In ’n storm:
Die renoster

weet. Doen jy?

In die derde van ’n reeks van vyf artikels in samewerking met Pen Afrikaans skryf

Eben Venter oor klimaatsverandering en die uitwissing van spesies.   

Eben Venter en sy honde op Tallowsstrand in noordelike Nieu-Suid-Wallis.

Eben Venter en sy honde op Tallowsstrand in noordelike Nieu-Suid-Wallis.

Die swartrenoster staan stadig op van haar lêplek totdat haar vier voete vastrap in die sandgrond. Sy snork verontwaardig téén die hitte wat om haar walm, haar voete warrel sandwolke op. Agter haar suis die spekbos effe onder die gewoel van bye in die skaampienk blomme. Die blomme het die jaar vroeër gekom weens die dorheid, die plante probeer gou saad skiet, stry teen die ongekende hitte. Die renostermoeder weet sy moet dringend by die watergat kom om in die modder te rol en haar vel af te koel, daar is geen ander uitweg, sy sweet nie. Daar is die bewussyn dat daar donkernat, klam modder gaan wees, of niks.[1] 

In hierdie trant het ek oor die renoster geskryf in my onlangse roman Decima, ’n genre-mengsel van fiksie en niefiksie. Ek het die renoster en haar lewe losgemaak van die verteller en die leser versoek om vir die duur van die roman ongeloof op te skort om as ’t ware onder die vel van die renoster in te skuif. Die renoster praat met haar familie, die storm renosters, die renoster onthou haar voorgeskiedenis, sy voel die bedreiging van die koms van die volmaan aan. Ek het hierdie renostermoeder Decima genoem. Om ’n dier ’n naam te gee is niks nuuts nie. In die sestigerjare het die jong Jane Goodall maande lank in die nabyheid van die sjimpansees in die oerwoud van Gombe, Tanzanië, gebly met die hoop dat een van hulle toenadering tot haar sou soek. Dit het nie gebeur nie, die familie het skugter van haar weggehou. Die befondsing vir haar ekspedisie was byna op. Toe, op ’n dag, sien sy hoe ’n jong sjimpansee miere uit hulle gaatjies in ’n miershoop haal. ’n Geskikte grasstingel word gepluk, van blaartjies gestroop en vernuftig by die miergaatjie ingedruk en uitgetrek, mét heerlike, plomp miere daarop. Die gewaarwording staan as ’n deurbraak. Hier is ’n dier wat hom wend tot die gebruik van ’n instrument om kos te haal. Van daardie dag af noem Jane hom David Greybeard.

Jane Goodall in 1972. Foto's: Getty

Jane Goodall in 1972. Foto's: Getty

Die dier-etoloë van haar tyd het nie net die gebruik van instrumente deur ’n dier ontken nie, of bloot net nie daarvan geweet nie, maar het ook die antropomorfiese neiging om ’n dier ’n naam te gee afgekeur.  

Toenadering tussen Jane en David Greybeard sou later kom, maar wat daar gebeur het, was dat Goodall ’n verskerpte bewussyn by die sjimpansee geregistreer het. Die sjimpansee sou haar studieonderwerp vir byna vyftig jaar word – ons weet nou dat ons 96% van ons menslike gene met hulle deel – en tot so ’n mate sou Goodall hulle as bewussynsvolle wesens leer ken dat sy uiteindelik die volgende oor die geaardhede van chimpansees kon sê: Wel, ek hou nie van hulle almal nie. Daar is party wat baie gaaf en innemend is, en ander gewoonweg bot en gemeen.[2]   

Weer oor die renoster. Eens het daar miljoene vanaf sentraal tot suidelike Afrika geweiloop, nou is daar wêreldwyd ’n skamele 27 000 oor. Die hoogs bedreigde swartrenoster in die Oos-Kaap, die spesifieke fokus van my navorsing, maak deel uit van die skoonheid van die spekboomveld. Soos hulle weiloop en hier aan ’n doppruim knabbel en daar ’n waaigras afdraai, dra hierdie megabervore by tot die bewaring van die veld. En saam met die winde en September se donderweer, en saam met die bye en die roepende voëls, veral die rooisnawel renostervoël wat die renostervel stroop van luise, maak hulle die klankbaan uit wat daar in die Oos-Kaapse bosveld aanwesig is.

Theodore Roosevelt, destydse Amerikaanse president en later grootwildjagter, het beide die swart- en witrenoster in sy African Game Trails afgemaak as die domste ding op aarde[3]. Hierdie verbryseling van die renoster – Roosevelt en sy seun Kermit het letterlik wit- en swartrenosters afgemaai – het nie geduur nie. Inteendeel, die beeld van die renoster is deur bewaarders, navorsers en wildfotograwe in ere herstel. Ons vermoed nou, soos met die immer toenemende kennis oor ander soogdiere, dat daar moontlik ’n bewussyn by die renoster bestaan van individuele en tropgeskiedenis (ek praat van ’n “storm renosters”), dat daar ’n wete is van goeie veld en gevaarveld, laasgenoemde wanneer die vol, stropersmaan opkom, dat renosters presies weet hoe om ’n gemeenskaplike misdorp te lees: wie daar was, wie verbygehou het, en dat ’n ingeboude GPS hulle sê waar daar modderpoele mag wees.

Theodore Rooseveldt en prooi.

Theodore Rooseveldt en prooi.

Die storm renosters dra hulle geskiedenis van oorlewing saam met hulle, maar selfs al word die wit- en swartrenosters in Suidelike Afrika veilig gehou teen stropers (byna onmoontlik) en habitatverlies (’n komplekse situasie) is daar tans ’n nuwe bedreiging, naamlik dié van klimaatsverandering. Die ekohidrologiekenner prof. Timothy Randhir van die Universiteit van Massachusetts, Amherst, kom tot die gevolgtrekking die renoster gaan nie oorleef indien hulle klimaatsdomein ’n bepaalde ekstreme graad van hitte bereik nie[4]; die megaherbivoor is nie staat om te sweet nie, soos reeds genoem, en is afhanklik van skaduryke bome en veral koel modderpoele om in rond te rol. 

EK WOON EN SKRYF in ’n dorp van byna 50 000 mense op die noordoostelike punt van die Australiese kontinent. In Februarie 2022 was alle aspekte van die perfekte vloedstorm aanwesig en Lismore het heeltemal oorstroom, slegs dakke en skoorstene het uitgesteek en gereddenes met babas of troeteldiere in hulle arms is in sinkbote bo-oor die hoogste brûe, soos in bó-óp, na veiligheid gebring. In die middel-negentienhonderds toe Skotse houtkappers die Big Scrub beset het, so genaamd vanweë die magtige rooiseders en boskasie reënwoude, het die plaaslike inwoners, die Bundjalung, hulle kom waarsku: Luister mense, hierdie is ’n vloedvlakte, julle kan nie hier ’n dorp bou nie. Daarop het die Skotse Presbiteriane, besproet en koloniaal-korrelkoppig, glo uitgeroep: Wat weet julle nou.

Ons eie huis, ’n Queenslander met hortjies, houtstoepe en hoë plafonne, ’n goeie 11,5 m bokant grondvlak, het tot net onder die einste plafonne onder modderwater gestaan. My ganse biblioteek vanaf studentedae se oranje Penguin-uitgawes tot Sewe dae by die Silbersteins het verdrink. Én my kosbare notaboeke wat terugstrek na my armydae in Rundu op die walle van die Kavangorivier. Én my iMac desktop met my renosterboek in wording. Als bekoek en beklad met vloedmodder.

Onverskillig teenoor bewaring deur iCloud (nou nie meer nie) het ek darem my teks tot en met daardie ramspoedige dag sowel as my pak renosternavorsing genaamd rinokeros, na die Griekse woord vir neushoring, op ’n USB-stokkie gehad. Sodra my studeerkamer en my ou Suid-Afrikaanse Spoorweglessenaar gereinig is met kragspuit en baie, baie lappe gedompel in witasyn en naeltjieolie teen muf, het ek my werk aan my renosterboek op my nuwe iMac hervat.  

Maart 2024 was die tiende opeenvolgende warmste maand op aarde, volgens rekord; moenie net dink aan oorstromings soos die afgelope, ongeëwenaarde vloede in Rio Grande do Sul, Brasilië, of aan wegholbrande en sikloonstorms, maar dink ook aan kos- en waterskaarste, onderbreking van kosverskaffing, konflik en oorlog, fascisme, en die vernieting van die diversiteit van spesies[5] (Australië is diepskuldig as wêreldleier op die gebied van soogdieruitwissing).

Swartrenoster, 1778.

Swartrenoster, 1778.

Stillewe met buffels.

Stillewe met buffels.

'n Swartrenoster word geskuif in 'n bewaringsprojek in KwaZulu-Natal.

'n Swartrenoster word geskuif in 'n bewaringsprojek in KwaZulu-Natal.

WAT IS DIE OPDRAG aan die skrywer in hierdie knellende tye? Ek kan slegs próbeer om dit uit te spel. Die literêre kritikus James Wood praat van serious noticing, dit is die verskerping van alle skrywersintuie om te red wat nog te redde is, “to save life from itself”,[6] soos Wood dit stel. In my roman het ek die renoster Decima self aan die woord gestel, nie om orig of grappig te probeer wees nie, maar om die leser tot die ernstige gewaarwording te bring: Hier het ons te make met ’n wese wat vrylik deur bos en veld wil loop en klink. ’n Wese wat, soos Goodall se sjimpansee David Greybeard, besluite kan maak, kan verstaan terwyl hulle staan. Of sit. Om Wood weer aan te haal: “... perhaps we can bring back life, or extend life, here on earth, by doing the same: by applying what Walter Benjamin once called: the natural prayer of the soul: attentiveness.”[7]

Die skrywer wil graag die leser se volle aandag rig op die doringboomtak waarop ’n bokmakierie sit en roep met geel keel: hleetok, leetokk. En op die renoster se ronderige ore aandagtig luisterend, en op haar neusgate soet gevul met oggendlug[8]. Maar anders as dit waarvan Wood praat, naamlik die omvorming van die voorwerp deur die fantasties aandagtige skrywe van die skrywer, het ek nie die renoster probeer transformeer nie. Die boek Decima bevat geen gelykenis van die renoster nie. Die renoster staan slegs vir haarself, sy ís haarself. En die skrywer nooi die leser uit tot biofilia, ’n term gemunt deur die bioloog E. O. Wilson om erkenning te gee aan die mens se diepgesete begeerte om met die natuurwêreld te konnekteer, “the urge to affiliate with other forms of life”.[9] En dan, hopelik, asseblief!, sal die mens, individueel en kollektief, aandag gee nie aan die raserny van oorloë en vervaardiging van wapens nie, maar aan die dringendste kwessie van ons tyd: die voorkoming van die krisis van klimaatsverandering en die meegaande uitwissing van spesies.

 

1 ’n Verwysing na Decima (Penguin Random House, 2023) deur Eben Venter.

2 Parafrasering van Jane Goodall in ’n onderhoud op ABC Australië, 7.30 Report, 29 April 2024.

3 African Game Trails: An account of the African wanderings of an American hunter-naturalist (Charles Scribner’s Sons, 1910) deur Theodore Roosevelt.

4 T. Randhir in The Conversation, ’n aanlyn nuusbrief, 16 Februarie, 2024.

5 AJ+, ’n unieke digitale nuus-en-storieprojek beskikbaar op Instagram.

6 Bl. 72 in Serious Noticing: Selected Essays 1997–2019 (Farrar, Straus and Giroux, 2020) deur J. Wood.

7 p. 73 Ibid.

8 Decima (Penguin Random House, 2023) deur Eben Venter.

9 Uit ’n Instagram-plasing deur @jimnaughten oor sy nuwe fotoreeks Biophilia.

Op uitnodiging van Pen International neem Pen Afrikaans vanjaar deel aan die Unesco-befondste Right to Write-projek. Die doel van dié projek is om in vyf Afrikalande – Suid-Afrika, Malawi, Uganda, Zambië en Zimbabwe – openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Pen Afrikaans kon vyf Afrikaanse skrywers vra om oor bepaalde onderwerpe artikels te lewer wat Rapport oor die volgende weke eerste in Afrikaans kan publiseer.