Belê in bye, en jy belê in voedselproduksie

Suid-Afrika se vrugtebedryf oorheers Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer.

Sitrus, tafeldruiwe en kernvrugte het in 2020 meer as R40 miljard tot Suid-Afrika se uitvoerverdienste bygedra. Met meer as 50 gewasse in Suid-Afrika wat van die heuningby as belangrike bestuiwer afhanklik is, is sy oorlewing en die winsgewendheid van die vrugtebedryf nou verweef.

Byebevolkings neem wêreldwyd af weens verskeie oorsake soos insekdoders, droogte, habitatvernietiging, voedingstekorte, lugbesoedeling en klimaatsverandering. Baie van dié oorsake is onderling verweef en dus vind heeltemal te min bestuiwing in die landboubedryf plaas – veral in die tuinboubedryf, wat sterk op bestuiwing deur heuningbye staatmaak.

Om hierdie kwessie aan te pak is van deurslaggewende belang vir veral tuinbougewasse, wat onlangs die sterkste groei beleef het. Die uitvoervolumes van sagtesitrus het van 2011 tot 2020 met 257% toegeneem, en die volumes van suurlemoene en lemmetjies het oor dieselfde tydperk met 180% gestyg.

Uitvoer is die primêre drywer van uitbreiding in tuinbou. Die nuutste syfers van die buro vir voedsel- en landboubeleid voorsien groei van meer as 100% in makadamias, avokado’s en lemoene teen 2030. Voeg hierby dat kleinhandelaars en verbruikers in baie oorsese markte al hoe meer bewus raak van bewaring en omgewingsvriendelike boerderypraktyke, en dit is ’n gegewe dat ’n oplossing vir Suid-Afrika gevind moet word.

Met te min bye om hul gewasse te bestuif, bestee die gemiddelde kommersiële vrugteplaas van R700 tot R1 100 per byekorf om dié noodsaaklike bestuiwers vir hul bestuiwingstydperk te huur. Wat sal gebeur as van dié geld bestee word aan die aanplant van inheemse plantegroei om biodiversiteitsbewaringsgebiede uit te brei, weidingsareas te vergroot en habitatverlies te verminder, terwyl produksiekoste verminder word?

By Nedbank is volhoubaarheid en rentmeesterskap van natuurlike hulpbronne van die uiterste belang. Daarom het die bank verlede jaar met The Bee Effect en Greenpop se Forests for Life saamgewerk aan die Boland Trees for Bees-program om ’n bydrae tot die aanplant van 36 000 byvriendelike bome teen 2025 te lewer. Dié projek het ten doel om ekostelsels en afgetakelde woudgebiede in die Wes- en Oos-Kaap te herstel, asook om die uitwerking van klimaatsverandering te versag, waterbronne te ondersteun en habitatte vir bye en ander insekte en diere te beskerm.

Nedbank se Groen Trust werk nou saam met die Wêreldnatuurfonds (WWF) en Living Lands om fynbos vir heuningbye en kritieke habitat vir diere en insekte te herstel, veral in die Langkloof-streek in die Oos-Kaap, wat so bekend is vir sy kernvrugteproduksie.

Dié inisiatief kan ook help om 'n alternatiewe inkomstebron vir die boere in die omgewing te bewerkstellig, soos heuningbosproduksie vir uitvoer, plaaslike mikro-ondernemings gegrond op die verskeidenheid bemarkbare heuningbyprodukte en ekotoerisme-geleenthede. Dit alles sal help om inkomste te diversifiseer. Die ekonomiese potensiaal hiervan kan nie geïgnoreer word nie: In 2016 het byeboerdery en heuningbyprodukte en -dienste byna R16 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra en 180 000 werkgeleenthede ondersteun.

Die afgelope dekade het plaaslike heuningproduksie egter met meer as 50% afgeneem, en die invoer van heuning het met 1 000% toegeneem. Projekte soos dié kan help om in die plaaslike heuningbybedryf te herbelê en sodoende die behoefte om in te voer te verminder, bestuiwing te verhoog en broodnodige plaaslike ekonomiese ontwikkeling te bied.

Afgesien van die voordele, is die slotsom dat mense afhanklik is van plante, en plante is afhanklik van bestuiwers. ’n Balans moet dus gehandhaaf word om lewe op aarde te handhaaf.

Daar is tans geen standaard vir byvriendelike boerderypraktyke in Suid-Afrika nie, maar gelukkig is baie boere daartoe verbind om die gebruik van chemikalieë te verminder en gesonde volhoubaarheidsbeginsels op hul plase toe te pas. Ons beskou ons vennote in die landbou as sleutelspelers in die ondersteuning van dié voordelige sirkelgang waarvan heuningbye afhanklik is.

Beste praktyk deur alle grondeienaars – ook in die landboubedryf – bied goeie voedsel vir bye, wat goeie bestuiwing tot gevolg het en weer beter opbrengste en gehalte beteken. Beste praktyk sluit die verantwoordelike gebruik van plaagdoders in, veral gedurende die blom- of kosseisoen, en om plaaswerkers aan te spoor om dieselfde te doen; die verskaffing van voedsel vir bye deur die herstel van natuurlike plantegroei en deur gewasse soos kanola, sonneblomme en lusern by wisselbousiklusse in te sluit; om byeboere toegang tot grond te gee met veilige plekke vir byekorwe wat nie blootgestel is aan vandalisme nie; en die verantwoordelike aanplanting van goedgekeurde bloekombome en ander byvriendelike bome op ongebruikte plaasgrond.

Dié artikel is slegs bedoel vir algemene inligtingsdoeleindes en is nie regsadvies nie.