Opstaan, dis ’n heerlike dag! My week lange eksperiment om vroeg uit die vere te kom

Kom ek wees nou maar eerlik: Ek is nie ’n oggendmens nie. Ek skryf hierdie einste sin trouens in die bed, op my foon en in die donker, want my skootrekenaar is in ’n ander kamer en ek kan dit nie oor my hart kry om nou al op te staan nie.

Volgens Hal Elrod, skrywer van die internasionale topverkoper The Miracle Morning (wat ek net lees om hierdie artikel te kan skryf), gee jou oggend die toon aan vir jou dag en uiteindelik jou hele lewe.

Oukei, Hal, geen druk nie, nè? “Hoe jy elke dag wakker word, en hoe jou oggendroetine (of gebrek daaraan) lyk, het ’n dramatiese invloed op die sukses wat jy op elke gebied van jou lewe behaal,” skryf Hal.

“Gefokusde, produktiewe en suksesvolle oggende lei tot gefokusde, produktiewe en suksesvolle dae – wat onvermydelik tot ’n suksesvolle lewe lei.” So verseker Hal ons.

Die oggendstond en so aan.

As dit waar is, is ek in die moeilikheid. Ek staan gewoonlik teen 07:00 op, nadat drie of vier wekkers al klaar 10 minute ná mekaar gelui het. Dis glad nie ongewoon dat ek regdeur al die wekkerlawaai aanhou dut tot ek teen agtuur paniekerig wakker skrik nie.

Maar die tyd was ryp vir ’n eksperiment en daarom het ek ingestem om ’n week lank vroeg op te staan – en gebid dat die opoffering van my sluimerknoppie die moeite werd sou wees.

Item 1 of 2

DAG 1

My wekker lui 06:00 en my eerste gedagte is: Nee! Nie vandag nie. Ek het laat gaan slaap. Ek is nie gereed nie. Buite is dit stikdonker en reënerig. Langs my lê my man, die oggendmens wat gewoonlik voor dagbreek al uit die bed is, nog heerlik en snork. Toestande is duidelik nie optimaal nie. Kom ons probeer liewer weer môre.

DAG 2

Om 05:00 maak my man (ná sy gewone oggendroetine) my wakker. “Ek dag jy staan vandag vroeg op?”

“Eers sesuur,” mompel ek en slaap verder. Ek is gefokus op sukses, daarom koester ek vir eers nie te hoë verwagtinge nie.

My plan is om sesuur wakker te word en ’n uur lank The Miracle Morning in die bed te lees. Ek stel soos altyd vier wekkers (vir 5:30, 5:40, 5:50 en 06:00) sodat ek soos gewoonlik nog drie keer kan insluimer voor ek moet opstaan.

Om 06:00 skakel ek my lig aan en begin lees, nogal trots op myself dat ek by die program gehou het. Ai, hoe verkeerd was ek nie. Daar is ’n hele afdeling in die boek oor hoekom jy nooit die sluimerknoppie moet gebruik nie. Jy is ook nie veronderstel om in die bed te bly lê nie.

“Ons maak die fout om te dink elke keuse en elke ding wat ons doen, beïnvloed net daardie spesifieke oomblik of omstandighede,” skryf Hal.

“Jy dink dalk dis nie ’n groot probleem as jy ’n oefensessie misloop, ’n projek uitstel of kitskos eet nie, want môre kan jy die regte ding doen . . . Niks is verder van die waarheid nie.”

Eisj! Hoe’s daai vir ’n dwarsklap, Hal? Maar Hal is onverbiddelik. “Elke keer as jy die maklike ding pleks van die regte ding doen, vorm jy jou identiteit en word jy die soort mens wat doen wat maklik is eerder as wat reg is.”

As ons die sluimerknoppie druk, leer ons onderbewussyn dat dit onnodig is om ons planne enduit deur te voer. En dan, ’n paar bladsye later: “Dink so daaraan wanneer jy wakker word en die opstaanslag uitstel: Jy is nou eintlik besig om jou teen die lewe self te verset.”

Die wegneemboodskap: "If you snooze, you lose."

DAG 3

Ek stel my wekker vir 5:30 en dié keer is ek slaggereed: Ek gaan Hal se “vyfstap- sluimerbestande wakkerwordstrategie” volg.

STAP 1: “Stel jou doelwitte voor jy gaan slaap.” Die geheim, sê Hal, is om “elke aand bewustelik te besluit om ’n positiewe voorneme vir die volgende oggend te maak”. Ek het dit. Dink positiewe gedagtes. Ek kan dit doen.

STAP 2: ’n Ou wenk, maar nietemin doeltreffend: Skuif jou wekker ver genoeg buite bereik dat jy uit die bed moet klim om dit dood te druk.

“Beweging skep energie. As jy uit die bed opstaan, help dit jou om wakker te word.”

STAP 3: Borsel jou tande en spat ’n bietjie water op jou gesig. Die idee is om jou lyf die eerste minute van jou dag kans te gee om wakker te word terwyl jy dinge doen waaroor jy nie hoef na te dink nie.

STAP 4: Drink ’n vol glas water. “Ná ses tot agt uur sonder water is jy effens ontwater, en ontwatering maak jou moeg,” skryf ons vriend Hal. “As jy watter tyd van die dag ook al moeg voel, is meer water dikwels wat jy nodig het, nie meer slaap nie.”

STAP 5: Trek jou oefenklere aan. Jy moet jou oggendstort “verdien”, sê hy.

Het dit gewerk? Ja! Nie dat ek iets drasties gedoen het soos om 5 km te gaan hardloop nie. Ek het my joga-mat in die sitkamer uitgerol en die spandeks-geklede meisie op YouTube toegelaat om my ’n paar stadige strekoefeninge te laat doen.

Dit was ’n baie lekker manier om die dag te begin. Ek het boonop so baie tyd gehad om vir werk gereed te maak dat ek ’n klomp dinge ingepas het waarvoor ek gewoonlik nie tyd kry nie: bed opmaak, ’n gesigmasker aanwend, eiers vir middagete kook en my handsak van ou strokies en opgefrommelde sneesdoekies bevry.

DAG 4

Op Dag 4 het ons saam met vriende gaan uiteet, maar al het ek wyn vermy en al is ons op ’n beskaafde tyd huis toe, het ek lank ná middernag eers in die bed gekom.

Hal was reg vir my. “Hoe ons voel wanneer ons soggens wakker word, hang nie net af van hoeveel uur ons geslaap het nie. Wat ons vir onsself sê oor hoe ons die volgende oggend gaan voel, het ’n belangrike invloed,” skryf hy.

As jy dus dink: “Ag nee, ek gaan vanaand net vier uur slaap inkry; ek gaan môre doodmoeg wees,” is doodmoeg presies hoe jy gaan voel.

Hal beveel ’n slaaptyd-mantra aan. Sê vir jouself dat x uur slaap presies genoeg is en dat jy dankbaar is dat jy uitgerus en vol woema wakker sal word.

Ek het myself duidelik nie oortuig nie – teen 15:00 was ek pootuit.

DAG 5

Ek besef gou die winter is ’n verskriklike tyd om jou wakkerword-roetine te probeer verander.

Maar ek druk deur, want vandag gaan oor S.A.V.E.R.S. – Hal se akroniem vir die ses transformerende gewoontes wat jy moet aankweek om jou uitkyk op die lewe te verander. (S staan ongelukkig nie vir slaap nie.)

S IS VIR STILTE

In ons “raserige, vinnige en oorgestimuleerde” lewe kan dit wondere verrig as jy net stil sit. As jy jou stres dadelik wil verminder, moet jy “die teenoorgestelde doen van wat die meeste mense doen – begin elke oggend met ’n ruk van doelgerigte stilte”. So spreek Hal.

My oggende is gewoonlik gejaag en dol; ek kan beslis baat by 10 minute stiltetyd. Die idee is dat jy mediteer of bid, diep asemhaal en rustig oor dinge besin.

Helaas mag jy dit nie in die bed doen nie. Dis gans te maklik om van sit na lê na slaap te vorder as jy nog in die bed is, waarsku Hal. (Die man het ’n punt beet.)

A IS VIR “AFFIRMATIONS”

“Of jy dit besef of nie – dis nie net mense met ’n los skroef iewers wat onophoudelik met hulleself praat nie,” troos Hal. “Elkeen van ons het ’n interne dialoog wat meestal sonder ophou deur ons kop maal.”

Jy klets dus heeldag met jouself – maar hoeveel van wat jy sê, is positief? Seker nie baie nie, raai Hal.

Hy het onlangs op ’n kommerwekkende syfer afgekom: Tagtig persent van vroue dink deur die dag afkeurende gedagtes oor hulleself: oor hul liggaamsbeeld, hul prestasie by die werk, ander mense se mening oor hulle, en so aan.

Vertel dus 10 minute lank vir jouself ondersteunende dinge. Laai ’n paar mantras van meditasie-webwerwe af of dink jou eie uit. Dink na oor wat jy aan jou lewe wil verander, hoekom jy daardie dinge wil hê en hoe jy daardie doelwitte gaan bereik.

V IS VIR VISUALISERING

Hal se raad is dat jy visualiseer wie jy moet wees en wat jy moet doen om sukses te behaal.

“Wanneer jy daagliks visualiseer, bring jy jou gedagtes en gevoelens in ooreenstemming met jou visie. Visualisering kan baie help om gewoontes te oorkom wat jou terughou en om te doen wat jy moet om jou doelwitte te bereik.”

E IS VIR EERS OEFEN

Ons weet almal oefening is goed vir jou. Dit verminder stres, gee energie, verhoog selfvertroue en is die enkele beste ding wat jy vir jou algemene gesondheid kan doen.

Het jy nog motivering nodig? Die Amerikaanse multimiljoenêr-entrepreneur Eben Pagan sê die grootste sleutel tot sukses is om “elke oggend met ’n persoonlike suksesritueel te begin”.

Hy beveel ’n kort sarsie oefeninge aan. Jy kan doen wat jy wil, selfs al is dit net 10 minute se sterspronge, ’n paar joga-posisies of ’n touspringsessie.

R IS VIR “READING”

Lees ’n boek wat jou persoonlike ontwikkeling aanhelp en mik na 10 bladsye per dag, sê Hal. Ek dink nie die riller op my bedkassie is wat hy in gedagte het nie. Maar ek lees mos sy boek ook – sekerlik tel dit?

S IS VIR SKRYF

Dagboekhou. Of jy nou voel daar lê ’n roman in jou opgesluit of jy net ’n paar gedagtes, gevoelens of insigte wil neerpen – om dit op skrif te stel, is ’n uitstekende begin.

Dit kan jou help om duidelikheid te kry, idees vas te lê, lesse te hersien en jou vordering te erken, sê Hal.

Uiteindelik! Iets waaraan ek nie hoef te werk nie. Daar lê reeds ’n notaboek langs my bed en ek skryf gereeld gedagtes neer wat in die middel van die nag by my opkom.

DAG 6

Jy sou dink Saterdag is die moeilikste dag vir vroeg opstaan, maar ek het elke Saterdag douvoordag ’n perdryklas en is dus altyd vroeg uit die vere. Om die een of ander rede is dit makliker as ’n mens weet dis op ’n vasgestelde tyd – en jy het reeds daarvoor betaal!

DAG 7

Jammer, Hal. Sondae is vir laat slaap. En ontbyt in die bed. Dis ononderhandelbaar.

GEVOLGTREKKING

Ek het geweet die week sou moeilik wees. En hoewel ek nie te sleg gevaar het nie, voel ek steeds asof ek bedraad is om oggende te verpes. Bygesê, ek het dit baie geniet om ’n bietjie meer tyd vir myself te hê en dalk sal ek selfs met die vroeë strekoefeninge aanhou.

Een week is waarskynlik nie genoeg tyd om dit ’n ordentlike kans te gee nie – dalk moet ek nog ’n week beproef?

Maar net as ek toegelaat word om die sluimerknoppie te druk