1950-1959
Die Verwoerd-era en die verset begin:
Groot apartheid
Groot planne
"Die tydsgees van die 1950's sien jy deur bloot te kyk na die wette wat met die intrapslag deur die Nasionale Party ter tafel gelê is: die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike, die Ontugwet (geen seksuele verhoudings oor ‘kleurlens’, toegelaat nie), die Wet op Bevolkingsregistrasie (alle Suid-Afrikaners volgens ras geklassifiseer), die Wet op Groepsgebiede (gesegregeerde woongebiede) en die Wetsontwerp op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers (om ‘kleurlinge’ van die kieserslys te verwyder).
Dr. Malan, 74 jaar oud, het sy intensies gou laat blyk: die Parlementêre politiek sou "blank" wees, die toekoms wit. En hy het nie net die openbare verhoog tot sy beskikking gehad nie, maar ook Die Burger, die koerant waarvan hy die stigtersredakteur was.
Sy apartheidsbeleid het eensklaps ook steun van buite die Afrikaanse gemeenskap begin kry, want in die verkiesing van 1953, het die NP sy seteltal van 70 tot 'n volstrekte meerderheid van 94 opgeskuif.
Die 1950’s het ook 'n generasiewisseling gesien: Jan Smuts sterf in 1950 en in 1954 tree Malan (80) uit. In dieselfde jaar word Piet Cillié (37) redakteur van Die Burger en twee jaar later kom daar 'n nuwe leier van die opposisie, De Villiers Graaff (43).
Cillié en Graaff sou die volgende twee dekades in stryd met mekaar bly, met Graaff wat veral in T.O. Honiball se spotprente onder skoot gekom het, geteken met 'n veel weliger snor as wat hy in werklikheid gehad het. (Sy karikatuur is gebaseer op die oud-Springbok Paul Roos, wat Cillié en Honiball se skoolhoof op Stellenbosch was.)
Internasionale teenstand teen apartheid het vinnig opgelaai en in 1952 het die ANC se veldtog van burgerlike verset begin. Enige hoop op 'n verslapping van apartheidsregulasies is egter in 1958 verydel toe H.F. Verwoerd eerste minister geword en hy Suid-Afrika na 'n republiek begin stuur het: 'n apartheidstaat waarbinne segregasie ook die hoeksteen van kultuur, die kerk en sport sou word.
Cillié – 15 jaar jonger as Verwoerd, wat vroeër self 'n koerantredakteur was – sou nooit 'n gemaklike verhouding met die eerste minister ontwikkel nie. In 1979, na Cillié se uittrede as redakteur, het hy Verwoerd so beskryf: "Hy was die soort man wat aan die een kant hartstogtelike lojaliteit en aan die ander kant vurige afkeer kon wek, en in my posisie kon ek geeneen bekostig nie. 'n Sekere afstand het vir my na die gulde weg gelyk."
Met Graaff se Verenigde Party wat hom nie ondubbelsinnig tot volwaardige swart politieke regte wou verbind nie, was daar net rimpelings van teenspraak teen Verwoerd. Suid-Afrika het die 1950's verlaat met die uitskakeling van enige "nie-blanke" faktor uit "blanke" politiek in die visier.
DIE (HOF)STRYD BEGIN: Leiers in die stryd teen apartheid soos Nelson Mandela, Walter Sisulu, Oliver Tambo, Ahmed Kathrada, Helen Joseph, Joe Slovo, Ben Turok, Ruth First en Lillian Ngoyi was onder die 156 mense wat in 1956 in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla is. Hulle was betrokke by die opstel van die Vryheidsmanifes wat in 1955 in Kliptown aanvaar is. Net 30 is verhoor, onder wie Mandela, maar hulle is in 1961 onskuldig bevind. Mandela en nege ander is twee jaar later weer in hegtenis geneem en ná die Rivonia-verhoor in 1964 is hy lewenslank tronk toe gestuur. FOTO: GETTY IMAGES
DIE (HOF)STRYD BEGIN: Leiers in die stryd teen apartheid soos Nelson Mandela, Walter Sisulu, Oliver Tambo, Ahmed Kathrada, Helen Joseph, Joe Slovo, Ben Turok, Ruth First en Lillian Ngoyi was onder die 156 mense wat in 1956 in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla is. Hulle was betrokke by die opstel van die Vryheidsmanifes wat in 1955 in Kliptown aanvaar is. Net 30 is verhoor, onder wie Mandela, maar hulle is in 1961 onskuldig bevind. Mandela en nege ander is twee jaar later weer in hegtenis geneem en ná die Rivonia-verhoor in 1964 is hy lewenslank tronk toe gestuur. FOTO: GETTY IMAGES
Drie belangrik nuusgebeure:
Nuwe bewind in Suid-Afrika
Verrassend genoeg wen dr. D.F. Malan se Nasionale Party (NP) die verkiesing op 25 Mei 1948. Dié oorwinning word algemeen as die begin van die institusionalisering van apartheid beskou.
Die Burger het in die aanloop tot die verkiesing positiewe publisiteit aan die NP gegee, terwyl die regerende Verenigde Party (VP) daarvan beskuldig is dat hy rassegevoelens opsweep.
Die dag voor die verkiesing verskyn ’n afdruk van ’n pamflet van die VP, wat aan die “kleurlingkieser” gerig is en wat waarsku ’n “oorwinning deur die Nasionaliste” sal vir dié bevolkingsgroep apartheid beteken. Die hoofopskrif vir die storie daarnaas was “Skandalige pamflet” en die pamflet is gekritiseer omdat dit ’n “reeks fantastiese onwaarhede” oor die NP bevat.
Bruin mense het toe tog hul stemreg op 14 Mei 1951 verloor. Ook is sewe nuwe wette deur die nuwe regering deurgevoer, onder meer om seksuele verhoudings tussen rassegroepe te onderdruk, aparte woongebiede te skep, en apartheid in die onderwys te skep. Die NP het ook die 1953-verkiesing gewen.
Begin van die Koue Oorlog
Dit is moeilik om te sê presies wanneer die Koue Oorlog tussen die Weste en kommunistiese state begin het, maar die Britse eerste minister Winston Churchill se toespraak op 5 Maart 1946 oor ’n “ystergordyn” word as ’n belangrike baken in hierdie oorlog beskou.
Terwyl Europa probeer het om van die nagevolge van die Tweede Wêreldoorlog te herstel, was daar talle voorvalle tussen Rusland en die Geallieerdes wat verhoudinge tussen die Weste en kommunistiese lande versuur het. Verskeie lande het in hierdie tyd kommunistiese republieke geword, onder meer Tsjeggo-Slowakye (1946) en die Volksrepubliek van China (1949) onder Mao Zedong. Die Koue Oorlog het ná die Koreaanse Oorlog van 1950 tot 1953 vriespunt bereik, met die toenemende uitbreiding van kernwapens aan altwee kante.
Josef Stalin (73), premier van die USSR, is op 5 Maart 1953 dood aan bloeding op die brein. Daar was gemengde gevoelens hieroor.
Veldtog teen apartheid begin
Op Sondag 6 April 1952 was die laaste dag van die Van Riebeeck-fees in Kaapstad waar die 300-jarige herdenking van Jan van Riebeeck se landing aan die Kaap gevier is, en daarmee saam die grondlegging van wat later sou uitloop op die Kaapkolonie en die Unie van Suid-Afrika. Dieselfde dag is optogte in die Moederstad, Johannesburg, Pretoria, Port Elizabeth, Durban en Oos-Londen gehou om verset teen die nuwe apartheidswette aan te teken en ’n gelofte af te lê.
Op die Parade in Kaapstad het sowat 5 000 betogers byeengekom, waar sprekers die Van Riebeeck-fees as “300 jaar van blanke oorheersing” verdoem het en nie-blankes aangemoedig het om hul vryheid te verdedig en nie die VP en howe te vertrou nie.
“Nie veel nie-blankes op protesdag” lui ’n opskrif op Die Burger se voorblad van 7 April 1952. Die res van die voorblad handel oor die fees se sukses.
Volgens die koerant het die protesdag “sonder voorvalle afgeloop” en is dit merendeels as ’n mislukking afgemaak.
In 1953 word Albert Luthuli president van die ANC.
Die Oosterlig in Port Elizabeth
ARSEEN en OXO
Die Oosterlig was 'n opwindende leerskool vir nuwe joernaliste. Hulle het dikwels lang ure gewerk en enigiets van sport tot hofsake gedek. Ton Vosloo vertel.
In vandag se terme was Die Oosterlig wat ek in Mei 1956 leer ken het, nog in die tegnologiese middeleeue. Die redaksie het op ou klaterende Remingtons hul kopie uitgehamer.
Ons was bokant die settery met sy warm loodpotte vir die set van kopie, en die geur van kokende lood het opgewalm en figuurlik in jou bloed gekom.
Dit was opwindende dae vir jong kwekelinge. Seweuur soggens moes jy aanmeld en dikwels het jy tot elfuur saans gewerk. 'n Tipiese dag: gooi die sportblaaie eerste af; dan uit op hofrapportering; namiddag die Wolbeurs of 'n munisipaliteit of afdelingsraad; soms is daar 'n klassis (sinode) van die Gereformeerde Kerk en dan moet jy leep-oog in die aand luister na die eerwaarde dominees se gestoei oor hoe sondig 'n speletjie is om te raai hoeveel boontjies is in 'n bottel om 'n prysie op 'n kerkbasaar te wen.
Ons moes vroegoggend die nag se Sapa- en Reuters-kopie eerste ding van die teleksmasjiene in repe afskeur en aanmekaar speld vir keuring deur die hoofredaksie. Ek is linkshandig en les nommer een is jy moet die velletjies papier só speld dat dit nie 'n prik in die vingers van die regterhanders maak nie.
Ek word hofverslaggewer en as jong rugbyspeler sluit ek aan by die Polisieklub en ry saans in die blitspatrolliemotor en kry eerstehands berigte. Die sekretaris van die rugbyklub is die hofordonnans en soggens voor die howe begin, gee hy my voor mededingende koerantkollegas die hofboek sodat ek die sappigste sake eerste kan uitsoek en opvolg.
Daar vind 'n opspraakwekkende moord plaas. Margaret Rheeder, in haar oë 'n aantreklike maar fris in die dertigjarige vrou, vergiftig haar man, Ben, met arseen wat sy meng met Oxo om sy knaende maagpyn te verlig. Sy sê aan haar jong minnaar, 'n stoker, sy is moeg vir Ben se "ou afgelekte bene". Lorna van der Merwe en ek moet die hoërhofsaak doen. Ons sirkulasie styg van sowat 8 000 per dag na 13 000, ongehoord in die koerant se geskiedenis. Margaret kry die doodstraf en word die derde vrou in Suid-Afrika wat gehang word.
Ek skryf sport. Transvaal kom speel in die Baai teen die Oostelike Provinsie en Sondagoggend sit ek saam met die groot sportghoeroes van Johannesburg en berigte skryf. Hulle (ek verswyg name) het 'n hoge aand gehad en Sondagoggend is alles toe wat alkohol betref. Die een ou ken sy storie en stuur my na die noodapteek om Wincarness Tonic Wine by die bottels vol te koop om hulle dikkoppe te kuur. So leer mens. Sondagmiddagete vir 'n koerantman: 'n dae oue louwarm vleispastei by die Griek se kafee oorkant in Cawoodstraat.
Ek begin politiek doen. Vergesel minister Eben Dönges na Jansenville waar hy 'n verkiesingstoespraak vir die Nasionale Party in 1958 hou. Hy besoek die klein hospitaaltjie en ek neem die verpligte foto by 'n pasiënt. Reël met die posmeester dat ek so halftien getikte kopie op 'n amptelike perstelegram sal kom inhandig wat hy per SOS (Morsekode, dot-dot-dash) sal deurpons na die hoofposkantoor in Port Elizabeth, wat dit sal herlei na Die Oosterlig. Vandag is dit digitale selfone en blitssnelle kommunikasie; geen middelmense.
Een van ons skerpste kollegas is die rooikop Arthur Blake van Stellenbosch. Hy kom aan met 'n Messerschmidt-driewielmotor met 'n glasdop. Waar hy stilhou, verkyk die gemeenskap hulle.
Ons maak Vrydagaande ná saktyd 'n dop en Arthur koop 'n klomp tjops en wors en sit dit in sy lessenaar se laai om huis toe te vat. Natuurlik drink ons te veel en Arthur vergeet sy vleis.
Toe ons Sondag kom werk, steier ons met sakdoek voor die neus en soek naarstig na die oorsaak van die stank.
Arthur is platsak. Hy ry rond en laai sy tjor vol leë bottels en gaan ruil dit in vir kontant sodat ons darem iets te lawe het voor betaaltyd.
Die baas gaan middagete uit en die hoofsub het 'n vriendin wat naby by 'n bank werk en hy nooi haar oor en glip in die redakteur se kantoor.
"As jong rugbyspeler sluit ek aan by die Polisieklub en ry saans in die blitspatrolliemotor en kry eerstehandse berigte. Die sekretaris van die rugbyklub is die hofordonnans en soggens gee hy my die hofboek sodat ek die sappigste sake eerste kan uitsoek."
Die redakteur kom terug, draai aan die deur, dis gesluit en vra die sekretaresse: "Juffrou, wat gaan hier aan?"
Sy stamel verbouereerd, die hoofsub sluit die deur oop en sluip uit met die meisie skuilend agter sy rug. Vir 'n week het die redakteur nie met die hoofsub gepraat op nuuskonferensies nie.
Die Oosterlig is die weeskind van die Pers. Aan alles moet gespaar word. Die bestuurder, mnr. Sam Klopper, dink aan sy boeke en rantsoeneer die toiletpapier. Die redaksievroue moet vernederend by hom in sy kantoor aanklop vir 'n rol as hulle ontdek die papier is gedaan.
So het ons swaar gekry, maar flink berigte geskryf; groot natsteenpartytjies saam met die tegniese mense in die settery gehou en ingesuig geraak in die magiese kunde van die joernalistiek.
Oosterlig is vandag Die Burger-Oos, gehuisves in 'n redelik moderne gebou in Baakensvallei met moderne toerusting; digitaal en al.
Ek klink 'n nostalgiese glasie op Die Oosterlig, trapleer na bo in die wonderwêreld van die publikasiewese.
TON VOSLOO het in 1956, ná matriek, by Die Oosterlig begin werk. Daarna het hy vir Die Landstem in Kaapstad en vir Perskor se Dagbreek in Johannesburg gewerk. Hy was 'n stigtersredaksielid van die Sondagkoerant Die Beeld (1965), die voorloper van Rapport, asook van die dagblad Beeld (1974). In 1977 het hy Beeld se redakteur geword, in 1983 uitvoerende hoof van Naspers en in 1993 voorsitter. Hy het in 2015 afgetree. Die Burger-Oos se kantoor en drukkery in Port Elizabeth is na Vosloo genoem.
'n Jong Ton Vosloo voor sy tikmasjien.
'n Jong Ton Vosloo voor sy tikmasjien.
