Jolyn Phillips:
Tussen ’n boek
en ’n brood
In die laaste artikel in samewerking met PEN Afrikaans skryf Jolyn Phillips oor die uitdagings om ’n digter te wees en ’n lewe daaruit te maak.
Dit is die jaar wat Tjieng Tjang Tjerries and Other Stories (2016) uitgegee is. Ek het ’n donasie ontvang om te betaal vir ’n boekbekendstelling in Blompark, die plek waar die taal van dié kortverhaalbundel bly . . .
Ek het die blink idee gehad om eerder die geld te gebruik om boeke te koop en dit dan teen ’n afslag te verkoop. Ek het met die skool geskakel en die hele ding oor die foon georganiseer. Ek het die skool gevra om dit in die nuusbrief vir ouers en aan die res van die gemeenskap te stuur. Ek het gevra mense moet RSVP sodat ek kan begroot vir die getal mense wat gaan bywoon.
Ek het my Afrikaansonderwyser gevra om met my te gesels oor die boek. Eerlikwaar die deeglikste en interessantste onderhoud wat ek gehad het. Die dag van die geleentheid het my ma’le en van my familie dit bygewoon, met net ’n bietjie dorpsmense wat een of twee rye gevul het. Daar was ’n joernalis van die Herald en hy het my ’n “eks-Gansbaaier” genoem in die artikel.
Agterna het ek by ma gekla oor al die moeite wat ek gemaak het. Ek het al die pad van die Kaap af gekom. Gee my gemeenskap dan nie om vir my nie?
Sy het kortaf gesê: “Wat verwag jy? Nee, my kind, as ons moet kies tussen ’n brood en ’n boek, wat dink jy gaan onse mense kies?”
Hierdie woorde “tussen ’n brood en ’n boek” is ’n metafoor vir die uitdagings om ’n digter te wees en ’n lewe daaruit te maak.
EK HET laas jaar my Ph.D. ná sewe jaar ingegee. Ek glo dit gaan nog deure vir my oopmaak; die uithou was moeilik en daardie bene het ek al fyngekou. Ek sou nie die studie kon klaarmaak sonder my gemeenskap nie. Die akademiese een: my studieleiers se uithouvermoë en UWK se genade om my nog en nog ’n kans te gee. Ek het myself die uitdaging gegun om intiem daarmee om te gaan; om my bitterbekkig te verlekker teen die borsbeelde van Afrikaans, ook dalk ’n valbeweging hier aan te gaan. Ek het geleer dit is moeiliker om ’n stek blaaie te skeur as net een vel.
Maar hoe kry die Dertigers dit reg om in uitgawe nommer honderd-en-iets te wees vandag? Hoekom nog so hooggewaardeerd? Die witheid? Patriargie? Geld? Bevoorregting deur uitgewers? Hoekom is ek so jaloers op dit? Die pryse wat ek gekry het, was tog ’n instaan vir ’n paar maande se huur sodat ek kon skryf, asemhaal, om uit te vlerk, ander lande se literêre kulture te ervaar. Ek was gesê: “Jaloesie is goed! Maar hou aan skryf. Tem die ego. Jy kan nie die prys bepaal nie.”
Ek kan wel toegee die digters was nie bang om die reëls te breek nie. Die digter het agter klank, asemhaling aan geskryf en dit goed reggekry om ’n toekoms vooruit te skryf. Die AWS het in 1917 eers sy verskyning gemaak en verander nog die hele tyd met die toevoeg, terugbring en nuutskepping van woorde. Ook ek skryf moedswillig agter my oor aan en skryf en glo die fonetiek kan ook nog verander, nie net nuwe woorde nie.
Veral die Sestigers het ’n kultuur van vertaling versterk, nie net vanuit Europa nie, maar ook uit van ons ander amptelike tale. Hoe verheug was ek nie om Tjhaka deur Thomas Mofolo in Afrikaans te lees nie, oorspronklik in die 1920’s in Sotho gepubliseer en in die 1970’s in Afrikaans uitgegee. Een ding wat ek geleer het van Europese lande is hul vertalingskultuur. Hulle sê: “Ons wil die wêreld na ons toe bring, maar in ons taal en ons wil ons taal daardeur verbreed.”
Ons moet mekaar vertaal, elke taal wat in die land gepraat word. Dit kan nooit weer gebeur dat ’n mens ’n endling word en ’n taal doodgaan in Suid-Afrika nie.
BAIE INSTANSIES en organisasies bied skrywers- en of kunstenaarsresidensies aan, hierdie is saffron vir kunstenaars, maar nie alle kunstenaars het die geld om op van hierdie residensies te gaan nie, want dit betaal net vir die weke en/of maande wat jy daar is en jy het nog jou huur en munisipale rekeninge wat ingereken moet word, want jy moet terugkom. In gesprekke met ander kunstenaars in die bedryf was woorde soos “gate keepers”, “lack of funding”, “lack of economic freedom”, “working in constant burnout”, “mental health issues”, “vryskut” en die “impending fear of being on the street” altyd in die geselskap. Ekself het in ’n hospitaal beland met vyf grade en drie gepubliseerde boeke agter my naam. Hoe anders in ’n land waar “plenty of work and very few jobs is”?
Elke jaar by feeste, award ceremonies, koerante en op sosiale media word daar vir kunstenaars uit die Egiptiese Boek van Asem gelees. Kunstenaars en skrywers gaan dood van die honger en word begrawe in ’n pauper’s grave. Ek loop teen ’n spasma as ek nog moet verduidelik hoekom die kunste belangrik is vir ’n nasie. Op die oomblik dink ek sterk na oor die konsep van die kunstenaar-entrepreneur en kunstenaar-administrasie. Dis ’n double-edged sword dat die skrywer sonder ’n agent die uitgewerswêreld kan betree, aan die ander kant moes ek ook leer hoe om te negotiate en seker te maak ek kry wat my toekom.
Die triple threat van die vereiste oorspronklikheid, authenticity en relevance is nie meer genoeg in die entertainment industry nie. Die mite van oorspronklikheid word verwar met authenticity, en revelance beskadig kreatiwiteit. Dit is die triple threat waarmee skrywers en kunstenaars elke dag moet baklei. Frazer Barry sê hy kan nie dat pessimisme deel van sy kunstenaarskap word nie. Maak die werk terwyl niemand kyk nie, maak die werk so as iemand kom klop aan jou deur, dan het jy iets om te wys; só rule jy die negotiation.
Met Bientang (2020) het ek verskillende mediums ge-explore; eers die idee om dit as ’n epos aan te bied, toe as ’n play, selfs ’n documentary. Soms moet ek die clacker in my kop stilmaak – is hulle nie al moeg van die besigheid nie? Doen iets nuuts! Ek weet dat Bientang meer as net ’n kreatiewe uitset is.
EK WEET ek kan nie net dig nie, ek moet vir myself en die guilt van my agterstallige existence tax laat vaar. Toe ek besig was met die play, het ek geweet geld gaan die grootste issue wees, maar ek het werkswinkels oor die hoe en waar van die funders bygewoon, YouTube-video’s gekyk om te leer hoe om ’n grant proposal te skryf, om die vocabulary te leer of what I’m worth. Om die hele feesprogram te lees, om nie net te kyk waarin hulle belang stel nie, maar ook om uit te vind wie hulle borge en wie die organiseerders is.
Wees twee uur te vroeg vir afsprake. Lees ek elke skrywer se agtergrond by paneelbesprekings en vra die boeke aan van die skrywers wat moontlik op die paneel sit. Dit wys nie net werksetiek nie; wat jy sê, tel net so baie as dít wat jy skryf.
“Dit kos jou niks,” sê ek vir myself. Dis baie ure wat nie op invoice gesit word nie, en eerlikwaar: Dit kos te veel om myself nog soos Red Peter aan die akademie te verduidelik “gender en ras skryf nie my werk nie!”
My oom het op ’n keer darem bietjie meer respek gehad vir my toe ek ’n tweede bundel uitgegee het en op die radio was. Hy het vir my gevra: “Hoe werk die boekbesigheid, hoeveel betaal hulle jou? Jy’t dan nog nie ’n kar en ’n huis nie, en die hoeveelste graad is dit nou van al die geleerery?” Ek het vir hom verduidelik ek word betaal in royalties. “Hoeveel maak jy elke maand?” En toe ek verduidelik wat royalties is, het hy gesê: “Nee, dan kan ek ook maar skryf, hulle vat jou mos vir ’n pop.”
Ek kry ook baie die vraag: “Wanneer kom jou volgende boek uit?”, terwyl ek besig is om die een wat nou net uitgebring is, te teken. Ek kon hierdie vraag antwoord toe Radbraak (2017) op pad drukker toe was: “ ’n Digbundel.” “You’re shooting yourself in the foot.” Hoeveel bundels moet ’n digter dan skryf om ’n lewe te maak?
Die keuse tussen ’n brood en ’n boek is ook waar vir elke Suid-Afrikaner, want ons ly aan ’n kollektiewe angs as ons die switch aansit en die kraan oopdraai.
Gaan daar water uit die kraan kom? Watter een, krag of elektrisiteit, met watter een kan ek leef as ek moet kies tussen die twee? Wat word van ubuntu as ons niks oor het om vir mekaar te gee nie?
• Op uitnodiging van Pen International neem Pen Afrikaans vanjaar deel aan die Unesco-befondste Right to Write-projek. Die doel van dié projek is om in vyf Afrikalande – Suid-Afrika, Malawi, Uganda, Zambië en Zimbabwe – openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Pen Afrikaans kon vyf Afrikaanse skrywers vra om oor bepaalde onderwerpe artikels te lewer wat Rapport eerste in Afrikaans kan publiseer.
