Só kan volhoubaarheid melkboerdery
'n hupstoot gee

Volhoubaarheid is besig om vastrapplek te kry in die plaaslike suiwelbedryf.

Luidens ’n onlangse studie van die suiwelbedryf kan volhoubare beste praktyke winsgewende melkproduksie ’n hupstoot gee en ’n kleiner omgewingsimpak hê.

Die onlangse verslag ‘Making a business case for sustainable dairy production’ handel oor navorsing wat van 2013 tot 2019 gedoen is met data wat van 62 weidingsmelkplase in Suid-Afrika verkry is. Die navorsers het – nie heeltemal verrassend nie – bevind dat die toepassing van volhoubare beste praktyke tot winsgewender melkproduksie met minder nadelige omgewingsimpak behoort te lei.

Dié omvattende studie ondersoek die verband tussen die ekonomiese en omgewingsfasette van volhoubaarheid met betrekking tot melkproduksie op melkplase in Suid-Afrika. Die data is verkry uit ’n gevallestudie deur Trace and Save van weidingsmelkplase in die Oos-Kaap (55 plase), Wes-Kaap (vier) en KwaZulu-Natal (drie).

Trace and Save is ’n volhoubaarheidsbepalingsplatform wat vergesel word van ’n bestuurstelsel en aanlyn platform wat volhoubaarheid op plaasvlak meet, naspeur en daaroor verslag doen. Dit is ontwerp vir enige grondgebaseerde vorm van landbou. Gegewe die gebrek aan absolute metings van volhoubaarheidsprestasie en sertifiseringstandaarde in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf, word die Trace and Save-stelsel as die rigtinggewende metodologie beskou.

’n Ondersoek na die grondkoolstofvlakke, koolstofspoor en voedingstofbenutting van gevallestudie-plase het aan die lig gebring dat die beste Suid-Afrikaanse weidingsmelkplase ’n betreklik lae omgewingsimpak vergeleke met wêreldgemiddeldes het. Die grondkoolstofvlakke is ook ver bogemiddeld. Selfs die medium-omgewingsimpakgroep vergelyk goed met wêreldgemiddeldes. Wat uiters belangrik is, is dat die studie aan die lig gebring het dat vir die landbou om volhoubaar te wees, die herstel van grondgesondheid noodsaaklik is, en nie net die handhawing van grondvrugbaarheid nie. Dit is ook die primêre doelwit van herlewingslandboupraktyke.

Die resultate het aan die lig gebring dat volhoubaar geproduseerde melk staatmaak op gesonde grond waarop voldoende weiding van goeie gehalte groei. Hierdie weiding moet goed benut word en die grootste gedeelte van die voerrantsoen verskaf. Plase wat meer voer op die plaas vir hul koeie produseer, maak meer geld. Die aangekoopte voer wat nodig is, moet doeltreffend in melk omgeskakel word. Kunsmisinsette moet tot die minimum beperk en voedingdoeltreffendheid geoptimaliseer word, wat ook met gesonde grond verband hou. Om dít dus te bereik, terwyl melkproduksie geoptimaliseer word, behoort meer volhoubare weidinggebaseerde melk tot gevolg te hê.

In die statistiese ontledings wat Trace and Save gedoen het, is grondkoolstof- en stikstofkunsmis-toedieningshoeveelhede negatief gekorreleer. Gesonde grond, wat optimale mikrobiese lewe en struktuur het en vrugbaar is, vereis kleiner kunsmisinsette om optimale weiding en gewasgroei te verkry.

Dit is volgens die studie danksy die verskaffing van voedingstowwe aan plante deur natuurlike voedingstofsiklusse, soos ondersteun deur ’n gesonde, gebalanseerde grondvoedselweb. Aan die ander kant is daar ’n positiewe korrelasie tussen die tellings vir grond, grondkoolstof en water. Gesonde grond, veral die koolstofkomponent, hou meer water vir langer, wat die doeltreffendheid van watergebruik verbeter.

Die bruto marge van elke plaas is bereken as die totale inkomste per liter melk minus die volgende veranderlike koste per liter melk: konsentrate, ruvoer, kunsmis, elektrisiteit en brandstof. Dit is natuurlik nie ’n werklike winsmarge nie, aangesien sommige koste uitgesluit is, soos arbeid, toerusting, infrastruktuur en veearts- en mediese uitgawes.

Die uitgawes wat by die berekening van die bruto marge ingesluit is, gee ’n omvattende insig in watter plase winsgewender is. Gevolglik word hoër marges verbind met ’n kleiner koolstofspoor en beter stikstof- en fosforbenutting. Craig Galloway, ’n navorser oor volhoubare landbou, en die Wêreldnatuurlewefonds (WWF-SA) se Sue Viljoen, het bevind dat een van die plase sy bruto marge van 2013 tot 2019 met 43% verhoog het deur veranderings wat Trace and Save aanbeveel, toe te pas.

‘Ons is tevrede met die praktyke van die boere met wie ons saamgewerk het, en waardeer dit dat Nedbank en WWF-SA saam met ons op hierdie reis is, sê Galloway.

‘Ons hoop dat hierdie navorsing boere en die res van die bedryf sal aanmoedig om meer volhoubare boerdery toe te pas. Herlewingsboerdery is iets wat nou al ’n rukkie op ons radar by die WWF-SA is. Ons is bly ons kon betrokke raak en die tyd en hulpbronne gebruik om die voordele van herlewingsboerdery te bewys,’ sê Viljoen.

‘Hierdie navorsing is die moeite werd en sal boere baie help om winste te verhoog terwyl hulle die regte ding vir die omgewing doen,’ sê Herman de Kock, uitvoerende hoof van besigheidsbanksake by Nedbank. ‘Volhoubaarheid is noodsaaklik vir ons by Nedbank, en ons is altyd gereed om ’n helpende hand uit te reik om ons boere te help om hul besighede te laat groei.’

Wat opmerklik is, is dat die resultate presies getoon het dat volhoubaarheid beïnvloed word deur die doeltreffendheid van melkproduksie (per hektaar en per lewende gewig, maar nie per koei nie), vanuit ’n omgewingsimpak-, sowel as ’n ekonomiese perspektief. Om die omgewingsimpak te beperk en winsgewendheid te verhoog, moet met melkproduksie waarskynlik nie op die maksimum per koei klem gelê word nie.

’n Mens kan uit hierdie studie aflei dat dit regstreeks in melkboere se finansiële belang is om alles in die stryd te werp om meer volhoubaar te word. Nie net sal die bereiking van ’n kleiner omgewingsimpak gunstig wees nie, maar daar is ook ’n duidelike besigheidsvoordeel.

Dit is ’n wensituasie vir boere, vir verbruikers, vir melkverwerkers en vir die suiwelbedryf in sy geheel. Dit is te verstane dat, soos die studie toon, daar finansiële vereistes is, maar volhoubare praktyke kan geleidelik toegepas en verbetering stelselmatig uitgebou word.

Dié artikel is slegs bedoel vir algemene inligtingsdoeleindes en is nie regsadvies nie.