Lynthia Julius:
Om te skryf as die

broodblik leeg is

In ons vierde artikel in samewerking met PEN Afrikaans wonder Lynthia Julius hoe ’n mens

skryf as die armoede jou jaag.

Lynthia Julius. Foto: Peter van Noord.

Lynthia Julius. Foto: Peter van Noord.

Iemand sê op ’n dag vir my: “Jy leef ons almal se droom.” Hy praat van die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs wat aan my toegeken is. As skrywer kan ek my tyd toewy aan die skryf van ’n roman sonder om hoef te worry oor ’n kat wat op die stoof uitgestrek lê. Skryf is ’n luuksheid. En hoe skryf jy as die armoede jou jaag en jy is nie gerus oor krag wat uitloop en brood wat moet op die tafel gesit word nie? Ek dink aan reëls uit Nathan Trantraal in die bundel Alles het niet kom wôd: 

24.6 units oppie meter
is 24.6 goed wat
reg is innie wêreld 

Wat baat skryf as die kragboks piep en daar is nie 24.6 units nie? Daar is nie 24.6 goed wat reg is innie wêreld nie. ’n Vilanelle, ’n roman, ’n kortverhaal beteken niks as jy werk soek en elke plek waantoe jy jou CV stuur kom terug met “unsuccessful” nie. En as die kjeent huis toe kom en die juffrou het gesê hulle moet iets skool toe bring wat nie werk nie, sê een van jou mense die kjeent moet vir jou vat, van jy werk mos nie. Ek weet van die eensaamheid wat kom met werkloosheid, hoe jy nutteloos voel van nie kan bydra by die huis nie. Hoe jy skaam raak elke keer as iemand jou vra “So wat doen jy op die oomblik?” En jy weet nie wat om te antwoord nie, van jy weet hulle vra dit net om julle sukses teen mekaar te meet.

Ek het vir ’n jaar by die huis gelê weens werkloosheid. Daar is nie geld om verder te studeer nie. Daar is antwoorde van niks, leë ure wat niks kraam en niks in jou wil skryf nie, so jy lees maar boeke om te keer dat jy nie waansinnig word nie.

Jy dink aan Sylvia Plath se woorde “I write only because there is a voice within me that will not be still”. Maar werkloosheid maak stil. Armoede maak stil. “Sorry unsuccessful” maak stil. Die ure van niksheid laat jou verval voor jou vervaldatum en niks wil “jou roer of raak nie”, soos Gert Vlok Nel sing.

“As jy elke sent moet omdraai, stuur jy vir skryf in sy moer.”

“AFTER NOURISHMENT, shelter and companionship, stories are the thing we need most in the world,” sê Philip Pullman. Hier waar ek in ’n bevoorregte posisie is om te kan skryf en te fokus op my boek deur die beurs, sit dink ek aan jongmense wat onder die broodlyn leef. Jy kry ’n skrop by Shoprite en jou AP-score is 39. Jy pak rakke. Jy staan. Jou voete brand, maar wat baat skryf daai tyd as jy by die huis kom en daar is net twee snytjies brood in die broodblik en julle is ses in die huis.

Jy dink nie aan ’n kortverhaal skryf as jou kjeent huil van honger, of julle julle plek gaan verloor, van julle kan weer dié maand nie huur betaal nie. As jy elke sent moet omdraai, stuur jy vir skryf in sy moer. Dit bring niks in die sak daai tyd nie. En as jou geld by Shoprite nie uitkom tot einde van die maand nie, oor jy die huis op jou breek rug dra, loop sit jy nie by ’n tafel en sukkel met “showing versus telling” nie.

Okay, daar is tantième, maar ek weet nou tantième is nie genoeg om armoede weg te jaag nie. En jy kry hom nie elke maand nie. As hy kom is jy dankbaar, maar jy kan niks maak met daai tantièmestaat wat jou inlig hulle kan eers uitbetaal as die bedrag meer as R100 is nie. Stuur maar daai R40 vir twee brode. Stuur daai geld onner R100 vir ’n pakkie melk. Jy is moeg om altyd by die antie langsaan te vra. Sy sê in elk geval julle gee nooit terug nie.

Daar is studente wat hulle beursgelde moet huis toe stuur sodat hulle mense kan eet. Daar is jongmense wat breek is van die las van black tax wat op hulle rug is, en as jy jou dood aan black tax betaal, trek jy nie pen en papier nader nie.

Ek kyk die jongmense wat by die till in winkels werk hier in die Noord-Kaap, wat in klein plekkies bly en in die niksheid van small town mentality verval. Daar is nie hoop vir beter lewe loop soek nie, van om stad toe te gaan het jy geld en ’n plan nodig en om te wag vir Sassa of om uit te kom met die bietjie geld van kassier wees, help nie beter lewe gee nie.

 “Daai goed is die boere se goed. Julle dink julle is wit.”

’N BRUIN VROU sê op ’n dag vir my: “Jy bly jou hou by die wit mense se goed. Toer en gaan na feeste om met hulle foto’s te neem.” Feeste is duur. Kaartjies kos geld. Dis vervoerkoste en akkommodasie, geld vir kos ook. Jy kan nie die fees gaan geniet as jou pa homself in die bottel verdrink oor hy nie vir sy kjeeners kan voorsien nie. Jy sit stres sal hy vanaand weer die huis omkeer. Sal die loan sharks kom en jou ma se laaste geld vir 24.6 units kom vat? Sal hy vanaand die kjeeners laat huil oor hy met jou ma kom aangaan oor ’n R30 vir nog ’n bottel rooiprop?

Toe ek op hoërskool was, het my pa vir my ’n HP laptop gekoop. Ek het met die laptop in my ouma se huis met die ongeteerde straat gesit. ’n Vriend het my kom soek en my ouma het gesê ek sit binne. Hy kom in. Sien my agter die laptop en sê vir my, met afgryse op sy gesig: “Jou ouers maak julle groot soos die boere. Daai goed is die boere se goed. Julle dink julle is wit.”

Ek het grootgeraak met die gesegde “die boere se goed”. Goed wat mooi en duur is, is “die boere se goed”. En ek sit wonder of dit die geval met skryf ook is. Die enigste digter van kleur wat jy op die skoolbanke van geleer het, was Adam Small. Adam kon nie stem gee vir die Noord-Kaap nie en hy hoef dit ook nie gedoen het nie, maar dink baie jongmense nie nog skryf is “die boere se goed” nie?

Skryf is duur. Om agter ’n rekenaar te sit en skryf is duur.

En behalwe dit, kjeeners word nie in skole aangemoedig om te skryf nie. Niemand prys die kjeent wat Wiskunde druip en ’n onderskeiding kry vir ’n kreatiewe opstel nie. Ons leer só onse kjeeners dat die lewe moet bestaan uit beroepe wat jou klomp geld in die sak sal bring. Kry ’n regte werk en as jy van die Noord-Kaap is, gaan werk by die myn. Word ’n boilermaker. Word ’n prokureur of ’n ding. En baie jongmense word soms net ’n ding.

Ja, jy skryf gedigte of kortverhale, maar só dat mense nie sal sien nie. Bêre hulle in die vergeetlaai. Skryf sal nie môre voorsien nie. Daai is die Jirre se werk. Hy voorsien, nie uitgewers nie. Daar is Antjie Krog. Daar is Breyten Breytenbach. Wat sal jou skryf nou in die wêreld kan maak? Hoe sal skryf jou wêreld anners maak?

Koop maar jou six pack Black Label as daar genoeg van jou pay uit is. Miskien troos dίt. Miskien hou dit jou vanaand aanmekaar. Dalk praat die bottel oor die goed wat nie uit jou hart mond toe loop nie. It’s no use. Dronklap en swaarkry ryg jou pa en sy pa en sy pa nog al die jare aanmekaar. Hulle het groen druiwe geëet en jou tande bly stomp. Wat sal vir jou anners wees? Vir wat moet jy skryf? ’n Ph.D. in drank is ver makliker om te kry as ’n Ph.D. in skryfkuns.

En in elk geval, wie-goed studeer skryfkuns? Dis onnodig. Watse geld kom met daai beroep? Laat die anners hulle vermoei met die albatros van skrywer wil wees. Hulle loop in die see in en jy was nog nooit by die see nie. Die enigste see wat jy ken is die see van verdriet. Jy gaan elke jaar op vakansie daantoe. Hy spoeg jou nou en dan uit, maar die meeste kere sluk hy jou en jy sit met ’n vol bottel en ’n halwe pakkie gwaais.

Jy’s graad elf en jou pa is drie maande terug oorlede. Jou ma sukkel om deur die maand te kom sonder sy pay. Jy kry pads by die skool. Daai getroude man wat nou die aand by jou kom stop het toe jy skelm langs die winkel staan rook, hy het gesê hy kan die lewe vir jou beter maak. Hy maak dat jy brood en melk huis toe kan vat. Hy maak die lewe vir jou sagter. Jy werk nie, maar jou eierstokke werk. Jy sit met ’n pap nekkie en sonder matriek. Hy ry lag-lag met ’n koel verhemelte verby julle.

Alliterasie en kwatryne troos jou nie. 

Op uitnodiging van Pen International neem Pen Afrikaans vanjaar deel aan die Unesco-befondste Right to Write-projek. Die doel van dié projek is om in vyf Afrikalande – Suid-Afrika, Malawi, Uganda, Zambië en Zimbabwe – openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Pen Afrikaans kon vyf Afrikaanse skrywers vra om oor bepaalde onderwerpe artikels te lewer wat Rapport eerste in Afrikaans kan publiseer.