As jy nog altyd daarvan gedroom het om ’n vintage of antieke stuk juweliersware op te spoor, is dít hoe jy dit kan regkry

Dit kan moeilik wees om die verskil te sien tussen moderne juweliersware wat gemaak is om vintage te lyk teenoor regte vintage of antieke juwele. Maar daar is ’n paar eienskappe wat dit sal weggee. Outentieke vintage juweliersware verwys tipies na stukke wat minstens 20 tot 30 jaar oud is, terwyl antieke juweliersware gewoonlik meer as 100 jaar oud is. Suid-Afrika het ’n ryk geskiedenis in die diamant- en juweliersbedryf, en die land is wêreldwyd bekend vir sy hoëgehalte-juwele en wonderlike vakmanskap. Gevolglik is die mark vir tweedehandse en vintage juweliersware in Suid-Afrika blakend gesond – en dis die moeite werd om te weet hoe om ’n goeie vonds raak te sien!

Voordat jy jou in hierdie nuwe stokperdjie verdiep, hou in gedagte: as jy besluit om vintage stukke te koop, kan jy dit oorweeg om ’n Cash Converters-winkel te besoek. Ons kundiges beskik oor al hierdie kennis en meer, en elke juwelierstuk gaan na ons hoofkantoor se Jewellery Processing Centre (JPC), waar dit skoongemaak en geëvalueer word voordat dit verkoop word.

1. Belangrikste kenmerke van vintage en antieke juweliersware

Victoriaanse juweliersware: Suid-Afrika se historiese bande met Brittanje gedurende die Victoriaanse era beteken dat baie ouer Suid-Afrikaanse stukke hierdie styl weerspieël. Verwag ingewikkelde, romantiese ontwerpe met natuurmotiewe, diamante en gekleurde stene.

Art Deco-juweliersware: Die 1920’s en 1930’s het geometriese vorms en gewaagde ontwerpe gebring, wat vandag nog gesog is. Art Deco-stukke is dikwels vervaardig met platinum en diamante, wat albei geredelik beskikbaar was as gevolg van Suid-Afrika se mynbedryf.

Mid-20ste-eeuse moderne stukke: Teen die 1950’s het Suid-Afrikaanse juweliers meer minimalistiese ontwerpe met geelgoud en edelstene geskep, wat wêreldwye neigings weerspieël het. Dit is die ontwerpe wat jy dalk sal herken as dié uit jou ouma se tyd.

2. Waarmerke en stempels uniek aan Suid-Afrika

Een van die betroubaarste maniere om die egtheid van vintage juweliersware te bepaal, is deur die waarmerke en stempels na te gaan, wat belangrike inligting verskaf oor die stuk se oorsprong, vervaardiger en metaalsuiwerheid.

In Suid-Afrika word juweliersware dikwels met vervaardigerstempels gemerk. Wees op die uitkyk vir juwelier- of vervaardigerstempels, wat kan aandui of die stuk deur ’n bekende Suid-Afrikaanse juwelier gemaak is of ingevoer is.

Suid-Afrikaanse goue juweliersware word tipies met metaalsuiwerheidstempels gemerk: 9K-, 18K- of 22K-stempels om die goudinhoud aan te dui. Sterlingsilwer-stukke is gemerk met 925, wat 92,5% suiwer silwer aandui.

Ouer Suid-Afrikaanse juweliersware kan ook merke van die metaaltoetskantoor dra wat aandui waar die stuk vir metaalsuiwerheid (essai) getoets is. Jy kan byvoorbeeld die Springbok-merk sien, wat Suid-Afrika aandui en gebruik word om egte Suid-Afrikaanse juweliersware te merk.

3. Styl- en ontwerpleidrade

Baie Suid-Afrikaanse vintage en antieke stukke weerspieël ons unieke erfenis en hulpbronne. Jy kan byvoorbeeld vintage juweliersware kry met plaaslike diamante uit bekende myne soos Kimberley.

Sommige stilistiese leidrade waarvoor jy op die uitkyk kan wees, sluit in handgeslypte diamante: Ouer Suid-Afrikaanse juweliersware bevat dalk handgeslypte diamante, wat gewild was voordat moderne slyptegnologie wydverspreid geraak het. Hierdie diamante het dikwels ’n effens onreëlmatige vorm, anders as die presiese snitte van vandag se edelstene.

Juweliersware uit die vroeë 20ste eeu kan Suid-Afrika se koloniale bande weerspieël, met Europese ontwerpelemente gekombineer met plaaslike materiale soos goud en diamante.

4. Tekens van veroudering in outentieke stukke

Wanneer jy vintage of antieke juweliersware koop, is dit belangrik om die tekens van natuurlike slytasie en veroudering te herken. Hierdie wenk is dalk nie van toepassing wanneer jy by ’n betroubare bron soos Cash Converters koop nie, aangesien ons elke stuk skoonmaak en evalueer voordat dit na die winkels gaan. Maar dit is steeds goed om te weet as jy iemand is wat daarvan hou om tweedehands te koop, want nie al hierdie tekens van slytasie kan verbloem word nie, en dit is dikwels ’n goeie aanduiding van ’n item se egtheid. Outentieke stukke uit Suid-Afrika, veral ouer stukke, sal waarskynlik ’n verweringslaag (patinering), of ’n effense vlek, op die metaal toon. Nog ’n teken is verwering aan monterings: antieke ringe, oorbelle en halssnoere kan effens verweerde of los monterings hê as gevolg van dekades se gebruik. Skenk aandag aan die kloue waarin edelstene gemonteer is, aangesien hulle slytasie kan toon wat ooreenstem met ouderdom. Jy kan ook kyk vir klein skrape of duike, wat aanduidings van ouderdom en egtheid kan wees.

5. Edelsteen-eienskappe

Suid-Afrika se geskiedenis as ’n belangrike diamantprodusent beteken dat baie vintage en antieke stukke hoëgehalte-diamante bevat. Ouer edelstene mag egter nie dieselfde glans of presiese slypwerk as moderne edelstene hê nie as gevolg van historiese slyptegnieke.

Ouer myngeslypte diamante is minder simmetries as vandag se briljante snitte, maar word hoog aangeslaan vir hul historiese belang. Handgekerfde edelstene word soms in vintage juweliersware gevind, veral in stukke uit die Victoriaanse tyd, waar ingewikkelde ontwerpe op prys gestel is. Moderne reproduksies ontbreek hierdie vlakke van vakmanskap.

6. Raadpleeg ’n plaaslike deskundige

As jy onseker is oor die egtheid van ’n vintage of antieke stuk, is dit wys om ’n plaaslike kenner te raadpleeg. Suid-Afrika het verskeie betroubare juweliersware-waardeerders, edel-en-siersteenkundiges en antieke handelaars wat spesialiseer in die evaluering van tweedehandse juweliersware. Raadpleeg professionele persone wat by die Suid-Afrikaanse Diamant-en-edelmetaalreguleerder (SADPMR) geregistreer is. Gesertifiseerde professionele kenners sal die egtheid van die stuk kan verifieer, die waarde daarvan beoordeel en sertifisering kan verskaf, wat veral belangrik is vir stukke van hoë waarde of beleggingstukke.

Ten slotte, om outentieke vintage en antieke juweliersware raak te sien, vereis ’n kombinasie van kennis oor historiese style, waarmerkstelsels en die land se unieke geskiedenis met die vervaardiging van juweliersware – en natuurlik geluk! Let goed op, doen jou navorsing en besoek jou naaste Cash Converters-winkel om te sien wat jy kan kry.