het jare, weke en dae hierop gewag"
Kaylene Ferreira, van die Hankey Sekondêre Skool in die Oos-Kaap, sê die einde van haar skoolloopbaan was sowel vreugdevol as emosioneel.
“Ek was so trots op myself dat ek dit sover gebring het, want gr. 12 was gevul met baie druk en uitdagings,” sê sy.
“Ek het myself heeltyd herinner om deurlopend konsekwent te bly en nie toe te laat dat enigiets my aandag aflei nie.”
Maar die einde was bittersoet. “Ek was verlig dat ek uiteindelik klaar met skool is, want ek het jare, weke en dae vir hierdie oomblik gewag,” sê sy. “Terselfdertyd was ek emosioneel omdat ek nooit weer in daai banke sal sit of my klasmaats sal sien nie, en al die mal oomblikke wat ons saam gehad het en die onderwysers met wie ek gekliek het.”
Vir Kaylene was wiskunde die uitdagendste vraestel, maar sy glo sy het goed gevaar in al haar ander vakke. Ná ’n blaaskans beplan sy om vakansiewerk te doen terwyl sy vir haar uitslae wag.
Siviwe Gwarube, die minister van basiese onderwys, sal op 12 Januarie 2026 die matriekuitslae aankondig, terwyl leerlinge die volgende dag hul individuele uitslae sal ontvang.
Besoek Standard Bank se "Youth Hub" HIER vir hulpbronne wat jou kan bystaan om jou loopbaan reg te begin.


