Hier kyk ons na feite oor die entstof – ons praat met kenners om meer uit te vind oor die ontwikkeling van die vaksien, hoe dit werk en hoekom dit veilig is.

Van samesweringsteorieë tot kommer oor die veiligheid van entstowwe, baie waninligting doen die rondte. Ons het met kenners gepraat om die regte feite te kry en uit te vind hoe die entstof jou teen covid-19 beskerm.

Dís hoekom teenliggaampies teen covid-19 belangrik is

Hoe kan jy vasstel of jy teenliggaampies teen covid-19 het en wat beteken dit vir jou?


Dis een van die vele mediese gonswoorde wat jy deesdae hoor: teenliggaampies. En almal wil dit hê.

Want sodra jy ’n virus gehad het, ontwikkel jy teenliggaampies – die onsigbare “soldaatjies” wat in jou liggaam rondbeweeg en vir ’n ruk teen die infeksie baklei.

Maar is dit werklik beskerming teen nog aanslae deur die coronavirus? En kan dit jou ook beskerm teen die nuwe variant? Hoe weet jy of jy teenliggaampies het, en hoe werk dié verdedigingstelsel van jou liggaam?

Wat is teenliggaampies?

Teenliggaampies is proteïene wat immunoglobuliene of Igs genoem word.

Dit word deur die liggaam vervaardig as verdediging teen ’n infeksie, verduidelik dr. Vidya Lalloo, ’n spesialis in noodgeneeskunde by die Steve Biko Akademiese Hospitaal.

“Daar is vyf klasse teenliggaampies, maar as ons oor immuniteit praat, verwys ons gewoonlik na IgM- en IgG-teenliggaampies.”

Immunoglobulien M (IgM)

Dit is die eerste teenliggaam wat vervaardig word wanneer ons ’n infeksie opdoen.

Vervaardiging begin vinnig, binne drie tot tien dae nadat ’n infeksie opgedoen is, sê Vidya. Maar die produksie daal binne enkele weke.

Immunoglobulien G (IgG)

Hierdie teenliggaam word gewoonlik later geproduseer, ongeveer sewe tot 21 dae ná infeksie, en in gewone omstandighede duur die produksie maande of selfs jare langer as IgM.

Ongeveer 70-80% van die immunoglobuliene in die bloed is IgG en vorm die grondslag van langtermynimmuniteit.

Wanneer jy ’n infeksie het (behalwe by covid-19) bou die liggaam ’n katalogus van IgG-teenliggaampies op wat vinnig herproduseer kan word wanneer dit weer aan dieselfde infeksie blootgestel word.

Gewoonlik word genoeg IgG by mense met normale immuunstelsels vervaardig om herinfeksie te voorkom.

Maar dit lyk asof covid-19-teenliggaampies net beperkte beskerming teen herinfeksie bied.

“Hierdie teenliggaampies neem ook vinnig af, en by sommige pasiënte kan dit twee tot drie maande ná besmetting onopspoorbaar wees,” sê dr. Howard Newman, ’n kliniese viroloog by PathCare.

Hoe weet ek of ek teenliggaampies het?

Die meeste apteke, Clicks en Dis-Chem ingesluit, bied toetse aan met vinnige uitslae teen bekostigbare pryse.

Groot patologielaboratoriums bied omvattender toetse aan.

In ’n apteek

’n Paar druppels bloed van ’n vingerprik is nodig vir ’n laterale vloeistrooktoets waar ’n lyn sigbaar word as teenliggaampies voorkom.

Sommige van die toetse kan sowel IgG as IgM meet, sê Howard.

Maar omdat nie alle fabrikate van laterale vloeitoetse albei – IgG en IgM – optel nie, is dit miskien nie so akkuraat soos ’n toets wat in ’n laboratorium gedoen word nie.

Voordele: Uitslae is binne 15-30 minute beskikbaar. Koste sowat R130 tot R150.

Nadele: Vinnige teenliggaampietoetse is nie volmaak nie en kan vals as positief aangedui word.

Feite vs Fiksie: Als wat jy moet weet oor die entstowwe en hul veiligheid

Daar word baie verkeerde inligting oor covid-19 en die entstowwe op sosiale media versprei, sê die kenners.


Dit is die wêreld se beste hoop om ’n virus te verslaan wat reeds twee miljoen mense se dood veroorsaak het, 90 miljoen besmet het en wêreldwyd chaos en ellende veroorsaak het. Tog het baie Suid-Afrikaners aangedui dat hulle nie ’n entstof teen covid-19 sal aanvaar nie.

Daar is verskeie vrese: Die entstowwe is te vinnig ontwikkel. Dit kan my siek maak. Dan is daar die samesweringsteorieë - waaronder een dat ’n mikroskyfie in jou liggaam geplaas kan word wat die stigter van Microsoft, Bill Gates, in staat sal stel om jou op te spoor. ’n Ander glo weer die inenting bevat ’n skyfie wat met ’n satelliet verbind waarmee die miljardêr Elon Musk jou sal kan beheer.

Dis alles natuurlik loutere onsin, maar die owerhede staan ​​voor ’n opdraande stryd om mense te laat glo dat die entstowwe veilig is. Slegs ongeveer die helfte (53%) van Suid-Afrikaners het voor die koms van die inenting in ’n Ipsos-peiling aangedui dat hulle bereid is om ingeënt te word. En volgens ’n Afrobarometer-peiling wat die Instituut vir Geregtigheid en Versoening in Mei en Junie onder 1 600 Suid-Afrikaners gedoen het, is 42% van Suid-Afrikaners nie bereid om ingeënt te word nie, het Netwerk24 berig.

Die waninligting blaas die vrese aan, sê professor Rose Burnett, hoof van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Vaksinering en Immunisering aan die Departement van Virologie by die Sefako Makgatho-universiteit vir Gesondheidswetenskappe in Pretoria-Noord.

“Die onoordeelkundige gebruik van die sosiale media het misleidende inligting en samesweringsteorieë oor covid-19 soos ’n veldbrand laat versprei,” voeg sy by. “Die publiek word oorweldig deur angs en onsekerheid en weet nie wie om te vertrou nie.”

Die waarheid is dat sonder inentings siektes soos pokke en polio miljoene mense kan laat sterf. Masels, pampoentjies en Duitse masels (rubella) sou steeds ernstige siektes gewees het.

En sonder ’n entstof om covid-19 te bestry sal dit jare wees voordat die wêreld na normaal kan terugkeer. Hier is meer inligting oor die inenting wat jou lewe kan red. 

Hoe werk die vaksien?

Jou liggaam word blootgestel (meestal deur ’n inspuiting) aan verswakte of onaktiewe dele van ’n kiem. Jou immuunstelsel reageer op die entstof deur teenliggaampies te vervaardig. Die teenliggaampies vernietig die verswakte entstofkieme asof dit die siekte self bestry.

Hulle bly in jou liggaam en word weer “geaktiveer” om jou immuniteit te gee as jy aan die regte covid-kiem blootgestel word.

Eenvoudig gestel, entstowwe werk deurdat jy blootgestel word aan ’n veilige weergawe van ’n siekte, voordat jy blootgestel word aan die werklike siekte.

Is die inenting veilig?

Ja, sê Rose. “Entstowwe word aan streng veiligheidstoetse onderwerp en sal slegs in die mark vrygestel word as dit veilig en effektief is.”

Voordat ’n entstof aan lede van die publiek toegedien word, word dit eers op diere getoets, dan op groepe mense. Die entstof word deurlopend ondersoek om moontlike newe-effekte te monitor.

Ons het nou entstowwe om meer as 20 lewensbedreigende siektes te voorkom, waardeur mense langer en gesonder kan leef. Immunisering verhoed tans twee tot drie miljoen sterftes per jaar weens toestande soos witseerkeel, griep en masels.

Die groeiende teen-inentingsbeweging het daartoe gelei dat masels na sommige lande in die Noordelike Halfrond teruggekeer het waar dit al jare uitgeroei is, sê dr. Albie de Frey, ’n eredosent in reisgeneeskunde aan die Universiteit van die Witwatersrand. 

Wat van die spoed waarteen die covid-19-inenting ontwikkel is?

Daar is geen rede tot kommer nie, sê dr. Nokukhanya Msomi, hoof van virologie aan die Skool vir Laboratoriumgeneeskunde en Mediese wetenskappe aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste.

Gevorderde tegnologie deur die jare het die vinnige produksie van entstowwe moontlik gemaak. “Daar kan ligte entstofreaksies op kort termyn wees wat sonder komplikasies sal verdwyn, maar studies toon dat die covid-19-entstowwe veilig is.”

Gewoonlik neem dit ongeveer 10 jaar om entstowwe te ontwikkel, maar danksy die vordering in genoomvolgorde het navorsers die virusvolgorde van hierdie siekte in Januarie 2020 suksesvol vasgestel – ongeveer 10 dae ná die eerste aangemelde gevalle in Wuhan, China.

Maar dit beteken nie dat die entstof oorhaastig saamgestel is nie. Daar was oor die jare soveel vooruitgang in die wetenskap van entstofontwikkeling dat navorsers hierop kon terugval om die covid-19-entstof te ontwikkel.

Spesifieke tegnologie wat gebruik is vir die ontwikkeling van hierdie entstof, is ’n geruime tyd ondersoek, wat beteken dat dit nou vinniger as ooit gemaak kan word.

Hoewel dit mag lyk asof die inenting vreesaanjaend vinnig die mark bereik het, het wetenskaplikes eintlik inligting gebruik wat hulle al jare gelede opgedoen het om die entstof te ontwikkel.

“Die spoed van die ontwikkeling van hierdie entstof daag ons hele paradigma uit van wat moontlik is in entstofontwikkeling,” sê Natalie Dean, ’n biostatistikus aan die Universiteit van Florida in die VSA.

“’n Mens wil begin hoop dat ander entstowwe nou ewe vinnig gemaak kan word teen siektes soos tuberkulose en malaria, wat steeds miljoene lewens per jaar eis.”

Ekstra bronne: timeslive.com; dailymaverick.com; who.int; Netwerk24

Watter entstof moet jy neem teen delta?

Krap jy nog kop oor die entstowwe? Hier is alles wat jy moet weet oor die verskillendes en hoe dit werk.


Ons land is nou al maande lank in die greep van die coronakrisis en die onlangse derde vlaag van covid-infeksies was vernietigend en is voortslepend. Die hoogs aansteeklike deltavariant van die virus, met die kode B.1.617.2, is die dodelike stormwind wat infeksies soos wegholbrande aandryf.

Tans word sowat 8 000 nuwe gevalle per dag aangemeld nadat dié syfer einde Junie sowat 18 000 was. Ons totale covid-sterftesyfer is al in die omgewing van 80 000.

Die een ligpunt in hierdie duisternis is dat Suid-Afrika se inentingsveldtog, wat so pynlik stadig uit die wegspringblokke gekom het, blykbaar eindelik besig is om spoed op te tel.

Hoewel nog heeltemal te min Suid-Afrikaners reeds die prik van hoop aan hul arm gevoel het, begin die wiele vinniger draai.

Een rede is “instapinentings” wat nou ook toegelaat word, eerder as die frustrerende gewag op die SMS van die gesondheidsdepartement wat jou ontbied.

Elkeen van ons moet egter ons kant bring: Kry jouself so gou moontlik by die naaste inentingsplek, en wees geduldig as die tou lank is – dit kan jou lewe red. Maar presies hoe sal die entstof jou teen die nuwe deltavariant beskerm? En sal jy steeds beskerm wees as die virus weer muteer?

Ons het al jou brandende vrae aan die kenners gaan stel.

Wat is die deltavariant?

Tot nou toe is verskeie SARS-CoV-2-variante al aangeteken. Gelukkig verdwyn sommige variante weer kort nadat hulle opduik, sê prof. Hannelie Meyer, hoof van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Inenting en Immunisering (Savic).

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kategoriseer daarom alle gedokumenteerde variante as “variante van belang” of “variante van kommer”. En dit is laasgenoemde kategorie wat gesondheidsgevare inhou.

Wêreldwyd is daar tans vyf covid-variante van kommer: alfa (in Brittanje geïdentifiseer), beta (in Suid-Afrika gevind), gamma (eerste in Japan waargeneem), delta (uit Indië) en lambda (eerste in Peru bespeur).

“Die jongste variant van kommer is die delta, want dit word vinnig dominant in baie lande in die wêreld – insluitend Suid-Afrika,” sê Hannelie.

Prof. Barry Schoub, internasionaal bekende viroloog en hoof van die ministeriële advieskomitee oor covid-19, sê die alfavariant is hoofsaaklik in die Wes-Kaap aktief. “Sover ons weet, het ons nie die gamma in die land nie,” sê Barry.

Prof. Barry Schoub, viroloog en hoof van die ministeriële advieskomitee oor covid-19.

Terwyl Suid-Afrika sukkel om die verspreiding van die deltavariant te hanteer, het die lambda-stam begin kop uitsteek.

Teen 14 Junie het die WGO dit tot ’n “variant van belang” verklaar nadat lambda in 31 lande – onder meer Chili, Argentinië, Ecuador en Australië – gevind is.

Die lambdavariant, wat ook C.37 genoem word, is verantwoordelik vir sowat 81% van die gevalle wat in Suid-Amerika aangemeld word, maar dit is nog nie in Suid-Afrika bespeur nie.

Is die deltavariant se simptome dieselfde as die ander variante s’n?

Sedert die uitbreking van die pandemie is daar ’n openbare veldtog om mense bewus te maak van die algemeenste simptome van covid: ’n droë hoes, koors, verlies van smaak en reuk, borspyn en asemhalingsprobleme. Maar soos wat die virus muteer, wissel die simptome ook. Hoe dan nou?

Dis byvoorbeeld moeilik om die simptome van die alfavariant duidelik te omskryf, erken dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Mediese Vereniging van Suid-Afrika. “Ons het nie daardie inligting nie, want dit versprei nie vinnig in Suid-Afrika nie.”

Die betavariant – tot onlangs die oorheersende variant in Suid-Afrika – verklap sy teenwoordigheid in jou lyf met ’n seer keel, smaak- en reukverlies, hoë koors en liggaamspyn.

Wat die verwoestende nuwe deltavariant betref, is daar nog hopeloos te min inligting oor die simptome, bevestig Hannelie. Die vroeë simptome van infeksie blyk soortgelyk te wees aan dié van ’n gewone verkoue. “Dit sluit in ’n toe neus of ‘snuffels’, krapperige, jeukerige of seer keel, matige hoofpyn en moegheid.” Moenie dit sommer net as ’n verkoue wegpraat nie, want jy het moontlik covid. Laat jou toets as die simptome nie gou verdwyn nie.

Hoekom is die deltavariant so aansteeklik?

Die deltavariant is volgens die WGO die “vinnigste en sterkste” variant en is 60% aansteekliker as die ander. “Volgens voorlopige data word beraam dit is 30% tot 60% aansteekliker as Suid-Afrika se betavariant,” sê Hannelie.

Omdat dit so uiters aansteeklik is, versprei dit vinnig onder die oningeënte bevolking. Volgens prof. Ravindra Gupta, hoogleraar in kliniese mikrobiologie aan die Instituut vir Terapeutiese Immunologie en Aansteeklike Siektes aan die Universiteit van Cambridge, oorweeg wetenskaplikes twee komponente wanneer hulle na die oordraagbaarheid van enige virus kyk.

Eerstens bestudeer hulle wat die vinniger aanwas en aansteeklikheid van ’n virus kan veroorsaak. Maar daar is ook ’n “teenliggaam-ontsnappingskomponent” wat kyk na hoe die virus muteer om ons teenliggame te omseil.

“Dis hoekom mense wat voorheen met die betavariant besmet was, dalk nie teen die deltavariant immuun sal wees nie, en moontlik vatbaar sal wees vir herbesmetting,” sê Hannelie.

Hoe moet jy dit behandel?

Aangesien die simptome van die deltavariant dié van ’n gewone verkoue naboots, bestaan die gevaar dat mense dit kan ignoreer en hulle daarom nie sal afsonder of vir covid-19 laat toets nie.

Die meeste pasiënte het ’n matige infeksie, veral diegene in die jonger en gesonder ouderdomsgroepe.

“Ons het nog bewyse uit Suid-Afrika nodig, maar vroeë bewyse uit Brittanje wys daar is ’n verhoogde risiko vir hospitalisering binne 14 dae nadat jy positief getoets het vir covid-19,” sê Hannelie.

Terwyl daar geen klinkklare bewys is dat die deltavariant jou sieker as die ander sal maak nie, sê Barry dit is steeds belangrik om die simptome te behandel en die nodige voorsorg te tref as jy covid-19 het.

“As jy in kontak was met iemand wat positief is, en jy toon enige simptome drie tot vyf dae later, moet jy jou laat toets,” beveel hy aan.

Die kenners vermoed covid is hier om te bly. Net wanneer hulle dit in bedwang begin kry, muteer die virus weer en vind dit nuwe maniere om deur jou lyf se verdediging te dring. “Die virus sal altyd daar wees,” sê Barry.

“Maar ek dink die wetenskap sal later die variante oorwin.” Die eerste stap in hierdie teenaanslag deur wetenskaplikes is om seker te maak dat die virus nie soveel ernstige siektegevalle veroorsaak nie – en dis waar entstof so ’n kritieke wapen teen die virus is.

“As daar genoeg mense is wat teen die virus immuun is, hetsy deur besmetting of danksy die entstof, sal dit ophou sirkuleer. Hopelik sal dit later ’n geringe siekte wees.”

Terwyl die kenners aanhou leer oor die virus en sy variante, sal hulle ook mettertyd leer hoe om dit beter te bestuur, sê hy.

DIE ENTSTOWWE

Hoe doeltreffend is die J&J-entstof teen die variante?

Die goeie nuus, sê Hannelie, is dat die covid-19-entstowwe wat in Suid-Afrika versprei word, jou wel teen die ontwikkeling van ernstige siekte, hospitaalopname en dood weens die deltavariant beskerm.

Daar is nog nie kliniese toetsdata oor die doeltreffendheid van die Johnson & Johnson-entstof teen die deltavariant in Suid-Afrika nie, sê sy. Tog dui studies daarop dat die entstof dalk selfs doeltreffender is teen delta as teen ons ou opponent, beta.

Die J&J-entstof bied ’n geskatte 64% beskerming teen matige tot ernstige siekte en 82% beskerming teen kritieke covid-19.

Wat van Pfizer se dubbeldosis?

Op grond van data uit Brittanje gee die Pfizer-entstof ná die tweede dosis hoë vlakke van beskerming teen hospitaalopname weens die deltavariant. Die Pfizer-entstof bied 96% beskerming – effens beter as teen die alfavariant (95%).

“Wat beskerming teen matige simptome van die alfavariant vergeleke met die nuwe deltavariant betref, toon die Pfizer-entstof ’n effense vermindering in doeltreffendheid ná twee dosisse: van 93% tot 88%,” sê Hannelie.

Word ander entstowwe oorweeg?

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het goedkeuring toegestaan vir die noodgebruik van die CoronaVac-entstof wat deur Sinovac Life Sciences in China vervaardig word. Maar medeprofessor Kenneth Mak van Singapoer sê daar is “min data” oor die doeltreffendheid van die Sinovac-entstof teen die deltavariant.

Omdat dit baie lank vat om medisyne in Suid-Afrika te registreer, sal Sahpra nie die entstof registreer tensy hulle voldoende data daaroor het nie. Daar is ook voorwaardes verbonde aan die noodgebruik van die CoronaVac-entstof.

“Hulle moet periodiek verslae oor entstofveiligheid en die jongste toetsresultate verskaf vir die gebruik, of noodgebruik, om goedgekeur te kan word,” sê Hannelie.

Prof. Rose Burnett, ook van Savic, wys daarop dat Sahpra besig is met ’n “deurlopende oorsig” van die aansoek vir die Sputnik V-entstof wat in Rusland gemaak word.

Dit beteken Sahpra sal die maatskappy se data deurlopend hersien tot genoeg bewyse oor doeltreffendheid en veiligheid verskaf is.

Aangesien Sahpra geen aansoeke vir die registrasie van die entstowwe ontvang het wat deur Moderna en Novavax vervaardig word nie, kan hierdie entstowwe nie vir gebruik in Suid-Afrika oorweeg word nie.

Kan jy jou entstof kies?

Jy het nie ’n keuse watter entstof jy kry nie, want die regering kies watter entstowwe na die onderskeie inentingsplekke reg oor die land gestuur word. Hannelie sê die verskillende entstowwe word gelykop deur die provinsies versprei.

“Die regering oorweeg verskeie faktore, byvoorbeeld die beskikbaarheid van entstowwe en die logistiek wat benodig sal word. As dit byvoorbeeld ’n mobiele kliniek is, is die enkeldosis-J&J-entstof makliker om toe te dien,” sê sy.

Die J&J-entstof word hoofsaaklik vir onderwysers gebruik, terwyl die Pfizer-entstof op al die ander plekke beskikbaar is. As jy ’n allergiese toestand het wat jou verhoed om die entstof te kry by die plek waar jy aangemeld het, sal jy verwys word na ’n plek waar ’n geskikte entstof wel toegedien kan word.

“Maar as jy nie ’n allergieprobleem het nie, raai ek jou aan om die entstof te aanvaar wat daar en dan vir jou beskikbaar is, aangesien hulle almal min of meer dieselfde doeltreffendheid en beskerming bied.”

Hoe muteer die virus?

Lewendige selle muteer voortdurend. Maar dit is veral waar van virusse wat ribonukleïensuur (RNS) as hul genetiese materiaal bevat, soos die corona- en griepvirus. Volgens Rose muteer virusse weens ongekorrigeerde foute wat tydens kopiëring plaasvind.

“Die kopiëring van virusse met RNS-genome is besonder geneig tot foute, dus muteer hulle selfs meer as virusse met DNS-genome.”

In vergelyking met die alfavariant is daar ’n verhoogde risiko vir hospitalisering binne 14 dae nadat jy positief getoets het.

Die deltavariant is eenvoudig ’n suksesvolle SARS-CoV-2-mutant wat kan repliseer en baie goed aan vatbare gasheerselle heg. Dit is hoekom dit so baie muteer.

Barry sê die meeste mutasies het geen belang of betekenis nie, maar af en toe sal die mutasie die virus sekere eienskappe laat ontwikkel wat dit meer problematies maak. “Dit kan ernstiger siekte veroorsaak, aansteekliker wees of maak dat entstowwe nie so goed werk nie.”

Hoe werk entstowwe?

Verskillende entstowwe werk op effens verskillende maniere. Rose sê almal rig basies jou immuunstelsel af om mikroörganismes wat siektes veroorsaak te identifiseer en te neutraliseer – sonder om jou aan die werklike mikroörganisme bloot te stel.

“Byvoorbeeld, die covid-19-entstowwe wat in Suid-Afrika beskikbaar is, gebruik die stekelproteïen van SARS-CoV-2 om jou immuunstelsel af te rig. Wanneer jy ingeënt word, ontwikkel jou liggaam ’n reaksie teen die stekelproteïen van die SARS-CoV-2-virus,” verduidelik sy.

Wanneer jy dan aan SARS-CoV-2 blootgestel word, het jou liggaam reeds teenliggame. Dit stel jou in staat om die virus te bestry voor dit kan vermeerder, siekte vestig en jou plattrek.

Hannelie sê entstowwe is die enigste manier om ons land veilig nader te bring aan kudde-immuniteit. “Die covid-19-entstowwe wat ons in Suid-Afrika gebruik, het getoon dit is uiters doeltreffend om ernstige siekte as gevolg van covid-19 en sterfte weens covid-19 te voorkom,” sê sy.

Hoekom word entstof soms weggegooi?

Tot dusver het Suid-Afrika nog slegs ’n klein persentasie van die bevolking volledig ingeënt. En volgens Barry is daar baie inhaalwerk om te doen. Maar hoe strook dit met berigte oor besendings entstowwe wat aan die einde van die dag weggesmyt word omdat dit “nie hou nie”?

Hannelie sê daar sal altyd ’n sekere persentasie entstofvermorsing wees – en dat dit gewoonlik in belang van pasiënte se veiligheid is. Sy verduidelik entstowwe word op verskillende tegnologieë gegrond, met verskillende eienskappe, en gevolglik het elke entstof sy eie bergingsvereistes. Die tydperk wat dit teen ’n sekere temperatuur gestoor kan word, verskil ook van entstof tot entstof.

“Entstowwe wat aan ongewenste temperature blootgestel word, sal ’n gebrek aan doeltreffendheid hê, en dit kan tot nadelige gebeure ná inenting lei,” sê sy.

As daar enige afwyking van die bergingsvereistes was, moet entstowwe weggegooi word ter wille van die veiligheid van pasiënte. Maar die kenners sê een van die maniere om vermorsing te vermy is om instapinentings toe te laat weens die onlangse koers van mense wat nie opgedaag het nie.

Volgens Dis-Chem het sowat 70% van mense wat geregistreer het, nie vir hul inentings opgedaag nie.

Jy kan vir ’n afspraak by jou plaaslike apteek registreer as jy ver is van die plek wat die regering aan jou toeken. Om op die departement van gesondheid se Electronic Vaccination Data System te registreer het jy toegang tot die internet, jou ID- of paspoortnommer, kontakinligting en werk- of huisadres nodig.

Hannelie sê daar sal geen entstofvermorsing wees as jy verkies om liewer na ’n sentrum naby aan jou te gaan pleks van jou geregistreerde plek nie omdat die stelsel jou ID-nommer optel.

Instapinentings is nou ook oop ingeval jy jou eerste afspraak misgeloop het.

Ekstra bronne: News24.com, nytimes.com, businesstech.co.za, timeslive.com, dailymaverick.co.za, jnj.com, dailymail.co.uk, ngs-sa.org, nicd.ac.za, krisp.org.za

Hoe beïnvloed swangerskap jou kraamvoordele en mag jy aandring om tuis te werk, wat beteken diepskoonmaak en gebruik jy jou masker reg is vrae waaroor ons dikwels wonder. Lees wat sê die kenners.

Swanger tydens covid-19? Beskerm jouself só

Vergewis jouself van jou regte met die antwoorde op drie belangrike vrae:


Daar is nog geen klinkklare bewys dat swanger vroue wat die coronavirus opdoen sieker word as ander mense nie. Tog het toekomstige ma’s steeds kwelvrae.

Kan jou baas jou verplig om terug te gaan kantoor toe? Wat gebeur as jy die virus op kantoor opdoen? En sal jy nog die gewone kraamverlofvoordele kry nadat jy reeds ses maande tuis gewerk het?

Ons beantwoord drie kernvrae oor jou swangerskap en die pandemie.

Kan ek verplig word om op kantoor te werk?

Jou werkgewer is wetlik verplig om te verseker jou werkomgewing hou nie ’n gesondheidsgevaar in nie.

Gevolglik maak heelparty base planne om hul swanger werknemers teen infeksie te beskerm. Gesels dus met jou baas oor die volgende:

Beperkte blootstelling aan byvoorbeeld kliënte, of jou eie kantoorruimte. (As laasgenoemde vir jou gehuur word, behoort dit nie van jou salaris verhaal te word nie.)

Spesiale vervoerreëlings indien jy gewoonlik openbare vervoer gebruik.

Jy kan ook bykomende betaalde verlof vra op voorwaarde dat jy dit later terugwerk.

Sodra jy 28 weke of meer swanger is, is jy in dieselfde risikogroep as werknemers met chroniese siektes soos diabetes. Dis baie moontlik dat jou werkgewer jou dan sal verplig om tuis te werk.

Belangrik

Jy mag wel weier om terug te keer werk toe – mits jy kan bewys dat jy ’n baie ernstige risiko loop om aan covid-19 blootgestel te word. Stel dadelik jou werkgewer, of die werk se gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger, in kennis as dit die geval is.

Jy sal ook redes moet verskaf waarom die kantoor nie veilig is vir jou nie sodat jou werkgewer dit kan probeer regstel. Jou werkgewer mag nie aftrekkings van jou salaris maak as jy om hierdie rede nie kan terugkeer werk toe nie.

Hoe werk kraamverlof tydens die pandemie en inperking?

Dit moet soos onder gewone werkomstandighede toegepas word. Daarom kan jy dit selfs tydens die inperking neem.

Volgens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is jy geregtig op minstens vier opeenvolgende maande kraamverlof. Dit kan enige tyd vanaf vier weke voor die verwagte bevalling geneem word, of vanaf ’n datum wat jou dokter aanbeveel.

Jy mag ook nie voor ses weke ná die geboorte van jou kind terugkeer werk toe nie, tensy jou dokter dit goedkeur.

Onthou

Jou werkgewer is nie wetlik verplig om jou te betaal terwyl jy met kraamverlof is nie tensy:

jou dienskontrak uitstippel dat jy gedeeltelik of ten volle tydens kraamverlof betaal sal word; of

as dit deel is van die maatskappy se beleid om swanger werknemers te betaal. As jy nie jou volle salaris ontvang nie, kan jy kraamvoordele van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) eis – mits jy daartoe bygedra het. Jou werk se afdeling vir menslike hulpbronne sal vir jou sê of jy bygedra het en jou help om die regte aansoekvorms te kry.

Wenk

Vir aanneemouers geld dieselfde kraamvoordele tydens die inperking en pandemie as onder normale werkomstandighede. 

Kan swanger werknemers afgelê word?

Diskriminasie teen swanger werknemers is onwettig. Jy mag nie afgelê word bloot omdat jy swanger is nie. Maar swanger werknemers mag nes enige ander werknemers afgelê word weens bedryfsredes, byvoorbeeld as die hele onderneming agteruitgaan weens die swak ekonomie.

Jou werkgewer moet bewys daar is werklike redes vir die aflegging en dat dit onvermydelik is. Jou werkgewer moet ook ’n behoorlike afleggingsproses volg.

Dit behels onder meer dat jy alternatiewe voorstelle kan maak, soos om halfdag te werk pleks van voldag om koste te verminder. Jy moet ’n behoorlike kennistydperk kry, na gelang van jou jare diens.

Jy moet betaal word tydens die kennistydperk, al hoef jy nie dan te werk nie. Jy sal ook geregtig wees op die volgende betalings in die geval van aflegging:

  • ’n skeidingspakket gelykstaande aan minstens een week se besoldiging vir elke jaar van aaneenlopende diens;
  • jou salaris tot en met die laaste werkdag;
    alle betalings aan jou verskuldig, soos kommissie en oortyd;
  • alle opgehoopte verlof;
    as jy lid van die maatskappy se aftreefonds is, moet dit uitbetaal word volgens die aftreefonds se reëls;
  • en enige pro rata-bonus waarop jy ingevolge jou kontrak geregtig is. As jy reken die aflegging is onregverdig, kan jy die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) om hulp vra. 

Kry hier nog raad: www.legalwise.co.za WVF: www.labour.gov.za; KVBA: www.ccma.org.za, of bel die kontaksentrum by 086 116 1616

KVBA: www.ccma.org.za, of bel die kontaksentrum by 086 116 1616

Wat behels diepskoonmaak teen covid-19?

Jy het jou seker al vasgeloop in ’n bordjie op ’n winkeldeur wat lui: “Closed for deep cleaning”. Hoekom is hierdie ingrypende skoonmaakproses nodig en wat behels dit alles?


Deesdae gebeur dit gereeld dat skoonmakers in oorpakke winkels diepskoonmaak om die coronavirus te verdryf. Wat behels dié proses?

Jy het heel moontlik al tydens die covid-19-pandemie in jou spore voor jou plaaslike supermark vasgesteek toe jy sien die deure is helder oordag skielik bottoe.

Op ’n kennisgewing buite die winkel pryk dalk die woorde: “Closed for deep cleaning.”

Ja, dít is dikwels kodedaal wat verklap een van die winkel se personeellede het positief vir die coronavirus getoets – maar ook ’n bevestiging dat die winkel eers diep reiniging sal ondergaan voor dit weer oopgemaak word.

Maar wat presies behels daardie diep reiniging?

Hoe word die virus verdryf uit ’n ruimte wat so groot en volgepak is soos ’n supermark? Hoe seker kan jy wees dat dit daarna veilig is om soontoe terug te keer? En is dit veilig om kos uit daardie winkel te eet? Hier is die antwoorde op jou vrae oor die diepskoonmaak van supermarkte.

Diepskoonmakers – elk in ’n wit oorpak toegerits en met blou handskoene, ’n beskermende bril en ’n asemhalingsmasker – is die superhelde van ontsmetting in die stryd teen supervirusse.

Hulle word deur kleinhandelreuse ontbied wanneer die onsigbare vyand toeslaan. Die diepskoonmaak van ’n supermark of apteek is ’n ingewikkelde werk met ’n streng veiligheidsprotokol.

Alle beskermende toerusting wat die skoonmakers dra, moet deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) goedgekeur wees.

Net mense sonder mediese toestande soos diabetes en hartsiektes word vir hierdie dienste opgelei.

“Gesondheid en veiligheid sal altyd ons eerste prioriteit wees, en nou meer as ooit kan daar absoluut geen verslapping daarvan wees nie,” sê Nathalie Leblond, kategoriebestuurder by die diepskoonmaakonderneming Rentokil Initial.

Dié onderneming is al ontbied om verskeie groot kruidenierswinkels landwyd skoon te maak nadat daar gevalle van covid-19 onder hul werknemers was.

“Ons tegnici is met die gevorderdste en doeltreffendste toerusting toegerus,” vertel Nathalie.

Die tegnici word in twee spanne verdeel – ’n diepskoonmaakspan wat met die hand skoonmaak en gewoonlik uit drie tot ses mense bestaan, en ’n ontsmettingspan van een tot vier mense.

Dié soort skoonmaak is ’n lang proses, vertel Calvin Probert van Pro Cleaning Specialists in Kaapstad. Sy onderneming maak supermarkte weekliks as voorkomende maatreël skoon.

“Dit kan tussen twee en twaalf uur neem na gelang van die grootte van die winkel,” verduidelik hy.

Die begin

Sy onderneming stel eers vas wanneer covid-19 by die werknemer gediagnoseer is, want dit bepaal die risikovlak op die perseel, sê Mario Pluke, ’n tegniese bestuurder by Rentokil.

Die tegnici identifiseer dan saam met die winkeleienaar of -bestuurder die area wat dalk deur dié personeellid besmet is. “ ’n Perseelrisikobeoordeling word dan gedoen. Dit help ons die nodige inligting inwin om te bepaal waar en wanneer die werk gedoen moet word, hoe dit veilig gedoen kan word en wie dit sal doen,” verduidelik Mario.

Die skoonmaakproses

Dit behels twee stappe: eers diepskoonmaak, dan mikrobiese wasembehandeling. “Diepskoonmaak vereis dat ons areas fisiek skoonmaak deur vloere te skrop en toonbanke en toerusting af te vee,” sê Calvin.

“Wanneer dit afgehandel is, ontsmet ons span die hele winkel deur dit met mikrobiese wasem te behandel.”

Behandeling met mikrobiese wasem is wanneer ’n sproei – met bestanddele wat alle virusse, bakterieë en swamme kan doodmaak – in ’n besmette area gespuit word.

Dit bevat ’n stof wat patogene soos virusse en bakterieë wat siekte veroorsaak vinnig en doeltreffend uitwis en die risiko vir siekte en kruisbesmetting verminder.

Die fyn mis van die ontsmettingsproei sif op alle oppervlakke neer, ook ontoeganklike plekke wat nie maklik met die hand skoongemaak kan word nie.

Die mis hoef nie afgevee te word nie, want dit verdamp vanself. Die mikrobiesewasemmetode kan so min as ’n halfuur in beslag neem, maar daarna is minstens vier uur nodig om die sproei te laat neersif en vir die wasem om te verdamp.

In dié tyd mag daar geen mense in die winkel wees nie. Wanneer die mis eers klaar gespuit is en die wasem verdamp het, is dit veilig.

Maar as jy bekommerd is dat dit op items soos blikke en flesse beland het, kan jy dit by die huis afvee voor jy dit tussen jou kruideniersware wegpak.

Dit is veral belangrik om direkte raakpunte in die winkel – gewoonlik die rakke op skouer-tot-heuphoogte – te ontsmet, en dit word met die hand gedoen.

Winkelrakke, handvatsels en toonbanke is die waarskynlikste oppervlakke waar die coronavirus te lande kan kom en waarvandaan dit verder kan versprei; daarom word dit met die hand ontsmet.

Die toerusting

Om ’n winkel te ontsmet word een van twee metodes van behandeling met mikrobiese wasem gebruik: ultralaevolume (ULV)-bespuiting en hitte-wasembehandeling.

Die metodes het dieselfde uitwerking, maar die aanwending verskil. “Hitte-wasembehandeling skep ’n mistige effek, terwyl die ULV-bespuiting ’n natter mis skep,” verduidelik Mario.

“Albei metodes is uiters doeltreffend om ’n area te ontsmet en word gebruik elke keer wanneer ’n supermark of apteek skoongemaak moet word.”

Onder die toerusting vir diepskoonmaak tel meganiese skropmasjiene, hoëdruk- en stoommasjiene en kleurgekodeerde mikrovesellappe en skropkussinkies.

Die onderskeie lappe word volgens kleur gekodeer na gelang van waarvoor hulle gebruik word, verduidelik Calvin.

Rooies word byvoorbeeld gebruik vir sanitêre toebehore en waskamervloere, geel vir wasbakke en waskameroppervlakke, groen vir algemene kosgebruik en blou vir laerisikoareas.

“Dis belangrik om vars vrugte en groente voor gebruik af te spoel.”

Moet elke liewe item skoongemaak word?

Nee, dit is nie nodig om elke produk fisiek skoon te maak nie, want met party items is die risiko klein dat dit besmet is, sê Calvin.

Ook dele van die winkel waartoe die siek werknemer beperkte toegang gehad het of waar hy glad nie tyd deurgebring het nie, word as laerisikoareas beskou.

As die werknemer wat positief getoets het met spesifieke produkte gewerk het, sal hulle met die hand skoongemaak word. So nie word die ULV-wasembehandeling of ontsmettingsproei gebruik om produkte te reinig.

“Die reusevoorraad in ’n groot kleinhandelswinkel maak dit onmoontlik om elke item met die hand te ontsmet,” beaam Mario. Hy beveel ook ULV-wasembehandeling aan.

Wanneer ’n skoonmaakonderneming ’n supermark ontsmet, moet alle oop, rou en bederfbare kos soos vleis, vis of deli-produkte verseël en in ’n koelkamer geplaas word.

“Dit is dieselfde as hul daaglikse oppakroetine voor sluitingstyd,” verduidelik Mario.

Onverpakte kos wat nie in koelkamers bewaar hoef te word nie, soos vrugte en groente, sal wel aan die ontsmetmiddel blootgestel word. Maar Mario en Calvin benadruk dat die ontsmetmiddel wat hulle gebruik deur die SABS goedgekeur en veilig is vir gebruik in alle omgewings waar kos gehou word.

“Daarom is dit belangrik om alle vars vrugte en groente voor gebruik af te spoel,” beklemtoon Mario.

Tydens die aanvanklike risikobepaling van die perseel stel die skoonmaakonderneming vas of die siek werknemer dalk met of naby enige van die oop kosse gewerk het.

Enige moontlik besmette kos word verwyder en na ’n stortingsterrein vir gevaarlike afval gestuur.

Luggate en ligte

Dit word nie gereeld aangeraak nie en is ook nie in ’n hoërisikosone nie; daarom is dit onwaarskynlik dat dit met enige partikels van die coronavirus besmet sal wees.

“Maar dit is die soort ding wat ons tydens ’n perseelondersoek sal vasstel,” voeg Mario by.

“As die werknemer wat positief getoets het byvoorbeeld op ’n leer gestaan het om die luggate te herstel, sal ons die situasie beoordeel en dalk aanbeveel dat die luggate met die hand ontsmet word.”

Gewoonlik is ULV-wasembehandeling of ontsmettingsproei voldoende om lugpasstukke te reinig, tensy dit om ’n spesifieke rede met die hand skoongemaak moet word.

Die wete dat ’n supermark so diep en deeglik van hoek tot kant skoongemaak is, is gerusstellend wanneer die deure weer oopswaai en jy dit met jou masker en trollie na binne waag.

Dan kan dinge weer soos gewoonlik voortgaan – wel, darem amper. 

Hoe jou masker jou beskerm

Dis verpligtend in Suid-Afrika om ’n masker buite jou huis te dra. Hoe beskerm dit jou teen covid-19?


Die dra van maskers word wetlik afgedwing. Kenners sê hoekom dit noodsaaklik is om jou teen covid-19 te beskerm.

Eens op ’n tyd het jy dit net in mediese dramas of wetenskapsfiksieflieks gesien. Toe verander die coronavirus die wêreld oornag – en nou is maskers so deel van die alledaagse lewe soos sitplekgordels.

Van dag 1 van die inperking af was die dra van maskers in Suid-Afrika verpligtend, en nou is dit ’n oortreding om dit sonder een buite te waag tussen ander mense of in openbare plekke.

Mediese kenners is dit eens dat maskers, tesame met gereelde handewas en sosiale distansiëring, die beste beskerming teen die oordrag van die virus bied. Tog sien jy oral mense wat nie maskers dra nie. Sommige sê dis snert; ander beweer hulle kan nie maskers kry nie.

Die wetenskap agter die masker

Die virus word hoofsaaklik op twee maniere oorgedra, sê dr. Emmanuel Taban, ’n pulmonoloog van Pretoria: tussen mense deur respiratoriese druppels en deur persoonlike kontak.

Die respiratoriese druppels is klein deeltjies afskeiding soos speeksel wat deur die lug trek as jy hoes, nies of selfs net praat. Dit kan tot 2 m ver oorgedra word en vir beperkte tydperke in die lug bly hang.

“Maskers kan gesonde mense beskerm teen respiratoriese oordrag deur siek mense en ook verhoed dat die siek persoon die virus aan ander oordra,” sê Emmanuel. Die dra van maskers alleen verlaag die oordragtempo van 17% tot 3%.

Maar nie alle maskers lewer dieselfde resultate nie. Volgens navorsers van die Florida Atlantic University in Amerika is “tuisgemaakte maskers wat goed pas, gemaak van veelvuldige lae kwiltmate­riaal en die vormpassende maskers wat jy kan koop die doeltreffendste om druppelverspreiding te verminder.”

Navorsers aan die universiteit se ingenieurswesedepartement het drie verskillende soorte gesigbedekkings getoets: serpe (een laag), gevormde maskers en tuisgemaakte maskers met twee lae katoenlap.

“Die resultate het getoon dat serpe wat losserig om jou gesig gedraai is wel druppels in die lug in ’n sekere mate keer. Tuisgemaakte maskers met veelvuldige lae wat goed pas en gevormde maskers was egter die doeltreffendste,” het die navorsingspan geskryf.

“Sonder ’n masker het die druppels meer as 2,4 m beweeg. Met ’n serp het dit 1 m ver deur die lug gevorder; met ’n gevoude katoensakdoek voor die gesig 38 cm ver; met die gestikte katoen­masker 6 cm ver; en met ’n gevormde masker 20 cm ver.

In ’n studie wat in die mediese joernaal Health Affairs verskyn het, is bevind tussen 230 000 en 450 000 covidgevalle is verhoed danksy die verpligte dra van maskers in sommige lande.

Hoe ver vlieg daardie druppels?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het aanvanklik aangedui dat die siekte nie lugoordraagbaar is nie, maar het vinnig daarna van deuntjie verander.

Emmanuel verduidelik dat covid-19 (die “19” beteken dis in 2019 geïdentifiseer) ’n nuwe soort coronavirus is. Wetenskaplikes en navorsers ontdek dus gedurig iets nuuts daaroor.

Lugoordrag is die verspreiding van infeksie deur druppels wat aansteeklik bly oor lang afstande en tydperke in die lug. Volgens Emmanuel kan besmette druppels tot drie uur in die lug bly hang.

“Met ’n nies kan die druppels tot 8 m beweeg, en met ’n hoes kan dit 6 m beweeg. As ’n siek persoon bloot praat, kan sy speeksel die besmette druppels tot 2 m ver laat beweeg. Spoeg is dieselfde as om te nies – die druppels kan tot 8 m beweeg.”

Hy kan die belang van veiligheidsmaatreëls nie oorbeklemtoon nie.

“Om infeksie met die coronavirus te voorkom moet die publiek omvattende voorkoming soos handewas of ontsmetting toepas, ’n sosiale afstand van minstens 2 m handhaaf en altyd maskers in die openbaar dra,” sê hy.

Hoekom skop party mense daarteen vas om ’n masker te dra?

Dr. Refilwe Setshedi, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg, sê daar is ver­skeie redes.

“Daar is diegene wat na die nuus luister, van die pandemie hoor en glo die bedreiging is werklik. Hulle dra maskers. Aan die ander kant het jy mense wat na dieselfde nuus luister, maar bloot nie glo dis waar nie. Hulle sien dit as ver verwyderd van hulle en dra nie maskers nie.”

Laasgenoemdes se persepsies verander gewoonlik slegs wanneer hul geliefdes covid-19 opdoen.

Nog ’n faktor is die gemengde bood­skappe wat mense kry van diegene in gesagsposisies of met sosiale invloed.

Refilwe sê mense wil hulle skaar by diegene wat hulle bewonder en sal dus hul optrede naboots en subgroepe vorm. As hulle ’n bekende persoon aanhang en dié dra nie ’n masker nie, sal hulle dink: Hoekom nie ek ook nie? “Die invloed van mense in die kollig is baie sterk. Dit kan nie geïgnoreer word nie.”

Daar is ook mense wat rebelleer teen die werklikheid van die virus.

“Die normale lewe is versteur op maniere wat ons nooit sou kon dink nie,” sê Refilwe. “Om nie ’n masker te dra nie kan ’n manier wees om beheer oor die lewe te probeer herwin deur te besluit om te weier om in vrees vir die pandemie te leef.

“Hulle wil hul lewe terug in eie hande neem.”

Maar die beste manier om nou jou lewe en dié van ander te beskerm is om altyd ’n masker te dra wanneer jy ’n voet buite die deur sit.

Riglyne vir lapmaskers

Jou masker moet jou neus én mond heeltemal bedek.

Moet dit nooit laat sak om te praat, hoes of nies nie.

Vermy dit om aan jou masker te raak, want jy kan covid-19 met jou hande versprei. En moet nooit aan die binnekant van jou masker raak nie.

Was jou hande voor en nadat jy jou masker ver­wyder.

Was jou masker in warm, seperige water en stryk dit wanneer dit droog is. Stryk help met ontsmetting; dieselfde geld as jy dit in sonlig laat droog word.

Gebruik daagliks ’n ander masker.

Elke persoon moet ideaal gesproke drie maskers besit – een om te dra, een in die was en ’n ekstra een.

Hier is nuttige wenke wat jou en jou geliefdes kan help om die pandemie en sy uitwerking beter te hanteer.

Is jy genooi na ’n partytjie of beplan jy een? Hier is hoe jy jou kan beskerm teen covid-19

Groter kuiers is toelaatbaar onder vlak 1 van die inperking, maar dit beteken nie jy kan versigtigheid oorboord gooi nie. Hier is ’n paar nuttige wenke om jouself te beskerm indien jy ’n samekoms van mense beplan of een bywoon.


Noudat ons vlak 1 van die inperking bereik het, is dit maklik om jou hoede te laat sak en die lewe te geniet, maar wees versigtig vir ’n valse gevoel van veiligheid.

Die vlak van inperking is dalk afgeskaal, maar covid-19 is nog al die pad in ons midde. Nuwe infeksies word nog daagliks aangemeld en mense sterf steeds. Mediese beamptes en kenners waarsku daarom dat dit belangriker is as ooit om versigtig te wees soos wat inperking-tamheid toeneem.

“Eensaamheid en isolasie het ’n geweldige impak op ons geestesgesondheid gehad,” sê Allengary Naicker, sielkundige van Kaapstad. “Baie van ons wil graag tyd saam met familie en vriende bestee, maar dit bly belangrik om elke sosiale geleentheid en die potensiële risiko’s, veral vir ouer mense en mense met komorbiditeite, in ag te neem.

“Ons moet onsself die moeilike vraag afvra oor wat dit beteken om verantwoordelikheid vir ons eie gesondheid asook die van ander te neem.”

Maar dit beteken nie jy mag nie pret hê nie. Dit gaan daaroor om die fyn balans te vind waar almal veilig en gemaklik is.

Jy as gasvrou

Volgens die departement van gesondheid kan elkeen van ons op enige tyd aan die coronavirus blootgestel word, dus is dit noodsaaklik om voorsorg te tref.

Vind eers uit watter veiligheidsmaatreëls mense teen covid-19 volg voor jy hulle na jou huis oornooi, want jy wil nie die kans waag om die virus te kry van iemand wat nie dieselfde respek vir die reëls het as jy nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel aan dat jy die maatreëls wat jy tuis volg by die uitnodiging insluit, saam met ekstra voorsorgmaatreëls wat jy tref vir die geleentheid.

Party mense kan asimptomaties of pre-simptomaties wees en geen simptome hê wat wys hulle is siek nie, waarsku die departement van gesondheid. Vra gaste vooraf of hulle in die 14 dae voor die geselligheid aan die virus blootgestel is. Indien wel, of as hulle vermoed hulle kon blootgestel gewees het, is dit beter as hulle dit nie bywoon nie.

Hou ook die getal gaste min – onder 10 bly die beste – om te verseker mense handhaaf die departement se voorgestelde sosiale afstand van 1,5 m tot 2 m.

Onthou, die dra van maskers word deur wetgewing afgedwing. As ’n guns vir jou gaste kan jy vooraf maskers was en uitdeel wanneer hulle opdaag, tesame met klein bottels handreiniger, stel die Amerikaanse geleentheidsmaatskappy Wedgewood Weddings voor.

Jy as ’n gas

Moenie enige sosiale geleentheid bywoon as jy ongesteld voel of vermoed dat jy aan die virus blootgestel was nie, waarsku Amerika se sentrum vir siektebeheer en -voorkoming.

Jy mag – en dit is binne jou regte – die gasvrou vra hoeveel mense die geleentheid gaan bywoon voordat jy besluit of jy gaan, sê Allengary. As dit jou ongemaklik maak om tussen te veel mense te wees, het dit geen sin om die viering by te woon nie, aangesien jy te angstig gaan wees om dit te geniet. Dra jou masker wanneer jy nie eet of drink nie, en was of ontsmet jou hande gereeld.

Veiligheid eerste

Buitemuurse byeenkomste is verkieslik, maar as dit nie moontlik is nie, maak seker daar is genoeg ventilasie en dat gaste sowat 2 m van mekaar af sit.

Die Kaapstadse geleentheidsbeplanner Tara Eagles stel voor jy lui ’n klokkie of laat ’n alarm elke 30 minute afgaan om almal te herinner om hul hande te ontsmet. “Maak seker jou gaste deel nie glase of eetgerei nie. Maak naamplaatjies vir elkeen se sitplek en sorg dat elkeen se wynglas ’n unieke hangertjie aan het,” sê sy.

“Jy kan hierdie voorbereidings selfs ’n pretaktiwiteit vir jou kinders maak en hulle vra om jou te help. Maak ’n handreinigingrooster vir die dag en vra ouer kinders om te help dat gaste daarby hou. Jy kan hulle aan die einde van die geleentheid ‘beloon’ vir hul hulp.

“Plaas ook al die kos op een tafel, maar sê vir gaste dis nie ’n buffet nie. Vra dan een of twee mense om vir almal op te skep en maak seker hulle was hul hande deeglik voor die tyd. Hulle kan ook weggooibare handskoene gebruik. Laat hulle ook heeltyd ’n masker dra wanneer kos of eetgerei hanteer word. Nog ’n opsie is dat gaste hul eie kos bring.”

Gaste behoort te alle tye hul maskers op te hou, behalwe wanneer hulle eet of drink. Hou ’n paar skoon maskers byderhand indien iemand hulle s’n vergeet.

“En bedien nie-alkoholiese drankies sover moontlik om roekelose gedrag onder die invloed te vermy – ons het almal daardie een familielid wat ’n bietjie te wild kuier,” sê Tara.

Laat jou gaste met kort tussenposes arriveer om ’n samedromming by die voordeur te vermy, voeg sy by. En onthou om slegs met die elmboog of voet te groet pleks van soen en druk. Sorg dat daar genoeg reiniger beskikbaar is om hande en oppervlakke gereeld te ontsmet. Jy kan dit strategies naby jou voordeur of ander items of areas waaraan gereeld geraak word, neersit.

Die toilet, wasbak, krane en deurhandvatsels behoort elke keer nadat iemand in die badkamer was, gereinig te word. Vra vooraf jou gaste om dit te doen, sê Tara.

Die gebruik van ’n ontsmettingsproei op toilet- en badkameroppervlakke nadat jy jou hande gewas het, is ’n puik idee om hierdie areas veilig te hou. Sit ook papierhanddoeke neer vir gaste om hul hande af te droog, met ’n houer naby die wasbak waar hulle die gebruikte papierhanddoeke kan weggooi.

Hoe om nee te sê

Jy hoef nie ’n uitnodiging te aanvaar as jy enigsins ongemaklik voel om dit te doen nie, sê Allengary.

“Ek voel so angstig, ek dink dit is beter om tuis te bly” of “Ek is bekommerd oor my ma en pa se gesondheid, so ek sal nie die uitnodiging kan aanvaar nie” is goeie maniere om jou angstigheid te verwoord, meen sy.

Moenie ja sê vir ’n uitnodiging as jy weet jy gaan nie die geleentheid bywoon nie. Deur nie op te daag nie, breek jy die vertroue in ’n vriendskap af.

“Wanneer jy nee sê, skep dit gesonde grense,” sê Kissy Naude, ’n leefstylafrigter van Kaapstad.

“Bedank jou gasvrou vir die uitnodiging, maar verduidelik dat jy steeds ongemaklik is oor sosialisering in groepe. Eerlikheid bly maar die beste.

“Sê vir haar jy sal dalk later in ’n beter posisie wees om ’n groepsgeleentheid by te woon en dat julle altyd solank virtueel kan kuier,” voeg sy by.

Gee terug

As jy besluit om ’n viering klein te hou – en dit is natuurlik die beste manier – kan jy dit oorweeg om die kos of geld wat jy op ’n deftige ete of verjaardagpartytjie sou bestee, te skenk om minderbevoorregtes te help.

Kontak jou naaste koskombuis, kinderhuis of tehuis vir bejaardes en vind uit hoe jy kan help.

Om ’n geskenk te gee wat bly gee, kan jy maandeliks tot ’n plaaslike of nasionale voedingskema bydra. Onder die organisasies wat jy kan oorweeg, is The Lunchbox Fund, Food Forward SA, Siyabonga Africa in Gauteng en Ladles of Love in Kaapstad.

 

Wat as ek en my familie oor die inenting verskil?

Menings oor die entstof teen covid-19 is uiteenlopend. Hoe gemaak as jy en geliefdes nie om dieselfde vuur sit hieroor nie?


Sy is gedwing om mense uit haar vriendekring te sny wat weier om die inenting te ontvang. “Dis jammer,” sê aktrise Jennifer Aniston in ’n onlangse onderhoud met die tydskrif InStyle, “maar sy het nie tyd vir mense wat teen die inenting gekant is of bloot nie ag slaan op die feite nie.

“Ek het mense verloor wat weier om ingeënt te word of nie openbaar maak of hulle die inenting ontvang het nie en dis ongelukkig. Dit is effens netelig, want almal is geregtig op ’n mening – maar baie daarvan voel vir my is bloot gegrond op vrees en propaganda.”

Jennifer se standpunt mag dalk neerkom op jy doen dinge op my manier, daar is nie ’n ander opsie nie, maar dit het wel die kollig geplaas op ’n belangrike kwessie: Hoe praat jy met iemand wie se standpunt oor die inenting van joune verskil?

Twis in die familie of onder vriende is nooit maklik nie – veral as dit jou naastes verdeel oor belangrike besluite.

En die afgelope tyd worstel baie families en vriendekringe reg oor die land met dieselfde twisappel: Hoe gemaak as sommige mense in die groep glo die inenting teen die coronavirus is noodsaaklik terwyl ander skrikkerig is of botweg weier om ingeënt te word?

Wetenskaplikes en medici beskou die entstof as die beste manier om die coronavirus hok te slaan en mense te beskerm; tog is baie mense reg oor die wêreld nog agterdogtig daaroor.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Een uit vier mense is huiwerig om hul inenting te kry, terwyl een uit 15 sterk daarteen gekant is, het ’n opname genaamd die Coronavirus Rapid Mobile Survey onlangs getoon. 

En vir diegene wat voor in die ry was om die entstof te kry, of nog desperaat daarop wag, kan ander se onwilligheid om dit te kry frustrerend en verwarrend wees.

“Die debat rondom die entstof is ’n emosionele een,” sê Lauren Moss, ’n sielkundige van Sandton. “Baie mense is huiwerig as gevolg van redes wat nie met wetenskaplike feite verband hou nie, maar met persoonlike, morele of vreesbevange standpunte. 

“Wanneer ’n standpunt aan emosies, waardes of oortuigings gekoppel word, kan mense onwillig wees om alternatiewe te oorweeg.”

Die debat is veral plofbaar omdat baie mense dit as ’n saak van lewe en dood beskou.

“Daar is ’n groot hoeveelheid vrees agter die meningsverskil. As jy aan die een kant van die kwessie staan, kan jy bang wees dat ander werklik siek sal raak en moontlik kan sterf indien hulle nie die entstof kry nie,” sê Lauren.

“As jy aan die ander kant staan, kan jy bang wees dat jy jou gesondheid op die spel plaas as jy die inenting kry. 

“Vrees word aangedryf deur ’n groot hoeveelheid waninligting en samesweringsteorieë oor die veiligheid en doeltreffendheid van entstowwe – en dit maak gesprekke daaroor nog ingewikkelder.”

Tog is hierdie gesprekke belangrik. Maar hoe praat jy met jou mense as die vraagstuk julle verdeel?

Bespreek dit, maar moenie ander se mening afkraak nie

Dis ’n fout om ’n gesprek aan te knoop met die oortuiging dat jy iemand anders gaan oorreed om van mening te verander, sê Paul H. White, ’n sielkundeprofessor aan die Universiteit van Utah. 

“Jy voel dalk jy het ’n morele verpligting om hulle te oortuig om die entstof te kry – nie net vir hulself nie, maar ter wille van die openbare gesondheid,” sê hy.

“Maar om die verkeerde benadering te gebruik kan meer skade as goed doen sou die persoon nie dink jy neem hul bekommernisse ernstig op nie of as jy hul wantroue in die geneeskunde verwerp wat ná generasies van trauma ontstaan het. 

“Wees eerder respekvol oor hul ervaring, luister na hul bekommernisse, vind ’n gemeenskaplike terrein en vat dit van daar af verder.”

Hoe meer jy jou mening wil afdwing, hoe meer weerstand skep jy, sê Lauren.

Sy stel voor jy vra die ander persoon om tyd af te staan om met ’n oop gemoed na jou mening te luister en dat jy hulle dan met dieselfde respek hanteer.

Moenie bloot feite rondgooi nie

Dis ’n mite dat huiwering om die entstof te kry deur feite uit die weg geruim kan word, sê Erica Weintraub Austin, hoof van navorsing oor die bevordering van gesondheid aan die Washington State-universiteit.

“Kennis alleen oortuig selde mense om hul gedrag te verander,” sê sy. “Dit is ook nie altyd waar dat mense gemotiveer is om akkurate inligting te kry om hulself en hul geliefdes te beskerm nie. Mense is dikwels te besig om inligting te ontleed, veral oor ingewikkelde onderwerpe.

“Hulle maak eerder staat op kortpaaie en soek dikwels na dit wat ooreenstem met hul eie ingesteldhede, onderskrywings in die sosiale media en toeganklikheid. 

“En om sake verder ingewikkeld te maak sal mense soms ekstra feite-kontrolering ignoreer as dit hul politieke oortuigings weerspreek,” sê Erica. 

Oppas vir aannames 

Die terapeut Kathy Barringer se raad is om gesprekke met begrip te benader. 

“Alle huiwering is nie dieselfde nie,” sê sy. “Sommige mense is doodbang vir naalde of newe-effekte soos braking. Ander is dalk huiwerig omdat hulle nie toegang het tot ’n nabygeleë entstofperseel nie, en ander kan twyfel weens politieke redes.”

Vermy dit om “prekerig en moralisties te word”, sê Vish Viswanath, ’n dosent in gesondheidskommunikasie aan die Harvard-skool van openbare gesondheid.

“Mense sal hulle in ’n stadium van jou onttrek as hulle voel hulle word nie gerespekteer of na geluister nie en dat hul bekommernisse nie erken word nie.”

“Almal is geregtig op ’n ander siening,” sê Lauren. “Beskou eerder hul standpunt as presies dit – ’n standpunt.”

Vermy die ‘ja, maar . . . ’-benadering

As jy met iemand praat wat nie gereed is vir die inenting nie, sê eerstens vir daardie persoon hy of sy is nie die enigste een wat so voel nie, sê Sunil Kripalani, ’n dosent in geneeskunde aan die Vanderbilt-universiteit se mediese sentrum in Amerika. 

“Dit stel jou in staat om die gesprek vanuit ’n posisie van empatie en begrip te begin. Dis belangrik om tyd te neem om die individu se beweegrede en besluitnemingsproses te verstaan eerder as om dadelik te sê: ‘Jy moet dit doen, en hier is hoekom.’ ”

Lauren stem saam. “As dit jou enigste doelwit is om die ander persoon van jou standpunt te oortuig, gaan jy nie werklik luister nie, maar bloot wag op jou kans om te praat. 

“Dit is neerhalend en lei gewoonlik daartoe dat die ander persoon meer oorgehaal is om hul mening te verdedig.”

Deel bloot jou mening, die inligting tot jou beskikking en jou beweegredes sonder om jou gespreksgenoot te probeer oortuig. 

 Weet wanneer om te stop

Jy kan ook kies om nie met hulle daaroor te praat nie, is Lauren se voorstel. 

“Sê vir hulle jy gee om vir hulle en wil hê hulle moet goed ingelig wees, maar dis nie jou werk om dit te doen nie; daarom gaan jy nie die kwessie bespreek nie. 

“Maar as jy besluit om hierdie roete te volg, bly by jou voorneme en vermy dit om die kwessie in ’n gesprek op te haal en hulle met jou mening te oorweldig.”

Laat dit daar as jou familielid of vriend voet by stuk hou. 

Jy maak jou keuse, en hy syne.

Hanteer moeilike gesprekke so

Lauren Moss, ’n sielkundige van Sandton, deel ’n paar wenke oor wat om te sê wanneer jy en jou vriende en familie oor inentings praat.

’n Familielid wil kom kuier, maar hulle is nie ingeënt nie en jy voel ongemaklik daaroor.

Moenie sê: “Jy kan nie kom kuier as jy nie ingeënt is nie.”

Sê eerder: “Ek sou graag wou hê jy moet kom kuier, maar om my eie gesondheid te beskerm het ek besluit om nie in my huis sosiaal te verkeer saam met mense wat nie ingeënt is nie.” Jy kan voorstel dat julle mekaar ontmoet by ’n buitemuurse plek waar almal ’n masker dra en ’n sosiale afstand handhaaf.

’n Hegte vriend is besluiteloos oor die entstof.

Moenie sê: “Gaan kry dit of jy sal jammer wees” nie.

Sê eerder: “Ek is bekommerd dat die effek van covid baie ernstig kan wees, en as jy nie ingeënt is nie, kan jy ernstig siek word of selfs sterf.”

’n Geliefde hou vol entstowwe is gevaarlik en jy stem nie daarmee saam nie.

Moenie sê: “Ek kan nie meer met jou praat nie; jy maak nie sin nie.”

Sê eerder: “Dit is ’n omstrede kwessie, en ek dink nie ons gaan saamstem nie. Dalk is dit beter dat ons dit nie verder bespreek nie.”

Deel bloot jou mening, die inligting tot jou beskikking en jou beweegredes.

Inperking en ouerskap: Dié wenke kan jou help kophou

Ouerskap kan veeleisend wees, en tydens die grendeltyd moet jy selfs meer spartel om al die balle in die lug te hou. Hier is praktiese wenke oor hoe om die uitdagings die hoof te bied.


Balle in die lug hou en vure doodslaan – dis al wat jy deesdae doen, van die oomblik dat jy soggens jou oë oopmaak tot saans wanneer jy gaan slaap.

Ouer-wees was nog nooit maklik nie, maar weens die inperking en die feit dat kinders nou tuis moet skoolgaan, is die druk meer as ooit.

Nou is jy nie net ’n ouer nie – jy is ook die onderwyser wat moet seker maak jou kroos raak nie agter nie. En tussen die maaltafels en woordsoorte deur het baie ouers nog hul eie werk ook, wat hulle nou van die huis af probeer doen.

Dit terwyl hulle boonop kos maak, skoonmaak, inkopies moet gaan doen en net probeer seker maak die huishouding stort nie ineen terwyl die wêreld op sy kop gekeer is nie.

Dis geen wonder jou senuwees is aan skerwe nie – en ook nie dat humeure begin opvlam nie.

En agterna skop die skuldgevoel in en kasty jy jouself oor hoe ’n slegte ouer jy nou eintlik is.

Dis buitengewone omstandighede dié, sê prof. Kobus Maree, ’n opvoedkundige sielkundige aan die sielkundedepartement van die Universiteit van Pretoria.

Daar is vrees en onsekerheid saam met al die nuwe druk wat ouers ervaar, en ’n uitbarsting af en toe is dus onafwendbaar.

“Dit is heeltemal normaal om verskeie emosies in dié tyd te ervaar. Dit kan emosies soos woede, teleurstelling, angs, ’n gevoel van onsekerheid en bedreiging insluit,” sê Kobus.

Ons het by kenners gaan aanklop vir ’n paar praktiese wenke oor hoe jy ouerskap in hierdie tyd kan oorleef.

Spanwerk is die sleutel

Maak die lewe vir jouself makliker deur op jou maat te steun, sê dr. Catherine Ward van die sielkundedepartement aan die Universiteit van Kaapstad.

“Probeer huishoudelike take en die sorg van kinders eweredig onder mekaar verdeel. Stel ook ’n rooster op wat aandui wanneer iemand moet werk doen en wanneer iemand af het.”

As albei ouers moet werk, stel soggens of die aand voor die tyd ’n rooster vir die dag op vir wie wanneer na die kinders gaan kyk – neem werkspertye en belangrike vergaderings in ag.

Loer oor middagete saam na die rooster en pas aan waar nodig.

Praat met die kinders oor jou verwagtings

Verduidelik aan jou kinders dat julle nie met vakansie is nie en dat almal werk het.

Vra hul insette oor met watter huistake hulle jou en jou maat kan help voor julle besluit wie waarvoor verantwoordelik is.

Jy kan selfs jou kinders vra om julle te help om jul werkrooster op te stel, sê Kobus.

“Dan voel hulle hulle is betrokke daarby en verstaan hulle beter hoe die dag gaan loop.

“Maak seker jou kinders verstaan dat die tye in die rooster vir werk is sodat jy kos op die tafel kan sit, maar verduidelik ook aan hulle jy werk omdat jy daarvan hou en tot die samelewing bydra.”

Besluit waar jou werkplek gaan wees en probeer daarby hou.

Jy kan ’n teken maak om op die deur te plak sodat hulle weet hulle kan net inkom as dit ’n noodgeval is.

Probeer nuwe maniere kry om produktief te wees

Praat met jou baas en kollegas oor jou uitdagings.

Vind uit of jy fleksietyd kan werk en soggens vroeg ’n stuk kan werk voor jy ’n paar uur lank op jou kinders en hul skoolwerk fokus.

Wees realisties daaroor dat jou dag nie gaan verloop soos jy dit beplan het nie.

“Jy sal moet aanpas omdat jou kinders in die omtrek is,” sê Kobus.

Maar moenie ontmoedig word oor hoeveel werktyd jy verloor nie – onthou eerder dat jy steeds baie gedoen kan kry in korter tydgleuwe wanneer jy gefokus werk.

Probeer byvoorbeeld die Pomodoro- tegniek, ’n tydsbestuurmetode wat in die 1980’s deur Francesco Cirillo ontwikkel is.

Dit behels dat jy ’n stophorlosie vir 25 minute stel en dan vir daardie tyd voluit werk, sonder enige afleidings.

Sit jou foon af, maak die sosialemedia-bladsye toe en luister oor oorfone na musiek om jou hiermee te help.

Wees eerlik

Dis belangrik om te onthou dat jy en jou kinders net menslik is, sê Nasreen Cariem, ’n sielkundige van Kaapstad.

“Julle almal ervaar frustrasie en verskillende emosies in hierdie moeilike tyd. Ouers kan gefrustreerd voel omdat hulle nie persoonlike ruimte het nie en kinders kan uit verveeldheid gefrustreerd voel.”

Die sleutel tot vrede in die huis is altyd om met mekaar te kommunikeer.

“As ouer moet jy reguit en eerlik met jou kinders wees wanneer jy in ’n slegte bui is,” sê Nasreen. En moenie te trots wees om verskoning te vra as jy jou humeur verloor het en besef dat jy onredelik was nie.

Jy wys jou kinders hoe ’n waardevolle lewensvaardigheid lyk.

Reik uit na ander

Kom met ander ouers in verbinding as jy dit nog nie gedoen het nie, sê Kobus. “Stig ’n ondersteuningsgroep om idees uit te ruil en by mekaar te leer.”

Dit sal jou help om nie te voel asof jy heeltemal alleen is nie – en om te weet daar is ander mense wat jou uitdagings verstaan.

As jou emosionele toestand nie verbeter nie, kan jy dit oorweeg om met ’n sielkundige te gaan praat.

Dit kan help om jou beter toe te rus vir situasies soos hierdie een waarin jy algeheel oorweldig voel.

Handhaaf dissipline

Verduidelik rustig aan jou kinders wat die gevolge sal wees as hulle nie jou aanwysings volg nie, sê Catherine.

“Gevolge vir wat ons kinders doen en aanvang, help hulle om te leer om aanspreeklikheid vir hul dade te aanvaar.”

Maar maak dan seker dat jy wel die gevolge toepas en daarmee volhou.

Onthou dat die inperking vir hulle ook baie vreemd en nuut is.

Jy moet doen wat jy kan om standvastigheid te skep, en om konsekwent te wees in hoe jy dissipline toepas, is een manier waarop jy dit doen.

Wees ook realisties wanneer jy besluit wat die gevolge gaan wees.

“Om ’n tiener se foon vir ’n maand weg te neem is moeilik om te volhou, maar dit is realisties om dit vir ’n uur weg te vat,” verduidelik Catherine.

Skep asem

Om te keer dat hierdie vreemde tyd jou onderkry, is dit belangrik om ook vir jouself tyd te maak, sê Catherine.

“Doen iets lekkers of waarin jy belangstel wanneer jou kinders slaap. Maak ’n lys van gesonde aktiwiteite wat jy geniet.”

Dit kan enigiets van ’n lang bad met kerslig of leestyd in ’n gemakstoel wees. Die belangrikste is dat jy jou batterye herlaai. As jou kinders op jou senuwees werk of jy besonder angstig voel, sonder jou ’n minuut lank iewers af om tot verhaal te kom. (Sien kassie.)

Dit kan dalk net help keer dat jy kortaf reageer.

’n Oefening om jou te help kalmeer

Dr. Catherine Ward van die sielkundedepartement aan die Universiteit van Kaapstad sê daar is ’n nuttige eenminuut-oefening wat ouers kan doen as hulle gespanne of angstig voel.

Volg dié stappe:

1. Vind ’n gemaklike plek om te sit met jou voete plat op die grond en jou hande op jou skoot. As jy gemaklik is, maak jou oë toe.

2. Vra jouself af wat jy besig is om te dink. Probeer vasstel of jou gedagtes positief of negatief is, en of dit jou hartseer of gelukkig maak. Probeer ook bepaal hoe jou liggaam voel en of iets jou irriteer of pyn veroorsaak.

3. Fokus op jou asemhaling. Luister na hoe jou asem in en uit jou lyf gaan. Sê dan vir jouself: “Wat ook al gebeur, dit is oukei. Alles sal oukei wees.”

4. Luister na die geluide in die kamer.

5. Vra jouself af of jy enigsins anders voel. Wanneer jy rustiger voel, maak jou oë oop en probeer weer aangaan met waarmee jy besig was.

Ekstra bronne: guardian.co.uk, telegraph.co.uk

 

Jou werk verloor weens die pandemie? Hier is raad

Kenners beantwoord vrae oor waar om te begin tot hoe jou CV behoort te lyk.


Die inperking het ons lewe lelik deurmekaargekrap, maar met geduld kan selfs werksoek vrugte afwerp. Werksoek kan moeilik en stresvol wees – selfs wanneer dit goed gaan met die ekonomie, wat tans beslis nie die geval is nie.

Die coronaviruspandemie en die inperking het die ekonomie op sy knieë gedwing en dit het gelei tot ernstige werkverliese as gevolg van maatskappye wat óf sink óf hul begrotings besnoei om te probeer oorleef.

Dit is nou ’n groter uitdaging as ooit tevore om werk te soek. Dalk wonder jy of dit enigsins die moeite werd is om aansoek te doen te midde van die swartgalligheid wat heers. Maar moenie moed verloor nie, sê Simon Royston, besturende direkteur van The Recruitment Lab.

“Die belangrikste ding is om geduldig te wees,” sê Simon. “Die huidige inperking beteken tydlyne vir werksoekers is onbepaald. Wat voorheen dalk twee weke van werksoek was, het in ses weke ontaard.”

Baie maatskappye heroorweeg hul werkstruktuur en verwag nou dat kandidate toegerus sal wees vir afstandswerk.

Tye is aan die verander, sê Margot van Graan, bestuurslid by MVG Recruitment Specialists. En dis belangrik dat jou benadering tot werksoek daarmee saam verander. Hier is wat jy oor werksoek tydens ’n wêreldwye pandemie moet weet.

Waar moet jy begin?

Die beste benadering tot werksoek is ’n kombinasie van jou eie pogings en werk saam met ’n werwingsagentskap, is Margot se raad. Agentskappe verkry personeel gegrond op die werkaanvrae wat hulle ontvang, maar weens die afswaai in die ekonomie het hulle minder poste beskikbaar.

“Om deur ’n werwingsagentskap te werk het die voordeel dat die agentskap ’n gevestigde verhouding met die kliënt het,” sê Margot.

“Daarom sal hulle weet waarna ’n onderneming soek en kan hulle jou leiding gee met jou aansoek.” Maar moenie net op werwingsagentskappe staatmaak nie. Soek ook geleenthede op loopbaanportale soos Career Junction, Careers24 en PNet.

“In hierdie tye sou ek sê dat jy nie net een manier kan gebruik nie; ’n gesamentlike benadering sal veel voordeliger wees.”

Die mag van die sosiale media

Simon moedig hoopvolles aan om die sosiale media tot hul voordeel te gebruik. “Soek in verskillende Facebook-gemeenskappe. Jy sal verbaas wees hoeveel klein ondernemings poste op hierdie platforms plaas,” sê hy.

“Dis veel bekostigbaarder vir adverteerders.” Steek ook voelers na familie en vriende uit.

“Dalk weet hulle van iemand wat hulp benodig en kan ’n goeie woord vir jou insit. Of dalk kan hulle jou in verbinding plaas met ’n potensiële werkgewer.”

Maak ook seker jou LinkedIn-profiel is op datum. LinkedIn help jou om met mense in jou beroep te skakel en kan as instrument vir werksoek ingespan word.

Dis ook waar werwers en indiensnemingsbestuurders na kandidate soek; daarom is ’n teenwoordigheid op die blad belangrik.

Kan jy as vryskut werk?

Vryskutwerk is geensins ’n maklike opsie nie. Dit verg tyd en moeite; nie net om aan te gang te kom nie, maar ook om dit vol te hou. Dis ook nie moontlik in alle werksituasies nie.

As dit egter ’n opsie is in jou beroepsveld, is dit ’n wonderlike manier om jou vaardighede te ontwikkel en op ’n manier jou eie baas te wees.

“Maar moenie verwag dat geld uit die lug gaan val as jy hierdie leefstyl kies nie,” sê Cristian Barin van 99designs, ’n Australiese vryskutplatform.

“Vryskutwerk het ook baie spesifieke vereistes, soos uitstekende tydbestuur, om met kliënte te netwerk en finansiële beplanning.”

Die beste plek om vryskutwerk te begin soek is binne jou onmiddellike beroepskring, sê Benek Lisefski, ’n rekenaarprogrammeerder wat al byna 20 jaar lank as vryskut werk.

“Vra jou vorige werkgewers of kollegas of hulle weet van enigeen wat jou dienste benodig,” sê hy. “Hoor ook by familie, vriende en skoolkontakte.”

As jy sukkel om ’n vaste werk te kry, kan vryskutwerk in die tussentyd vir jou ’n idee gee van wat dit vereis om jou eie baas te wees, en jy sal ook kan bepaal of voltydse vryskutwerk op die lange duur vir jou uitvoerbaar is.

Gaan loer na hierdie webtuistes: nichemarket.co.zaupwork.comnosweat.work

webtuistes: nichemarket.co.zaupwork.comnosweat.work

Kan jy ’n stokperdjie in ’n onderneming omskep?

Die idee om betaal te word vir iets waarvan jy hou, klink dalk soos ’n droom, maar dis geen maklike taak om ’n passieprojek in ’n sakeonderneming te omskep nie.

Dit verg beplanning, toewyding en die regte ingesteldheid. Maar as jy bereid en in staat is om die sprong te waag, kan dit ongelooflik lonend wees, sê Evadne Cupido, wat haar liefde vir kosmaak in ’n onderneming omskep het.

Sy is in 2015, ná byna 20 jaar in die mediabedryf, uit diens gestel. Sy was toe ’n nuwe ma en het begin vryskutwerk doen om geld te verdien. ’n Jaar later het sy ’n geleentheid raakgesien om van koers te verander.

“Ek was nog altyd lief vir kos en ’n vriend het voorgestel ek maak kerrie-en-rys en versprei die nuus deur ’n paar mense,” sê sy. “Ek het die eerste keer 50 bestellings gekry – en ek het nie geweet hoe om vir 50 mense te kook nie!”

Vandag besit Evadne ’n maatskappy genaamd Made With Love by Evadne. “Ek verskaf tuisgekookte etes in die week, asook spyseniering vir klein geleenthede.”

Jy moet realisties wees oor die tyd en moeite wat dit verg om ’n stokperdjie te omskep in iets waaruit jy geld maak. “Jy werk ekstra hard, want dis iets wat jy bou, en daar is die konstante vrees vir mislukking,” sê Evadne.

As jy mense in diens neem, is daar ook die druk en verantwoordelikheid van jou werknemers wat betaal moet word. Bemarking is ook belangrik – jou sake-idee is dalk wonderlik, maar beteken niks sonder kliënte nie.

Vra jouself af of jy steeds jou stokperdjie sal geniet wanneer jy spertye moet haal en teikens moet bereik. Vir Evadne het dit nie verander nie.

“Ek is werklik mal oor wat ek doen. Ek was nog altyd iemand wat strawwe spertye geniet – dit is wat my opgewonde maak. Maar dit is ’n ander soort opwinding dié. Ek het geen berou nie.” 

Laat só jou CV uitstaan

  • Jou CV moet getik word in ’n lettertipe wat maklik is om te lees, met goeie spasiëring en geen spelfoute nie. Hoewel dit omvattend moet wees en alle relevante besonderhede moet bevat, moet dit bondig wees en tot die punt kom.
  • Enige prestasies by vorige werke moet gelys word. “Beklemtoon dit op jou CV, want dit is ’n voordeel,” sê Margot.
  • As daar enige gapings tussen werkperiodes is, verduidelik wat in daardie tydperk gebeur het.
  • As jy aansoek doen vir ’n pos in ’n gespesialiseerde veld wat nie ooreenstem met jou vorige posbeskrywing nie, maar vol vertroue is dat jy die rol kan vervul, pas jou CV aan om soortgelyke sleutelwoorde te gebruik, stel Margot voor. “As jy byvoorbeeld ’n kliëntskakelkonsultant is, maar ’n onderneming is op soek na ’n kliëntedienskonsultant, maak seker dat jy die kliëntedienspligte wat jy gedoen het, beskryf,” sê sy.

Skryf ’n goeie dekbrief. Verduidelik eerstens die redes vir jou aansoek. Noem dan hoe jou ervaring aan die posvereistes voldoen en hoe jy ’n verskil by die onderneming kan maak. Beskryf waarom jy glo jy oorweeg moet word op grond van die vereistes wat in die posadvertensie beskryf word. As jy vertroud is met die ondernemingskultuur, motiveer waarom jy goed sal inpas. Gebruik die dekbrief om oor oordraagbare vaardighede uit te brei. “Byvoorbeeld, iemand wat in die gasvryheidsbedryf werk, kan in ’n restaurant werk,” sê Margot. “Jy werk dalk in ’n ander sektor, maar verrig ’n soortgelyke funksie.” Beëindig die brief deur te sê wanneer jy beskikbaar is.

Ly jy aan pandemie-stres? Klop dit só

Stres kan ’n verwoestende uitwerking op jou gesondheid hê. As jy jou tipe identifiseer, kan dit jou help om jou stresvlakke te bestuur.


’n Mens kan nie van stres ontsnap nie. Dit is ’n onvermydelike deel van die lewe. Nou is die lewe nog stresvoller weens die pandemie en inperking.

Daar is meer snellers – ons is angstig omdat ons bang is ons word siek, ons is bekommerd oor geliefdes, jy werk van die huis af terwyl jy na die kinders moet omsien, en dan is daar spanning oor geldsake weens aflegging of ’n salarisvermindering, om maar ’n paar te noem.

Ons word ook met ’n stroom nuus en inligting oor covid-19 gepeper. Facebook kreun onder die kennisgewings. Die tegnologie het ons lewe so binnegedring dat baie van ons nou meer van ons af tyd op ons foon of tablet deurbring as saam met ons maat of gesin.

Die opbou van onophoudelike stressors in ons lewe het ’n nuwe verskynsel laat ontstaan: superstres. Dit gebeur wanneer ons so deur stres oorweldig word dat ons nie meer normaal kan funksioneer en ’n gelukkige lewe lei nie.

Dit maak nie saak hoe goed ons dink ons take tegelyk kan baasraak nie, ons liggaam is nie ontwerp om op dié vlak die mas op te kom nie, sê dr. Roberta Lee, die skrywer van The Superstress Solution.

“Ons liggaam is bedraad om op stres te reageer soos ons voorsate gedoen het, en onder akute toestande het daardie reaksie ons beskerm, en dit doen steeds,” sê sy in haar boek.

“Maar vandag se samelewing het chroniese stressors op groot skaal vermeerder, en ons sit met die gevolge.”

Korttermynstres laat die liggaam ’n vloed van hormone vrystel om jou vir veg of vlug voor te berei.

Wanneer stres chronies en langdurig is, hou die liggaam aan om hierdie hormone te vervaardig – en dit kan ’n toksiese uitwerking hê.

“Stres hou verband met hartsiektes, diabetes, asma, kanker, outo-immuunsiekte en endokriene probleme,” sê Roberta.

“Een van die redes daarvoor is dat chroniese stres in die liggaam inflammasie veroorsaak.”

Sy sien die mediese gevolge van stres by pasiënte wat na haar praktyk kom, sê Roberta. En dit is deur hulle te ondersoek dat sy die vyf spesifieke strestipes geïdentifiseer het wat sy in haar boek bespreek. Leer oor jou spesifieke tipe sodat dit jou kan help om jou reaksies te verstaan.

Dan kan jy strategieë soos dieet, oefening en aanvullings inspan om jou veerkragtigheid te versterk en stres beter te hanteer. Hier is die vyf superstrestipes – jy sal herken watter een op jou van toepassing is.

Die uitgebrande

Wat jy voel

“Maak nie saak hoeveel slaap jy inkry nie, jy voel uitgeput wanneer jy soggens wakker word,” sê Roberta.

“Ander mense stel jou gereeld teleur. Jy dink waarskynlik diep oor verlies in jou lewe, hetsy ’n geliefde, ’n vriend, werk of leefstyl. Jy voel eensaam.”

Wat eintlik gebeur

“Al voel dit asof jou probleem bloot is dat jy nie genoeg gehalteslaap kry nie, ly jy waarskynlik aan die een of ander vlak van bynier-uitputting of jy het ’n skildkliertekort. Jou liggaam het dalk van die antioksidante en vitamiene uitgeput wat jou energie sou help opstoot en jou help om beter te slaap.”

Wat om te eet

Volg ’n meestal vegetariese dieet met volop gestoomde donker blaargroente, koringkiem, fyn lynsaad, neutbotter en 28 g donkersjokolade per dag.

Drie tot vyf koppies groentee daagliks sal ook help om jou te kalmeer en gefokus te hou.

Watter oefening om te doen

Kry ’n treëteller en mik om minstens 6 000 tree per dag te gee.

Doen minstens een keer per week ’n uur lank joga of pilates of sluit aan by ’n dans- of aërobiese oefeningklas. Ontspannende massering, akupunktuur, reiki en saunasessies word ook aanbeveel.

Die sensitiewe

Wat jy voel

“Daar is net nie genoeg ure in die dag om alles te verrig wat jy moet doen nie,” sê Roberta. “Jy voel dikwels na aan trane en jou maag is gereeld op ’n knop. Jy laat toe dat jou verbeelding jou onderkry en bekommer jou voortdurend oor terreuraanvalle en natuurrampe.”

Wat eintlik gebeur

“Hierdie soort superstres boots die fisieke simptome van PMS na – emosioneel, prikkelbaar, buierig – en jou progesteroonvlakke (’n vroulike hormoon) is waarskynlik laag. Jou maag voel dalk op ’n knop, want jou spysverteringstelsel kry swaar.”

Wat om te eet

Hou by ’n eenvoudige eetplan met klein hoeveelhede laevet-diereproteïen en seekos. Eet baie blaargroente soos blaarbeet en krulkool en ryp vrugte om opgeblasenheid te klop.

Watter oefening om te doen

Gaan stap elke dag om jou senustelsel te laat bedaar. Begin teen ’n gemaklike spoed vir 20 minute eerder as om te fokus op hoe ver of hoe vinnig jy stap.

Die beheerder

Wat jy voel

“Jy voel soos ’n drukkoker en/of het ’n kort lont,” sê Roberta. “Ander mense se aanwendsels irriteer jou dikwels en jy dink te vinnig ander mense is onbevoeg.”

Wat eintlik gebeur

“Jy ooreis jou en die gevolglike onophoudelike stroom streshormone (kortisol, adrenalien) het jou tot ’n toestand van gejaagdheid opgewen. Jy sukkel ook om stil te sit, want jou liggaam is heeltyd op sy hoede.”

Wat om te eet

Kies seekos (sardyne, tuna, salm, forel) as ’n bron van proteïen en volgraan vir koolhidrate. Kafeïenslawe moet hulle geleidelik daarvan speen, want onttrekking kan onaangenaam wees. Vervang suiker met vrugte.

Watter oefening om te doen

Gebruik fisieke aktiwiteit om jou woede en obsessiewe aard af te werk. Hardloop is ’n goeie manier om opgekropte emosie uit te laat, asook kragstap, fietsry en gewigoefeninge. Maak seker jy doen elke dag oefening, al is dit net ’n kort sessie.

Die oorweldigde

Wat jy voel

“Jy beskryf jouself dalk as eenvoudig ‘gedaan’,” sê Roberta. “Jy sukkel om te konsentreer. Jou lewe voel buite beheer. Jy lê snags wakker en wroeg oor die gebeure van die dag en geleenthede wat nog moet plaasvind.”

Wat eintlik gebeur

“Dit is meer as net uitgerafelde senuwees. Weens geestelike oorlading nader jy kliniese vlakke van paniek en/of angs.”

Wat om te eet

Volg ’n Mediterreense dieet met die klem op eenvoudige proteïen (meestal vis), asook volgrane, vrugte, groente en olyfolie.

Drink vyf koppies groen- of kruietee, met heuning versoet indien jy verkies, deur die dag en sorg dat jy tyd opsy sit om dit te geniet. Jy kan 28 g donkersjokolade per dag eet.

Watter oefening om te doen

Stap of draf minstens 20 minute per dag om die vrystelling van endorfiene te stimuleer. Joga, tai chi, meditasie, massering en akupunktuur kan jou ook hierdeur help.

© Aremediasyndication.com.au/magazinefeatures.co.za

Maklike wenke om jou immuunstelsel gesond te hou

Die eet van lemoene en sitrusvrugte is geen waarborg dat jy gesond sal bly nie, maar dis een van die maniere waarop jy jou immuniteit ’n hupstoot gee.


Volg dié eenvoudige wenke om jou immuunstelsel woema te gee.

As gevolg van covid-19 is ’n gesonde immuunstelsel belangriker as ooit. Hoe kan jy dié belangrike wapenrusting ’n hupstoot gee sodat jy jou gesondheid kan beskerm? Ons het by kenners gaan uitvind.

Wat is die immuunstelsel?

Die immuunstelsel is ’n ingewikkelde netwerk van selle en proteïene in die liggaam wat saamwerk om jou teen infeksie te beskerm, verduidelik dr. Tshegofatso Mabelane, ’n immunoloog van Pretoria.

Dr. Adrian Morris, ’n allergie- en immuniteitskenner van Kaapstad, sê jou immuunstelsel is hoofsaaklik in jou bloed gesetel. “Jou witbloedselle vorm deel daarvan en dié selle is soos polisiebeamptes wat deur die liggaam beweeg. Wanneer hulle iets sien wat ’n potensiële gevaar inhou, sal die witbloedselle hulself daaraan heg en daarvan ontslae probeer raak.”

Volgens Tshegofatso kan die immuunstelsel in die natuurlike en die aangeleerde stelsel verdeel word.

“Die natuurlike stelsel is die deel waarmee jy gebore word. Dit lewer die eerste reaksie wat plaasvind om jou teen kieme te beskerm. Dié stelsel kan binne enkele ure reageer.”

Aan die ander kant het jy die aangeleerde stelsel wat baie ingewikkelder is.

Sy verduidelik dat jy jou hele lewe lank immuniteit “aanleer” en dat dit net gebeur wanneer jy aan infeksies blootgestel word. ’n Bepaalde kiem moet eers deur die liggaam verwerk en herken word voor jou immuunstelsel ’n linie van immuunselle kan ontwikkel wat dit aanval. “Die aangeleerde immuunstelsel het ’n ‘geheue’ wat seker maak daar is ’n reaksie  wanneer dit volgende keer aan die kiem blootgestel word.

“Inenting is ’n voorbeeld van aangeleerde immuniteit.” 

Hoekom word mense in die winter vinniger siek?

Die immuunselle in slymvliesoppervlakke raak in koue weer minder aktief, daarom is ons dan vatbaarder vir virusinfeksies, verduidelik prof. Patrick Bouic, ’n immunoloog van Kaapstad. “Ons bring ook meer tyd binnenshuis deur en dit lei daartoe dat virusse makliker tussen mense wat in dieselfde ruimte woon, versprei word.”

Leefstylveranderinge

Tshegofatso sê daar is nie bewyse dat ’n goeie leefstyl jou immuunstelsel noodwendig beter maak nie, maar dat jy jou immuniteit wel op daardie manier gesond kan hou. “Eet gesond, oefen gereeld, beheer jou stres, moenie rook nie en gebruik alkohol matig.”

Sy maan mense ook om genoeg slaap in te kry en hul gewig in toom te hou. “Vetsug word met chroniese inflammasie verbind, daarom is dit baie belangrik dat jy jou gewig beheer. Jy moet ook goeie higiëne handhaaf, soos om jou hande gereeld te was.”

Vitamien C

Glo jy ook dat lemoene en sitrusvrugte jou gesond hou? O nee, sê die kenners, dit is nie ’n waarborg wat sal keer dat jy met ’n virus besmet word nie, sê kenners.  “Navorsers het bevind 1 000 mg tot 2 000 mg vitamien C per dag kan die duur van ’n verkoue met tot 18 persent by kinders en 8 persent in volwassenes verminder,” verduidelik Tshegofatso. “Dit ondersteun die funksie van die immuunselle in jou natuurlike en aangebore immuunstelsel. Maar dit kan nie voorkom dat jy ’n infeksie kry nie.”

Die liggaam kan nie sy eie vitamien C vervaardig nie en soos met ander vitamiene is die aanbeveling dat jy dit met behulp van die regte kosse moet inkry.

Goeie voedselbronne van vitamien C is onder meer soetrissies, lemoene, kiwivrugte, broccoli en aarbeie. Sy waarsku egter dat te veel vitamien C tot diarree kan lei. 

Wat van aanvullings?

Loop lig vir produkte wat net goed bemark word, maar nie noodwendig ’n bydrae lewer tot jou gesondheid nie, maan kenners. Die meeste mense het nie noodwendig ’n tekort aan vitamiene nie, maar word eerder siek weens ’n swak leefstyl, verduidelik Adrian.

Patrick meen ons het nie ’n waarborg dat die gehalte van ons kos goed genoeg is nie, daarom kan ’n multivitamienaanvulling help om seker te maak ons immuunstelsel funksioneer optimaal.   

Hy stel voor jy neem iets met omega-3-vetsure, wat anti-inflammatoriese eienskappe bevat, vitamien C, wat as ’n antioksidant optree, en vitamien D3, wat kan help om kanker en virusse te beveg. Tshegofatso maan dit kan gevaarlik wees om te veel aanvullings in te neem. Gesels met jou dokter as jy onseker is. 

Watter kos kan jou immuunstelsel help?

’n Gebalanseerde dieet met ’n verskeidenheid voedselsoorte is die beste benadering, sê Irene Labuschagne, ’n dieetkundige van Nicus, die voedingsinligtingsentrum van die Universiteit Stellenbosch. “Geen wonderpil kan ’n gesonde dieet, sinvolle eetpatrone en goeie voeding vervang nie.” Volgens haar is ’n dieet met minder verwerkte kosse, suiker en sout ideaal, en ’n tekort aan makro- en mikronutriënte is beslis skadelik vir die immuunstelsel.

Probeer om baie groente, vrugte en peulgewasse te eet. Dit sal jou help om ’n gesonde gewig te handhaaf en sorg dat jy genoeg voedingstowwe inkry.

Eet daagliks minstens tussen vyf en ses porsies groente en vrugte, beveel sy aan.

Volgens Patrick vernietig suiker die immuunstelsel, daarom is dit belangrik om kos met ’n hoë suikerinhoud te vermy.

Gesonde ingewande

Die mikrobakterieë in jou ingewande word toenemend beskou as een van die grootste faktore wat jou gesondheid beïnvloed, verduidelik Irene. “Jou ingewande is ’n belangrike plek waar immuunselle ontwikkel word, selle wat nie net die immuniteit van jou ingewande beheer nie, maar ook immuniteit buite jou ingewande.”

Volgens haar het onlangse studies die rol wat ingewandsmikrobiota speel om inflammasie in die longe te beheer, beklemtoon. Sy stel voor jy maak jogurt, gefermenteerde melkprodukte soos maas en karringmelk, kefir en kombucha deel van jou dieet. 

Adrian sê al is die gesondheid van die ingewande van groter belang by kinders, kan dit ’n volwassene nie skade doen om gereeld probiotika te drink nie.

Ek sukkel met sinusitis!

Sinusitis verwys na ’n bakteriële infeksie van jou sinusse, met simptome soos hoofpyn, pyn in jou gesig en ’n toe en loopneus. Hooikoors is ’n allergiese reaksie op skadelose stowwe in die omgewing, verduidelik Tshegofatso. Simptome sluit in nies, ’n toe of loopneus, en oë wat jeuk.

 Sinusitis kom dikwels voor as ’n simptoom van verkoue en griep, terwyl hooikoors dwarsdeur die hele jaar kan voorkom. Patrick meen indien jy met hooikoors sukkel, is dit wys om kosse te vermy waarvoor jy allergies is en antihistamien te drink om ander allergiese reaksies te voorkom.

Volgens Tshegofatso is dit vir sinusitis sowel as hooikoors voordelig om jou neusholtes te spoel.

Jy kan ’n tuismengsel maak: Meng ’n halwe teelepel sout en ’n kwart teelepel koeksoda met 250 ml lou water wat gekook en afgekoel het. Gebruik ’n spuitbottel of inspuitingbuis en spuit die oplossing in die een neusgat terwyl jy deur jou mond asemhaal. Doen dit in albei neusgate. Jy kan dit tot vier keer ’n dag herhaal. Indien jou dokter ’n neusspuit voorgeskryf het, moet jy steeds met die voorskrifmiddel voortgaan.

Wat van die griepinspuiting?

Hoekom is die griepinspuiting belangrik?

Die griepinspuiting is ’n goeie idee in die lig van die coronavirus, omdat daar dan een virus minder is wat jou bedreig, sê Adrian.

“Jy kan enige tyd teen griep ingeënt word,” sê dr. Jantjie Taljaard, hoof van die afdeling infeksiesiektes by die Universiteit Stellenbosch. Die entstof bestaan uit dele van gedeaktiveerde griepvirusse en word in die armspier ingespuit. Dit ontlok ’n immuunreaksie van jou liggaam, verduidelik Jantjie. Die liggaam vervaardig dan teenliggaampies om hom teen ’n moontlike virusinfeksie te beskerm. 

Die beste tyd om dit te doen is sodra die entstof beskikbaar is, gewoonlik in April of begin Mei, maar jy kan dit in latere maande steeds kry.

Volgens hom is mense wat die meeste by die inenting baat vind diegene met long- en hartsiektes, pasiënte wat medikasie soos kortisoon neem of kankerchemoterapie ontvang wat die immuunstelsel onderdruk, mense bo 65, veral swanger vroue en MIV-positiewe mense.

Ook kantoorwerkers kan maklik griep opdoen. “Griep versprei van mens na mens deur druppels wat uitgehoes of genies word en te lande kom op hande en kontakoppervlakke, soos deurknoppe, tafels en rekenaars. Die kantoor is daarom ’n ideale omgewing vir verspreiding.”