'Ons het self iets gedoen'

’n Gemeenskap in Vhembe in Limpopo was van die wêreld afgesny wanneer reën hul enigste pad in ’n modderbad verander het. Toe gebruik hulle hul welsynstoelae en spierkrag om ’n plan te maak, skryf Lucas Ledwaba.

Inwoners van die Makwarani-gemeenskap in Vhembe in Limpopo by ’n deel van die pad wat hulle self met sement gelê het. Foto: Lucas Ledwaba

Inwoners van die Makwarani-gemeenskap in Vhembe in Limpopo by ’n deel van die pad wat hulle self met sement gelê het. Foto: Lucas Ledwaba

Vir jare was die gemeenskap van Makwarani in Vhembe van die res van die wêreld afgesny as dit gereën het.

Die D3688-grondpad het in ’n modderbad ontaard en geen ambulans, taxi of bus kon by dié nedersetting in die Thulamela- plaaslike munisipaliteit uitkom nie.

“Daar is ’n tyd wat ons geweet het as dit reën kan niemand in of uit die dorpie kom nie. Mense kon nie gaan werk soek nie en die wat werk het, kon nie daar uitkom nie,” vertel Pfano Lithudzha, ’n jeugleier van die padprojek.

Data van Statistieke Suid-Afrika se sensus in 2011 wys dat daar in Makwarani 249 huishoudings met geen lopende water of rioolfasiliteite is nie. Bykans 80% van die inwoners is afhanklik van staatstoelae.

Die Makwarani-nedersetting word met die buitewêreld verbind met die D3688 – ’n gruwelike grondpad wat van die R523 deur verskeie klowe kronkel. Die naaste dorp is Thohoyandou sowat 27 km ver en dit kos R32 om met ’n taxi daarheen te ry. Die pad is so sleg dat dit ’n dag kan neem om Thohoyandou toe en terug te reis.

Taxibestuurders vertel hulle moes elke ses maande hul bande vervang weens die klippe op die pad.

Die D3688-pad na Makwarani was onbegaanbaar wanneer dit gereën het.

Die D3688-pad na Makwarani was onbegaanbaar wanneer dit gereën het.

Almal gee R100
Die inwoners was vasgevang en gefrustreerd. “Binnelandse sake kon nie hierheen kom nie. Ambulanse kon nie hierheen kom nie. Busse het vasgeval en ons het ons karre op die pad verloor,” sê Takalani Muligidi, ’n elder in die Makwarani- gemeenskap.

’n Plaaslike koerant het berig oor ’n vrou wat agterop ’n bakkie moes kraam wat nie by ’n kliniek kon uitkom nie.

In ’n poging om die regering te dwing om iets hieraan te doen, het inwoners van Makwarani en vyf ander nedersettings langs dié pad 200 km ver met taxi’s gery na die kantore van die provinsiale regering in Polo­kwane. Hier het hulle sitstakings onderneem om die provinsiale regering se aandag te probeer trek.

Die gemeenskap lê self sement.

Die gemeenskap lê self sement.

Verskeie sulke proteste het egter niks opgelewer nie en die gemeenskap het besluit om self ’n plan te maak. “Ons het moeg geraak daarvoor om taxi’s te betaal om ons na die regering toe te vat om hulle te vra om ons pad reg te maak,” sê Alilali Singo, ’n vroue-leier van die padprojek.

Ná ’n reeks vergaderings het inwoners ingestem om R100 per huishouding by te dra om sement en ander materiale te koop om die slegste dele van die pad te herstel.

“Sommige gesinne was té arm om by te dra. Mense hier het nie werk nie en talle is afhanklik van welsynstoelae. “Maar ons het almal ingestem om iets te doen,” sê Muligidi.

Diegene wat nie kon help met geld nie, het hul arbeid aangebied. Volgens Albert Madadzhe het inwoners hier R65 000 bymekaargemaak.

Sing-sing bou hulle ’n pad
Nadat die materiale aangekoop is, is die moue opgerol en bouwerk het einde 2021 begin. Inwoners het die slegste dele van die pad geïdentifiseer om te takel.

Mans, vroue en jong mense het opgedaag met gereedskap wat hulle van hul huise gebring het. “Ons was verenig. Ons het ons huiswerk gelos en vroegoggend na die pad toe gegaan. Ons het gewéét ons kan dit doen, ons was vasbeslote om ons omstandighede te verander,” sê Singo.

“Ons het gesing terwyl ons gewerk het. Sommige motoriste het gestop om vir ons kos te gee terwyl ander vir ons geld gegee het.

“Sommige het Thohoyandou toe gery om vir ons kos en kruideniersware te koop. Dít het ons selfs sterker gemaak,” onthou Singo die gees wat onder die padbouers geheers het. “Daar was geen man nie, daar was geen vrou nie. Ons het almal saamgewerk.”

Selfs die jong mense het ingespring. “Toe ons sien die ou mense het besluit om iets te doen, het ons by hulle aangesluit. Ons het gegrawe en beton gemeng,” sê Lithudzha. “Ons moes ook werk want ons het dié pad nodig om werk toe te gaan en om werk te soek.”

’n Maand lank het die gemeenskap van vroegoggend tot vroegaand gewerk. Hulle het sowat 2,4 kilometer se tweespoorpad op verskillende dele van die D3688 gelê.

“Ons het so goed gevoel toe ons klaar was met daardie werk.”

Chupu Mathabatha, Limpopo se premier, het sover gegaan om verlede jaar in sy stand van die provinsie-toespraak te sê dat die D3688 ten volle gerehabiliteer is.

Die pad is egter steeds in ’n uiters swak toestand, maar danksy die inwoners is hulle nie meer vasgekeer wanneer dit reën nie. “Mense kan darem nou hier uitkom. “Mense is nie meer bang om hierheen te ry nie,” sê Madadzhe.

’n Kontrakteur het verlede maand opgedaag om die pad behoorlik te herstel.

’n Kontrakteur het verlede maand opgedaag om die pad behoorlik te herstel.

Verlede maand het ’n kontrakteur opgedaag om die pad te verbeter. Sommige inwoners het nou tydelike werk en daar is groot aktiwiteit in die nedersetting met vragmotors en werkers wat daar doenig is.

“Ons het nie gewelddadig betoog nie. Ons het self iets gedoen. Dit het tyd gevat, maar dit lyk my die regering het na ons geluister. Dit is hoekom daar nou ’n projek hier is,” sê Muligidi.

Die inwoners se werk is allermins perfek, maar dit het verligting gebring. “As ’n vrou in kraam by die kliniek moes uitkom, kon sy nie. Ambulanse wou nie hierheen kom nie weens die pad. Selfs karre kon nie tot hier kom nie. Ten minste is dit nie meer ’n probleem nie,” sê Singo.

‘Skoon water vir my mense’

In sy grootwordjare het Edzisani Frederick Silima in die Tshiswavhathu-rivier geswem – daar waar die dorpie se inwoners ook hul drinkwater gekry het.

Jare later het hy na Tswera teruggekeer om by van sy familie te gaan kuier, net om te besef baie min het verander.

Dit het Silima moedeloos gemaak om te sien dat die mense hier ná al die jare steeds water uit die rivier moet gebruik. Dat vroue en jong meisies steeds vir die grootste deel van hul dag in die koppies moet gaan stap om drinkwater te gaan haal.

Die rivier kom van natuurlike fonteine in die berge en is ook die waterbron vir diere soos bobbejane en ape asook die dorps-inwoners se vee.

Tswera is sowat 25 km noordoos van Thohoyandou in die Thulamela- plaaslike raad. Meer as 85% van inwoners is afhanklik van welsynstoelae.

Edzisani Frederick Silima by die Tshiswavhathu-rivier waar hy as kind geswem het. Foto's: Lucas Ledwaba

Edzisani Frederick Silima by die Tshiswavhathu-rivier waar hy as kind geswem het. Foto's: Lucas Ledwaba

Silima, wat ’n watersuiweringsonderneming en kollege in Thohoyandou bestuur, het besluit om self ’n plan te maak.

Ná vergaderings met die gemeenskap en hul tradisionele leiers, het hy waterpype, filters en skoonmaakmiddels gaan koop.
Silima het ’n gekwalifiseerde loodgieter aangestel om pype te installeer van die berg tot sowat 600 m verder by die Tswera-laerskool in die nedersetting.

Die water word deur ’n reeks filters skoongemaak voordat nóg pype dit na huishoudings voer waar watertenks deur die regering geïnstalleer is.

Nou hoef die dorpsmense nie meer die berg te bestyg om water te kry nie én hulle hoef nie langer bekommerd te wees oor die gehalte van die water nie. Water is nou heeldag by hul huise beskikbaar.

“Ek het dit gedoen want ek was baie bekommerd oor die gesondheid van die mense hier. Ek het tot navorsing gedoen oor die siektes wat mense kan kry as hulle besoedelde water gebruik,” sê Silima.

“Dit het my regtig baie ontstel om te sien dat mense steeds dieselfde water moet drink wat die bokke en ape gebruik.”

Diegene wat water in die berg moes gaan haal, moes ook ander gevare trotseer, want daar is verskeie giftige slange en luiperds in die omgewing.

Die inwoners sou nie self kon bekostig om die toerusting te koop om water aan te lê nie.

Silima praat nie oor die koste van die projek nie. “My enigste kommer was dat my mense skoon water moet hê. Dit is al.”

Hy woon al dekades nie meer hier nie, maar gaan elke maand terug om die projek te monitor. “Ons bekyk die pype en filters en as iets vervang moet word, kry ek die loodgieter om dit te kom doen.”

Mulalo Nekhavhambe spog nou met ’n groentetuin.

Mulalo Nekhavhambe spog nou met ’n groentetuin.

Muvhoni Mukwevho vertel inwoners moes hul water kook om seker te maak dit is drinkbaar. Nou kan hulle skoon water uit ’n kraan tap.

Muvhoni Mukwevho vertel inwoners moes hul water kook om seker te maak dit is drinkbaar. Nou kan hulle skoon water uit ’n kraan tap.

Mulalo Nekhavhambe, lid van die Tswera-laerskool se beheerliggaam en wat help met die skoonmaak van die filters en pype, sê dit het sy lewe verander. Danksy die beskikbaarheid van water het hy nou ’n vrugte- en groentetuin by sy huis.

“Voor hierdie projek het ons werklik swaargekry. Ons moes water van die heuwels aandra en ons kon niks plant nie,” sê Nekhavhambe. “Nou plant ek alles van spinasie tot tamaties.”

Muvhoni Mukwevho vertel van die verligting wat die waterpype gebring het. “Dit is nie altyd maklik om water te kook voor gebruik soos die gesondheidsinstellings aanbeveel nie. Die filters maak dit maklik, want nou weet ons die water wat ons gebruik is skoon.”

Filters is ook by die skool aangebring. “Dit beteken die kinders het die meeste van die dag toegang tot skoon water.”

Suid-Afrika kan ’n beter plek wees as almal ’n klein bietjie van ’n bydrae lewer, sê Silima. “Dink aan ons mense. Hoe jy hulle kan help as hulle swaarkry.” - Lucas Ledwaba

Rapport en City Press is op soek na die mense wat ’n verskil maak. Diegene wat met klein of groot dade hul gemeenskappe ’n beter plek maak. Is dit jy? Of weet jy van so iemand? Stuur ’n epos na mysa@rapport.co.za