Die koningin is dood

Wat gebeur nou?

Foto: Getty Images

Foto: Getty Images

Met sewe dekades op die troon, is dit amper ondenkbaar om ’n wêreld sonder die formidabele koningin Elizabeth voor te stel. Hoe raak haar dood Britte én mense wêreldwyd? Arlene Prinsloo vertel meer.

Die meeste mense ken geen ander Britse monarg as koningin Elizabeth nie. Sy was immers langer as sewe dekades op die troon.

Daar word verwag dat derduisende mense langs die roete sal saamdrom waarmee haar kis na die Westministersaal gebring sal word om in staatsie te lê. Nóg duisende sal tou staan om verby haar kis in dié geskiedkundige saal te stap. Ná drie of vier dae in staatsie, sal haar kis vir ’n staatsbegrafnis na die Westminsterabdy gebring word. Honderde Europese koninklikes, politici en leiers van Statebondslande sal die diens bywoon.

Nasionale rou

Die tydperk van nasionale rou in Brittanje sal tussen nege en 12 dae duur. Vlae sal halfstok hang, maar die koninklike vlag, die Royal Standard, sal nie halfstok hang nie omdat koning Charles III se bewind begin het die oomblik toe die koningin gesterf het.

TV- en radiostasies sal huldeblyke aan die koningin uitsaai, terwyl meestal somber musiek op radiostasies gehoor sal word.

Staatsie

Lede van die publiek sal soos met die dood van die koningin se ma in die Westminster-saal aan haar hulde kan bring in die dae voor die staatsbegrafnis. Foto: Getty Images

Lede van die publiek sal soos met die dood van die koningin se ma in die Westminster-saal aan haar hulde kan bring in die dae voor die staatsbegrafnis. Foto: Getty Images

Koninklikes word in loodkiste begrawe. Die kis met koningin Elizabeth se lyk sal van die plek van haar dood na die Westminstersaal, deel van die Paleis van Westminster en tans die setel van die Britse regering, geneem word waar dit vir minstens vier dae in staatsie sal lê.

Die kis word op ’n platform wat met purper materiaal oorgetrek is, geplaas. Lede van die Britse gewapende magte sal 23 uur van die dag die kis bewaak en lede van die publiek sal kan tou staan om verby die kis te stap. Die oorblywende uur word gebruik om vars blomme om die kis te sit, kerse te vervang en skoon te maak.

Vier soldate sal vir 20 minute op ’n slag by die kis waak, met twee soldate as reserwes.

’n Vars ruiker sal elke dag op die kis geplaas word. Saam met die blomme sal die regalia van haar bewind – die staatskroon, septer en ryksappel (orb) – ook op die kis geplaas word.

Die nagwaak van die prinse

Met die afsterwe van die koningin se ma, Elizabeth die koninginmoeder, in 2002, het die koninginmoeder se kleinseuns ook by haar kis in die Westminster-saal in Londen gewaak. Op die foto is prins Andrew (links, met sy rug na die kamera), burggraaf Linley (nou hertog Snowdown) en prins Edward (regs) te sien. Prins Charles kan nie op die foto gesien word nie, maar staan agter die kis op die regterhoek. Foto: Getty Images

Die dag voor die begrafnis sal die koningin se kinders by haar kis waak. Prins (nou koning) Charles, prins Andrew, prins Edward en prinses Anne sal met geboë hoofde by elke punt van die kis waak. Van haar kleinkinders en selfs agterkleinkinders kan ook ’n beurt kry om by die kis te waak.

Beplanning, beplanning, beplanning

Planne vir die koningin se dood word reeds sedert die 1960’s gemaak. In 2017 het The Guardian heelwat besonderhede van wat ná die koningin se dood sal gebeur, bekend gemaak.

Die kodewoord vir die koningin se dood was “London Bridge is Down”. Dié kodewoord sou seer sekerlik ná die publikasie in 2017 verander het, maar min van die besonderhede sou verander het aangesien staatsbegrafnisse vir senior koninklikes dieselfde patroon volg, tensy anders versoek. Koningin Victoria het byvoorbeeld versoek om nie in staatsie te lê nie.

Duisende troepe – van die Ghoerkas tot die Grenadier-wagte – sal ná die koningin se dood begin met oefeninge vir die staatsbegrafnis.

Waar het die koningin gesterf?

Die kis met die koningin se oorskot sal net soos wat in 2002 met die afsterwe van haar ma gedoen is, vanaf die Buckingham-paleis op ’n kanonwa na die Westminster-saal geneem word. Foto: Getty Images

Die kis met die koningin se oorskot sal net soos wat in 2002 met die afsterwe van haar ma gedoen is, vanaf die Buckingham-paleis op ’n kanonwa na die Westminster-saal geneem word. Foto: Getty Images

Omdat die koningin slegs ses maande van die jaar in Londen of Windsor woon, sal haar oorskot óf per trein, óf per vliegtuig vanaf Windsor, Sandringham of Balmoral na Londen gebring word indien sy by een van dié wonings dood is.

Die kis sal eers na die Buckinghampaleis geneem word, vanwaar die kis deur perde van die paleis al met die Mall af na die Westminstersaal geneem sal word.

Die roete

Koningin Elizabeth se kis sal op dieselfde kanonwa vervoer word waarop die kis van haar pa, koning George VI, vanaf Windsor-stasie na sy begrafnisdiens in die St. George-kapel in Windsor geneem is. Foto: Getty Images

Op die dag van die begrafnis sal derduisende mense agter versperrings die staatsbegrafnis volg. Nog duisende sal in groot parke en in stadions die diens volg.

Foto: Getty Images

Die koningin se kis sal op dieselfde kanonwa gelaai word waarop haar pa, oupa en oupagrootjie se kiste ook vervoer is. Altesame 138 junior vlootkadette sal voor en agter die kis stelling inneem.

Die roete in Londen maak voorsiening vir die derduisende mense wat agter versperrings of in parke sal saamdrom om die diens op groot skerms te volg.

Wie stap agter die kis?

Manlike lede van die koninklike familie stap agter die kis. Prinses Anne, die koningin se enigste dogter, sal moontlik ook saamstap soos sy ook agter die kis van haar pa, prins Philip, gestap het.

Prins Charles, Prinses Anne, Prins Andrew en Prins Edward tydens hul pa, Prins Philip, se begrafnis. Foto: Getty Images

’n Handvol grond

Die uitsending van die diens word gestaak wanneer die hekke voor die graftombe waar Elizabeth se ouers, koning George VI en koningin Elizabeth, begrawe is, in die St. George-katedraal in die Windsorkasteel oopgemaak word.

St. George-katedraal in die Windsorkasteel Foto: Getty Images

Die kis sak na benede na die graftombe.

Koning Charles III sal dan uiteindelik ’n private oomblik hê om ’n handvol rooi grond uit ’n silwer bak te neem en op sy ma se kis te gooi.

Bykomende bronne: theroyalfamily-webwerf, The Guardian, Politico, BBC, Daily Express en Daily Mail.

Foto: Getty Images

Foto: Getty Images

Prins Charles, Prinses Anne, Prins Andrew en Prins Edward tydens hul pa, Prins Philip, se begrafnis. Foto: Getty Images

Prins Charles, Prinses Anne, Prins Andrew en Prins Edward tydens hul pa, Prins Philip, se begrafnis. Foto: Getty Images

St. George-katedraal in die Windsorkasteel Foto: Getty Images

St. George-katedraal in die Windsorkasteel Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth se afsterwe gaan die normale gang van sake in Brittanje tot stilstand bring. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth se afsterwe gaan die normale gang van sake in Brittanje tot stilstand bring. Foto: Getty Images