Elizabeth
Alexandra
Mary
Windsor

21 April 1926 - 8 September 2022

Deur Arlene Prinsloo

Koningin Elizabeth II, die langsheersende monarg ter wêreld, is dood. Sy het op 6 Februarie 1952 op 25-jarige ouderdom die troon bestyg ná die afsterwe van haar pa, koning George VI.

Foto: Getty Images

Foto: Getty Images

Die Buckinghampaleis het in ’n kort verklaring met hartseer haar afsterwe aangekondig.

Elizabeth se opvolger, prins Charles, het dadelik koning Charles geword, hoewel die amptelike proklamasie om hom tot koning te verklaar, eers môre gedoen sal word.

Die 96-jarige Elizabeth is op 21 April 1926 gebore toe haar oupa, koning George V, op die troon was. Sy was die oudste dogter van George V se naasoudste seun, Bertie, en sy vrou, Elizabeth, wat ná die abdikasie van Bertie se broer, koning Edward VIII, in 1936 die troon as koning George VI bestyg het.

Elizabeth is in 1947 met Philip Mountbatten, ’n prins van Deense en Griekse afkoms, getroud. Hulle het vier kinders: Charles, Anne, Andrew en Edward.

Philip is in April 2021 oorlede, slegs maande voordat hy sy 100ste verjaarsdag sou vier.

Grafika: Jaco Grobbelaar

Grafika: Jaco Grobbelaar

Koningin Elizabeth moes met die begrafnis van haar man, prins Philip, op 17 April 2021 alleen in die kerkbank sit weens koronavirus-maatreëls. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth moes met die begrafnis van haar man, prins Philip, op 17 April 2021 alleen in die kerkbank sit weens koronavirus-maatreëls. Foto: Getty Images

Elizabeth het tydens haar heerskappy van meer as sewe dekades die Huis van Windsor staande gehou te midde van onder meer republikeinse sentiment en kritiek teen die koningshuis in Brittanje, die verbrokkeling van drie van haar kinders se huwelike, haar “annus horribilis” (aaklige jaar) in 1992 – toe Andrew en Charles se huwelike verbrokkel het en ’n deel van haar geliefde Windsorkasteel in puin gelê is – asook die dood in 1997 van Charles se gewese vrou, Diana, prinses van Wallis, en die seksskandaal waarin Andrew betrokke is weens sy vriendskap met die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein.

FOTO: Die koningin het die dag voor Diana, ontslape prinses van Wallis, se begrafnis op 6 September 1997 buite die St. Jamespaleis, waar Diana se oorskot gehou is, en buite die Buckinghampaleis met roubeklaers gepraat. Sy was verras toe iemand vir haar ’n rooi roos gee omdat die koningshuis in die dae ná Diana se dood fel gekritiseer is omdat hulle in Balmoral agtergebly en nie dadelik na Londen teruggekeer het nie.

Foto: Getty Images

Sy was tot met haar dood die mees geliefde lid van die koningshuis.

Elizabeth het in haar leeftyd haar rol as seremoniële hoof van die Statebond – waarvan Suid-Afrika ’n lid is – na aan haar hart gehou.

Sy het tydens ’n koninklike toer wat sy in 1970 saam met Philip en Anne na Australië en Nieu-Seeland onderneem het, die koninklike tradisie verbreek om van ’n afstand vir skares te waai en die eerste koninklike walkabout gedoen. Sy het na die skares gestap, haar hand uitgesteek om hulle te groet en met hulle gesels.

Koningin Elizabeth het tydens ’n koninklike toer na Australië in 1970 die eerste keer tussen skares begin beweeg en na mense gestap om met hulle te gesels. Op die foto is ’n jong prins Charles en prinses Anne. Foto: Getty Images

Elizabeth was ook die een wat haar kleinseun prins William, met sy troue in 2011 met die destydse Catherine Middleton, die raad gegee het om die paleis se riglyne vir sy gastelys op te skeur en sy gastelys na sy goeddunke op te stel.

Sy het ook haar kop hoog gehou met die verrassende aankondiging in 2020 van prins Harry en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, om as senior werkende lede van die koninklike familie terug te staan.

Toe Harry en Meghan in Maart 2021 boonop tydens hul opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey die koningshuis van ’n gebrek aan ondersteuning en institusionele rassisme beskuldig het, het die pragmatiese koningin wyslik eers ’n dag later in ’n kort en bondige verklaring gesê die twee bly geliefde lede van die gesin, maar dat ander se herinneringe aan hul tyd in die koningshuis van hulle s’n kan verskil.

Die pragmatiese koningin het haar kleinseun, prins Harry, en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, se besluit om as senior koninklikes terug te staan met grasie hanteer. Foto: Getty Images

Die koningin het in haar leeftyd ’n magdom wêreldleiers ontmoet, maar het ’n besonderse verhouding met oudpres. Nelson Mandela gehad. Hy was een van min mense wat haar in sy briewe op haar voornaam, Elizabeth, aangespreek het.

Koningin Elizabeth en pres. Nelson Mandela tydens sy staatsbesoek aan Brittanje in 1996. Foto: Getty Images

Die koningin het ook as die destydse prinses Elizabeth in 1947 haar 21ste verjaarsdag in Suid-Afrika gevier. Sy was saam met haar pa, toe koning George VI, sy vrou, koningin Elizabeth, en jonger suster, prinses Margaret, op ’n besoek van drie maande aan Suider-Afrika.

Sy het in Kaapstad tydens ’n radioboodskap gesê sy sal haar hele lewe – hoe lank of kort dit ook al mag wees – daaraan wy om van diens aan haar onderdane en die koningshuis te wees. Haar leuse “Ich dien” (ek dien) is derhalwe op haar familiewapen aangebring.

Die twee prinsesse het tydens hul besoek aan Suid-Afrika tyd gekry om perd te gaan ry op ’n strand in Oos-Londen. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth het tydens ’n koninklike toer na Australië in 1970 die eerste keer tussen skares begin beweeg en na mense gestap om met hulle te gesels. Op die foto is ’n jong prins Charles en prinses Anne. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth het tydens ’n koninklike toer na Australië in 1970 die eerste keer tussen skares begin beweeg en na mense gestap om met hulle te gesels. Op die foto is ’n jong prins Charles en prinses Anne. Foto: Getty Images

Die pragmatiese koningin het haar kleinseun, prins Harry, en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, se besluit om as senior koninklikes terug te staan met grasie hanteer. Foto: Getty Images

Die pragmatiese koningin het haar kleinseun, prins Harry, en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, se besluit om as senior koninklikes terug te staan met grasie hanteer. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth en pres. Nelson Mandela tydens sy staatsbesoek aan Brittanje in 1996. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth en pres. Nelson Mandela tydens sy staatsbesoek aan Brittanje in 1996. Foto: Getty Images

Prinses Elizabeth dae voordat sy haar 21ste verjaarsdag in Kaapstad gevier het. Foto: Getty Images

Prinses Elizabeth dae voordat sy haar 21ste verjaarsdag in Kaapstad gevier het. Foto: Getty Images

Die twee prinsesse het tydens hul besoek aan Suid-Afrika tyd gekry om perd te gaan ry op ’n strand in Oos-Londen. Foto: Getty Images

Die twee prinsesse het tydens hul besoek aan Suid-Afrika tyd gekry om perd te gaan ry op ’n strand in Oos-Londen. Foto: Getty Images

Elizabeth het eers weer in 1995, nadat apartheid tot ’n einde gekom het en demokrasie in die land gevestig is, Suid-Afrika weer op uitnodiging van Mandela besoek. Sy die land weer in 1999 besoek met die vergadering van statebondshoofde wat in Durban gehou is.

Koningin Elizabeth in 1995 tydens haar staatsbesoek aan Suid-Afrika. Sy dra die diamant-halssnoer wat sy op haar 21ste verjaarsdag van Suid-Afrika as geskenk gekry het. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth in 1995 tydens haar staatsbesoek aan Suid-Afrika. Sy dra die diamant-halssnoer wat sy op haar 21ste verjaarsdag van Suid-Afrika as geskenk gekry het. Foto: Getty Images

Die pragtige diamant-halssnoer, een van die koningin se gunstelinge, wat op haar 21ste verjaarsdag deur Suid-Afrika aan haar gegee is. Foto: Getty Images

Die pragtige diamant-halssnoer, een van die koningin se gunstelinge, wat op haar 21ste verjaarsdag deur Suid-Afrika aan haar gegee is. Foto: Getty Images

Haar dood sal nie net wêreldwyd betreur word nie, maar sal ook die gewone lewe in Brittanje tot stilstand bring. Die Londense Aandelebeurs sal byvoorbeeld nie sake doen nie, en die agt dae van nasionale rou en voorbereidings vir haar staatsbegrafnis sal derduisende toeskouers na Londen lok.

Charles sal na verwagting ook die Britse volk toespreek en besoeke aan onder meer Skotland en Wallis bring.

Die koningin se oorskot sal na Londen geneem word waar sy drie dae in staatsie in die Westminstersaal sal lê voor haar begrafnisdiens in die Westminsterabdy.

Sy sal in die St. George-kapel in Windsor ter ruste gelê word in die koninklike kapel waar Philip, Margaret en haar ouers begrawe is.

Koningin Elizabeth II van Brittanje. Foto: Getty Images

Koningin Elizabeth II van Brittanje. Foto: Getty Images

Ons groet Koningin Elizabeth –
’n spesiale Netwerk24-huldeblyk

Joernalis: Arlene Prinsloo
Grafika: Jaco Grobbelaar
Taalversorging: Carolien Saayman
Projekbestuurder en webtuiste: Maryke Cumpsty
Netwerk24 Hoofredakteur: Henriëtte Loubser