Hoe om matriek-uitslae-manie te hanteer en die lewe ná hoërskool aan te pak
Die aanloop tot die bekendmaking van die 2025-matriekuitslae op 12 Januarie is vir baie matrikulante ’n tyd vir naels kou. Die sielkundiges Thato Nchoe-Giliana en dr. Leonora de Villiers deel strategieë om die matriekmanie te hanteer en die lewe ná hoërskool aan te pak.
Spanning is onafwendbaar wanneer dit by dinge kom wat jou toekoms bepaal.
Die aanloop tot die bekendmaking van die 2025-matriekuitslae op 12 Januarie is vir baie matrikulante ’n tyd vir naels kou. Baie van hulle wonder dalk of hulle geslaag het of nie, en die blote gedagte dat hulle dalk nie die uitslae gekry het waarop hulle gehoop het nie, maak baie ander weer angstig.
Maar daar is maniere om die geestesgeraas stil te maak. Die sielkundiges Thato Nchoe-Giliana en dr. Leonora de Villiers het raad vir hoe matrikulante hul senuwees kan kalmeer en kan gereedmaak vir die lewe ná skool.
Minister Siviwe Gwarube van die departement van basiese onderwys gaan die matriekuitslae amptelik op 12 Januarie 2026 aankondig, waarna matrikulante hul individuele uitslae op 13 Januarie ontvang.
Thato Nchoe-Giliana, ’n kliniese sielkundige en stigter van Revelations Quest Psychology (RQ Psych), sê selfs al het ’n leerling alles in hul vermoë gedoen, kan hulle steeds oorweldig voel deur die gewag.
“Baie leerlinge voel dalk angstig terwyl hulle wag omdat hulle nie weet wat die uitslae gaan wees nie. Hoewel sommige leerlinge uitstekend gevaar het in die loop van die jaar, kan dit steeds ’n skrikwekkende ervaring wees omdat so ontsettend baie van die uitslae afhang. Toekomsplanne kan óf ’n hupstoot kry óf heeltemal tot stilstand kom.”
Te veel druk en hoë verwagtinge van familielede dra by tot selfs meer spanning, voeg sy by, want dit is juis ’n tyd waarin matrikulante op hul familie en vriende moet kan staatmaak vir ondersteuning.
“Wat baie mense uit die oog verloor is dat ouers of voogde net so angstig oor die uitslae kan wees as die matrikulant self. In plaas daarvan dat hulle hul kinders in hierdie stresvolle tyd ondersteun, gebeur dit dikwels dat hulle self meer druk op die kind plaas. Hulle doen dit omdat hulle gerusstelling benodig dat die kind goed gevaar het, want hulle is bekommerd oor hoe dit hulle as ouer of voog gaan laat lyk as die uitslae nie na wense is nie."
“Dus, terwyl hulle op die uitslae wag, moet ouers besef dat hul kind angstig is. Dit is belangrik dat daar met empatie en deernis met die kind gepraat word. Dis ook kernbelangrik dat jy vra hoe hulle verkies om ondersteun te word, ongeag die uitslae. Dit kan hul emosionele roete help bepaal nadat hulle die uitslae ontvang,” sê Thato.
Daar sal altyd spanning wees in afwagting op ’n lewensveranderende oomblik. Hierdie tyd is ook wanneer jongmense die brute realiteit van die lewe ná matriek betree en moet leer om by die nuwe norm aan te pas.
Dit klink dalk skrikwekkend om ’n ongewensde uitkoms in iets positiefs om te skakel, maar ongeag jou uitslae, is dit dalk ’n opsie om ’n ander pad vorentoe te oorweeg.
Wanneer jy jou uitslae kry
Die sielkundige dr. Leonora de Villiers sê tyd is van kardinale belang en jy moet dit tot jou voordeel gebruik.
“Dink na oor hoe jy die uitkoms gaan benader sodat jy nie vasval nie. Dis soos ’n reis, en jy kan nie in ’n slaggat vasval nie, jy moet om dit gaan. Wat ook al jou uitslae is, jy moet dit takel in plaas van mismoedig raak omdat jy nie die punte gekry het wat jy wou nie. Jy moet werk met wat jy het,” sê sy.
“Tyd is waardevol. Jy kan nie net sê jy wil ’n soort van oorbruggingsjaar hê om jouself uit te sorteer nie, want dit kos jou ouers ’n klomp geld. En jy word dalk lui omdat jy nie meer gewoond daaraan is om heeltyd te studeer nie. Ek sou dus voorstel jy skryf in vir ’n kursus of ’n enkele vak as jy onseker is oor wat jy wil swot.”
Thato beaam dit en voeg by: “Probeer om nie te veel op die angstigheid en afwagting te fokus nie, want dit kan lei tot ’n gevoel van magteloosheid.
“Probeer aangaan met jou lewe en doen dinge wat jy geniet. Die heel beste ding wat jy kan doen, is om vir jouself te sê jy’t jou beste gegee in die eindeksamens of jou matriekjaar. En as jy nié het nie, dan is dit ook ’n les. Nou weet jy, as jy regtig iets wil hê, moet jy deurlopend so hard probeer as wat jy kan. Miskien is dit al waartoe jy in die oomblik in staat was. Dis nou buite jou beheer, dus moet jy nou net wag om te sien wat die uitslag is.
“As dit is wat jy verwag het, fantasties! Vier dit. Indien nie, laat jouself toe om teleurgesteld en seergemaak te voel, en kry hulp as jy moet. Daarna moet jy probeer uitwerk hoe jy vorentoe gaan, of dit nou beteken jy moet matriek of van jou vakke herhaal, ’n alternatiewe tersiêre instelling vind, of jou keuses herevalueer en ’n ander loopbaan vind,” sê sy.
Wat ook al die uitkoms, dit is nie die einde van die wêreld as jy nie na wense presteer het nie. Daar is altyd opsies.
As 'n student is dit belangrik dat jy begin voorberei op die lewe na matriek. Dit sluit besluite in soos watter kwalifikasie jy na matriek wil aanpak, by watter tersiêre instelling jy aansoek wil doen, en baie belangrik, hoe jy jou studies gaan finansier. Die Standard Bank-studielening is aangewys as die beste studielening in die land en bied 'n reeks waardevolle voordele.
Besoek Standard Bank se "Youth Hub" HIER vir hulpbronne wat jou kan bystaan om jou loopbaan reg te begin.


