1. Patrick Plaatjies is in matriek aan die Hoërskool Bredasdorp. “Overberg se sjarme op sy beste. En dis presiés wat ek gesimboliseer het toe ek die Bredasdorp-gemeenskap na hul asem laat snak het met my unieke goue-en-blou skepping. Wie nie waag nie, wen nie!”
• • • • •
2. Heili van den Bergh en Albert Matthysen is matrikulante aan die Hoërskool Rustenburg. Heili skryf die rok het haar selfvertroue gegee. “Die kleur het my dadelik laat dink aan iets koninkliks en spesiaals.” Albert se pak is deur James Bond geïnspireer. “Dit kon nie net ’n gewone pak wees nie; dit moes ’n impak maak.”
• • • • •
3. Twané Herbst voltooi vanjaar haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Punt in Mosselbaai. Haar rok is geïnspireer deur een wat Natasha Joubert (Mej. SA 2023) gedra het. “Natasha is ’n goeie rolmodel vir jong vroue soos ek,” skryf Twané.
• • • • •
4. Chané Louwrens en Hendrik Stopforth is matrikulante aan die Hoërskool Brits in Noordwes. Chané het haar rok gekry by die eerste winkel waar sy gaan soek het. “My rok is elegant en stylvol. Nie te veel tierlantyntjies nie, maar skitterend genoeg om my soos ’n prinses te laat voel!”
• • • • •
5. Mila Engelbrecht en Macglasky Jordaan van Hoërskool Swellendam het op die skougronde matriekafskeid gehou. Jy sal haar nooit net in een kleur sien nie, skryf sy. Mila het self die borduurwerk op die bostuk van haar rok gedoen.
• • • • •
6. Jayden White van die Hoërskool Louwville in Vredenburg het in die skoolsaal makietie gehou. “Die wit beeld my persoonlikheid uit en die agterkant wys dat ek uniek is en dat ek iemand is wat van detail hou.”
• • • • •
7. Jamie Crowe en Ruhan de Bruin is van die Hoërskool Merensky in Tzaneen. Lalie Brown het haar rok gemaak van ’n prentjie af wat sy geteken het, skryf Jamie. “Ons afskeid was by die Fairview Lodge in Tzaneen. Ruhan was die perfekte maat vir die matriekafskeid,” skryf sy.
• • • • •
8. Katya Glockzin en Justin van der Westhuizen skryf matriek deur die Impaq- aanlyn skool en die Hart-en-See-tutorsentrum. Hulle het by Langkraal in Hartenbos opskop gehou. “Die kombinasie van die sagte pienk en die skitterende silwer skep ’n perfekte balans tussen romanties en stylvol,” skryf sy.
• • • • •
9. Jani Minnaar is in matriek aan die Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen. Sy het die rok by ’n winkel in Pretoria gekry. “Ek het nooit gedink dat ek ’n rooi rok sou dra en daarmee saam een in hierdie styl nie, maar dit was perfek!”
• • • • •
10. Angel Groenewald is ’n matrikulant aan die Hoërskool Hugenote in Wellington en hulle het in die Paarl matriekafskeid gehou. Angel se inspirasie was ouwêreldse Hollywood-glans. “Ek het ’n goue-en-wit kleurskema gekies omdat dit ’n sterk kontras skep wat tydloos is en die oog tref.”
• • • • •
11. Leonjan Prinsloo matrikuleer vanjaar aan die Nuwe Hoop Skool in Pretoria. “Van kleins af is ek as ‘anders’ bestempel. Vir lank het ek gedink dat ‘anders wees’ iets slegs is, totdat ek besef het dat dit juis is wat my uniek maak. Daarom het ek ’n uitrusting gekies wat anders en uniek is — een wat perfek by my pas.”
• • • • •
12. Leanké Pieterse van die Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi hou daarvan om uit te staan. “Hierdie pak is my manier om te wys dat glans en elegansie baie vorms kan aanneem. Dit is geïnspireer deur die klassieke styl van Gone With The Wind. Ek kon nie die perfekte rok kry nie, toe dra ek ’n pak.”
• • • • •
13. Denique van Heerden en Ruan Theart is van die Hoërskool Lichtenburg. “Drie maande voor my afskeid het ons op die mooiste materiaal afgekom.” Om ’n rok te laat maak sou egter te duur wees; dus het hulle die winkels ingevaar, waar sy toe sowaar op ’n rok afkom wat van die einste materiaal gemaak is.
• • • • •
14. Richelle Jansen van Rensburg is van die Hoërskool Cradock. Haar ma het haar rok gemaak. “Dit was maar ’n lang proses,” skryf Richelle. “My ma het getel terwyl sy diamantsteentjies opgesit het. Sy het 2 662 getel, so sy was later maar moeg vir my rok, maar vir my was dit uniek en perfek en vol blomme.”
• • • • •
15. Tatum Snyman van die Langeberg Senior Sekondêre Skool het in Robertson op die Callie de Wet-sportterrein afskeid gehou. Haar rok is ontwerp om letsels op haar arms en hande te bedek. “Die ontwerp het my toegelaat om op my groot aand voluit selfvertroue uit te straal.”
• • • • •
16. Lente Groenewald en Yanko Cronjé is in matriek aan die Midstream College in Centurion. “Die inspirasie vir my rok was altyd daai graadeen-meisie wat glo sy is ’n meermin,” skryf Lente. “Ek wou iets hê wat lyk soos ’n sonsondergang wat in die see verdwyn.”
• • • • •
17. Xena Isaacs is van die Hoërskool Vredendal. “My matriekafskeid het my die geleentheid gegee om my jong ek se droom te laat waar word. Ek wou nog altyd ’n prinses wees en vir ’n dag was ek een,” skryf sy.
• • • • •
18. Wicus Swanepoel is van die Hoërskool Generaal Hertzog in Witbank. Hy is kunstig en hou van kultuur, sang en klavierspeel. Wicus wou ’n pak hê wat uitstaan en sy persoonlikheid vier, en dit is wat sy ma, Carminda, vir hom gemaak het.
• • • • •
19. Leeanne van Heerden is in die Hoërskool Louis Trichardt en het haar rok self ontwerp. Dit is ’n tweestuk en op die romp is sowat ’n duisend skoenlappers vasgewerk, elkeen met verskillende kleure en patrone. “Wanneer ek beweeg, lyk dit asof die skoenlappers vlieg.” Die skoenlappers is ter ere van haar ouma.
• • • • •
20. Kyleigh Koopman en Tyrique Afrika is matrikulante aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville. George Stander het haar rok ontwerp en gemaak. “Die ligblou kleur laat my voel asof ek uit ’n sprokie gestap het,” skryf Kyleigh. “Tyrique se klere pas presies by die styl en kleurpalet van my rok.”
• • • • •
21. Danielle Rust is van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. “Ek loop al twee jaar lank rond met ’n prentjie van ’n matriekafskeidrok. Anene van Ferreira Couture het my prentjie as inspirasie gebruik en hierdie rok ontwerp en gemaak. Ek is mal daaroor!”
• • • • •
22. Franchelle Behm en Chris van Niekerk gaan skool aan die Hoërskool Hugenote in Wellington. “My rok is deur die boerboel geïnspireer en verteenwoordig die krag, lojaliteit en elegansie van die boerboel. Dis ontwerp met sterk lyne en selfversekerde vorms, en dit straal mag en beskerming uit — net soos die ras self,” skryf Franchelle.
• • • • •
23. Sharon-Leigh Pieterse van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het elemente van Vincent van Gogh se Die Sterrenag gebruik om haar rok self te ontwerp. “Die rok is ’n uitbeelding van my persoonlikheid en ryk verbeelding en dit is sonder twyfel my droomrok wat ’n werklikheid geword het.”
• • • • •
24. Cara Pietersen van die Hoërskool Oudtshoorn het vroeg in Oktober matriekafskeid gehou. Cara se besonderse groen rok is deur Thomas Thomson ontwerp.
• • • • •
25. Alyssa Janse van Rensburg en Liam du Toit Viljoen van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark het by Pont de Val matriekafskeid gehou. Alyssa spog met ’n pers blinkertjierok en Liam met ’n swart-en-pers pak. Albei het wit All Star-tekkies gedra.
• • • • •
26. Cherize Diederiks van die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria het al in gr. 7 vir haar oom gesê sy gaan eendag ’n camo-rok matriekafskeid toe dra. “Vanjaar het daardie droom uiteindelik waar geword – ek het my camo-rok gekry!” skryf sy.
• • • • •
27. Marli van Wyk van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria het self die blomme en ander detail soos steentjies en pêrels op haar rok vasgewerk. Haar ouma het die struktuur van haar rok gemaak. “Hierdie rok is nie net nog ’n rok nie; dis ’n kunswerk vol herinneringe, trots en liefde,” skryf Marli.
• • • • •
28. Joané Vorster van die Hoërskool Linden noem haar rok “My Trip Down Memory Lane”. Dit is veel meer as ’n kledingstuk. “Elke detail en element van die rok is sorgvuldig saamgestel en geïnspireer deur die aandrokke en sokkierokke wat ek oor die jare heen met soveel opwinding en vreugde gedra het. Dit is ’n huldeblyk aan my pad tot hier.”
• • • • •
29. Jaynique Olivier is ’n matrikulant aan die Sekondêre Skool New Orleans in die Paarl. “’n Opvallende, bloedrooi rok met ’n gewaagde spleet tot op die dy, delikate blomdetail op die lyfie, en net die regte hoeveelheid vonkel om enige vertrek op te helder,” skryf sy oor haar rok.
• • • • •
30. JJ du Buisson is van Grey Kollege in Bloemfontein. Hy het olyfgroen gekies as kleur vir sy matriekafskeid. Dit is vir hom ’n simbool van rustigheid en vrede. Dit hou ook verband met vernuwing en groei, wat relevant is vir die nuwe fase in sy lewe.
• • • • •
31. Sian Cordukes van die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock het met ’n oranje aandrok gespog. “Ek het hierdie kleur gekies omdat dit uniek, lewendig en vol persoonlikheid is – dit laat my uitstaan en pas perfek by my styl.”
• • • • •
32. Kayra-leigh Fredericks van die Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl het ’n asimmetriese rok met heelwat detail gekies vir haar matriekafskeid. “Dit was ’n fantastiese aand wat ek met trots deel,” skryf sy.
• • • • •
33. Inneke van Heerden van die Hoërskool Rustenburg in Noordwes wou ’n rok dra wat enig aan haar is. “Ek wou iets hê wat my uniek uitbeeld en nie net nog ’n rok is nie. Die groen is vir my ’n kleur van inspirasie, dit laat jou dink aan die natuur en die rustigheid dit simboliseer vir my groei, hoop en ’n nuwe begin.
• • • • •
34. Jo-Marie Jonker is van die Hoërskool Stella in Noordwes. “Ek het nog altyd geweet ek wil ’n plain rok hê omdat dit die beste pas by my persoonlikheid. Ek het lank op Pinterest gesoek en meer as een foto gekombineer om uiteindelik by my rok uit te kom.”
• • • • •
35. Ellandri van Heerden het dieselfde rok aangetrek na Grey College Bloemfontein se matriekafskeid wat haar ma 27 jaar gelede na haar ouers se matriekafskeid gedra het. Haar ma en haar ouma het vier maande lank kraletjies en steentjies op die rok aangewerk. “Dit was ’n voorreg om dieselfde rok te kon dra wat vir my verander is en dit was so spesiaal. Something new, something borrowed, something blue.”
• • • • •
36. Miné Naud van die Potchefstroom Gimnasium se inspirasie was die Springbokke. “Net soos ’n Springbok-rugbyspeler voel wanneer hy sy groen trui aantrek voor ’n belangrike wedstryd het ek gevoel toe ek my groen rok vir my matriekafskeid aantrek! Ek wou ’n modieuse, dramatiese indruk maak.”
• • • • •
37. Marnus Lezar en Abinica Maritz is van die Hoërskool Wonderboom in Pretoria. “Ons uitrustings is ons vir ons ’n sjarmante vertoning van lig en donker – waar ligblou glans nuwe lewe gee aan tydlose swart styl,” skryf Abinica.
• • • • •
38. Amy Julius van die Hoërskool Labori in die Paarl wou ’n “eenvoudige rok” dra. “Dit was die heel eerste rok hierdie wat wat ek aangepas het in ’n winkel in die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad. Ek het uit die aanpaskamer gekom en ’n vreemdeling het verby gestap, vir my gekyk en gesê ek lyk asemrowend. My besluit is daar en dan geneem.”
• • • • •
39. Lesley Booysen van die Knysna Sekondêre Skool het vir homself gesê hy gaan net een keer matriekafskeid hou. “Om 12 jaar lank skool te loop is nie maklik nie, so as jy daai 12 jaar wil afsluit, moet dit ’n viering wees met familie en vriende. My klere is geïnspireer deur my droom van koninklikheid.”
• • • • •
40. Tracey-Lee Julies is van Hopefield en gaan skool aan die Hoërskool Weston in Vredenburg. “My uitrusting was vir my spesiaal omdat ek van blieng hou. Dit laat my spesiaal, uniek en verskriklik mooi lyk,” skryf sy.
• • • • •
41. Tatum Pretorius is van die Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg. “Ek hou daarvan om uit die boks te dink. My motto in die lewe is om uit te staan en nie om in te pas nie! Ek het besluit om ’n katpak met ’n sleep te dra. Wit is ’n teken van ’n nuwe begin, rustigheid en natuurlik skoonheid.”
• • • • •
42. Roelien Ackerman is van die Hoërskool Brackenfell. “Dit was meer as net ’n rok. Dit was ’n weerspieëling van my sagtheid, krag en groei as ’n individu. Die delikate pienk blomborduurwerk verteenwoordig my veerkragtigheid wat deur uitdagings blom. Die vloeiendheid en deursigtigheid van die material verteenwoordig my vrye gees en grasie.”
• • • • •
43. Maia Scheepers van die Hoërskool Durbanville is dol oor die Spaanse taal en kultuur. “Ek het die rok ontwerp en my ma het die groot taak aangepak om my visie ’n werklikheid te maak. Sy moes self ’n patroon teken en uitvind presies hóé jy die valle van ’n Flamenco-rok moet maak. My rok het 14 valle, ’n lang sleep en weeg 4 kg – ek kon dus nie sokkie nie, maar het lekker gedraai en geswaai,” skryf Maia.
• • • • •
44. Ceathan Ramjee is ’n matriekleerling aan die Hoërskool Strand. “Ek het ’n koningsblou aandpak gedra. Ek wou stylvol en tog tydloos lyk, en die uitrusting het my persoonlikheid perfek weerspieël.” Die kosbaarste item wat hy hierby gedra het, was sy oupa se horlosie.
• • • • •
45. Joslyn Scott en Cuba Singh voltooi hul skoolloopbaan aan die Edenvale Hoërskool aan die Oos-Rand. Joslyn het sy uitrusting speels afgesluit met rooi tekkies, terwyl Cuba ’n klassieke, noupassende rooi rok gedra het.
• • • • •
46. Alexia Paissopoulos en Christoff Augostine het matriekopskop gehou by die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal. “Die inspirasie vir my rok het gekom van my liefde vir sagtheid en die natuur,” skryf Alexia. Christoff se pienk das en tweekleurige pak het hul prentjie afgerond.
• • • • •
47. Gaylin Brown van die Hoërskool Swartland skryf haar rok is die speëlbeeld van wie sy is. “Elegant en uniek op my eie manier! Die tekstuur en styl is iets wat jy beslis nie kan miskyk nie.”
• • • • •
48. Stella Swart is in matriek aan die Hoërskool Porterville en sy is dol oor ’n luiperdvelmotief. “Ons is by die winkel in en ek het geweet ek wil iets anders hê. Ek love leopard print en toe ek die materiaal sien, het ek geweet dit is wat ek wil hê.”
• • • • •
49. Zané Flemix van die Hoërskool Paarl Gimnasium was vasbeslote om ’n helder rok te dra, want ’n mens is net een keer jonk, skryf sy. “My rok is helder geel met valle aan die bokant wat kan afknip sodat ’n mens gemaklik kan dans. Dit laat genoeg ruimte vir gemaklike beweging.”
• • • • •
50. Miné Stroebel en Durandt Rootman is van die Hoërskool Framesby by die Tramways in Qqeberha. “My rok is in ’n helder seegroen kleur met fyn, glinsterende versierings wat ’n elegante en stylvolle voorkoms skep,” skryf Miné. “Durandt het ’n pak in ’n woudgroen skakering gedra met ’n das en ’n sakdoek wat by my rok se kleur aangepas is.”
• • • • •
