“Covid-19”, “isolasie”, “kwarantyn”. Dis maar net van die woorde wat binne weke deel geword het van ons woordeskat.

Die koronavirus het oornag die hele wêreld se grootste gemeenskaplike vyand geword en daar hang ‘n ongekende paniekerigheid oor ons eie land. Ons weet nie hoe die virus homself gaan uitspeel nie.

Maar kennis is mag. Netwerk24 wil jou in hierdie tydperk ingelig hou, sodat jy alles in jou vermoë kan doen om jouself en ander toe te rus en te beveilig.

'n Spesiale verslag deur Jana Marx
Grafika deur Jaco Grobbelaar en Theuns Kruger


In Desember 2019 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bewus geword van ’n uitbreking van “longontsteking” in Wuhan, China, wat anders lyk as enige ander virusinfeksie wat aan medici bekend is.

In dieselfde week het Chinese dokters probeer om die lewe van ’n 61-jarige man in Wuhan te red, berig Bloomberg. Hy het aan erge longontsteking gely wat deur ’n onbekende virus veroorsaak is. Die medisyne kon nie sy longinfeksie beheer nie en sy bloed is deur ’n kunsmatige long gepomp – totdat hy in septiese skok gegaan het en sy lewensorgane ingegee het.

Die man is op 9 Januarie dood.

Dít was nie ’n gewone sterfgeval nie. Wuhan se stadsraad het daardie dag aangeteken as die een met die eerste amptelike sterfte aan die nuwe, dodelike koronavirus – ’n stam afkomstig uit die familie van koronavirusse wat gewoonlik gewone verkoues veroorsaak.


VINNIGE KORONAFEITE

Wat is ’n koronavirus?

Koronavirusse is 'n groot familie van virusse wat siektes by diere en mense kan veroorsaak. So ’n infeksiesiekte word ’n soönose genoem, wat beteken dit word van diere na mense oorgedra. Die nuutste koronavirus kan egter ook tussen mense versprei en veroorsaak die koronavirussiekte Covid-19.


Wat presies is Covid-19?

Covid-19 is ’n hoogs aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur die koronavirus genaamd Ears-CoV-2. Hierdie virus en siekte het vir die eerste keer aan die mensdom bekend geword nadat dit in Desember verlede jaar in die stad Wuhan, in China, uitgebreek het. Daar is dus ook nog nie ’n entstof beskikbaar nie.


Wat maak hierdie koronavirus so anders as siektes wat ons ken?

Prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog en voorsitter van Suid-Afrika se ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het voorheen in ’n News24-webinaar gesê betreklik min inligting is oor Ears-CoV-2 beskikbaar. Dit is immers eers op 19 Desember verlede jaar ontdek.

Wat hulle wel weet, is dat die Ears-CoV-2-virus ’n nukleïensuur-kern, met ’n omhulsel het wat uit vetstowwe (lipiede) en proteïene bestaan, sê prof. Helen Rees, wat aan die voorpunt van entstofontwikkeling in die wêreld staan en ook navorsing om ‘n nuwe entstof te ontwikkel in Suid- Afrika lei.

“Daardie omhulsel het pennetjies en die pennetjies is baie belangrik wanneer ons van die ontwikkeling van ’n entstof begin praat.” Tog toon die gewone griep baie ernstiger simptome as Covid-19. Mense speel Covid-19 ook graag af teen siektes soos MIV/vigs, so waarom is wetenskaplikes so bekommerd oor dié virus? “Alles wat ons sover van Covid-19 geleer het, is heeltemal nuut. Net om jou ’n aanduiding te gee van die tempo waarteen die wetenskap vorder: Ek moes 13 uit 17 skyfies van my voorlegging oor die koronavirus van ses weke gelede nou oordoen,” het dr. Marvin Hsiao, hoofpatoloog en senior dosent in mediese virologie aan die Universiteit van Kaapstad en die Nasionale Gesondheidslaboratorium, voorheen gesê.


Maar hoe verskil dit dan van virusse wat ons ken, soos die gewone griepvirus (influensa)?

“Daar is baie ooreenkomste, maar meer verskille tussen dié koronavirus en die griepvirus,” verduidelik Abdool Karim.

“Die griepvirus is ’n natuurlike mensvirus. Daar is omtrent vier stamme van die koronavirus wat in ons bevolkings oor die wêreld heen sirkuleer.

“Ons het koronavirusse geken, want hulle het twee ander epidemies – Ears en die Midde-Oosterse respiratoriese sindroom (Mers) – veroorsaak. Deur Ears het ons geweet dit kan die longe aantas (soos in die geval van Covid-19). Die sterftesyfer was hoog.”

Abdool Karim sê hoewel Ears ook soos die nuwe koronavirus in China begin het, kon dit beheer word sodat nie Ears of Mers werklik Suid-Afrika geraak het nie. In albei gevalle kon dit betyds bedwing word.

Volgens die Lancet-wetenskapjoernaal is Ears, met sy meer as 8 000 gevalle en 800 sterftes, bedwing deur pasiënte spoedig in isolasie of in kwarantyn te plaas. Die mens-tot-mens-oordrag is betyds gestaak. Mers, wat in 2016 in die Midde-Ooste uitgebreek het, is volgens die WGO van kamele na mense oorgedra. Oordrag tussen mense was egter beperk. Weer eens is daar vinnig genoeg opgetree om die oordrag te verminder. Kamele is in hierdie geval ingeperk en daar was baie kommunikasieveldtogte om mense van die gevare van Mers bewus te maak.

“Maar toe kom ’n nuwe virus. Dié virus is naby aan Ears, amper ’n suster van Ears. Om die waarheid te sê, dis so naby aan Ears dat dit Ears genoem word – ‘Ears-CoV die tweede’.

“Omdat griep jaarliks net ’n klein verandering in sy genetiese materiaal toon, kom daar ’n nuwe stam uit, maar daardie nuwe stam is dikwels naby verwant aan ’n stam uit die verlede. So, ’n 60-jarige wat die afgelope 60 jaar jaarliks griep kry, ontwikkel ’n natuurlike immuniteit teen sekere stamme van die griepvirus.”

Daar is natuurlik ook ’n entstof teen griep beskikbaar. Die nuwe koronavirus versprei baie vinniger as griep, benewens die feit dat daar nog nie ’n entstof is nie, sê hy. Elke persoon met griep steek net een ander mens aan, so die verspreiding in ’n gemeenskap is geleidelik. ’n Persoon met Covid-19 kan egter twee tot drie ander mense aansteek.

“As jy dus 10 000 siekes het, gaan jy binne enkele dae 30 000 hê. En 30 000 word 90 000 en 90 000 word 270 000,” sê Abdool Karim.

Tog sê wetenskaplikes herhaaldelik dat die meeste mense wat Covid-19 opdoen, nie ernstig siek word nie. Abdool Karim beaam dit, maar sê dít is nie die probleem nie. Die Chinese sentrums vir siektebeheer-en-voorkoming (CDC) het volgens hom bevind dat 81 uit 100 mense ’n ligte vorm van Covid-19 opdoen.

“Dis egter die ander 19 oor wie ons bekommerd moet wees. Hulle kort mediese behandeling. Van die 19 moet vyf wesenlike mediese behandeling, soos deur middel van ’n ventilator, ontvang.” Ventilators kom net in hoësorgeenhede voor en is dus beperk.


Waar kom die jongste koronavirus vandaan?

The Telegraph het voorheen berig die bron van die uitbreking is vermoedelik ’n wildmark in Wuhan wat onder meer seekos verkoop het. Die stad se gesondheidskommissie sê die infeksie het tussen 12 en 29 Desember uitgebreek en talle werknemers van die mark het dit opgedoen. Wetenskaplikes het intussen bevind dat Ears-CoV-2 die meeste ooreenstem met virusse wat in vlermuise of ietermagôs gevind is.


Wat van gerugte dat die virus doelbewus geskep is om verwoesting te saai?

Die gerugte word voor die voet ontken sedert die siekte bekend geword het.

In ’n studie wat so onlangs soos Dinsdag 17 Maart deur die Amerikaanse navorsingsinstituut Scripps Research gepubliseer is, het wetenskaplikes die genoomdata ontleed en gevind die virusstam het ’n natuurlike oorsprong en het op ’n natuurlike manier ontwikkel.

Volgens die studie is dié virus se “ruggraat” uniek. Boosdoeners wat ’n patogeen spesiaal wil ontwikkel om mense siek te maak, sal die “ruggraat” van ’n bestaande en bekende virus as basis gebruik.


Wat is die simptome van Covid-19? 

Die algemeenste simptome van Covid-19 is koors, moegheid en ’n droë hoes. Pasiënte kan ook pyn, ’n toe- of loopneus, ’n seer keel of diarree hê. Hierdie simptome is gewoonlik lig en begin geleidelik.

Sommige mense tel die virus op, maar toon geen simptome nie en voel ook nie sleg nie. Die meeste mense (80%) herstel van die siekte sonder enige spesiale behandeling.

Sowat een uit elke ses mense wat Covid-19 opdoen, word ernstig siek daarvan en kan asemhalingsprobleme ervaar.

Sowat een uit elke ses mense wat Covid-19 opdoen, word ernstig siek daarvan en kan asemhalingsprobleme ervaar. Ouer mense en diegene met onderliggende mediese probleme soos hoë bloeddruk, hartprobleme of suikersiekte is meer geneig om ernstig siek te word.

Mense wat koors het, hoes en sukkel om asem te haal moet mediese hulp soek.


Hoe versprei dit?

Hoewel die siekte aanvanklik van dier tot mens oorgedra is, het dit baie gou deur middel van besmette druppeltjies van liggaamsvloeistof tussen mense begin versprei, waneer geïnfekteerde mense nies of hoes.

Die druppeltjies land dan op voorwerpe en oppervlakke rondom die persoon. Ander mense raak daaraan en dan aan hul oë, neus of mond.

Die druppeltjies kan ook ingeasem word terwyl dit nog deur die lug trek kort na die person genies of gehoes het. Dis daarom belangrik om verder as 1,5 m van mekaar af te bly.

Die virus is al in stoelgang gekweek, wat beteken dit kan daarin voorkom, maar daar is nog nie juis bewys dat dit deur stoelgang versprei word nie. Navorsing in dié verband duur voort.

Dr. Kerrin Begg, spesialis in openbare gesondheid verbonde aan die Universiteit Stellenbosch verduidelik dit aan die hand van hoe blinkertjies versprei.

“Stel jou voor die virus is goue blinkertjies. Jy raak aan goue blinkertjies en dit sit vas aan jou hande. Oral waar jy vat, of dit aan jou gesig of oppervlakke is – daar sit die blinkertjies. Iemand anders kom verby en vat waar jy gevat het. Nou is daar blinkertjies op daardie persoon se vingers. Daardie persoon raak weer aan iets of iemand anders . . .”

Dit geld selfs as jy handskoene en ’n masker dra. “As jy met ’n handskoen aan goue blinkertjies vat, sit dit steeds aan die handskoen vas . . .”

KYK OOK: Oulike handewas-eksperiment vir jou kind


Kan jy aansteek by iemand wat geen simptome toon nie?

Hierdie kwessie is een van die dinge wat wetenskaplikes nog laat kopkrap.

Die WGO hou vol dat die risiko vir sodanige verspreiding “baie laag” is. 

Tog het ’n studie, wat op 24 Januarie in die Lancet-vaktydskrif gepubliseer is, bevind dat sommige geïnfekteerde mense die virus kan versprei sonder dat hulle siek voel. Luidens dié artikel is dit “van kritieke belang” dat pasiënte geïsoleer word.

Mense wat met geïnfekteerdes in kontak gekom het, moet so gou moontlik in kwarantyn geplaas word, “want infektering sonder simptome blyk moontlik te wees (soos deur een van ons pasiënte bewys is)”.

In ’n gevallestudie wat op 30 Januarie in The New England Journal of Medicine gepubliseer is, is daar ook sprake daarvan dat iemand wat nie simptome het nie, dit wel kan oordra.

’n Meer onlangse studie wat op Maandag 16 Maart in die vaktydskrif Emerging Infectious Diseases gepubliseer is, toon dat 10% van pasiënte by ’n geïnfekteerde persoon aansteek wat nog nie simptome toon nie. Die studie maak die gevolgtrekking dat simptoomlose oordrag die inperking van die virus erg bemoeilik.

LEES OOK: KORONA: Watter lesse kan ons leer uit die Groot Griep van 1918?


Hoe lank is die inkubasietydperk vir Covid-19?

Die sogenaamde inkubasietydperk is die tyd tussen die punt waar die virus opgeneem word en die punt waar simptome van die siekte begin kop uitsteek. Wetenskaplikes is dit eens dat die inkubasietydperk een tot 14 dae is, met die meeste simptome wat ná vyf dae eers na vore kom. 


Kan antbiotika Covid-19 voorkom of behandel?

Nee. Antibiotika werk nie virusse teen nie, hulle werk net bakteriële infeksies teen.

Is daar ’n entstof, medisyne of behandeling vir Covid-19?

Daar is nog nie ’n entstof nie, maar die simptome van die virussiekte kan behandel word. Wetenskaplikes werk baie hard daaraan om ’n entstof te probeer ontwikkel en medisyne deur kliniese proeflopies te toets. Intussen moet mense wat ernstig siek is, gehospitaliseer word. Die meeste pasiënte herstel met behandeling.

Waarom moet ons ingeperk word?

Die inperking was nodig om die kurwe (van nuwe gevalle) af te plat. Die regering moes tyd wen om die gesondheidsektor gereed te maak vir ‘n moontlike uitbreking.


Hoe groot is die kans op ‘n uitbreking in die toekoms?

Namate die regering die inperkingsmaatreëls verslap, sal koronavirus-infeksies waarskynlik eers geleidelik toeneem en dan eksponensieel styg, het prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog en voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, in ‘n webinar gesê.

“Ons gaan nog baie uitbrekings sien – in skole, in werkplekke, in winkelsentrums. Dit gáán gebeur ... Ons gaan ’n stadige, geleidelike styging (in gevalle) sien. En dan die inflasie – ’n skielike styging in gevalle. Daar sal dan weer opgetree word om die kurwe af te plat,” sê Abdool Karim.

Hy vermoed só ’n skerp styging in infeksies kan reeds in Julie voorkom, maar noem modelle van die land se wiskundiges wys dat die uitbreking eers in Augustus of September tot die spits gedryf kan word.


Wanneer gaan dinge weer normaal wees?

Prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog en voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het in ‘n webinaar gesê daar moet eers ’n entstof wees voordat dinge sal normaliseer. Dit is ten beste aan die einde van die jaar, maar kan dalk eers volgende jaar wees, sê hy.

Vir eers is daar ’n nuwe normaal: “Die nuwe normaal beteken die eerste ding wat jy doen voor jy jou werkplek se voordeur oopmaak, is om jou hande te ontsmet voordat jy aan die deurhandvatsel raak sodat jy nie virus uit die taxi of motor oordra nie.”

Dié gesondheidspraktyke moet ook na werkplekke oorspoel, sê hy.


Hoe werk die vlakke van inperking?

Die regering gaan die inperking in stadiums of fases verslap. In elke vlak sal daar meer sakeondernemings bedryf kan word. As jou bedryf of sektor nog nie heropen het nie, mag jy nie ingaan kantoor toe en aangaan soos normaal nie. Almal word steeds tot hul huise beperk, tensy die sektor mag begin sake doen. Selfs dié bewegings is onderhewig aan streng maatreëls soos deur elke vlak van inperking bepaal.

Hoërisikogevalle, soos mense bo die ouderdom van 60 of mense met voorafbestaande toestande soos diabetes, MIV of harttoestande word aangemoedig om so ver moontlik steeds van die huis af te werk.


Hoe weet ons hoe lank elke vlak is?

Die regering weet nog nie. As die kurwe van nuwe gevalle weer styg, kan inperking weer strenger word. Alles hang af van hoe die virus optree. Daar is geen bestaande data om presies te weet wat vir ons voorlê en wanneer ons na ‘n volgende vlak sal verslap nie.


Kan ons weer terugbeweeg na strenger vlakke?

Ja, alles hang af van hoe die virus optree namate inperkingsmaatreëls verslap word. Daar is geen bestaande data om presies te weet wat vir ons voorlê nie


Kan my hond of kat my Covid-19 gee?

Daar is soms verwarring hieroor omdat die virus sy oorsprong in diere het. Hoewel daar ’n geval in Hongkong is waar ’n hond aangesteek het, is daar nie genoeg bewyse dat ’n hond, kat of enige troeteldier Covid-19 kan oordra nie. Die siekte versprei hoofsaaklik deur druppeltjies liggaamsvloeistof in die lug wanneer ’n persoon hoes, nies of praat. Die kwessie word egter steeds ondersoek.

SÓ ONTVOU DIT WÊRELDWYD

Klik op 'Map' in die kaart hieronder om te sien hoe die virus wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, versprei. Sien die statistiek vir spesifieke lande deur op die rooi kolle te klik.



SÓ VOORKOM JY COVID-19

• Voorsorgmaatreëls

Hou ’n gesonde afstand van minstens 1,5 meter tussen jou en die volgende persoon – veral as hulle hoes of nies.

Was jou hande hande gereeld of gebruik ’n handreiniger met ’n alkoholbasis van meer as 60%. Dit maak die virusse op jou hande dood.

Moenie aan jou oë, neus en mond raak nie. Die virus kan só jou liggaam binnedring.

Hoes en nies in die waai van jou arm en raak onmiddellik ontslae van die sneesdoekie wat jy gebruik het. Sodoende beskerm jy ander mense teen die virus.


• Die vyf goue reëls om Covid-19 te voorkom:

1. Was jou hande gereeld met seep en water. Was vir minstens 20 sekondes. As jy ‘n handreiniger moet gbruik, maak seker die alkoholinhoud is meer as 60%.

2. Moenie aan jou gesig vat nie.

3. Hou ’n gesonde afstand van minstens 1,5 meter tussen jou en die volgende person.

4. Hoes of nies in jou gebuigde elmboog.

5. As jy siek is, bly tuis.


• Die regering verplig Suid-Afrikaners om ‘n masker te dra

Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming beveel ook die gebruik van maskers in die publiek aan, omdat soveel Covid-19-gevalle nie simptome toon nie en ander mense kan aansteek sonder dat hulle dit weet.

Volgens dr. Kerrin Begg, spesialis in openbare gesondheid verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, is daar wetenskaplike bewyse dat gesigmaskers die kans vir infeksie met soortgelyke siektes soos influensa (griep) verminder.

“Die nie ’n ‘silver bullet’ nie, maar die beskermingsfaktor is omtrent 8% tot 12% meer as wanneer jy geen masker dra nie.”

Sy skryf in ’n meningstuk op die webwerf Spotlight maskers het ’n beleid geword met die doel om die kurwe af te plat.

Die masker moet dus saam met ander maatreëls aangewend word om werklik doeltreffend te wees.

Maskers moet ook gereeld gewas en gestryk word. “Dit moet om jou neus en mond pas. Moenie aan die binnekant van die masker vat nie en gebruik die toutjies waarmee jy dit om jou kop bind om die masker te verwyder,” het Begg gesê.

“Ten beste moet jy twee maskers hê – een in gebruik en een in die was. “Dra elke dag ’n skoon masker en vervang wanneer dit klam raak. Maak seker dit bedek jou mond en neus. Dit moet groot genoeg wees om die gedeelte tot onder jou ken, tot oor jou neus en tot by jou ore te bedek. Was jou hande voor en nadat jy die masker gebruik. Wanneer jy dit aan die einde van die dag afhaal, sit dit dadelik in ’n wasbak met warm seepwater. Stryk dit wanneer dit droog is,” het sy gesê.

Dis ook baie belangrik om nie maskers te deel nie.

• Maak só jou eie masker

Masks4All en Masks4Africa bied goeie riglyne vir die maak en gebruik van maskers.

Masks4All bied die volgende drie opsies:

Opsie 1: ‘n Bandana, serp of handdoek + 2 x rekkies en ‘n vel handdoekpapier (neem 1 minuut).
Vervang elke slag die vel handdoekpapier wanneer jy die masker opsit.

Opsie 2: T-Hemp, skêr en handdoekpapier (neem 2 minute).

Opsie 3: Stik ‘n professionele masker (neem 10 minute). Vervang elke slag die vel handdoekpapier wanneer jy die masker opsit.

‘n Spesialis van die Groote Schuur-hospitaal verduidelik hoe jy ‘n masker aansit.


• Bly op hoogte van die jongste inligting oor Covid-19.

  • Unicef vorm deel van die Verenigde Nasies.

Baie lande het al te doene gekry met gevalle van Covid-19 en talle beleef die uitbreking baie intensief. Hoewel owerhede in China en ander lande al baie werk verrig het om die uitbreking te vertraag of stop te sit, kan die situasie oornag verander.


* Hou só jou hande skoon

Só moet jy jou hande was

Stap 1: Maak jou hande nat onder ’n lopende kraan.

Stap 2: Wend genoeg seep aan om die nat hande heeltemal te bedek.

Stap 3: Skrop al die oppervlakke van jou hand – ook die agterkant, tussen die vingers en onder jou naels. Doen dit vir omtrent 20 sekondes.

Stap 4: Spoel met lopende water af.

Stap 5: Maak jou hande droog met ’n skoon lap of ’n handdoek wat jy net een keer gebruik.

Was jou hande gereeld ­– veral voor ete, nadat jy jou neus geblaas het, gehoes of genies het en die badkamer besoek het. As seep en water nie beskibaar is nie, gebruik ’n handreiniger met minstens 60% alkohol in. As jou hande egter sigbaar vuil is, was liewer met seep en water.


Watter handreiniger werk regtig?

Lizeth Kruger, nasionale kliniekbestuurder van Dis-Chem, het vir die omroeper Martin Bester op Jacaranda FM gesê ’n goeie handreiniger móét alkohol in hê. Sy verkies reinigers met ’n alkoholinhoud van tussen 70% en 90%, maar sê meer as 60% is voldoende.

Vodka het net 40% alkohol in en is dus nie sterk genoeg om die virus dood te maak nie, berig Business Insider.

Hoe maak jy jou eie handreiniger?

Dr. Rishi Desai, mediese hoof van die platform Osmosis en voorheen lid van die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) se afdeling vir virale siektes, het aan Healthline gesê sy resep maak 99,9% van kieme ná 60 sekondes dood:

Bestanddele

  • ¾ koppie medisinale alkohol (isopropielalkohol of ’n vloeistof met ’n 90%-etanolbasis)
  • ¼ koppie aalwynjel
  • 10 druppels vlugtige olie soos laventelolie of suurlemoensap

Metode

Meng al die bestanddele in ’n bak.
Meng eers met ’n lepel en klits dan totdat die reiniger ’n jel word. Gooi die bestanddele in ’n leë botteltjie.

Klik hier vir die WGO se resepte vir ontsmettingsmiddels op groter maat.

Die balletdanser Ashlee Montague van New York dans 18 Maart in Times Square met 'n gasmasker op.

Die balletdanser Ashlee Montague van New York dans 18 Maart in Times Square met 'n gasmasker op. Honderde duisende mense loop gewoonlik daagliks deur die wêreldbekende plein, maar dit is nou verlate nadat die stad op slot geplaas is. (Foto: Reuters)

Die balletdanser Ashlee Montague van New York dans 18 Maart in Times Square met 'n gasmasker op. Honderde duisende mense loop gewoonlik daagliks deur die wêreldbekende plein, maar dit is nou verlate nadat die stad op slot geplaas is. (Foto: Reuters)

• Hoe lank lewe die virus op oppervlakke?

Die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak kan vir ure in druppeltjies in die lug bly hang en vir dae op oppervlakke soos plastiek en staal bly leef. Navorsing wat vandeesweek in The New England Journal of Medicine gepubliseer is, toon dat die virus dus baie langer in die lug bly as wat wetenskaplikes aanvanklik gedink het.

Reuters berig wetenskaplikes het die virusneerslag van ’n geïnfekteerde persoon nagemaak en op verskillende oppervlakke getoets. Daar is bevind ’n virus wat deur middel van druppeltjies liggaamsvloeistof versprei word, kan vir nog minstens drie uur in daardie druppeltjie leef en mense aansteek.

Die virus leef omtrent drie dae lank op plastiek en vlekvrye staal, maar leef nie langer as 24 uur op karton nie, wat die kommer dat pakkies deur die pos die virus help versprei in die kiem smoor. Dit het slegs vier uur lank op koper geleef.

Lees hier oor hoe om jou selfoon te ontsmet: https://www.netwerk24.com/Sake/Ikt/koronavirus-ontsmet-so-jou-foon-20200313

Lees hier wat is die situasie met besmette banknote: https://www.netwerk24.com/Sake/Maatskappye/pasop-geld-kan-covid-19-oordra-20200316


• Moets en moenies wanneer jy vermoed jy het Covid-19

Mense wat vermoed dat hulle Covid-19 het, moet juis nie nou paniekerig raak en onverantwoordelik optree soos om hulle na die naaste hospitaal te haas nie. Die private Netcare-hospitaalgroep het die volgende stappe vir duidelikheid uiteengesit.

Wat om nié te doen nie: Ek sal sommer by ’n hospitaal of ’n ongevalle-eenheid myself laat toets.

Mande Toubkin, Netcare se bestuurder vir nood en trauma, sê in ’n verklaring individue wat ’n siftingstoets wil ondergaan of vir Covid-19 getoets wil word, moenie na ’n hospitaal of noodgevalleafdeling gaan nie.

“Noodgevalle-eenhede is gespesialiseerde fasiliteite wat toegerus is om dringende lewensondersteunende behandeling aan pasiënte met traumatiese beserings of mediese noodgevalle te voorsien. Meer as 80% van mense met Covid-19 sal ligte tot matige simptome hê en daar is geen rede vir hulle om by ’n noodgevalleafdeling ondersoek te word nie,” sê sy.

Indien jy dit wel sou doen, stel jy boonop ander pasiënte en hospitaalpersoneel in gevaar.

Wat jy moet doen as jy vermoed jy ly aan Covid-19: Bel jou primêre gesondheidsorgdiensverskaffer.

As jy aan die simptome van Covid-19 ly, moenie na jou dokter se spreekkamer gaan sonder om vooraf te bel nie.

Wanneer jy jou huisdokter bel, bring al die toepaslike inligting onder hul aandag, soos jou onlangse reisgeskiedenis, kontak met mense wat moontlik onlangs na lande met die Covid-19-uitbreking gereis het, jou persoonlike kontak met iemand wat Covid-19 het of die simptome wat jy toon wat op Covid-19 kan dui. Die dokter mag jou spesifieke vrae vra en jou dan aanraai om getoets te word. Hy of sy kan jou na patoloë hiervoor verwys.

As jy jou dokter vooraf gebel het en hy of sy vra steeds jy moet na die spreekkamer toe kom, is dit reg so. Die dokter sal vooraf al die nodige voorkomingsmaatreëls instel om jou vinnig te help wanneer jy daar instap en om hulself en ander te beveilig. Jou dokter sal jou ondersoek en ’n depper van die binnekant van jou neus en mond neem, wat vir toetse na ’n laboratorium gestuur sal word. Jy sal die toetsresultate binne 48 tot 72 uur ontvang en jy moet jouself in kwarantyn plaas totdat die uitslae bekend is.


• Wat ouers volgens Unicef moet weet

Wat moet ek doen as my kind simptome van Covid-19 toon?

Bel sou gou as moontlik ’n dokter, maar hou in jou agterkop dat die simptome van Covid-19 (soos koors en ’n gehoes) ooreenstem met die griep wat ons ken en ook met verkoue, sê Unicef.

Benewens goeie higiëne raai Unicef ouers ook aan om hul kinders se inentings op datum te hou om hulle teen ander virusse en bakterieë te beskerm.

Kan swanger vroue die virus na ongebore kinders oordra?

Daar is in hierdie stadium nog nie genoeg bewyse om beslis te weet of die virus van ’n ma na haar ongebore baba oorgedra kan word en of die virussiekte ’n moontlike uitwerking op die baba kan hê nie. Swanger vroue moet in hierdie stadium nog al die moontlike maatreëls volg om hulle teen die virus te beskerm en so spoedig moontlik mediese behandeling te kry as hulle simptome van Covid-19 begin toon.

Is dit veilig vir ’n ma om te borsvoed as sy met hierdie virus geïnfekteer is?

Alle ma’s wat koorsig is, hoes of sukkel om asem te haal, moet so vroeg as moontlik mediese behandeling kry. Volgens Unicef is dit onwaarskynlik dat die virus deur borsmelk oorgedra sal word. Die ma moet egter die nodige voorsorg tref sodat sy nie die virus op ander maniere oordra nie, soos om ’n masker te dra naby die baba of tydens borsvoeding en om gereeld hande te was. As ’n ma te siek is om te borsvoed, kan sy die melk uitpomp en in ’n bottel vir die baba gee.

• Maak jou huis virusvry

Baie ondernemings het intussen besluit werknemers moet vir eers van die huis af werk. Ander pendel weer tussen die werk en die huis en probeer ander ritte beperk.

Houzz.com het ’n paar idees hoe om jou huis virusvry te maak sodat jy in ’n skoon omgewing kan werk en bly.

Daar is ’n verskil tussen skoonmaak en ontsmet. Maak éérs skoon. Kieme kruip weg in vuilgoed, wat beteken pogings om te ontsmet is minder suksesvol. ’n Skoonmaakproses verwyder sommige kieme. Ontsmetting maak die kieme dood. Vir die skoonmaakproses is seep en water genoeg. Vir die ontsmettingsproses het jy skoonmaakmiddels met ’n alkoholinhoud van meer as 60% of ’n bleikmiddel nodig. Oppas vir produkte wat verval het, dit sal nie so doeltreffend wees nie.

Skep ’n roetine: Kry ’n plek waar jy elke dag jou handsak of motorsleutels neersit as jy van die werk af kom. Was jou hande dan vir 20 sekondes en ontsmet jou persoonlike items met ’n ontsmettingsmiddel.

Help jou kinders om ook ’n roetine aan te leer. As hulle nie so mal daaroor is om hande te was nie, laat hulle ’n gegeurde handwasmiddel in ’n kleurvolle verpakking uitkies om die “handwasritueel” pret te maak. Plak die woorde van ’n liedjie teen die spieël by die wasbak wat hulle kan sing vir die 20 sekondes wat hulle hul hande moet was.

NOODSAAKLIKE KONTAKBESONDERHEDE

  • Die gesondheidsdepartement se tolvrye nommer:
    0800 029 999.
  • Blitslyn na dokters: 082 883 9920.
  • Die staat se amptelike WhatsApp-groep: Stuur “HI” na 0600 123 456 op WhatsApp om by die groep gevoeg te word of plaas hierdie skakel: https://wa.me/27600123456?text=Hi.

• Gaan toets hier

  • PathCare (insluitend Vermaak en Vennote-patoloë) is ’n groep private laboratoriums in Suid-Afrika en Namibië wat nou met Nios saamwerk en Covid-19-toetse kan doen.
    Hulle onderneem om die bloedmonsters gratis na Nios te vervoer om getoets te word of die pasiënt kan teen R995 in hul laboratoriums getoets word. Lancet is ook ’n privaat groep laboratoriums wat die toetse kan doen.
    * Klik hier vir meer inligting en onder is ’n lys van PathCare-laboratoriums.
PathCare-laboratoriums vir toetsing

LYS VAN LANCET-LABORATORIUMS

REGSADVIES GEDURENDE DIE NOODTOESTAND

Korona: Dít is wat jy moet weet,
'n spesiale Netwerk24-projek

* Diepteverslaggewer: Jana Marx
* Taalversorging: Anika Schoeman
* Projekbestuurder: Maryke Cumpsty
* Grafika: Jaco Grobbelaar, Theuns Kruger
* Nasionale nuusredakteur: Nadia Honiball

* Netwerk24 Hoofredakteur: Henriëtte Loubser

Teken in op Netwerk24 en kry élke dag onbeperkte toegang tot brekende nuus, sport, vermaak, menings en diepteontledings, asook drie dagblaaie, Rapport, die gemeenskapskoerante in jou streek, en gunsteling- Afrikaanse tydskrifte soos HuisgenootSarieWeg!, TuisKuier en  Landbouweekblad.

Netwerk24 - Alles op een plek