’n Masterclass in Resistance
Kaaps, Wings & Ivy League Things
Ek’t my vrin Trudy gevideocall ommie monumental moment te deel. “Jirre girl, kyk hie, wie sou gedinkit?!” Ek’t die camera af selfie mode gehaal soedat ek vi haa Columbia University se campus kon wys.
My staarage draai fokus op Butler Library se facade; Homer, Sophocles, Plato, Aristotle, Dante, Shakespeare se name staan oppie ou gebou. Ek’t die iconic Columbia steps gewys, mettie moerse Alma Mater statue innie middel, ennie lawns. Ooh die lawns! Twie lang stukkies pitch met perfectly manicured bright groen gras wat parallel aan mekaa haloep innie middel vannie campus. Trudy snak vi asem, “Oh my word, is net soes innie movies!” Die lawns is soe pristine nieman dare om op it te staanie.
Behalwe vi vie wit mans wat daa, innie middel vannie lawns gestaanit met ’n speaker by hulle voete. Nicki Minaj se number “Super Bass” het deurie boksie geklop. Die vie se oë was op hulle phones geglue soes hulle Minaj se lyrics lees en mompel. Hulle’t hulle knieë gebyg, elke een miss heeltyd die beat.
“Te fok?” sê Trudy en ek gelyk. Daa was ’n groep meisies wattie ouens recordit. Miskien het die boys ’n dare veloo of dalk issit ’n birthday singing telegram gift tipe ding, maa either way ek is underwhelmed en offended. Ek sê vi Trudy: “Nee, ek is supposed om by een vannie beste arts school innie wêreld te wies, maa kyk hie, die kak eeste Ivy League performance wat ek sien.”
In April 2024 is ek Columbia toe genooi om my masterclass “Narrative Resistance: Writing authentic stories of resilience and identity in diverse communities” vi hulle meestersstudente te leer. Ek sê al nou vi jare dat alhoewel my wêk baie spesifiek is – ek skryf in Kaaps, oo Kaapse mense, vi Kaapse mense – my wêk nog once “universal” is. Ek’t my Kaapse content New York toe geniem om te sien as my theory van universality waar is.
My studente kô van all over: die States, Mexico, Philippines, Poland en ’n paa rootless army brats. Innie eeste klas deel ekkie storie van hoe ek in 1994 die eeste non-white kin in my skool was. Ek vetel hulle van my eeste sports day en hoe warm it was. Ek het al my races gewên ennit het my dôs gemaak. Die anne kinnes het lekke an yskoue bompies gesyg. My ouma het vi my ’n rand gegie om myself een te gan koep, maa die twie ma’s wat byrie tuck-shop dai dag gevolunteerit, het my nie vestaan toe ek hulle vi ’n “bompie” vra nie. Ek’t ytgefigure het sieke ’n anne naam vi bompies, soe ek’t hulle vi ’n sukkah gevra. Dai volunteer ma het my rand gevat en vi my ’n fizz-pop lollipop gegie. Innie Ocean View is ’n ice-cream ’n sukkah, maa daa in my niewe omgewing vannie skool is ’n sucker ’n lollipop. Dai wassie moment, toe ek vyf jaa oud was, wat ek geleerit dat ek myself in twie moet split, wan die mense byrie skool vestaanie die taal wat ôs byrie hys gebrykie. As ek in die space wil survive, moet ek ’n heel anne taal en manier van praat leer. Die skool het my elocution lessons gegie om my natural Kaapse accent te vesag, hulle’t bly sê dattie way wat ek praat vekeed is.
Ek sê vi my studente dat it dai vyf jaa oud kin is wat nou as volwassene ytkô en speel wanne ek in Kaaps skryf. Is vi dai vyf jaa oud version van myself wat ek nou soe Kaaps orals insert in plekke wat ittie “behoort” ie: innie klaskamer, innie literary canon, oppie vehoog, oppie TV, selfs innie Ivy League.
Ek’t die klas gevra om ’n bietjie te praat oorie eeste kee toe hulle besefit dat hulle ’n kultuur het.
Ammel se antwoode involve die begin van skool. Dai issie tyd toe hulle skielik bewus gemaak was dat hulle annes is. Laerskool was vi ammel van ôs die eeste plek waa ôs geleerit die necessity van onself veanne om in te pas. En it het êrgere geraak soes ôs grootgewôd it met strukture en institutions wat anhoudend reinforce dat ôs “reg” moet praat en “reg” moet skryf.
In my twiede klas gesels ôs oo hoe om dai conditioning te resist. Die discussions gan oo taal en mother tongues. Oo hoe onnoorag translation is, hoekô wôd ôsse tale geitalicize en vi wie is ’n glossary? Ek vertel hulle die anarchic wortels van my Kaaps en hoe lekke it voel om sonne reëls jouself te kan express.
In my derde klas praat ôs oo place. Mees van ôs kô van underdeveloped gemeenskappe. Ôs leer dattie blokke oppie Cape Flats dieselle is soesie projects in die VSA ennie flats in South America. Ôs gie mekaa moed om oo ôsse plekke te skryf soedat ôs it kan document, wan ôs leef in ’n tyd waa plekke vinnag veanne, soes deu gentrification, of waa plekke in ’n split second nie mee bestaanie, soes deu genocide.
Innie volgenne klas praat ôs oo representation. Ek’t ’n audio-clip van Chantel Daniels gespeel. Sy’s ’n vrou van Ocean View oppie Cape Flats wat by my Misfit book launch opgestaanit en deur trane met ’n bieweragge stem vi my gesêrrit: “The way that you showcase Ocean View, that is our home, and it’s always been ostracized and our people have always been seen as nothing. And here you are bringing that light to what is truth in our community. So thank you for being so proudly Ocean View. You are showing who we are, and thank you from the bottom of my heart, for doing that for us.” Ek’t dai clip oppie speaker se hardste gespeel soedat haa Kaapse accent deurie New York se Ivy League kan echo. Ek en my studente is ammel annie tjank daana. Ek sê vi my studente: This is why I do what I do. Ek kon in Standaardafrikaans skryf, or even English, om mee boeke te vekoep en mee geld maak. Maa ek skryf in Kaaps vi ’n riede. Latere interrogate ôs universality oek; wil ôs it hê? “As ’n rightwing conservative met my wêk relate, dan wat tipe wêk maak ek?” vra my een student, Stephanie.
En soes my kurses angan, begin die Columbia-studente tente oppie campus se lawns opslat. Die eeste Palestinian solidarity encampment.
Vedag is my laaste dag van klasgie. My studente wêk al heel semester op hulle stories van resistance en vedag gan hulle it vi mekaa lees. Die faculty het veoggen ’n email vannie universiteit gekry. Ôs moet klas op Zoom gie, wan hulle’t beslyt ommie campus toe te maak. Die encampment is kamstag dangerous soe hulle’t die NYPD en private security involve.
Mike is een van my studente wat innie encampment bly. Hy vra of hy eeste sy storie kan lees, daa’s talk dattie National Guard gan kô om hulle te disperse soe hy wil sy stuk lees voo ienage iets gebee.
Mike sit oppie Columbia campus lawns, hy hou sy laptop in sy han en lees sy storie.
Is ’n storie oo ’n jong man wattie Philippines velaat om in Amerika te gan study. Hy woon innie bêrge, in ’n secret spot waa sekere mense vlerke grooi. Hy’t vlerke aan sy voete, hy kan vlieg, maa sy ouers warn hom ommie sy vlerke te wysie. It moet ’n secret wies. Anneste gannie poelies – offie “searchers” – wattie plek patrol, hom vang.
Ôs is vestom, wan Mike het hierdie story wieke voo die encampment geskryf, hoe is hy soe profeties oppie blaai?
Mike lees oo hoe seer it is om elke dag sy vlerke te byg en vou en met tou vas te maak soedat hy it in sy skoene kan wegstiek. Hy praat vannie pyn om elke dag oppie beste, mees spesiale deel van homself te moet trap. Soes hy lees, trek Mike sy skoene yt. Hy wys sy wings, it klap met elke syllable wat yt sy mon kô. Ek ennie anne studente sit oepe bek in awe en kyk hoe Mike beginne oorie lawns float.
Columbia se lawns is nou vol life. Die perfectly manicured gras is weg, is nou bryn. Die aarde hou honnede tente. Hoe mee Mike lees, hoe hoër vlieg hy. Innie encampment onne hom speel ieman ’n guitar, ieman annes skut ’n tamborine. Mense dans. ’n Paa mense loep rond met Pop-Eyes en gie it vi ienage ieman wat wil hê. Daa’s ’n groep mense wat paint. Vannie studente lag, annes lysterie outdoor teaching virrie dag. Mense bid, doen salah. Klompie studente help ’n rabbi om nogge tent op te slaan. Daa haloep ’n paa klein kinnes, nie ouer as vyf jaa oudie, tussen die tents om hulle kite te vlieg. Die kite vlieg om Mike tewyl hy lees.
Mike is nou hoër assie Alma Mater statue. Hy vlieg veby die naame vannie great thinkers en philosophers oppie Butler Library. Mike leesie net ’n story oo narratiewe resistance nie; hy het ’n narratief van verset gewôd.
Op uitnodiging van Pen International neem Pen Afrikaans vanjaar deel aan die Unesco-befondste Right to Write-projek. Die doel van dié projek is om in vyf Afrikalande – Suid-Afrika, Malawi, Uganda, Zambië en Zimbabwe – openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Pen Afrikaans kon vyf Afrikaanse skrywers vra om oor bepaalde onderwerpe artikels te lewer wat Rapport oor die volgende weke eerste in Afrikaans kan publiseer.
