Matriekpunte nie na wense nie? Jy kan steeds gaan studeer – hier is jou opsies
Dit is nie nodig om in sak en as te gaan sit as jou matriekpunte nie goed genoeg is vir toelating tot jou droomkursus nie. Die beroepsvoorligter Natalie Rabson verduidelik watter alternatiewe studieroetes jy kan volg om jou doelwitte te bereik.
Noudat jy hard gewerk het om matriek af te handel, is dit tyd om die toekoms met ’n positiewe ingesteldheid aan te pak. Dit is die ideale geleentheid om verskillende grade en diplomas te oorweeg en jou loopbaanpad te vind.
As jy ’n spesifieke beroep in gedagte het, maar jou matriekuitslae voldoen nie aan die toelatingsvereistes nie, is daar steeds hoop – alternatiewe roetes wat jou kan help om jou doelwitte te bereik. Natalie Rabson, 'n beroepsvoorligter by Boston City Campus, verduidelik hoe jy steeds jou droomloopbaan kan maak werk met die punte wat jy het.
Toelatingsvereistes: Werk alle instellings volgens ’n toelatingspuntetelling?
"Verskillende tersiêre instellings het verskillende toelatingsvereistes. In Suid-Afrika is daar hoofsaaklik twee benaderings," verduidelik Natalie.
Dit sluit in:
• TPT (Toelatingspuntetelling): ’n Puntetelling wat volgens jou matriekpersentasies bereken word. Elke vakpersentasie verteenwoordig ’n sekere getal TPT-punte.
• Sommige instellings en kursusse vereis ’n spesifieke getal TPT-punte vir toelating.
• Die tweede benadering, wat deur baie privaat instellings toegepas word, keur studente op grond van die slaagsyfer-kategorie op hul matrieksertifikaat.
"Ons gebruik die verskillende slaag-kategorieë op die matrieksertifikaat as maatstaf vir toelating tot ons verskillende kursusse."
Dit beteken:
• ’n Baccalaureusgraad-slaag gee jou toelating vir ’n baccalaureusgraad
• ’n Diploma-slaag gee jou toegang tot diplomakursusse
• ’n Hoërsertifikaat-slaag kwalifiseer jou vir hoërsertifikaatstudies
• ’n NSS-slaag maak die deur oop vir kort leerprogramme of beroepskwalifikasies
Alternatiewe roetes na jou droomkursus
"Indien jy nie die nodige toelating vir graad- of diplomastudies het nie, bied Boston City Campus alternatiewe leerpaaie wat jou kan help om uiteindelik wel vir daardie graad of diploma te kwalifiseer," verduidelik Natalie.
• As jy jou Nasionale Senior Sertifikaat verwerf het en aan die basiese vereistes vir matrikulasie voldoen, kan jy ’n hoërsertifikaat by ’n tersiêre instelling voltooi – gewoonlik binne ’n jaar.
• Die hoërsertifikaat is ’n volwaardige kwalifikasie. Jy moet minstens 120 krediete op vlak 5 voltooi, wat gelykstaande is aan ’n eerstejaarvlak-kwalifikasie (of universiteitsvlak-kwalifikasie).
• Ná voltooiing van ’n Raad op Hoër Onderwys-goedgekeurde hoërsertifikaat, kan studente dan vir ’n graad- of diploma-kursus aansoek doen.
"Studente word geskik geag om hul loopbaanpad te volg sodra hulle hul hoërsertifikaat voltooi het – ongeag hul matriekuitslae," voeg sy by.
Die Raad op Hoër Onderwys (RHO) is die onafhanklike liggaam wat toesig hou oor die gehalte van hoër onderwys in Suid-Afrika.
Volgende stappe op die pad na ’n graad of diploma
Die hoërsertifikaat-kwalifikasie gee jou basiese kernvaardighede en stel jou in staat om óf die werkplek te betree óf verder te studeer in die rigting van jou keuse.
Belangrike stappe sluit in:
• Maak seker die instelling is plaaslik én internasionaal geakkrediteer om te verseker dat dit aan akademiese standaarde voldoen.
• Jy kan gewoonlik aanlyn of in persoon registreer.
• Studente-inbelsentrums en voorligters kan jou telefonies met aanlyn aansoeke help.
• Hou belangrike dokumente soos jou ID en gesertifiseerde kwalifikasies byderhand.
• As jy onseker is, raadpleeg ’n loopbaanvoorligter of raadgewer by een van die tersiêre instellings.
• Jy kan ook ’n assessering doen om te kyk waar jou sterkpunte lê – sonder enige verpligtinge.
• As jy weet wat jou sterkpunte is, kan dit jou help om jou keuses te verfyn voordat jy op ’n loopbaan besluit.
Wat as jou droomkursus sekere matriekvakke vereis?
"Party kursusse het vasgestelde toelatingsvereistes. Die instelling kan jou leiding gee oor watter vakke jy benodig om toelating te verkry," sê Natalie.
Byvoorbeeld:
• Vir ’n BAcc-graad moes jy rekeningkunde in matriek gehad het.
• As jy dit egter nie het nie, kan jy eers ’n kwalifikasie volg wat rekeningkunde insluit – soos ’n eenjaar-hoërsertifikaat in finansiële rekeningkunde.
• Ná voltooiing daarvan kan jy dan vir die BAcc-graad inskryf.
Kry jou loopbaan op dreef
Onthou: daar is altyd maniere om jou droomberoep op dreef te kry. Soms verg dit net ’n bietjie ekstra werk, maar uithou en aanhou sal jou wel daar kry.
"Dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar die belangrikste is om deur te druk. Vra vir hulp as dit nodig is – studenteraadgewers is daar om jou te ondersteun," sê Natalie.
"Ons vier vanjaar die 2025-matriekgroep se prestasies. Ons glo elke student verdien ’n regverdige kans op loopbaansukses – en om die pad te vind wat dit moontlik sal maak," sluit sy af.
Besoek Standard Bank se "Youth Hub" HIER vir hulpbronne wat jou kan bystaan om jou loopbaan reg te benader.


