Kan Suid-Afrika se logistieke krisis die sitrusbedryf se groeitrajek ontspoor?

Naas Spanje is Suid-Afrika die grootste uitvoerder van sitrus ter wêreld.

’n Taamlik onbekende kompliment vir ’n land wat geneig is om op die ongunstige te konsentreer, is dat Suid-Afrika naas Spanje die grootste uitvoerder van sitrus ter wêreld is. Suid-Afrika is die grootste uitvoerland in die Suidelike Halfrond en die wêreldleier in langafstand-uitvoer.

Uitvoer is verantwoordelik vir 95% van sitrus se verdienste. Die sitrusbedryf het wyn in 2010 as Suid-Afrika se grootste landbou-uitvoerproduk verbygesteek. Dit verskaf werk aan sowat 120 000 mense, wat dit die grootste werkgewer in die landboubedryf maak. 

Sitrus – ekonomie se skitterende ster

Die uitsonderlike prestasie van die sitrusbedryf het produksie van 2019 tot 2020 met 25% laat groei, wat die bedryf een van die suksesverhale in ’n treurige jaar vir ekonomiese groei maak. Die uitset in 2021 het na verwagting van 150 miljoen kartonhouers wat in 2020 geproduseer is, met nog 6% tot 159 miljoen kartonhouers gegroei. Dit is effens minder as die geprojekteerde 163 miljoen kartonhouers, grootliks weens kleiner vrugte as wat verwag is. Die sterker rand sal ook ’n kleiner inkomste vir die plase beteken.

Hierdie statistieke dui op die groot bydrae van die sitrusbedryf tot indiensneming, uitvoerverdienste en ekonomie. Dit is merkwaardig gegewe die groot probleme wat die bedryf vanjaar te bowe moes kom, insluitend die gewelddadige onluste en kuberaanvalle op Suid-Afrikaanse hawens, wat groot logistieke terugslae op ’n deurslaggewende tydstip van die oes- en uitvoerseisoen tot gevolg gehad het. Op eg Suid-Afrikaanse wyse het belanghebbendes in die sitrusbedryf ’n plan gemaak en die hele waardeketting verdien dawerende applous. 

Logistiek vereis dringend aandag

Op lang termyn is daar toenemende kommer oor die wesenlike impak wat Suid-Afrika se verswakkende logistieke infrastruktuur op die bedryf en sy beduidende bydrae tot die ekonomie kan hê. Die probleem sal al hoe groter word as dit nie onmiddellik getakel word nie, aangesien sitrusproduksie in die volgende vyf jaar na verwagting tot 200 miljoen kartonhouers kan groei, en tot 260 miljoen kartonhouers teen 2030.

Die uitgestrekte geografiese verspreiding van die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf beteken dat sommige produsente vrugte meer as 1 000 km na hul naaste hawe moet vervoer. Die padinfrastruktuur is dus die eerste kwessie. Verkeer hoop veral erg op in en om die Durban-hawe. Boonop het groot graanoeste die afgelope twee jaar met rekord-sitrusoeste saamgeval.

Daarna was dit die onluste in Julie. Veiligheid op die paaie het ’n nuwe bron van kommer geword, asook die impak wat die onluste op uitvoer gehad het. Die sitrusbedryf se groot terugslag was dat hulle nie hul produkte kon verskeep nie, wat verlore markgeleentheid beteken het, bykomende vervoer-, arbeids- en opbergingskoste, en eise wanneer die gehalte van die vrugte weens ’n onderbreking in die koueketting afneem.

Padprobleme is egter gering vergeleke met dié van die hawens: In die Wêreldbank en IHS Markit se vergelykende studie van vraghouerhawe-prestasies is Suid-Afrika se hawens in Kaapstad, Gqeberha, Durban en Coega aan die onderpunt van 351 hawens wêreldwyd.

Suid-Afrikaanse hawens werk teen ongeveer 30% van internasionale norme, wat beteken dat hulle net ’n derde van die vraghouers wat hulle veronderstel is om per dag te hanteer op- en aflaai. Voeg daarby die ontwrigting by globale skeepsrederye, die groeiende tekorte aan en koste van vraghouerskepe weens die Covid-19-pandemie, die diefstal van Transnet-infrastruktuur en die kuberaanvalle op Suid-Afrikaanse hawens. Dit toon duidelik dat die kwessies by hawens die uitstekende pogings van die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf bedreig. 

Is daar ’n plan?

Die goeie nuus is dat daar gekoördineerde pogings tussen groot logistieke belanghebbendes soos Transnet en landbou-organisasies is om die probleme wat uitvoer na wêreldmarkte knel aan te pak. Sowat 80% van Suid-Afrika se landbouprodukte word byvoorbeeld padlangs vervoer, maar ’n skuif van pad- na spoorvervoer sal groter beleggings en sekuriteit by spoorlyne verg om die voortdurende diefstal van Transnet-infrastruktuur uit te skakel.

Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika werk nou saam met Transnet Freight Rail om die spoorvervoer van landbougewasse te verhoog.

Daarbenewens het die vereniging ’n middel- en langtermynplan ontwikkel om die druk rondom logistiek te verlig, wat insluit die vind van alternatiewe vir Transnet-bedryfde hawens, die verkryging van bykomende gespesialiseerde koelskepe gedurende die sitrusseisoen en ’n toegewyde, gespesialiseerde koelskipdiens tussen Kaapstad en die Europese Unie en Brittanje. Koelskepe is verkoelde vragskepe wat tipies gebruik word om goedere te vervoer waar die koueketting nie onderbreek mag word nie. Hulle is ook vinniger om te laai, wat hul omkeertye in Suid-Afrikaanse hawens korter maak. 

Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika het ook ’n dringende behoefte aan verhoogde deelname deur die privaat sektor geïdentifiseer, ’n siening waarmee belanghebbendes in die openbare sektor blyk saam te stem, aangesien hulle samesprekings tussen die regering, logistieke belanghebbendes en potensiële beleggers aan die gang sit om belegging in die hawens te mobiliseer.

Trouens, die departement van openbare ondernemings het onlangs ’n meesterplan vir die Durban-hawe aangekondig om oor die volgende 10 jaar R100 miljard se potensiële privaat beleggings vir die hawe-infrastruktuur, terminale en vrag-infrastruktuur te lok. Die plan is daarop gemik om die groei van die hawe se jaarlikse houerhanteringskapasiteit te versnel, met aansienlike verdieping en verbreding van die vasmeerplek om die vasmering van die grootste vaartuie ter wêreld moontlik te maak.

Die plan behels ook dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se vlootbasis en die grootmaatterminaal, wat die petroleum-, chemikalieë-, plantolie- en smeermiddelbedrywighede huisves, na Richardsbaai, wat ’n nywerheidshawe sal word, te verskuif. Die plan sluit ook opknappings aan die pad- en spoorwegnetwerk rondom die hawe en stad in om die hoë volumes vragmotors wat bottelnekke veroorsaak te beperk. Die Cato Ridge-gebied sal ontwikkel word in ’n privaatsektor-gedrewe industriële groepering wat die N3-snelweg vanaf die hawe met die spoorlyn verbind. Daar is dus tekens dat Suid-Afrika uiteindelik in die regte rigting beweeg.

Vir die sitrusbedryf, soos met die res van die landboubedryf, is dit noodsaaklik om voort te gaan om moontlike verbeterings te identifiseer, en met belangrike logistieke belanghebbendes en die regering te skakel om oplossings te vind.

Soos altyd sal Nedbank die hele landbouwaardeketting deur hierdie proses ondersteun en help waar moontlik. Logistiek is die lewensbloed van die sukses van die plaaslike landbou-uitvoerbedryf en behoort ’n langtermyn- en strategiese fokusarea vir Suid-Afrika te wees. 

Dié artikel is slegs bedoel vir algemene inligtingsdoeleindes en is nie regsadvies nie.

 

Justin Chadwick gesels oor die sitrusbedryf en die rol wat die bedryf in Suid-Afrika se ekonomie speel