Witrivier se nuwe baadjie
Vroue maak asblikke leeg, ondernemings kikker parke op en werklose jong mense plant bome. Dít is wat Witrivier se mense regkry, skryf Sizwe sama Yende.
Toe die gemeenskap van Witrivier begin inspring om hul dorp reg te ruk, het Linda Godley en haar selgroep begin wonder hoe hulle kan help.
“Ons het eendag by ons selgroep gesit en gedink ons moet iets doen, maar dit moet iets wees wat mense met seer knieë, rûe en heupe kan baasraak,” vertel Godley.
“Toe besluit ons ons kan asblikke leegmaak. Dit is ’n vuil, stink werk, maar die sakke is nie té swaar nie.”
Vir die afgelope twee en ’n half jaar maak dié vroue (waarvan die oudste 79 jaar oud is) elke Donderdag die asblikke in en om die dorp skoon. Tot 70 sakke word aangery stortingsterrein toe. “Ons is nou vyf. Ons was eers meer, maar soos ons ouer word, raak dit moeiliker.”
Dié formidabele vroue wil nie regstaan vir foto’s nie. “Want dan doen ons dié werk om die verkeerde redes,” sê Godley.
Om ’n park te red
Leë bierbottels, spuitnaalde, gebruikte kondome en gebreekte huishoudelike toerusting. Dit is wat ’n groep vrywilligers begroet het toe hulle sowat drie jaar gelede ingespring het om Witrivier se Ronnie Bester-park skoon te maak.
Dié oorgroeide en smerige park was ’n doring in die oog vir mense wat met die R40 uit Nelspruit die dorp binnegekom het – ’n hawe vir inbrekers om hul buit weg te steek, verslaafdes om hul dwelmgewoontes te beoefen en prostitute om hul klante te ontvang.
“Daar was klein paadjies waar mense diep kon inry waar jy hulle nie van die straat kan sien nie,” sê Pierre du Preez, ’n stigterslid van Witrivier se gemeenskapsorganisasie The Power of 8000 en deesdae ondervoorsitter. Hulle het oor drie maande tonne vullis en plantmateriaal uit die park verwyder.
Pierre du Preez, stigterslid en ondervoorsitter van The Power of 8000, sê hulle huur toerusting om die groter skoonmaakwerk te doen. Foto: Facebook
Pierre du Preez, stigterslid en ondervoorsitter van The Power of 8000, sê hulle huur toerusting om die groter skoonmaakwerk te doen. Foto: Facebook
Die park - toe en nou: Mduduzi Khumalo, Rhodes Abell, voorsitter van The Power of 8000, Lisa Gordon-Davis, projekbestuurder, en Alfred Hombe. Foto: Lerato Sejake.
Die park - toe en nou: Mduduzi Khumalo, Rhodes Abell, voorsitter van The Power of 8000, Lisa Gordon-Davis, projekbestuurder, en Alfred Hombe. Foto: Lerato Sejake.
Ons ontmoet Du Preez, ’n gryskop-eiendomsagent, in sy kantoor op die dorp. Die einste kantoor waar die eerste planne beraam is om dié Laeveldse dorp skoon te maak.
Hy en sy kollegas het op 18 Januarie 2021 gesels oor hoe hulle iets vir die gemeenskap kan doen. Dit het begin met ’n projek waar hulle op Dinsdae kospakkies vir armes uitgedeel het.
“Ons adverteer toe op Facebook dat ons ’n klein parkie genaamd Parkville in die dorp wil skoonmaak. Baie mense het kom help en ons wonder toe wat volgende? Toe dink ons aan Ronnie Bester-park.” Die park was eens ’n lushof met ’n fontein en trappies waar daar selfs troues gehou is.
The Power of 8000 het vragmotors en trekkers met grassnyers gehuur. Die R60 000-rekening is gedek met donasies van ondernemings en individue.
“Die gemeenskap het die projek omarm en het tot drinkgoed en kos vir die vrywillige werkers gebring.” Die naam kom van die getal huishoudings in die dorp. “Ons het gedink dit is sowat 8 000, maar daar is eintlik meer. Die naam het egter gebly.”
Welwillendheid is aansteeklik
Al hoe meer mense het by die projek aangesluit en momentum gebou, vertel Du Preez. Inwoners organiseer hulle in groepe wat spesifieke dele van die dorp skoonhou.
Du Preez vertel ’n jong man het verbygestap terwyl hulle besig was om die Ronnie Bester-park skoon te maak.
“Wat maak julle hier? Ek is op soek na werk,” het hy gesê. Toe hy hoor hulle doen gratis vrywilligerswerk het Mduduzi Khumalo (31) op daardie dag in Maart 2021 ingespring en deel geword van The Power of 8000. Hy verkoop nie meer groente nie, maar verdien ’n inkomste van die projek.
“Ek het in die straat afgeloop en toe die klomp mense in die park sien werk. Toe hulle my vertel hulle doen gemeenskapswerk het ek gesê ek wil help, want dit het my bly gemaak dat hulle die dorp opruim,” sê Khumalo.
“My betrokkenheid by The Power of 8000 was ’n deurbraak. Hulle het my op ’n kritieke stadium ’n kans gegee en nou kan ek my familie voer.”
Daar was té veel werk vir Khumalo en toe trek hy sy vriend Alfred Hombe (32) nader. Almal op die dorp ken hulle danksy hul harde werk en groot glimlagte. Inwoners dra gereeld vir hulle kos en klere aan.
Die Witrivier-rugbyklub het harke en grasnyers opgeneem om Danie Joubert-straat skoon te maak. Foto: Facebook.
Die Witrivier-rugbyklub het harke en grasnyers opgeneem om Danie Joubert-straat skoon te maak. Foto: Facebook.
Tracy Mashava kan die omgewing om haar stalletjie skoonhou nadat sy ’n asblik gekry het. Foto: Lerato Sejake.
Tracy Mashava kan die omgewing om haar stalletjie skoonhou nadat sy ’n asblik gekry het. Foto: Lerato Sejake.
Skhumbuzo Lekhuleni van die White River Youth Forum mobiliseer werklose jong mense. Foto: Lerato Sejake.
Skhumbuzo Lekhuleni van die White River Youth Forum mobiliseer werklose jong mense. Foto: Lerato Sejake.
Vullisdromme maak ’n verskil
Op The Power of 8000 se Facebookblad is ’n lang lys van plekke met die name van organisasies of inwoners wat vir spesifieke omgewings of take verantwoordelik is.
Vroeër vandeesmaand het die “rooi-en-wit-weermag” van die Witrivier- rugbyklub die rugbyballe op ’n Saterdag ingeruil vir harke en grassnyers om Danie Joubert-straat op te ruim.
Danksy The Power of 8000 is daar oral vullisdromme in en om die dorp. “Ons het munisipale vullisblikke in ’n beboste deel gevind en gevra of ons dit kan kry.”
Die groep het toe ’n kaart bestudeer om te besluit waar om dit oral te plaas. Dit is die asblikke wat Godley en haar span diens.
Tracy Mashava (33) verkoop vrugte en groente langs die White River Primary School. Dié plek was eens smerig, maar Mashava hou dit skoon nadat sy ’n vullisdrom gekry het.
“Ek maak elke oggend eers skoon, want my klante hou daarvan om in ’n skoon omgewing te koop.”
Dimitri Coetser, eienaar van DC Pressure Washing & Roof Cleaning, gebruik sy toerusting om die Witrivier-poskantoor skoon te maak. Foto: Facebook.
Dimitri Coetser, eienaar van DC Pressure Washing & Roof Cleaning, gebruik sy toerusting om die Witrivier-poskantoor skoon te maak. Foto: Facebook.
Plan vir water tydens beurtkrag
Hulle het ’n goeie verhouding met die Stad Mbombela-werkers op voetsoolvlak, sê Du Preez. Senior amptenare wou egter nie vir hulle toestemming gee om byvoorbeeld munisipale toerusting soos trekkers reg te maak om daarmee die dorp op te ruim nie.
The Power of 8000 kon wel sommige infrastruktuur opknap. “Daar was ’n gebreekte kragopwekker by die dorp se waterwerke. Ons het R45 000 bestee om dit reg te maak en nou skop dit in as daar beurtkrag is sodat die dorp water het,” vertel Du Preez.
“Ons het die vermoë ontwikkel om parallel eerder as in opposisie met die regering te werk,” sê Rhodes Abell, voorsitter van The Power of 8000. Ons werk saam met die munisipaliteit en help waar hulle uitdagings het.”
Danksy donasies kon The Power of 8000 toerusting soos grassnyers en trekkers koop.
“Mense sien wat ons doen, so ons kry donasies. Mense gee enigiets van R3 000 tot R35 000 en ons is deursigtig oor wat ons met die geld doen.”
Rapport en City Press is op soek na die mense wat met klein of groot dade hul gemeenskappe ’n beter plek maak. Is dit jy? Of weet jy van so iemand? Stuur ’n e-pos na mysa@rapport.co.za
Inwoners sê
1. “Dis wat Suid-Afrikaners doen, ons kom byeen en maak ’n plan,” sê Unice-Ann Badenhorst, eienaar van Yoons Eatery oor The Power of 8000. “Ons moet almal hande vat, van die townships tot in die estates.” Die opknappingsprojekte bring meer toeriste en sy glo sterk daaraan om soveel moontlik produkte plaaslik te koop. Benewens donasies sorg sy vir etes vir vrywillige werkers en geskenke oor tye soos Paas- en Kersfees.
2. The Power of 8000 werk gereeld saam met die White River Youth Forum.
Tshepo Sedibe (35) en Skhumbuzo Lekhuleni (33) mobiliseer jong mense om inheemse bome te plant, indringerplante uit te wis en om oop ruimtes op te ruim. Waar Sedibe en Lekhuleni in Extension 18 bly is die omgewing silwerskoon. “Ons park is skoon al is daar nie ‘Do not litter’-tekens nie. Mense het respek vir ’n skoon plek, hulle mors nie daar nie.”
3. Leon Carelse, bestuurder van Caltex Witrivier, sê die opknappingswerk maak ’n reuseverskil. “Die feit dat die dorp weer skoon en netjies is beteken dat meer toeriste hier stop. Ons sien dit in brandstofverkope en in die winkel.” Dié vulstasie skenk gereeld brandstof en kontant. “Ons gee ook vir die vrywilligers kos en koeldrank as hulle hier naby ons werk.”
Lesse geleer
1. “ ’n Mens kan nie net ophou belasting betaal nie. Ons het aanvanklik gedink ons kan (die munisipaliteit van) Stad Mbombela kry om die werk te doen, maar het besef hulle kan nie,” sê Pierre du Preez. The Power of 8000 het toe besluit hulle kan hul eie dorp skoonmaak sonder die regering se hulp. “Baie mense het gesê ons moet ophou om eiendomsbelasting en diensgeld te betaal (want hulle het self die stad skoongemaak), maar ons het nie ’n keuse nie, ons móét dit betaal.”
2. So ’n projek het baie werk. The Power of 8000 se drie direkteure werk voltyds, maar moet ook daagliks die organisasie se administratiewe werk doen. Du Preez sê hulle het gehoop om finansiering te kry om ’n voltydse bestuurder aan te stel om die projek te bestuur en met Stad Mbombela te skakel, want dis nodig om te verseker werk word nie gedupliseer nie en dieselfde plek word nie deur albei partye skoongemaak nie.
3. Almal waardeer nie jou pogings nie. Sommige van die stad se senior bestuurders was so ongelukkig met The Power of 8000 se goeie werk, dat hulle die stigterslede op WhatsApp geblokkeer het en nou weier om met hulle te kommunikeer.
4. “Die belangrikste les is dat ons verantwoordelik is vir ons eie dorp. Dit moet veilig, funksioneel en skoon wees,” sê Du Preez.
